Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 10/15 bl. 10-15
  • Wees gelukkig, betoon guns aan die geteisterdes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wees gelukkig, betoon guns aan die geteisterdes
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Uitstekende voorbeeld vir ons
  • So Vader so Seun
  • Paulus​—’n blymoedige voorbeeld
  • Sal ons gelukkig wees?
  • Volg Jesus se voorbeeld en toon besorgdheid oor die armes
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • ’n Wêreld sonder armoede is op hande
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Die einde van armoede kom nader
    Ontwaak!—1998
  • Watter hoop vir die armes?
    Ontwaak!—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 10/15 bl. 10-15

Wees gelukkig, betoon guns aan die geteisterdes

“Wie sy naaste verag, sondig, maar gelukkig is hy wat guns betoon aan die geteisterdes.”​—SPREUKE 14:21, NW.

1, 2. Wat het met drie Filippynse gesinne gebeur, en watter vrae moet ons gevolglik beskou?

TERWYL drie Filippynse gesinne in Pangasinan-provinsie ’n Christenvergadering bygewoon het, het hulle huise tot op die grond afgebrand. Toe hulle terugkeer huis toe, het hulle gevind dat hulle geen kos of slaapplek het nie. Mede-Christene, wat van die ramp te hore gekom het, het hulle met voedsel daarheen gehaas en reëlings vir verblyf met ander in die gemeente getref. Die volgende oggend het Christene daar opgedaag met bamboes en ander boumateriaal. Hierdie broederliefde het die bure beïndruk. Die drie gesinne is ook ten goede beïnvloed. Die brand het hulle huise vernietig, maar hulle geloof en ander Christelike eienskappe het behoue gebly en is versterk deur die liefdevolle reaksie.​—Mattheüs 6:33; vergelyk 1 Korinthiërs 3:12-14.

2 Is sulke ondervindinge nie opbouend nie? Dit versterk ons geloof in mensliewendheid en veral in die krag van ware Christelikheid (Handelinge 28:2). Maar besef ons wat die Skriftuurlike grondslag is vir sulke ‘goeie dade teenoor almal, maar die meeste teenoor die huisgenote van die geloof’? (Galasiërs 6:10). En hoe kan ons self in hierdie opsig meer doen?

’n Uitstekende voorbeeld vir ons

3. Waarvan kan ons seker wees wat Jehovah se besorgdheid oor ons betref?

3 Die dissipel Jakobus sê vir ons: “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer” (Jakobus 1:17). Hoe waar is dit tog, want Jehovah voorsien ruim in ons geestelike en materiële behoeftes! Maar waaraan gee hy die voorkeur? Aan geestelike dinge. Hy het byvoorbeeld vir ons die Bybel gegee sodat ons geestelike leiding en hoop kan hê. Daardie hoop draai om die gawe van sy Seun, wie se offerande die grondslag is vir ons om vergifnis te ontvang en die vooruitsig op die ewige lewe te hê.​—Johannes 3:16; Mattheüs 20:28.

4. Wat toon duidelik dat God ook in ons materiële behoeftes belangstel?

4 Jehovah stel ook in ons materiële welsyn belang. Die apostel Paulus het met manne in eertydse Listre hieroor geredeneer. Hoewel hulle nie ware aanbidders was nie, kon hulle nie ontken dat die Skepper ‘goed gedoen het, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye gegee het en ons harte met voedsel en vrolikheid vervul het nie’ (Handelinge 14:15-17). Uit liefde voorsien Jehovah in ons geestelike behoeftes en maak hy voorsiening vir ons fisiese lewe. Dink jy nie dat dit daartoe bydra dat hy “die gelukkige God” is nie?​—1 Timotheüs 1:11, NW.

5. Wat kan ons leer uit God se handelinge met eertydse Israel?

5 God se handelinge met eertydse Israel lig sy gebalanseerde besorgdheid oor sy aanbidders se geestelike behoeftes sowel as hulle materiële situasie toe. Eerstens het hy vir sy volk die Wet gegee. Sy konings moes vir hulleself ’n afskrif van die Wet maak, en die volk moes van tyd tot tyd bymekaarkom om na die voorlesing van Sy Wet te luister (Deuteronomium 17:18; 31:9-13). Die Wet het voorsiening gemaak vir ’n tabernakel of tempel en vir priesters om offerandes te hanteer sodat die volk God se guns kon geniet. Die Israeliete het gereeld vergader vir geestelike feeste, wat hoogtepunte in hulle jaarlikse aanbidding was (Deuteronomium 16:1-17). Danksy al hierdie dinge kon individuele Israeliete geestelik ryk wees voor God.

6, 7. Hoe het Jehovah in die Wet getoon dat hy begaan is oor die fisiese behoeftes van die Israeliete?

