Die “nasie” wat miljoene verhongerdes voed
1, 2. (a) Watter ware behoefte behoort die bewoners van die aarde te voel? (b) Tot watter volk kan ons ons in hierdie verband wend?
DIE duisendmiljoene bewoners van die aarde behoort te honger na “voedsel” wat hulle sal onderhou vir eindelose lewe hier op aarde, wanneer die ganse aarde in ’n paradys verander word. Maar tot wie of waarheen moet hulle hulle wend? Die Republiek van Israel wend geen poging aan om die Bybelprofesie in Jesaja 27:6 te vervul deur die aarde vol “vrugte” te maak tot die blywende voordeel van die mensdom nie.
2 Die nasie van Israel het in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling sy opdrag verloor om die hele mensdom te bevoordeel. Derhalwe was dit bloot aan ’n klein oorblyfsel van die natuurlike Jode dat die Messias hierdie woorde gerig het: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; . . . En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mattheüs 28:18-20). Maar wat van 19 eeue later? Wie hou in ons dag die vervulling van Jesaja 27:6 in gedagte? En hoe is jy en jou dierbares daarby betrokke?
3. Wie het in ons eeu God se “grimmigheid” ondervind, soos gemeld in Jesaja 27:4?
3 Hoewel ons dekades verwyder is van die bepaalde gebeure, sal dit ons loon om vlugtig sekere gebeurtenisse gedurende die jare van die Eerste Wêreldoorlog te ondersoek. Jehovah God het destyds goeie rede gehad om ‘grimmig’ te voel teenoor die nasies van die Christendom weens hulle deelname aan daardie bloedvergietende stryd. (Vergelyk Jesaja 27:4.) Hulle het dit gedoen pleks van hulle nasionale soewereiniteit aan die allerhoogste God oor te gee toe sy Koninkryk in 1914 in die hemele opgerig is met sy verheerlikte Seun, Jesus Christus, as koning. Hulle het sy grimmigheid verder aangeblaas deur die oorblyfsel van geestelike Israel te vervolg en hierdie toegewyde Christen-Bybelstudente moedswillig te verhinder om sy opgerigte Koninkryk vryelik te verkondig. Maar baie lede van die oorblyfsel van geestelike Israel het inderdaad voor die wêreldlike druk geswig en hulle plig versuim as uitverkorenes wat uit hierdie wêreldstelsel geneem is. Hulle het nie op daardie tydstip die belangrikheid van algehele neutraliteit ten opsigte van hierdie wêreld se botsings ingesien nie en het gevolglik tot op sekere hoogte bloedskuldig geraak. ’n Tyd lank het hulle dus ook ’n mate van God se “grimmigheid” verdien.
4. Hoe het God se “grimmigheid” sy Christenknegte geraak, en watter les kan ons hieruit leer?
4 Hoe dink jy sou jy op daardie oorlogstydse druk gereageer het as jy toe gelewe het? Jy behoort oor sulke dinge na te dink, want dit kan jou meer vasbeslote maak om te doen wat reg is wanneer daar in die toekoms druk op jou uitgeoefen word. Dit het destyds miskien gelyk na ’n tyd om die Koninkryksprediking te staak en ’n afwagtende houding aan te neem. Baie het in daardie rigting geneig en gemeen dat hulle bloot moet wag vir hulle vroeë verheerliking, wanneer hulle by die gekroonde Jesus Christus sou aansluit (Lukas 22:28-30). Die feit dat ware Christene van daardie tyd ’n mate van Jehovah se “grimmigheid” ondervind het, was egter vir hulle ’n waardevolle tugtiging en was derhalwe nie tevergeefs nie. Dit het hulle versterk vir die naderende werk om die dag van die wraak van onse God te verkondig teen die een wat die profeet Jesaja in Jesaja 27:1 “die Leviatan” noem. Ons lees daar:
5. Hoe het Jehovah in die nuwere tyd sy aandag gewend tot die “Leviatan” wat in Jesaja 27:1 gemeld word?
5 “In dié dag sal die HERE met sy harde en groot en sterk swaard besoeking doen oor die Leviatan, die vinnige slang, en oor die Leviatan, die kronkelende slang; en Hy sal die draak doodmaak wat in die groot water is.”
In vervloë tye het Jehovah sy aandag gewend tot die gevangenemers van sy volk. Soos ons vroeër aangetoon het, het dit die ryk van Babilon, sowel as Egipte en Assirië, ingesluit (Jesaja 27:12, 13). Kan jy ’n hedendaagse toepassing van die simboliese woorde in Jesaja 27:1 sien? Gedurende die tydperk rondom die Eerste Wêreldoorlog was God se volk nie die gevangenes van een enkele nasie of ryk nie. Maar Jehovah moes wel aandag skenk aan ’n simboliese Leviatan, naamlik Satan die Duiwel. Hy seil listig deur die see van die mensdom en gebruik dinge op aarde om God se knegte te bedreig of te dwarsboom.—Vergelyk Openbaring 17:15.
