’n Nuwe dimensie van goddelike wysheid
“HIEROP het God vir Moses gesê: ‘EK SAL BLYK TE WEES WAT EK SAL BLYK TE WEES.’ En hy het bygevoeg: ‘Dit moet jy aan die kinders van Israel sê: “EK SAL BLYK TE WEES het my na julle gestuur”’” (Exodus 3:14, NW). Jehovah het aan Moses verduidelik dat nie eers Sy knegte vroeër die volle betekenis van Sy naam verstaan het nie. Hy is die God van voorneme en hy voer altyd sy wil uit. As omstandighede dit vereis, kan hy selfs sy werkwyse verander om sy doel te bereik. So wys is hy!
Satan self het ook nie besef wat God se naam impliseer nie. Hy het waarskynlik van die boom van die lewe in die tuin van Eden geweet. As hy Adam en Eva daarheen gelei het, kon dit lyk of Jehovah hom in ’n dilemma bevind: òf hy hou sy woord dat sonde die dood meebring of hy hou sy woord oor die boom van die lewe (Genesis 2:9; 3:1-6). Daar het egter ’n teleurstelling op Satan gewag.
God het nou begin om wysheid aan die dag te lê wat nie deur sy geesseuns voorsien is en nie voorheen aan hulle geopenbaar is nie. (Vergelyk Efesiërs 3:10.) Hy het begin met ’n reeks verklarings en gebeure wat oor ’n lang tydperk wonderbaarlike bewys sou lewer van sy groot wysheid en sy vermoë om sy ewige voorneme te verwesenlik. Hierdie voorneme was om die aarde vol gelukkige, lojale mense te hê wat vir ewig in ’n paradys kon lewe (Genesis 1:27, 28). Jehovah het Satan se pogings om in te meng keer op keer gedwarsboom.
Die heilige geheim ontvou
God het onmiddellik na die eerste opstand opgetree. Hy het die skuldige paar verhoor en die doodstraf vir ongehoorsaamheid bekragtig. Maar sou Adam en Eva nog van die boom van die lewe kon eet? “Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie! Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden.”—Genesis 3:17-23.
God het nou ook die rol van Evangelis of Draer van goeie nuus aangeneem. Hy het die eerste profesie uitgespreek: “Toe sê die HERE God aan die slang: . . . Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:14, 15). Eeue later het die apostel Paulus verduidelik: “Die [mense]skepping is nog aan die nietigheid onderwerp, nie uit eie wil nie, maar deur hom wat dit onderwerp het op die grondslag van hoop.”—Romeine 8:20, NW,
Ja, die mens sou daarna hulpeloos gekoppel wees aan die dood wat hulle van Adam geërf het, maar God het sy voorneme om Adam se gehoorsame nakomelinge te red bekendgemaak. Wat was egter die “grondslag van hoop”? Hoe kon hy mense red en steeds die doodvonnis vir sonde bekragtig? Dit sou God se verborge wysheid wees; dit het verband gehou met “die verborgenheid [“heilige geheim”, NW] wat van die eeue en geslagte af verborge was” (Kolossense 1:26; 1 Korinthiërs 2:7, 8). Al het die getroues van die ou tyd nie die geheim verstaan nie, het hulle nietemin die hoop gekoester dat God hulle op die een of ander manier sou red. Selfs die engele wou graag weet hoe Jehovah sy voorneme sou vervul! (1 Petrus 1:10-12). Verstaan jy hierdie heilige geheim?
Deur die losprys vrygekoop
Deur die eeue heen het Jehovah geleidelik meer informasie oor sy oorspronklike belofte verstrek. Aan die getroue Abraham het hy ’n saad belowe deur wie alle gehoorsame mense geseën sou word (Genesis 22:15-18). Deur Jakob het hy geopenbaar dat die saad ’n koning uit die stam van Juda sou wees (Genesis 49:10). Godvresende mense het toe reeds aan ’n opstanding van die dode geglo, al het hulle nie ten volle begryp hoe dit sou plaasvind nie (Job 14:14, 15; Hebreërs 11:18, 19). Uiteindelik het God Dawid belowe dat die toekomstige Koning, of Messias, een van sy afstammelinge sou wees en dat hy tot in alle ewigheid sou heers.—2 Samuel 7:16.
Al die profete het insig in die heilige geheim vergroot, maar niemand kon die geheelbeeld sien nie. Uiteindelik het die tyd vir die verskyning van die Messias aangebreek, en toe, einde ten laaste, het die menigvuldige wysheid van God veel duideliker geword. Dit het om Jesus Christus en die voorsiening van sy volmaakte menselewe as ’n ooreenstemmende soenoffer vir die mensdom gedraai. Daarmee as grondslag, sou die res van Jehovah se glorieryke voorneme deur middel van die Koninkryk voortgaan. Verstaan jy die losprysoffer?
In Romeine hoofstuk 5 en 6 gee Paulus ’n goeie verduideliking daarvan. In Romeine 5:12 verduidelik hy die sonde en die dood wat ons geërf het. Hy toon verder hoe die gevolg van net een sonde deur die volmaakte Adam en die verbeuring van die lewe vir sy nageslag deur ’n ander volmaakte menselewe gebalanseer kon word. Dit was, soos dit later geblyk het, die lewe van die “mens, Jesus Christus”. (Ro 5 Verse 15-21; kyk ook 1 Timotheüs 2:5, 6.) Waarom kon Jesus hierdie losprys voorsien? Omdat hy die Seun van God was, was Jesus “heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars” (Hebreërs 7:26; Lukas 1:32, 33). Ons het nie nodig om die genetiese besonderhede van Jesus se geboorte te probeer verduidelik nie. Die engel Gabriël het Jesus se moeder, Maria, en ons, verseker dat geen ding by God onmoontlik is nie (Lukas 1:37). Al is Jesus uit ’n afstammeling van Adam gebore, was hy gevolglik die Seun van God—inderdaad ’n volmaakte mens. Sy bloed, of lewe, was veel meer werd as die bloed van tallose diere wat deur die Aäronitiese priesters van Israel by die tempel in Jerusalem geoffer is. Hy was “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”—Johannes 1:29; 3:16.
Kon God hierdie reëling deur middel van Jesus tref en steeds regverdig bly? As God sy Seun op die derde dag opgewek het, wat het van die losprys geword? Paulus verseker ons dat God wel regverdig is. Volg sy redenasie: “Hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God—om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is” (Romeine 3:24-26). Wat beteken dit? Eenvoudig dat Jesus as ’n volmaakte man van vlees en bloed inderdaad as ’n mens gesterf het en vir ewig as ’n mens dood sou bly. Hy het “een maal” gesterf “toe Hy Homself geoffer het” (Hebreërs 7:27). Die losprys is dus geldig. Jesus het in die vlees gesterf; op die derde dag is hy “lewend gemaak in die gees”.—1 Petrus 3:18, NW.
Die nuwe verbond en die nuwe skepping
Nou sien ons die hoogtepunt van die heilige geheim. Omdat Jesus tot aan sy dood getrou gebly het, is hy bevoeg om Jehovah se Hoëpriester en Koning te wees. Hy het die nuwe verbond met sy vergote bloed bekragtig. Die doel van hierdie nuwe verbond is om hemelse metgeselle voort te bring wat saam met Jesus as konings en priesters sal regeer (Openbaring 5:9, 10; 20:4, 6). Hulle maak ’n nuwe nasie uit, “’n nuwe skepping”—en dit is beslis iets!—Galasiërs 6:15, 16, NW.
Dink hieraan: Deur Christus Jesus kies God uit die mensdom ’n verteenwoordigende groep manne en vroue. Hy kan hulle wettig regverdig verklaar en hulle roep om geestelike seuns te wees. Op God se bepaalde tyd na hulle dood wek hy hulle op na die hemel en maak hy hulle onsterflik, net soos hy Jesus beloon het (1 Petrus 1:3, 4). Hoeveel vertroue het hy tog in sy “nuwe skepping” en in hulle lojaliteit teenoor hom! Watter wonderlike antwoord sal dit tog wees aan die een wat hulle valslik beskuldig het! (Openbaring 12:10). Hoewel hulle saam met Jesus Christus onsterflik is, sal hulle nooit ontrou aan Jehovah wees nie. Maar dit is nie al nie.
Die Paradysaarde
Christus Jesus, saam met sy hemelse medekonings en -priesters, sal toesien dat Jehovah se voorneme met die mens en die aarde ten volle uitgevoer word gedurende sy Duisendjarige Heerskappy. Deur die aanwending van die voordele van die losprys sal Jesus die dooies opwek en die getroues onder hulle, saam met die oorlewendes van die einde van hierdie goddelose stelsel, tot volmaaktheid lei. Terselfdertyd sal die aarde in ’n paradys omgeskep word. Almal wat dan Satan se laaste poging om hulle te verlei weerstaan, sal ewige, volmaakte menselewe ontvang. Satan en sy gespuis sal vir ewig vernietig word. Vrede en eenheid sal hoogty vier in die hele skepping en aldus Jehovah se soewereiniteit en sy liefdevolle heerskappy ten volle regverdig. Beide engele en mense sal hulle lojale liefde vir hulle Skepper en God betoon het.—Openbaring, hoofstuk 20.
Nou kan ons die heilige geheim beter verstaan. Ons kan nou Jehovah se wysheid sien wat selfs sy skeppingsontwerpe in die plante- en dierewêrelde oortref. Ons het goeie rede om uit te roep: “o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele . . . Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”—Romeine 11:33-36.
[Prent op bladsy 7]
Die gevolg van een sonde deur die volmaakte Adam en die verbeuring van sy lewe kon gebalanseer word. Hoe? Deur nog ’n volmaakte menselewe, Jesus s’n