Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 12/15 bl. 15-20
  • Hoe heerlik is Jehovah se naam!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe heerlik is Jehovah se naam!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ragab en haar familie
  • Jerigo​—toe en nou
  • Die voltrekking van oordeel
  • ’n Afvallige faal
  • Sy is “deur werke regverdig verklaar”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Ragab—Regverdig verklaar deur werke van geloof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Ragab steek die spioene weg
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Ragab het in Jehovah geglo
    Leer jou kinders
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 12/15 bl. 15-20

Hoe heerlik is Jehovah se naam!

“O [Jehovah], onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!”​—PSALM 8:2, 10.

1. Waarom het Jehovah gesorg dat die land die Kanaäniete “uitspuug”?

UITEINDELIK, in 1473 v.G.J., het Israel in die Beloofde Land gestaan. Maar etlike jare van teokratiese oorlogvoering het voorgelê, want hulle moes die verdorwe bewoners uit die land suiwer. Was daardie Kanaäniete werklik so sleg? Hulle was inderdaad! Hulle afgodediens en onsedelike lewenswyse was verfoeilik in Jehovah se oë en ’n gevaar vir God se volk. Daarom het God Moses laat aankondig dat Hy Sy heilige nasie, Israel, as Sy skerpregter sou gebruik. So sou Jehovah toesien dat die land daardie onrein nasies “uitspuug”.​—Levitikus 18:1-30; Deuteronomium 12:29-32.

2. Watter “vrugte” het die wêreld se godsdiensstelsels voortgebring?

2 Vandag kan ons ook die vraag stel: Is die wêreld so sleg dat dit vernietiging verdien? Wel, wat van die wêreld se godsdiensstelsels? Die droewe feit is dat hulle nie die Skepper, Jehovah God, eer nie. Die mense in die Christendom het hom, “die fontein van lewende water,  . .  verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie” (Jeremia 2:13). Hulle sektariese opvattings bevat geen “water” van die waarheid nie. Hulle het getoon dat hulle ’n deel van die wêreld is deur die wêreld se oorloë en politiek te ondersteun en deur sy seksuele norme te aanvaar. Hulle word “aan hulle vrugte” geken, soos Jesus gesê het.​—Mattheüs 7:16, 17; vergelyk Galasiërs 6:7, 8.

3. Wat was die gevolg van die wêreld se skending van God se wet?

3 Wat van die wêreld se sedes? In die laaste jare was daar ’n wêreldwye styging in aborsies, tienerswangerskappe en gebroke gesinne, veral in sogenaamd Christelike lande. In sommige lande loop tot 50 persent van alle huwelike op ’n egskeiding uit. Die “seksuele revolusie” van die sestigerjare het ander rampspoedige gevolge gehad. Een hiervan is in The New York Times van 13 Junie 1986 gemeld, onder die voorbladopskrif: “TIENVOUDIGE TOENAME IN VIGS-STERFTE WORD TEEN ’91 VERWAG.” Die artikel het getoon dat daar teen 1991 in die Verenigde State alleen meer as 100 000 pasiënte met VIGS (Verworwe Immuungebreksindroom) kan wees, met ’n jaarlikse mediese koste van tot 40 miljard rand. Hierdie dodelike siekte word hoofsaaklik deur homoseksuele aktiwiteit, dwelmmisbruik en bloedoortappings oorgedra​—alles dinge wat skendings van God se wet is.​—1 Korinthiërs 6:9, 10; Galasiërs 5:19-21; Handelinge 15:19, 20.

4. (a) Hoe verskil ons oorlogvoering van dié van Israel in Josua se dag? (b) In watter mate moet ons met wêreldse mense omgaan, en waarom?

4 In Josua se dag het Jehovah Sy heilige volk gestuur om die Beloofde Land deur middel van letterlike oorlogvoering te reinig. Vandag is ons oorlogvoering geestelik (2 Korinthiërs 10:3, 4). As Getuies tree ons nie gewelddadig op teen diegene wat God se Woord ignoreer nie. Jehovah sal op sy bestemde tyd en op sy manier van hulle ontslae raak (Deuteronomium 32:41, 43). Ons vermy intieme omgang met beginsellose mense, hoewel ons opregte liefde kan toon deur die goeie nuus van die Koninkryk aan hulle te verkondig (1 Korinthiërs 15:33). Ons kan God se Woord met hulle bestudeer en hulle aanspoor om ‘tot inkeer te kom en hulle te bekeer, sodat hulle sondes uitgewis kan word’.​—Handelinge 3:19; Mattheüs 21:31, 32; Lukas 5:27-32.

Ragab en haar familie

5, 6. (a) Waarom het die verkenners na Jerigo en na Ragab se huis gegaan? (b) Hoe verhoor Jehovah vandag dikwels oproepe om hulp? (c) Hoe het Ragab getoon dat sy ‘’n mens van vrede’ is?

5 Nog voor Israel die Jordaanrivier oorgesteek het, het Jehovah die aandag op die stad Jerigo gevestig. Josua het twee verkenners uitgestuur as verteenwoordigers van die hele Israel en hulle beveel: “Gaan bekyk die land en Jerigo.” Waarom moes hulle Jerigo verken? Hoewel die stad klein en nie opgewasse teen die leër van Israel was nie, het hy die toegangsweë na Kanaän beheers. Soos sake verloop het, het die teenwoordigheid van die verkenners aan die inwoners van Jerigo ’n geleentheid gebied om te toon of hulle vír of téén Jehovah is. “[Die verkenners] het toe gegaan en in die huis van ’n hoer, met die naam van Ragab, ingekom; en hulle het daar gaan slaap” (Josua 2:1-7). Dit was ongetwyfeld God wat daardie verkenners na Ragab se huis gelei het, net soos die engele Jehovah se Getuies dikwels vandag na mense lei wat om geestelike hulp bid! “Die oë van die HERE is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep.”​—Psalm 34:16; kyk ook 2 Kronieke 16:9.

6 Waarom sou daardie verkenners in die huis van ’n prostituut ingaan? Nie met ’n onsedelike doel nie, maar waarskynlik om Kanaänitiese waarnemers om die bos te lei. Ragab se woorde aan die verkenners toon dat sy geen onsedelike belangstelling in hulle gehad het nie. Omdat sy geweet het dat hulle knegte van Jehovah is, kon sy hulle vertel van haar hartsbegeerte om ’n aanbidder van Jehovah te word. Sy het selfs haar lewe gewaag deur hulle op haar huis se dak te versteek. Sy was soos die “skape” van Jesus se gelykenis, wat goed doen aan die Here se “broeders” (Mattheüs 25:31-46). Ofskoon hulle met oorleg te werk gaan, aarsel Jehovah se hedendaagse getuies nie om sulke belangstellende ‘mense van vrede’ te besoek en die Bybel met hulle te bestudeer nie.​—Lukas 10:5-7.

7. (a) Hoe het Ragab haar geloof in Jehovah uitgedruk? (b) Watter gesindheid moet nuwelinge vandag toon, en hoe moet hulle optree?

7 Ragab het van die magtige dade van Jehovah gehoor. Sy kon haar geloof aan die versteekte verkenners betuig deur te sê: “Ek weet dat die HERE die land aan julle gegee het en dat die skrik vir julle op ons geval het en dat al die inwoners van die land vir julle bewe.” Nadat sy vertel het wat sy aangaande Jehovah se magtige dade gehoor het, het Ragab gesê: “Die HERE julle God, Hy is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder. Sweer dan nou tog vir my by die HERE dat, terwyl ek aan julle ’n guns bewys het, julle ook aan my familie ’n guns sal bewys; en gee my ’n betroubare teken” (Josua 2:9-13). Soos Ragab hoef nuwelinge wat vandag God se waarheid leer nie meer bang te wees vir die oordeel wat gedurende “die dag van die HERE” voltrek gaan word nie (Sefanja 1:14-18). Hulle sê eerder wêreldse weë vaarwel en soek die hulp van Jehovah se Getuies om redding te verkry.​—Psalm 3:7-9; Spreuke 18:10.

8. (a) Wat stem vandag ooreen met die “gedraaide rooi lyn” wat Ragab aan haar venster gebind het? (b) Waarom is Ragab regverdig verklaar, en met watter gevolg?

8 Die teken wat die verkenners vir Ragab gegee het, was ’n “gedraaide rooi lyn” wat sy moes vasbind aan die venster waardeur die verkenners ontsnap het (Josua 2:17-21). Deur hierdie teken te vertoon, sou Ragab se huis gespaar word wanneer Jerigo vernietig is. Vandag word diegene wat geloof soos dié van Ragab toon eweneens vir verlossing geïdentifiseer as toegewyde, gedoopte aanbidders van Jehovah. Openbaring 7:9, 10, 14 beskryf hulle as “’n groot menigte” wat “hul klere gewas en hul klere wit gemaak [het] in die bloed van die Lam”. Hulle beoefen geloof in Jesus se offerbloed en lewer bewys daarvan deur Christelike werke (Romeine 10:9, 10). Ons lees in Jakobus 2:24, 25: “Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie? En is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy die boodskappers ontvang en met ’n ander pad weggestuur het nie?”

9. (a) Waaruit het Ragab se “werke” bestaan? (b) Watter resultate het onbevreesde getuieniswerk in ons dag gehad?

9 Ragab se “werke” het die beskerming van die twee verkenners ingesluit, asook die byeenbring van ander in haar huis sodat hulle gered kon word. Op soortgelyke wyse is die “groot menigte” van vandag druk besig om hulle lojale steun te verleen aan die gesalfde “getroue en verstandige dienskneg” terwyl hierdie groep geestelike “voedsel op tyd” verskaf en toesig hou oor die wêreldwye Koninkrykspredikingswerk (Mattheüs 24:45-47). Ragab het self onbevrees vir haar vader se huis getuig​—iets wat groot gevaar ingehou het, aangesien iemand haar kon verraai het. (Vergelyk Mattheüs 10:32-36.) In baie lande waar daar vandag teenstand ondervind word, moet Jehovah se Getuies eweneens onbevrees getuig. Dit het ’n groot insameling tot gevolg gehad, en dikwels het hele gesinne uit Babilon die Grote gekom om standpunt in te neem vir die ware aanbidding van Jehovah.​—Psalm 73:28; 107:21, 22.

Jerigo​—toe en nou

10. Watter spesiale aandag moes aan Jerigo gegee word?

10 Laat ons nou hierdie dramatiese gebeure uit ’n ander hoek beskou. “Jerigo het die poort gesluit en gesluit gebly vanweë die kinders van Israel; niemand het uit- of ingegaan nie.” Dit was die eerste Kanaänitiese stad waaraan Jehovah sy oordeel voltrek het. Om daardie rede moes dit spesiale aandag ontvang as eersteling wat aan God gewy is. Josua het verduidelik: “Die stad met al wat daarin is, moet ’n banoffer aan die HERE wees.”​—Josua 6:1, 17; vergelyk Exodus 22:29; Levitikus 27:26.

11. (a) Watter treffende parallel merk ons vandag op? (b) Meld ’n voorbeeld van die “skrik” van Babilon die Grote.

11 Hoe goed stem dit tog ooreen met Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens wat in hierdie bloedbevlekte 20ste eeu die toppunt van haar boosheid bereik het! Sy het probeer om haar poorte teen indringing deur Jehovah se Getuies te sluit. “Die skrik” van God se volk het op haar geval, om Ragab se woorde te gebruik. Die Italiaanse koerant La Repubblica van 12 November 1985 het byvoorbeeld hierdie opskrif bevat: “NOODKREET VAN DIE KERK TEEN JEHOVAHSGETUIES.” Die artikel het verslag gelewer oor ’n vergadering in Bologna, waaraan ’n Rooms-Katolieke kardinaal deelgeneem het, om die “bedreiging” van Jehovah se Getuies teen te werk. Die pous het ’n telegram van bemoediging en ondersteuning gestuur. Die noodkreet het uitgegaan: “Die hele wêreld is reeds vervuil van hulle”, en daar is gesê dat “die kerk hom nou gaan mobiliseer” om hierdie “gevaar” die hoof te bied. Maar sal hy oorwin?​—Jeremia 1:17-19.

12. (a) Hoe druis Babilon die Grote se beskouing van “god” teen die waarheid in? (b) Waarom sal Jehovah vir sy getuies stry?

12 Babilon die Grote aanbid ’n duisternis van gode, van die Christendom se mistieke Drie-eenheid tot die miljoene gode van Oosterse gelowe. Voordat hy Josua as sy opvolger aangewys het, het Moses gesê: “Hoor, Israel, die HERE onse God is ’n enige Here.” Vandag is Jehovah se Getuies die enigstes wat hierdie “een God en Vader” verheerlik (Deuteronomium 6:4; Efesiërs 4:6). Jehovah sal vir ons stry soos hy in die dae van Josua en ander lojale leiers in Israel gedoen het.​—2 Kronieke 20:15, 17; 32:7, 8; Jesaja 54:17.