6, 7. (a) Wat het in ons dag soos ‘dorings en distels’ geword?
6 Toe die oorblyfsel van geestelike Israel hulle Koninkryksprediking in 1919 met geesdrif hervat het, het die tyd aangebreek vir Jehovah om te sê:
“Geen grimmigheid is by My nie. Kry Ek doring of distel, in oorlog sou Ek daarop aanval, dit alles saam verbrand.”—Jesaja 27:4.
7 Ná die Eerste Wêreldoorlog is die Volkebond gestig, ’n daad wat neergekom het op die verwerping van die Koninkryk van God onder Christus. Ons kan dit vergelyk met ‘dorings en distels’ wat in Jehovah God se pad geplaas is om hom te hinder of teë te hou. Nou het die Verenigde Volke-organisasie daardie Volkebond vervang. Deur die Verenigde Volke gee die verskillende ledelande blyk van hulle vasbeslotenheid om vol te hou met hulle verset teen die verkondigde Koninkryk van Christus en hulle voorneme om hulle eie wêreldsoewereiniteit te behou. Tydens “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by Armageddon sal hy figuurlik op alle ‘dorings en distels’ aanval, hulle vertrap en vernietig en dan as ’t ware verbrand sodat daar van hulle net as oorbly. So sal hy toon wie werklik die Universele Soewerein is. Jy kan dus sien dat jy, selfs al het jy nie gedurende die Eerste Wêreldoorlog onder die gesalfde Christene gelewe nie, geraak kan word—ten goede of ten kwade—in die finale uitslag van gebeure ter vervulling van Jesaja 27:1.—Openbaring 16:14-16; 17:1-18:4.
Gryp Jehovah se vesting aan
8. Waarop vertrou baie nasies vandag?
8 Die lede van die Verenigde Volke maak op hulle eie sterkte staat en vertrou op hulle mensgemaakte vesting. Nogtans was hulle vertroue daarop nie sterk genoeg om hulle daarvan te weerhou om die allerdodelikste wapen, die verskriklikste van alle oorlogswapens, die kernbom, te ontwikkel nie. Dit is waarskynlik vrees vir vergelding deur gebruik van die kernbom wat hulle afskrik, nie die Verenigde Volke nie.
9, 10. Waarom is dit vir ons verstandig om op ’n ander “vesting” te vertrou?
9 Maar soos ons opgemerk het, is dit eintlik “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” wat die voortbestaan van die nasies bedreig. Wat kan die nasies hoop om teen die almagtige God te doen, Hy wat die ontsagwekkende krag binne-in die kern van elke atoom geplaas het? Jy is heel moontlik daarvan oortuig dat die Skepper onvergelyklik magtiger is as die nasies met al hulle wapens. Vir diegene wat dit besef—en Jehovah se Getuies is onder hulle—is daar net een uitweg. Dit word in die verdere woorde van Jehovah gemeld:
“Of hulle moet my beskutting [“vesting”, NW] aangryp, vrede met My maak, vrede met My maak” (Jesaja 27:5).
Geen mense-instansie is die vesting waartoe mense hulle kan wend vir veiligheid of die voorkoming van oorlog op aarde nie, en allermins die vesting waarheen die geslagte van die aarde kan vlug om behoue te bly.
10 Jy weet waarskynlik dat baie mense vandag emosioneel betrokke raak by debatte en bewegings omdat hulle bekommerd is oor kernwapens en ontwapening. Ongelukkig lei dit hulle aandag van die werklikheid af, naamlik dat dit die onvermydelike oorlog van die almagtige God by Armageddon is wat die voortbestaan van al die nasies bedreig. As jy hierdie werklikheid besef, sal dit vir jou die verstandige weg wees om jou tot Jehovah te wend. Sy “vesting” is wat alle veiligheidsoekers moet aangryp, naamlik sy onuitputlike sterkte. Die ganse organisasie van Satan die Duiwel sal nie die individuele Christen kan oorwin wat daardie “vesting” aangegryp het nie.
11. Hoe kan ons Jesus se woorde in Lukas 14: 31-33 toepas wanneer ons God se “vesting” aangryp?
11 Jehovah en sy leërs onder die Aanvoerder, Jesus Christus, is nou as ’t ware aan die opruk. Terwyl hulle nog ’n ent ver is, sou dit van gesonde verstand, indien nie ware wysheid nie, getuig om, figuurlik gesproke, ’n vredesending vooruit te stuur en vredesvoorwaardes te vra in die lig van so ’n oorweldigende oormag. Die onoorwinlike Aanvoerder van Jehovah se leërskare het so ’n weg aanbeveel toe hy hier op aarde was (Lukas 14:31-33). As jy noukeurig ondersoek wat Jesus daar gesê het, sal jy sien dat hy ons gesindheid teenoor ons “besittings” by die saak betrek het. Ons moet ons beskouing ontleed, hetsy ons in ’n ontwikkelde en welvarende land woon of in ’n Derde Wêreld-land waar dit werklik ’n stryd is om ’n bestaan te maak. Vra jou af: Stel ek werklik my vertroue in Jehovah se sterkte as my vesting, of laat ek toe dat “besittings” die belangrikste plek inneem? Lees asseblief Lukas 12:15-21 in hierdie verband.
12. Watter bewys is daar dat baie vandag Jehovah se sterkte aangryp?
12 Rondom die aarde het derduisende van Jehovah se Getuies hulle reeds onvoorwaardelik tot Jehovah gewend en met hom vrede gemaak. Talle reël hulle sake so dat hulle elke maand tientalle ure kan bestee aan die werk om dissipels te maak. Elkeen wat hom waarlik inspan in die diens van Jehovah kan die beloofde “vrede van God” smaak wat alle menslike denke en begrip te bowe gaan (Filippense 4:7). Terwyl daar nog tyd is, hou hulle aan om ander te help om hierdie vreedsame verhouding met Jehovah van die leërskare te betree. Watter plek beklee hierdie lewensreddende werk in jou lewe?
Die hele wêreld word vol “vrugte” gemaak
13. Wat kan ons, volgens Jesaja 27:6, in ons tyd te wagte wees?
13 Wat sou die wêreldrol van geestelike Israel wees nadat hy ná die Eerste Wêreldoorlog in goddelike guns herstel is? Dit word vir ons aangedui in hierdie bemoedigende woorde van Jesaja 27:6:
“In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak.”
Ondersoek die realiteit van daardie woorde vandag. Dit sal jou bykomende rede gee om een van God se knegte te word, of, as jy dit reeds is, om nog vasbeslotener te word om onder ware aanbidders te bly ongeag die beproewinge of probleme wat ontstaan.
14. Hoe is Jesaja 27:6 oor God se volk vervul?
14 Sedert 1919, toe die eerste algemene byeenkoms van Jehovah se Getuies in Cedar Point, Ohio, gehou is, word ’n situasie soos in Jesaja 27:6 voorspel in toenemende mate onder aanbidders van Jehovah aangetref. Dit was byvoorbeeld nie lank daarna nie dat die Wagtoringgenootskap sy nuwe tydskrif, The Golden Age, nou bekend as Ontwaak!, begin druk het. Dit was asof geestelike Juda toe wortel geskiet het.
15. Watter opwindende vooruitsig is van 1918 af aan ware aanbidders voorgehou?
15 Op hierdie manier het ware Christene gedurende die eerste jare ná hulle bevryding en herstelling in Jehovah se guns begin om te bloei as “’n planting van die HERE” (Jesaja 61:3). In 1918, die laaste jaar van die Eerste Wêreldoorlog, het J. F. Rutherford die verstommende openbare toespraak “Daar lewe nou miljoene wat nooit sal sterf nie” gehou. Was dit ’n oorskatting van sake, aangesien daar net ’n klein oorblyfsel van geesverwekte dissipels van die heersende Koning, Jesus Christus, op die aarde oor was om die Godgegewe werk te doen wat toe op hulle neergekom het?
16. (a) Hoe het die oorblyfsel gereageer op die vooruitsigte wat voor hulle gestel is? (b) Oor watter “vrugte” het hulle hul verbly, en met watter resultate?
16 Hoe sou Jehovah sulke Christene gebruik om “die wêreld vol vrugte [te] maak”? Die oorblyfsel van geestelike Israel het die inisiatief geneem, maar wat van die “vrugte” waarmee die wêreld gevul sou word? Die oorblyfsel het die “vrugte”, wat die goeie nuus van Jehovah se opgerigte Koninkryk onder Christus ingesluit het, so smaaklik en voedsaam gevind dat hulle dit met hulle medemens wou deel. Jehovah het voorspel dat die kleinste ’n geslag sal word en die geringste ’n magtige nasie, en dit was geen misrekening aan God se kant nie (Jesaja 60:22). Eerlank het ’n groot menigte” “ander skape” van die Goeie Herder, Jesus Christus, by die oorblyfsel van geestelike Israel aangesluit.—Openbaring 7:9-17; Johannes 10:16.
17, 18. Waarvan kan jy getuig in verband met die profesie dat ‘die wêreld vol vrugte gemaak sou word’?
17 Jy is moontlik bewus van die huidige toedrag van sake in verband met die ware Christelike godsdiens. Die Wagtoringgenootskap het nou 94 takke rondom die aarde. Daar is nou nagenoeg 48 000 georganiseerde, bedrywige gemeentes van Jehovah se Getuies in 203 lande. Al die eer hiervoor kom die ware God toe, en hierdie wonderlike vooruitgang is ’n vindikasie van sy onfeilbare Woord, terwyl “die einde”, soos in Mattheüs 24:14 voorspel, nog nie gekom het nie.
18 Ja, daar is byna driemiljoen Christene wat rondom die aarde met die Wagtoringgenootskap saamwerk. Hierdie miljoene bestaan hoofsaaklik uit Christus se “ander skape”, wat lank reeds die grootste deel van die wêreldwye getuieniswerk doen, en ‘die blydskap in die HERE—dit is hulle beskutting’ of vesting (Nehemia 8:11). Derhalwe het elkeen van ons vandag die geleentheid om geestelik versadig te word en om te help om ‘die hele wêreld vol vrugte te maak’.
19. Wat kan jy met betrekking tot “die wêreld” geniet, en hoe voel jy daaroor?
19 Ons kan daarvan seker wees dat Jehovah nooit sal toelaat dat die huidige “vrugte” van “die wêreld”, die bedrywigheidsveld van sy Getuies, vernietig word nie. Die werk van sy predikergetuies sal nooit tevergeefs wees nie! Die geestelike “vrugte” wat deur ware Christene gekweek word, is beskikbaar vir almal wat hulle daarmee wil voed. Dit sal mettertyd die duisendmiljoene mensedode insluit wat gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus opgewek sal word. Stel jou voor wat dit in die toekoms vir jou sal beteken! Met verloop van tyd sal talle natuurlike Israeliete van die verlede opgewek word. Sommige van hulle was miskien betrokke by die eerste vervulling van die profesie in Jesaja hoofstuk 27. Sal jy dit nie geniet om dan te lewe en te kan verduidelik hoe jy aan die groter, hedendaagse vervulling deelgeneem het deur ‘die wêreld vol vrugte te maak’ nie?—Vergelyk Openbaring 22:2, 3.
Die weg van “Leviatan” word beëindig
20. Wat lê vir die “Leviatan” voor, en met watter gevolg ten opsigte van God se soewereiniteit?
20 Dan sal die figuurlike Egipte, die hedendaagse, goddelose stelsel waaroor Satan die Duiwel as god heers, nie meer bestaan nie. Jehovah sal sy aandag gewend het tot die simboliese Leviatan, die vinnige, kronkelende slang wat in die see van die mensdom doenig is. Hy en die nasies, en selfs bonde van nasies, sal uit die weg geruim wees. Hy sal nie meer hier wees as ’n ongehinderde, aktiewe verderwer van die mensdom vir wie Jesus Christus gesterf het nie (Jesaja 27:1). Ja, Satan die Duiwel sal in die afgrond wees gedurende die hele Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus, die Seun van Dawid en die regmatige Erfgenaam van die Koninkryk. Die 144 000 geestelike Israeliete sal mede-erfgename saam met hom, die figuurlike Leeu uit die stam van Juda, in die hemel wees (Romeine 8:16, 17; Openbaring 5:5, 9, 10; 7:1-4). Jehovah God, die Allerhoogste, sal dan vir ewig geregverdig wees as die Soewereine Heer van die heelal. Jehovah se universele organisasie in die hemel en op aarde sal die vreugde van blywende vrede en harmonie smaak. Tot in alle ewigheid sal Jehovah hom verbly oor sy verenigde universele organisasie.
Kan jy onthou?
◻ Hoekom het ware Christene vroeër in hierdie eeu Jehovah se “grimmigheid” ondervind, en wat kan ons uit hierdie ondervinding leer?
◻ Hoe kan ons, anders as die nasies, ‘Jehovah as ons vesting aangryp’? (Jesaja 27:5).
◻ Hoe is “die wêreld” in ons tyd vol “vrugte” gemaak? (Jesaja 27:6).
◻ Na watter toekomstige vervulling van Jesaja 27:1 kan ons met vertroue uitsien?
(b) Wat kan ons in die toekoms in verband daarmee te wagte wees?
[Prent op bladsy 17]
Sommige hoop dat mense die kernbedreiging sal oplos, maar verstandige mense uit alle nasies ‘gryp Jehovah se vesting aan’
[Prente op bladsy 18]
Die vermeerdering in geestelik welgevoede Christene blyk uit die uitbreiding van takke van die Wagtoringgenootskap
Spanje
Brasilië
Kanada