6 Die Wet het egter ook getoon hoe begaan God oor sy knegte se fisiese omstandighede is. Miskien onthou jy die wette oor sanitasie wat aan Israel gegee is en stappe wat die verspreiding van infeksie tot die minimum beperk het (Deuteronomium 14:11-21; 23:10-14). Maar ons moenie God se spesiale voorsienings wat bedoel was om die armes en die geteisterdes te help oor die hoof sien nie. Swak gesondheid of ’n ramp, soos ’n brand of ’n oorstroming, kon ’n Israeliet in armoede gedompel het. In sy Wet het Jehovah erken dat nie almal finansieel gelyk sou wees nie (Deuteronomium 15:11). Maar hy het nie bloot met die armes en die geteisterdes gesimpatiseer nie. Hy het hulp gereël.

7 Sulke persone sou voedsel dringend nodig hê. God het dus gesê dat die armes in Israel die reg het om are in geoeste lande op te tel en oorgeblewe vrugte van olyfbome of wingerde te versamel (Deuteronomium 24:19-22; Levitikus 19:9, 10; 23:22). God se manier het mense nie aangespoor om lui te wees of van aalmoese te lewe wanneer hulle kon werk nie. ’n Israelitiese areleser moes homself inspan, miskien ure lank in die warm son werk om voedsel vir die dag te versamel. Ons moet egter nie die feit uit die oog verloor dat God op hierdie bedagsame manier vir die armes gesorg het nie.​—Vergelyk Rut 2:2-7; Psalm 69:34; 102:18.

8. (a) Wat is individuele Israeliete aangespoor om vir hulle broers te doen? (Vergelyk Jeremia 5:26, 28.) (b) Hoe sou jy die gesindheid wat God die Israeliete aangespoor het om te hê vergelyk met wat vandag algemeen is?

8 Jehovah het sy belangstelling in die geteisterdes verder beklemtoon met woorde soos die in Jesaja 58:6, 7. Op ’n tydstip toe sommige selfvoldane Israeliete voorgegee het dat hulle vas, het God se profeet gesê: “Is dit nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle . . . vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek? Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges [“geteisterdes”, NW], swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie?” Party individue beskerm vandag wat hulle ‘geriefsone’ genoem kan word. Hulle is net bereid om ’n behoeftige te help as dit geen persoonlike opoffering of ongerief vir hulle beteken nie. Hoe anders tog is die gees wat God se woorde deur Jesaja beklemtoon!​—Kyk ook Esegiël 18:5-9.

9. Wat het die Wet oor lenings gesê, en watter gesindheid het God voorgestaan?

9 Besorgdheid oor arm Israelitiese broers kon getoon word deur vir hulle geld te leen. ’n Israeliet kon rente verwag wanneer hy geld geleen het aan iemand wat dit wou gebruik om sake te doen of sy onderneming uit te brei. Jehovah het gesê dat rente egter nie gevra moes word op geld wat geleen is aan ’n arm broer wat andersins uit desperaatheid in die versoeking kon kom om te sondig nie (Exodus 22:25; Deuteronomium 15:7, 8, 11; 23:19, 20; Spreuke 6:30, 31). God se gesindheid teenoor die minder bevoorregtes moes ’n voorbeeld vir sy volk wees. Daar word selfs vir ons belowe: “Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die HERE; en Hy sal hom sy weldaad vergelde” (Spreuke 19:17). Dink net daaraan​—om aan Jehovah te leen, met die versekering dat hy jou ruimskoots sal vergoed!

10. Wat kan jy jou afvra nadat jy God se voorbeeld beskou het?

10 Ons almal moet ons dus afvra: Wat beteken God se beskouing van en optrede teenoor die geteisterdes vir my? Het ek uit sy volmaakte voorbeeld geleer en dit probeer navolg? Kan ek in hierdie opsig meer na God se beeld wees?​—Genesis 1:26.

So Vader so Seun

11. Hoe het Jesus se besorgdheid met sy Vader s’n ooreengekom? (2 Korinthiërs 8:9).

11 Jesus Christus ‘is die afskynsel van Jehovah se heerlikheid en die afdruksel van sy wese’ (Hebreërs 1:3). Ons sou gevolglik verwag dat hy sy Vader se besorgdheid oor diegene wat in ware aanbidding belangstel, sou weerspieël. Hy het. Jesus het getoon dat die armoede wat die dringendste opgelos moet word geestelike armoede is: “Gelukkig is die wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle.” (Mattheüs 5:3, NW; vergelyk Lukas 6:20.) Christus het ook gesê: “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig” (Johannes 18:37). Hy was gevolglik nie hoofsaaklik bekend as ’n wonderdoener of ’n geneser nie, maar as Meester of Leraar (Markus 10:17-21; 12:28-33). Let in hierdie verband op Markus 6:30-34. Ons lees van die keer toe Jesus tyd gesoek het om te rus. Toe “sien Hy ’n groot menigte . . . [wat] soos skape sonder herder was”. Hoe het hy gereageer? “Hy het hulle baie dinge begin leer.” Ja, Jesus het hom ingespan om te voorsien in hulle grootste behoefte: die waarheid waardeur hulle vir ewig kon lewe.​—Johannes 4:14; 6:51.

12. Wat kan ons uit Markus 6:30-34 en Markus 6:35-44 oor Jesus se beskouing leer?

12 Hoewel Jesus hom op die geestelike behoeftes van nederige Jode toegespits het, het hy nie hulle materiële behoeftes geïgnoreer nie. Markus se verslag toon dat Jesus bewus was van die behoefte aan stoflike voedsel. Die apostels het eers aan die hand gedoen dat die skare weggestuur word “om brood vir hulleself te koop”. Jesus het nie saamgestem nie. Die apostels het toe die moontlikheid gemeld om van die geld wat hulle by hulle gehad het te gebruik om voedsel te koop. Jesus het verkies om eerder die beroemde wonderwerk te verrig waardeur hy 5 000 manne, buiten die vroue en kinders, met ’n eenvoudige maaltyd van brood en vis gevoed het. Party meen vandag dalk dat dit vir Jesus maklik was om wonderdadig in die skare se behoeftes te voorsien. Ons moet nietemin nie die feit uit die oog verloor dat hy opreg besorg was en dienooreenkomstig gehandel het nie.​—Markus 6:35-44; Mattheüs 14:21.a

13. Watter ander bewys het Jesus van sy belangstelling in mense se welstand gelewer?

13 Jy het waarskynlik Evangelieverslae gelees wat bewys dat Jesus se medelye met die minder bevoorregtes nie net die armes ingesluit het nie. Hy het ook die siekes en die geteisterdes gehelp (Lukas 6:17-19; 17:12-19; Johannes 5:2-9; 9:1-7). Hy het ook nie net die wat naby hom was, genees nie. Hy het soms na die sieke gegaan om hulp te verleen.​—Lukas 8:41-55.

14, 15. (a) Waarom kan ons seker wees dat Jesus verwag het dat sy volgelinge dieselfde besorgdheid as hy openbaar? (b) Wat kan ons ons gerus afvra?

14 Maar was dit net diegene wat verligting deur wonderwerke kon bied wat oor die behoeftes van arm en geteisterde dissipels (of waarheidsoekers) besorg moes wees? Nee. Al Jesus se dissipels moes besorgdheid toon en dienooreenkomstig optree. Hy het byvoorbeeld ’n ryk man wat die ewige lewe wou hê, aangespoor: “Verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê” (Lukas 18:18-22). Jesus het ook gemaan: “Wanneer jy ’n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes, en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges.”​—Lukas 14:13, 14.

15 ’n Christen is ’n volgeling van Christus, en daarom kan elkeen van ons ons afvra: In watter mate volg ek Jesus se gesindheid en optrede teenoor die armes, die geteisterdes, die minder bevoorregtes na? Kan ek eerlik waar soos die apostel Paulus sê: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is”?​—1 Korinthiërs 11:1.

Paulus​—’n blymoedige voorbeeld

16. Wat was vir die apostel Paulus van besondere belang?

16 Dit is gepas om Paulus in hierdie verband te meld, want hy was ook ’n navolgenswaardige voorbeeld. Soos ons sou verwag, het hy hom hoofsaaklik op die geestelike behoeftes van ander toegespits. Hy was ’n ‘gesant van Christus wat ander gesmeek het: “Laat julle met God versoen”’ (2 Korinthiërs 5:20). Paulus se spesiale toewysing was om te preek en gemeentes onder die nie-Jode te stig. Hy het geskryf: “Aan my [is] die evangelie vir die onbesnedenes toevertrou.”​—Galasiërs 2:7.

17. Hoe weet ons dat Paulus ook aan fisiese dinge aandag geskenk het?

17 Maar het Paulus, aangesien hy gesê het dat hy Christus navolg, (soos Jehovah en Jesus) aandag geskenk aan die fisiese beproewinge of moeilikhede van mede-aanbidders? Laat Paulus self antwoord. In Galasiërs 2:9 het hy voorts gesê: ‘Jakobus en Cefas [Petrus] en Johannes het aan my en Barnabas die regterhand van gemeenskap gegee sodat ons na die heidene kon gaan.’ In die volgende vers het Paulus bygevoeg: “Alleen moes ons aan die armes dink, wat ek my juis ook beywer het om te doen” (Galasiërs 2:10). Paulus het dus besef dat hy, hoewel hy ’n sendelingapostel met verantwoordelikhede teenoor baie gemeentes was, nie te besig kon wees om in die fisiese welstand van sy broers en susters belang te stel nie.

18. Van watter “armes” het Paulus waarskynlik in Galasiërs 2:10 gepraat, en waarom moes daar aandag aan hulle geskenk word?

18 “Die armes” waarvan hy in Galasiërs 2:10 gepraat het, was waarskynlik merendeels Joodse Christene in Jerusalem en Judea. Vroeër “het daar ’n murmurering ontstaan van die Griekssprekende Jode teen die Hebreërs, omdat hulle weduwees in die daaglikse versorging [van voedsel] oor die hoof gesien is” (Handelinge 6:1). Toe hy gemeld het dat hy ’n apostel vir die heidene is, het Paulus derhalwe duidelik getoon dat hy niemand in die Christenbroederskap ignoreer nie (Romeine 11:13). Hy het besef dat die fisiese versorging van broers ingesluit was in die vermaning dat “daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. En as een lid ly, ly al die lede saam.”​—1 Korinthiërs 12:25, 26.

19. Watter bewys het ons dat Paulus en ander hulle besorgdheid oor die armes daadwerklik getoon het?

19 Toe Christene in Jerusalem en Judea gely het weens armoede, plaaslike hongersnood of vervolging het party vergeleë gemeentes bystand verleen. Hulle sou natuurlik gebid het dat God hulle behoeftige broers onderskraag en vertroos. Maar dit was nie al wat hulle gedoen het nie. Paulus het geskryf: “Macedonië en Achaje het dit goedgevind om iets by te dra vir die armes onder die heiliges in Jerusalem” (Romeine 15:26, 27). Diegene wat sulke geldelike bydraes aan hulle geteisterde broers gegee het, het ‘in alles ryk geword tot alle milddadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk’ (2 Korinthiërs 9:1-13). Sou dit nie vir hulle ’n rede wees om gelukkig te wees nie?

20. Waarom kon die broers wat “die armes” deur bydraes gehelp het gelukkig wees?

20 Die broers wat hulle middele met “die armes onder die heiliges in Jerusalem” gedeel het, het nog ’n rede tot geluk gehad. Hulle versorging van die geteisterdes sou die bydraers help om God se goedkeuring te geniet. Ons kan die rede hiervoor sien as ons oplet dat die Griekse woord, wat in Romeine 15:26 en 2 Korinthiërs 9:13 met “by te dra” en “bydrae” weergegee word, die gedagte bevat van “blyk van broederskap, bewys van broederlike eenheid, selfs geskenk”. Dit word in Hebreërs 13:16 gebruik, waar dit sê: “Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ’n welbehae aan sulke offers.”

Sal ons gelukkig wees?

21. Wat sal vir ons ’n grondslag vir geluk bied?

21 In hierdie bespreking het ons die Skriftuurlike bewys beskou dat Jehovah God, Jesus Christus en die apostel Paulus vir die geteisterdes gesorg het. Ons het gesien dat hulle almal besef het dat daar allereers aan geestelike behoeftes aandag geskenk moet word. Maar dit is ook waar dat hulle almal hulle belangstelling in die armes, die siekes en die wat teenspoed ondervind het op uiters praktiese maniere getoon het. Hulle het geluk gesmaak deur praktiese hulp te verleen. Moet ons dit nie ook doen nie? Die apostel Paulus het gesê dat ons “die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang.”​—Handelinge 20:35.

22. Aan watter aspekte van hierdie saak moet jy nog aandag skenk?

22 Maar jy kan gerus vra: Wat kan ek doen? Hoe kan ek weet wie werklik hulp nodig het? Hoe kan ek hulp aanbied wat nie luiheid bevorder nie, wat goedhartig en realisties is, wat ander se gevoelens in ag neem en wat in ewewig is met my Christelike plig om die goeie nuus te versprei? Die volgende artikel sal aspekte van hierdie saak behandel en vir jou ’n grondslag bied om groter geluk te smaak.

[Voetnote]

a Dit is interessant dat Jesus nie skaam of te trots was om materiële hulp van ander te aanvaar nie.​—Lukas 5:29; 7:36, 37; 8:3.

Het jy opgelet?

◻ Hoe toon God sy belangstelling in ons geestelike sowel as in ons fisiese behoeftes?

◻ Wat toon dat Jesus meer wou doen as om mense te help deur hulle die waarheid te leer?

◻ Watter soort voorbeeld het Paulus ten opsigte van die armes gestel?

◻ Wat besef jy nou moet jy doen, nadat ons die voorbeeld van Jehovah, Jesus en die apostel Paulus behandel het?

[Prent op bladsy 13]

Christen- ouere manne en ander moet Jesus se raad in Lukas 14:13, 14 toepas

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel