1986—’n Jaar ‘om die vrede te bewaar’?
DIE VV het 1986 uitgeroep tot Internasionale Vredesjaar. Hoe vorder die pogings om wêreldvrede te bewerkstellig? Die volgende kommentare kom vanuit alle dele van die aardbol.
Van 7 tot 12 April 1986 het wetgewers van 103 lande deelgeneem aan die 75ste vergadering van die IPU (Inter-Parlementêre Unie) in die stad Mexiko.
Die VV se sekretaris-generaal, Javier Pérez de Cuellar, het hierdie boodskap aan die Unie oorgedra: “Hier aan die begin van die Internasionale Vredesjaar moet ons almal in gedagte hou dat die tema daarvan—‘Om die vrede en die toekoms van die mensdom te bewaar’—nie net vir 1986 ’n belangrike fokus bied nie, maar ook vir die jare wat voorlê. Laat ons die geleenthede van 1986 vasbeslote aangryp.”
Die President van die IPU het gesê dat hy verskeie lande besoek het “om te vra of die parlementariërs aldaar nie parlementariërs van vrede kan word nie”. Sy gevolgtrekking: “Ek het uitgevind hoe moeilik, in sommige gevalle selfs hopeloos.dit was.”
Die Mexikaanse Groep self het sy “diepe teleurstelling uitgespreek dat daar gedurende die laaste jare geen noemenswaardige vordering op die gebied van ontwapening was nie, ondanks die publiek se toenemende besorgdheid oor die gevare van die wapenwedloop en die pogings van die Verenigde Volke.”
Die Argentynse Groep het in aanmerking geneem “dat nie die sestigmiljoen sterfgevalle in die Tweede Wêreldoorlog, of sy kernepiloog in Hirosjima of die honderd-en-dertig gewapende botsings sedertdien genoeg was om die mensdom te leer dat hy op die drempel van selfvernietiging staan nie”. Dit was diep besorg oor die feit dat “vyf Kernmoondhede meer as 50 000 kernwapens opgehoop het, ’n hoeveelheid wat gelykstaan aan drie ton konvensionele plofstof vir elke bewoner van ons planeet”.
Die permanente lede van die VV se Veiligheidsraad was verteenwoordig, en hulle kommentare het die volgende ingesluit:
Die Britse Groep het gesê: “’n Belangrike beleidsoogmerk moet wees om ’n wapenwedloop in die ruimte te voorkom. Ons moet egter realisties wees . . . Die ruimte is reeds gemilitariseer.” Die Franse Groep het beklemtoon “dat die Verenigde Volke se onvermoë om kollektiewe veiligheid en vrede te handhaaf in die besonder te wyte is aan sommige State se skending van die wesenlike beginsels van die internasionale reg en moraliteit”. Die Russiese Groep het “diepe besorgdheid uitgespreek oor die gevaar van ’n kernramp wat die mensdom bedreig, iets wat die einde van die beskawing op aarde tot gevolg kan hê”. Die Amerikaanse afvaardiging het volgens berig gesê dat dit sou “probeer om die nodigheid vir internasionale samewerking om terrorisme teë te werk by ander tuis te bring”.
Aan die ander kant van die aarde is die Internasionale Vredesjaar op 21 Maart gekenmerk deur ’n saamtrek in die Groot Saal van die Volk in Beijing. Die Chinese premier Zhao Ziyang was meer optimisties as ander toe hy gesê het: “Solank die mense van die wêreld hulle onvermoeide pogings voortsit, sal hulle beslis vrede bewerkstellig.”
Met betrekking tot die VV se Internasionale Vredesjaar het pous Johannes Paulus II gesê dat die Heilige Stoel ’n “wêreldwye beweging vir gebed om vrede by alle nasies en alle gelowe” wil inspireer.
Vrede ontwyk hierdie wêreld. En waarom? Ware vrede moet gebaseer wees op liefde; die wêreld word verdeel deur nasionalistiese trots en haat. Ware vrede verg wyse en regverdige heerskappy; onvolmaakte menseheersers kan nie aan hierdie standaard voldoen nie. Ware vrede moet die verenigde aanbidding van die een ware God as middelpunt hê; die wêreld se gelowe is hopeloos verdeel in duisende sektes waarvan nie een Jehovah as die Soewereine Heer vereer nie. Ware vrede verg die verwydering van “die god van hierdie wêreld”, Satan die Duiwel, en sy stelsel van heerskappy; slegs Jehovah se Koninkryk in die hande van Sy Christus kan Satan en sy werke verbrysel.—2 Korinthiërs 4:4.
[Prente op bladsy 15]
Australië se goue “vredesdollar”
Kenia se tiensjieling-“vredeseël”