Die voltrekking van oordeel

13. (a) Watter gebeure het die beleg van Jerigo voorafgegaan? (b) Watter parallelle merk ons vandag op?

13 Josua het deeglik voorberei vir die beleg van Jerigo. Die manne wat in die woestyn grootgeword het, is besny. Dit het gesimboliseer dat hulle alles aflê wat in die weg van heelhartige toewyding aan Jehovah kon staan (Deuteronomium 10:16; 30:5, 6). Die viering van die Pasga is hervat. Die volk het begin om van die opbrings van die land te eet, en die wonderdadige manna het opgehou. Daarbenewens het “die leërowerste van die HERE”, ongetwyfeld die voormenslike Logos, aan Josua verskyn en hom gerusgestel. En Josua het nederig die teenwoordigheid van daardie Een erken. Ons vind parallelle van al hierdie dinge in die ondervinding van die hedendaagse getuies van Jehovah terwyl hulle hul toegewese taak volbring. Ons geestelike voedsel het meer gevarieerd en ryker geword namate “die getroue en verstandige dienskneg” vooruitgegaan het onder die leiding van die Here Jesus Christus.​—Josua 5:1-15.

14. Watter vreemde taktiek het Jehovah vir die beleg van Jerigo beveel?

14 Kyk nou na die gevegstoneel. Jehovah het ’n baie vreemde taktiek beveel! Ses dae lank loop priesters van Israel een maal per dag met die ark, wat die teenwoordigheid van Jehovah voorstel, om Jerigo. Voor hulle loop daar sewe priesters wat op ramshorings blaas, met soldate van Israel wat voor sowel as agter hulle marsjeer. Maar op die sewende dag het hulle “vroeg klaargemaak toe die rooidag uitkom” en sewe maal om die stad getrek. Hoe moes daardie inwoners van Jerigo nie gesidder het nie!​—Josua 6:2-15.

15. Watter parallel sien ons vandag in die werk van Jehovah se Getuies?

15 Ons vind ’n merkwaardige parallel hiervan in wat Jehovah se Getuies vandag aardwyd doen. Daar was in die laaste jare ’n opmerklike uitbreiding van ons Koninkrykswerk. In die vyf jaar tot 1985 het die pioniergeledere met 134 persent toegeneem. Die leërskare pioniers en ander getroue Koninkryksverkondigers staan “vroeg” op, dikwels in letterlike sin, en verkondig ywerig die oordele van Jehovah. Vir die leiers van die Christendom se godsdienste lyk hierdie Getuies na “’n talryke en magtige volk”. Die geestelikes ‘bewe van angs’ wanneer hulle sien hoe die verkondiging van die waarheid talle regskapenes beweeg om hulle te verlaat en vir Jehovah standpunt in te neem.​—Joël 2:1-3, 6.

16. (a) Watter wonderwerke het met die val van Jerigo gepaard gegaan? (b) Hoe is Ragab se geloof beloon?

16 Uiteindelik beveel Josua die volk: “Skreeu! want die HERE gee die stad aan julle oor.” ’n Magtige oorlogskreet gaan op. Die aarde skud en​—’n wonderwerk! Jerigo se mure tuimel inmekaar. Die Israeliete hardloop gehoorsaam die stad binne om elke lewende ding te vernietig. Die stad word met vuur verbrand. Maar kyk! Een deeltjie van die buitemuur staan nog, en in die venster is daar ’n rooi lyn. Ragab en haar vader se familie word ongedeerd uitgebring. Later word Ragab se geloof verder beloon wanneer sy die vrou van die Israeliet Salmon en ’n voormoeder van Jesus Christus word.​—Josua 6:16-26; Mattheüs 1:5.

17. Wat skadu hierdie wonderwerke af?

17 “En die HERE was met Josua, en die gerug van hom het deur die hele land gegaan.” Net so sal Jehovah sy heerlike naam regverdig wanneer hy Babilon die Grote aan die begin van die “groot verdrukking” verwoes en haar van haar rykdom en glorie stroop.​—Josua 6:27; Openbaring 17:16; 18:9, 10, 15-17; Mattheüs 24:21, 22.

’n Afvallige faal

18. (a) Waarom het ‘die volk se hart versmelt’? (b) Hoe het Josua op daardie krisis gereageer?

18 Kort na die klinkende oorwinning by Jerigo gebeur daar iets verstommends. Die aanvalsmag wat deur Josua uitgestuur word om die naburige stad Ai in te neem, word verslaan! “Die volk se hart het versmelt en soos water geword.” Die bekommerde Josua roep in gebed uit: “Ag HERE, . . . wat sal U dan vir u grote Naam doen?”​—Josua 7:2-9.

19, 20. (a) Hoe het Jehovah Agan se skanddaad vergeld, en met watter versekering aan Josua? (b) Watter hedendaagse parallel merk ons op?

19 Jehovah openbaar dan aan Josua dat “’n skanddaad” in Israel begaan is. Agan, van die stam van Juda, word as die oortreder uitgewys. Uit die buit van Jerigo het hy ’n “mooi” Babiloniese kleed, sowel as goud en silwer, gesteel. Jehovah ‘stort Agan in die ongeluk’, en hy en sy gesin word gestenig. Daarna word hulle en hulle besittings met vuur verbrand. As blywende getuienis van daardie voltrekking van Jehovah se oordeel word ’n groot hoop klippe op Agan gestapel, en die plek word “Dal Agor” genoem, wat beteken “Ongeluk; Moeilikheid”. Weer sê Jehovah vir Josua: “Wees nie bevrees of verskrik nie.” Jehovah se naam word daarna verheerlik deurdat Josua nooit weer ’n nederlaag op die slagveld ly nie.​—Josua 7:10-8:1.

20 Is daar ’n hedendaagse parallel vir Agan se sonde? Ja, daar is. Die apostel Paulus het gewaarsku teen “wrede wolwe” wat teokratiese orde sou ignoreer en hulle eie selfsugtige weg sou inslaan. Sedert 1919 het daar van tyd tot tyd sulke hebsugtige persone onder God se knegte verskyn. ’n Onlangse voorbeeld was gedurende die middel-sewentigerjare, toe sekere vooraanstaande ouere manne onvergenoeg geraak het. Dit was benede hulle “waardigheid” om van huis tot huis te getuig en die Koninkryksboodskap te verkondig soos Jesus se apostels gedoen het (Handelinge 5:42; 20:20, 21, 29, 30). Dit was goed in hulle oë om terug te gaan na Babiloniese leerstellings. Op slinkse wyse het hulle probeer om twyfel te wek oor “die laaste dae” en om die werk van Jehovah se Getuies te vertraag (2 Petrus 3:3, 4). Uiteindelik moes hulle uitgesit word.​—2 Johannes 10, 11; vergelyk Filippense 1:15-17; Hebreërs 6:4-8.

21. (a) Wat was skynbaar een rede vir die vertraging in die werk aan die einde van die sewentigerjare? (b) Wat het moontlik gehelp om die werk sedertdien te ‘bespoedig’?

21 Die Wagtoring van 1 Oktober 1979 het onomwonde gewys op die Skriftuurlike grondslag vir ons bediening van huis tot huis, asook die belangrikheid daarvan. Lojale Getuies het die tagtigerjare ywerig ingegaan! Die teenwoordigheid van ’n klein aantal afvalliges het waarskynlik bygedra tot die vertraging van Jehovah se werk gedurende die laaste helfte van die sewentigerjare​—toe die gemiddelde jaarlikse vermeerdering in die geledere van Jehovah se aktiewe getuies tot minder as 1 persent gedaal het. Maar gedurende die afgelope vyf jaar was die jaarlikse vermeerdering gemiddeld meer as 6 persent. Koninkryksverkondigers het in 1985 ’n wêreldwye hoogtepunt van 3 024 131 bereik, vergeleke met 2 179 256 in 1975. Jehovah hou aan om sy werk te ‘bespoedig’!​—Jesaja 54:2, 3; 60:22, NW.

22. Wat moet ons aangaande Jehovah se naam besef wanneer ons nou die boek Josua verder ondersoek?

22 Jehovah se naam het inderdaad heerlik geword op die ganse aarde! Maar hy “verkondig” veel meer aan ons deur die boek Josua, soos ons nou sal sien.​—Jesaja 42:8, 9.

Lesse uit die boek Josua​—

◻ Watter parallel vind ons van die wêreld vandag?

◻ Wat leer ons uit die verhaal van Ragab?

◻ Wat vind ons wat ooreenstem met ons versnelde werksaamhede?

◻ Wat word deur die val van Jerigo afgeskadu?

◻ Wat word aangedui deur die manier waarop Agan se sonde gehanteer is?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel