Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 4/1 bl. 22-26
  • Jehovah bewaar ons

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah bewaar ons
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Weetgierig
  • Ek pas toe wat ek geleer het
  • Swaar tye
  • Diens in Brasilië
  • Ingeperk
  • Gilead en daarna
  • Volgehoue vermeerdering
  • Jehovah het my vasberadenheid geseën
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderskraag deur my vertroue in Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Volharding lei tot vooruitgang
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Volharding bring vreugde mee
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 4/1 bl. 22-26

Jehovah bewaar ons

Soos vertel deur Erich Kattner

DOEF! Die boek het op my kop neergekom. Dit was my eerste kennismaking met die Bybel, en dit was ’n Katolieke priester wat my daarmee op die kop geslaan het. Waarom? Weens ’n vraag wat ek gevra het.

Die priester het les gegee in die kategismus en godsdiens en het ons probeer aanmoedig om priesters te word. In sy poging om dit te doen, het hy die teks in 1 Thessalonicense 4:17 gebruik, waar dit praat van die wat ‘in die wolke weggevoer sal word om die Here in die lug te ontmoet’.

Ek was altyd vol vrae, daarom het ek gevra: “Hoekom sê u dat priesters reguit hemel toe gaan terwyl die Belydenis sê dat Jesus hel toe gegaan het?” (Handelinge 2:31). Dit was toe dat die Bybel op my kop neergekom het.

Weetgierig

Maar ek het opreg na antwoorde gesoek. Ek wou God graag aanbid, selfs as ’n jong seun. Ek het omtrent nooit by ’n kerk verbygeloop sonder om in te gaan en te bid nie. Maar dit het my nie tevrede gestel nie. Ek het altyd kwaad geword oor dinge wat ek gesien het, soos die growwe afgodediens van sommige mense en die gedrag van party priesters.

Toe ek ongeveer agt jaar oud was, het ek my eerste boek gelees. Die titel was The Christianization of Brazil. Ek was geskok. Vir my was dit soos ’n moordverhaal, die moord op Indiane in die naam van godsdiens. Hierdie feite was genoeg om my beskouing van baie dinge te verander.

Dit het alles in die twintigerjare gebeur. Ek is op 19 Augustus 1919 in Wenen, Oostenryk, gebore, my ouers se enigste kind. Toe ek ongeveer ses was, het my vader, ’n elektrotegniese ingenieur, ’n betrekking in noordelike Tsjeggo-Slowakye, in die Duitssprekende deel van Sudeteland, aanvaar. Ons gesin het daarheen verhuis, en later na ’n dorpie met die naam Warnsdorf.

Ek het baie ontnugter geraak met die Katolieke Kerk. Op ’n dag was ek so bitter oor die straf wat ek weer van die priester ontvang het dat ek die hele pad van die skool af huis toe gehuil het. Terwyl ek deur die veld geloop het, het ek gedink aan die talle verkeerde dinge wat ek gesien het en geleer is en besluit dat daar onmoontlik ’n God kan wees.

Toe het ek die voëlgesang gehoor en die blomme, die skoenlappers, ja, die skoonheid van die skepping opgemerk. En dit het tot my deurgedring dat daar ’n liefdevolle God móét wees, maar dat die sogenaamde manne van God miskien glad nie is wat hulle te kenne gee nie. En dalk het God hoop laat vaar met die mensdom. Dit was toe dat ek my eerste doelbewuste gebed gedoen het. Ek het God gevra om my te help om hom te leer ken as hy ooit weer in die mens sou belangstel. Dit was in 1928.

Ongeveer ’n maand later het my moeder na ’n familiereünie in Wenen gegaan; dit was haar moeder se 60ste verjaardag. Daar het my moeder haar broer, Richard Tautz, ontmoet. Hy het destyds in Maribor, Joego-Slawië, gewoon en het kort tevore een van die Bybelstudente geword, soos Jehovah se Getuies toe genoem is. Toe Moeder teruggekom het, was sy baie opgewonde oor die nuwe Bybelwaarhede wat sy geleer het. Wat sy vertel het, het vir my logies geklink. Dit het gelyk of Jehovah se hand aan die werk was.—Psalm 121:5.

Ek pas toe wat ek geleer het

Later het daar Bybelstudente van Duitsland af gekom en die predikingswerk het in ons omgewing aan die gang gekom. ’n Paar maande later het hulle begin om gereelde vergaderinge in ’n naburige dorp in Duitsland te hou, en ons het die paar kilometer tot anderkant die grens geloop om dit by te woon. Gedurende hierdie tyd het ek Otto Estelmann ontmoet, met wie ek in latere jare nou saamgewerk het.

In 1932 het ons gesin na Bratislava, die hoofstad van Slowakye, ongeveer 72 kilometer van Wenen af, verhuis. Daar was destyds geen ander Getuies in Bratislava nie. Ek het besluit om self die predikingswerk te begin doen. Ek het gebied gekies wat ek gedink het die moeilikste was—’n blok woonstelle wat hoofsaaklik deur die gesinne van staatsamptenare bewoon is. Vier tale is destyds in Bratislava gepraat: Slowaaks, Tsjeggies, Duits en Hongaars.

Gewapen met kaartjies waarop ’n prekie in vier tale gedruk was, het ek vingeralleen na die woonsteldeure gegaan. Soms het my vader, wat toe nog nie ’n Getuie was nie, my kopskuddend van oorkant die straat af dopgehou. Kort daarna het hy ook ’n ferm standpunt vir Jehovah ingeneem.

Op 15 Februarie 1935, by ’n spesiale vergadering met ’n reisende opsiener in ons huis, is ek en ’n paar ander in ’n bad gedoop. Ek het daardie jaar my opleiding aan ’n handelskool voltooi en het ’n aantreklike werkaanbod ontvang, maar ek is terselfdertyd uitgenooi om by die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Praag, Tsjeggo-Slowakye, te gaan werk. Na ’n ernstige bespreking met my ouers het ons die saak in gebed aan Jehovah opgedra. Die gevolg was dat ek op 1 Junie 1935, kort voor ek 16 geword het, tot die voltydse diens toegetree het.

Swaar tye

By die Genootskap se kantoor in Praag het ek geleer om die setmasjiene te bedien en die setsel in bladsyvorm op te maak. Ons het traktate gedruk vir ons broers in Duitsland, waar Hitler die werk verbied het, en ons het ook Die Wagtoring in verskeie tale gedruk. Maar dit was swaar tye vir ons werk in Europa, en in Desember 1938 het die owerheid ons tak gesluit.

Ek het teruggegaan na Bratislava, waar Nazi-ondersteuners nou aan die bewind was, en ek het twee maande lank ongemerk van huis tot huis gepreek. Omstreeks hierdie tyd het die Sentraal-Europese Kantoor van die Wagtoringgenootskap in Bern, Switserland, aan my geskryf en gesê dat ek na Bern moet kom indien ek bereid is om op enige plek ter wêreld as pionier te dien.

Ek het die uitnodiging aanvaar en die huis verlaat. Dit was die laaste keer dat ek my vader gesien het, en 30 jaar sou verloop voor ek my moeder weer sou sien. Maar Jehovah het ons al drie bewaar deur die baie ontberinge wat gevolg het. Ek het byvoorbeeld later verneem dat die berugte Hlinka Guarda (’n soort Slowaakse SS) op soek was na my die dag toe ek uit Bratislava weg is. En tydens die reis het Nazi-agente wat uitgevind het dat ek een van Jehovah se Getuies is, probeer om my by die grense van Joego-Slawië en Italië te laat arresteer. Maar Jehovah het my aldeur bewaar.—Psalm 48:15, NW; 61:4.

In Bern het ek gehoor dat ek na Sjanghai, China, gestuur sou word, maar hierdie toewysing is later na Brasilië verander. Ek het in die tak in Bern gewerk tot ek my visum vir Brasilië gekry het. Teen hierdie tyd was die moeilikheid in Europa aan die toeneem. Grense is een na die ander gesluit, en in Augustus 1939 het die Genootskap my aangespoor om na Frankryk te gaan. Die Brasiliaanse handelskip Siqueira Campos sou op 31 Augustus uit Le Havre, Frankryk, vertrek, en ek moes daarop wees. Net vier uur voor die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het die skip uit die hawe gevaar.

Ek het later uitgevind dat die stuk of twaalf passasiers saam met wie ek in die tweedeklas-gedeelte gereis het almal Nazi-agente was. Hulle was glad nie gediend met my prekery nie. ’n Hele paar keer het hulle probeer om my van die skip af te kry. In Vigo, Spanje, het die vriendelike kaptein my gewaarsku om nie aan wal te gaan nie. In Lissabon, Portugal, het die Nazi-agente die vertrektyd van die skip op die aanplakbord verander sodat ek daar gestrand sou wees. Maar Jehovah het my weer bewaar (Psalm 121:3). Ek het die aand van 24 September 1939 in Santos, Brasilië, aangekom. Die volgende dag het ek na São Paulo gegaan, waar die Genootskap se kantoor geleë was.

Diens in Brasilië

In September 1939 was daar net 127 Getuies in Brasilië, wat toe ’n bevolking van nagenoeg 41 miljoen gehad het. Na sowat ’n week in São Paulo het ek na my eerste pioniertoewysing in die suidelikste staat, Rio Grande do Sul, vertrek. Ek sou by Duitssprekende Getuies van Poolse afkoms in ’n afgeleë woudstreek tuisgaan.

Die treinreis het vier dae geduur. Die einde van die spoorlyn was by Giruá, wat nogal gelyk het na ’n dorp uit die vroeë dae van die Wilde Weste van Noord-Amerika. Van Giruá moes ek nog sowat 32 kilometer die bos ingaan tot waar die Getuies gewoon het. ’n Bestelwa het my ’n geleentheid gegee, en ek het by ’n grondpad afgeklim. Nadat ek die laaste anderhalf kilometer deur die oerwoud te voet afgelê en deur ’n stroompie geloop het, het ek uiteindelik my bestemming bereik.

Weens die afgeleënheid van die gebied was my pionierdiens beperk tot tye wanneer ek ’n geleentheid saam met iemand op ’n perdewaentjie kon kry. Om mense te bereik, moes ons dae lank reis, op grondpaaie slaap om slange te vermy, of onder die wa wanneer dit gereën het. Ons het ook in dorpe soos Cruz Alta gepreek.

In 1940 het die Genootskap my na Porto Alegre, die hoofstad van die staat Rio Grande do Sul, gestuur. Daar het ek aangesluit by my ou vriend Otto Estelmann, wat ook na Brasilië toegewys is. Die owerheid aldaar was skynbaar Nazi-ondersteuners. Ons is in hegtenis geneem en die keuse gegee om of ’n dokument te teken waarin ons ons geloof verloën of op die aandtrein te vertrek na ’n plek van aanhouding by die Uruguaanse grens. Ons was daardie aand op die trein.

Ingeperk

Ons het byna twee jaar daar op die grens in huisarres deurgebring. Maar Jehovah het ons weer te hulp gekom. ’n Paar Joodse sakemanne het aangebied om te help. Gevolglik is ek nie in ’n tronk aangehou nie, maar toegelaat om sekulêre werk te doen. Ons is egter gedurig dopgehou en ons kon nie met die Genootskap se takkantoor in aanraking kom nie.

Eendag het ons op straat ’n pionierbroer uit Europa ontmoet wat na Uruguay toegewys is. Hy het toevallig die grens aangedoen. Wat ’n reünie! Hy het ons ’n Duitse Bybel en ’n Engelse Wagtoring gegee. Toe het ek werklik begin om Engels te leer.

Op 22 Augustus 1942 het Brasilië oorlog verklaar teen Duitsland en Italië, wat ’n verandering in ons situasie teweeggebring het. Ons is teruggebring na Porto Alegre, waar ek na ondervraging vrygelaat is. Later het ek ’n paar jong Getuies teëgekom wat ek vroeër leer ken het in die woudstreek waarheen ek aanvanklik toegewys is. Ek kon gevolglik met die takkantoor in aanraking kom en het weer ’n pionier geword. Vier van hierdie jongmense het by my aangesluit in die pionierdiens, en ons het mense gevind wat die Koninkryksboodskap aangeneem het. Sommige van hulle preek vandag nog.

Die nuwe owerheid was ons goedgesind, met die gevolg dat ons in 1943 die eerste klein byeenkoms in Porto Alegre gereël het. Die totale opkoms was 50, waarvan byna die helfte polisiemanne in burgerdrag was. ’n Jaar later, in 1944, het ons nog ’n byeenkoms gereël. Daarna is ek ingeroep om by die Genootskap se takkantoor te dien, wat van São Paulo na Rio de Janeiro verskuif is.

Gilead en daarna

In 1950 is ek genooi om die 16de klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in South Lansing, New York, by te woon. Nadat ek in Februarie 1951 gegradueer het, het ek ’n tydelike toewysing as spesiale pionier in die South Bronx-gemeente, New York, ontvang. Ek het egter later na Brasilië teruggekeer.

Ongeveer anderhalf jaar het ek as ’n reisende verteenwoordiger van die Genootskap gedien, in die hoedanigheid van sowel streekopsiener as kringopsiener. Toe, in Februarie 1953, is ek teruggeroep na die takkantoor in Rio de Janeiro en as vertaler aangestel. Later, van September 1961 tot September 1963, het ek die voorreg gehad om aan ’n spesiale vertaalprojek by die Genootskap se hoofkwartier in Brooklyn, New York, te werk. Terwyl ek daar was, het ek ’n egpaar opgesoek wat ek in Brasilië geken het. Die man het ingestem dat ek ’n studie met hulle hou in die hotel waar hulle gebly het, en hulle het oortuig geraak van die waarheid.

’n Paar maande later, toe ons in Brasilië terug was, het ek hom weer opgesoek. Maar hy was ’n bietjie oorgerus. Ek het vir hom gesê: “Kyk hier, Paul, jy is ’n siviele ingenieur. Maar sê nou ek was die siviele ingenieur en het vir jou gesê dat die dak op jou gaan inval. Wat sou jy gedoen het? Wel, as ’n ‘Bybelingenieur’ sê ek vir jou dat jy in die moeilikheid is as jy nie iets doen omtrent wat jy weet nie.”

Hy is kort daarna gedoop en dien nou al etlike jare as ’n Christen- ouere man. Hy het ook ’n belangrike bydrae gelewer tot die bou van die groot nuwe tak in Cesário Lange, São Paulo, waar ek en 479 ander nou werk om in die geestelike behoeftes van die toenemende getal Getuies in Brasilië te voorsien.

Volgehoue vermeerdering

In 1945 het die Wagtoringgenootskap se president, Nathan H. Knorr, asook die destydse visepresident, Frederick Franz, ons die eerste keer besoek. ’n Byeenkoms is in die Pacaembu-gimnasium in São Paulo gehou, en ek het vir die besoekende broers getolk. Ons topopkoms was 765.

Ek onthou dat broer Knorr na die groot aangrensende stadion gekyk het en gewonder het of ons dit ooit sou vol maak. Wel, ons hét. In Desember 1973 was die Pacaembu-Stadion stampvol toe 94 586 die “Goddelike Oorwinning”-byeenkoms bygewoon het. Hierdie opkoms is in Augustus 1985 oortref by die “Handhawers van Onkreukbaarheid”-byeenkoms in die Morumbi-Stadion, São Paulo, waar 162 941 aanwesig was. En terselfdertyd het nog 86 410 ’n byeenkoms in ’n stadion in Rio de Janeiro bygewoon. Later het nog 23 byeenkomste die totale opkoms vir die “Handhawers van Onkreukbaarheid”-byeenkomste in Brasilië tot 389 387 opgestoot!

Deur die jare heen het ek die voorreg gehad om vir besoekende sprekers van die hoofkwartier in Brooklyn, New York, te tolk. Een van hulle het onlangs, terwyl ek saam met hom gestap het en hy opgemerk het hoe baie van my voormalige Bybelstudente my kom groet het, skertsend gesê: “Ek het nog nooit ’n ongetroude man met so baie kinders gesien nie.”

Die internasionale byeenkomste wat ek in ander lande bygewoon het, was ook ware hoogtepunte in my lewe. By die Neurenbergse byeenkoms in 1969 het ek my moeder na 30 jaar weer gesien. Sy was getrou tot met haar dood in 1973. My vader is nie toegelaat om die byeenkoms in die buiteland by te woon nie, en ek het hom nooit weer gesien nadat ek die huis verlaat het nie. In 1978 het ek die voorreg gehad om die openbare toespraak by die internasionale byeenkoms in Wenen, Oostenryk, te hou, die eerste groot byeenkoms wat ek in my geboortestad bygewoon het.

Gedurende hierdie baie jare in Brasilië het ek gesien dat Jehovah die Een is “wat laat groei” (1 Korinthiërs 3:7). In 1948 het ons vir die eerste keer meer as 1 000 verkondigers gehad. Daarna het die verkondigertal opgeskiet tot 12 992 in 1958 en tot 60 139 in 1970. In plaas van die 127 Koninkryksverkondigers wat ons in September 1939 gehad het, was daar in Augustus 1986 nie minder as 196 948 nie! Ook in hierdie land het ‘die geringste voorwaar ’n magtige nasie geword’.—Jesaja 60:22.

Maar die bevolking van Brasilië het ook aangewas, van 41 miljoen in 1939 tot meer as 135 miljoen vandag. Ons het dus nog ’n geweldige groot arbeidsveld. Dit was vir my ’n vreugde om persoonlik betrokke te wees by die wonderlike vermeerderinge wat Jehovah gegee het, en hoe opwindend was dit tog nie! Daarom is my advies aan enigiemand wat Jehovah voltyds wil dien: Moenie aarsel nie! Moenie bang wees vir wat kan gebeur nie, want “die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar”.—Psalm 121:7, 8.

[Lokteks op bladsy 26]

‘Ek sê jou dat jy in die moeilikheid is as jy nie iets doen omtrent wat jy weet nie’

[Prent op bladsy 25]

N. H. Knorr hou ’n toespraak en Erich Kattner tolk in São Paulo, Brasilië, in 1945

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel