Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 11/15 bl. 3-4
  • Die skrif aan die muur—Sien jy dit?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die skrif aan die muur—Sien jy dit?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Van die toppunt van mag . . .
  • . . . tot algehele ondergang
  • ’n Spoedige vervulling
  • ’n Vernietiging wat net so skielik kom
  • Vier woorde wat die wêreld verander het
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Die skrif teen die muur
    My boek met Bybelverhale
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Wat sê die Bybel oor Daniël?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 11/15 bl. 3-4

Die skrif aan die muur​—Sien jy dit?

“From his own hand foresees his fall, . . .

’Tis like the writing on the wall.”

MET hierdie woorde het die 18de-eeuse Ierse skrywer Jonathan Swift ’n bankier beskryf. Bestorm deur kliënte wat hulle geld wil terughê, het hy aangevoel dat sy einde naby is. Die uitdrukking ‘die skrif is aan die muur’ dui al eeue lank op dreigende gevaar.

Maar die oorspronklike ‘skrif aan die muur’ het meer as 2 500 jaar gelede verskyn. En die spoedige vervulling daarvan het die loop van die geskiedenis verander. Om die oorsprong van die uitdrukking ‘die skrif aan die muur’ verder na te spoor, moet ons na die Bybelboek Daniël blaai. Dit sal ons help om die waarde te besef van waarskuwings wat in die Skrif opgeteken is, en dit behoort ons te beweeg om ag te slaan op ’n kritieke waarskuwing in ons dag.

Van die toppunt van mag . . .

Dit is die nag van 5 Oktober 539 v.G.J. Die inwoners van Babilon drink en dans. Hoewel die Medo-Persiese vyand by die poorte is, is die stad oënskynlik veilig. Die mure is onneembaar; laat almal dus feesvier. Trouens, die geluide van feesvierdery sou die besetters bes moontlik laat besef dat die stad lank weerstand kan bied!

In die groot saal van sy paleis, en ongetwyfeld met heelwat trots, beskou koning Belsasar die belangrike mense wat hy vir die geleentheid byeengeroep het. Hy laat sy dienaars die goue en die silwervoorwerpe inbring wat sy oupa, koning Nebukadnesar, dekades tevore uit Jehovah se tempel in Jerusalem geneem het. ‘Laat ons uit hierdie voorwerpe wyn drink ter ere van ons gode!’ roep Belsasar heel moontlik uit.​—Daniël 5:1-4.

. . . tot algehele ondergang

Meteens word Belsasar bleek van die skrik. Daar, voor die kandelaar naby die muur, verskyn ’n hand wat vier eenvoudige maar raaiselagtige woorde neerskryf. Die musiek en dansery kom tot ’n einde. Die koning is doodbang en sy knieë slaan teen mekaar. Wat beteken hierdie skrif? Roep die wyse manne en die waarseërs! Die een wat hierdie skrif kan uitlê, sal met groot eer bekroon word.​—Daniël 5:5-7.

Almal wag senuweeagtig dat die wyse manne iets sê. Maar hulle is dronkgeslaan. Wat is die dieper betekenis agter daardie ‘skrif aan die muur’? Niemand waag dit om ’n uitlegging te gee nie, en die koning raak nog banger.​—Daniël 5:8, 9.

Toe die koningin hoor wat gebeur, kom sy die saal binne. Sy herinner Belsasar daaraan dat daar ’n buitelandse geleerde in die koninkryk is wat sy vermoë bewys het. Gevolglik word Daniël geroep. Hy herinner die koning moedig aan wat jare tevore met Nebukadnesar gebeur het. Dan vertel Daniël vir Belsasar wat met hom gaan gebeur:

“Dit is die skrif wat geskrywe is: MENE, MENE, TEKEL UFARSIN.

“Dit is die uitleg van die woord: MENE​—God het u koningskap getel en daar ’n einde aan gemaak;

“TEKEL​—u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind;

“PERES​—u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.”​—Daniël 5: 10-28.

’n Spoedige vervulling

Sal Belsasar lank moet wag om te sien of Daniël se woorde akkuraat is? Laat ons kyk wat vervolgens plaasvind en gebeure beskou wat meer as historiese betekenis het.

Die Medo-Persiese leërs het reeds kanale gegrawe om die Eufraatrivier wat deur die stad Babilon vloei te verlê. Koning Kores het vir hierdie aand gewag om sy plan uit te voer, in die hoop dat die Babiloniërs hulle waaksaamheid sal laat verslap wanneer dit donker word. Nou word die kanale oopgemaak. Sodra die waters van die verlegde rivier genoeg gesak het, beweeg die soldate van die oewer af tot in die rivierbedding.

Vannag is die stadspoorte aan die rivier oopgelaat, moontlik weens oorgerustheid. Die Medo-Persiese leër dring die stad by verrassing in. ’n Afdeling slaag daarin om die koninklike paleis in te neem, en Belsasar word gedood. Die groot Babiloniese ryk het geval.​—Daniël 5:30.

’n Vernietiging wat net so skielik kom

Die juistheid van Daniël se uitlegging lig die erns van die Bybel se waarskuwings toe. Latere woorde wat deur die apostel Paulus geskryf is, toon dat daar ander skielike en belangrike gebeurtenisse voorlê. In sy eerste geïnspireerde brief aan Thessaloniese Christene skryf hy: “Wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid​—dan oorval ’n skielike verderf [van God] hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.”​—1 Thessalonicense 5:3.

Maar net soos Daniël en die Jode gered is toe Babilon geval het, so is dit moontlik om hierdie komende verderf of vernietiging deur God te oorleef. Hoe? Deur geestelik wakker te bly en aldus Jehovah se beskerming te geniet. “Maar julle, broeders”, het Paulus gesê, “is nie in duisternis, dat die dag julle soos ’n dief sou oorval nie.”​—1 Thessalonicense 5:4.

Paulus het gepraat van “die dag van die HERE”, ’n tyd van goddelike ingryping in menseaangeleenthede deur middel van God se Messiaanse Koninkryk (1 Thessalonicense 5:2). Wanneer moet ons hierdie ‘skrif aan die muur’​—die aanduidings wat ons teen hierdie ingryping waarsku​—verwag? ’n Vroeëre profesie, wat in Daniël hoofstuk 2 opgeteken is, verstrek die antwoord op ons vraag.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel