Insig in die nuus
Katolieke en Marxiste vergader
Vyftien Katolieke teoloë en filosowe het in Oktober 1986 in Boedapest, Hongarye, saam met 15 Marxistiese intellektuele vergader. Die Vatikaanse Sekretariaat vir die Ongelowiges en die Hongaarse Akademie vir Wetenskap het die vergadering belê om die evolusie van morele waardes te bespreek.
Die aanwesige Katolieke was onder meer Franse kardinaal Poupard, voorsitter van die Sekretariaat vir die Ongelowiges, en Oostenrykse kardinaal Koenig, ’n deskundige op die gebied van die Katolieke Kerk se betrekkinge met kommunistiese nasies. Die hoofde van die Hongaarse Instituut vir Filosofie en van die Sowjet-Instituut vir Wetenskaplike Ateïsme het onder die Marxiste getel.
Die Franse dagblad Le Monde het berig: “Marxistiese intellektuele erken dat hulle voor ’n krisis van morele waardes staan, en hulle bepaal die erns daarvan volgens die selfmoordsyfer, dwelmgebruik en drankverbruik. Volgens die Katolieke afvaardiging reken hulle [die Marxiste], in hulle soeke na ’n oplossing, op die samewerking van die Christelike kerke. Die [Rooms-Katolieke] se tweevoudige doel was andersyds om beter insig te verkry in hoe die mens en sedelikheid in ’n Marxistiese gemeenskap inpas en om ‘die morele grondslag van wesenlike naasbestaan tussen Christene in die Oostelike [kommunistiese] lande en Marxiste te ondersoek’.”
Samesprekinge tussen teenstrydige ideologieë sal nie die ware oplossing vir die hedendaagse morele probleme bied nie. Dit sal eerder gevind word wanneer Jehovah se Koninkryk in die hande van sy Seun, Jesus, die huidige stelsel tot ’n val bring en in die plek daarvan ’n nuwe wêreld onder daardie hemelse Koninkryk oprig.—Daniël 2:44; Openbaring 21:4, 5,
Ware bevryding?
Die vryheidsteologie—’n beweging wat geweld vergoelik as ’n manier om, veral in die Derde Wêreld, “die armes en verdruktes te bevry”, word gewilder. Dit was die onderwerp van bespreking by die Tweede Internasionale Byeenkoms van die Ekumeniese Vereniging van Teoloë van die Derde Wêreld wat van 8-13 Desember 1986 in Oaxtepec, Mexiko, gehou is. Waarom is hierdie godsdiensgeleerdes vasbeslotener as tevore om hulle doelwitte ten opsigte van maatskaplike verandering te bereik?
Hoewel die Vatikaan in 1985 ’n instruksie uitgereik het wat vryheidsteologie veroordeel, het die Instruction on Christian Freedom and Liberation wat in 1986 uitgereik is, gesê dat dit “volkome geoorloof is dat diegene wat deur welgestelde of polities magtige mense onderdruk word, handelend optree”. “Gewapende stryd” word nou as ’n “laaste toevlug” goedgekeur.
Maar het Jesus Christus by die wêreld se maatskaplike bewegings betrokke geraak toe hy op aarde was? Nee. Toe die apostel Petrus die toevlug tot “die swaard” geneem het om God se Seun te verdedig, het Jesus hom tereggewys: “Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan” (Mattheüs 26:52). Die Bybel belowe dat ware bevryding sal kom deur goddelike ingryping—wanneer God die wêreld bevry, nie net van armoede, internasionale verdeeldheid, rassediskriminasie en verdrukking nie, maar ook van trane, pyn, droefheid en die dood (Openbaring 21:4). Dit sal gewis ware bevryding wees!
Kinderdoop geweier
’n Duitse Protestantse predikant in Frankfort het die kerkowerheid onlangs meegedeel dat hy voortaan sou weier “om onwetende kinders van sy gemeente te doop”. Agt-en-vyftigjarige Klaus Hoffmann het verduidelik waarom sy eie doop toe hy ’n baba was nie die naam doop werd was nie en het gesê: “Dit het nie aan die voorvereiste van ’n Bybelse doop, dit wil sê, geloof, voldoen nie, en het nie die regte simbool, naamlik onderdompeling, gehad nie.” Die Duitse koerant Frankfurter Allgemeine Zeitung berig dat hy ter ondersteuning van sy beskouing verkies het om herdoop te word en derhalwe “die Bybelse doop van onderdompeling ondergaan” het.
Kerkamptenare het Hoffmann eers in al sy pligte geskors, maar die oordeel is versag tot “drie maande verlof vir navorsingsdoeleindes”. Wat was die gevolg? Die koerant berig dat sy verdere navorsing oor die saak bloot bevestig het “dat daar in die Bybel geen steun vir kinderdoop is nie. Boonop is hierdie daad eers in die derde eeu in geskrifte van die eerste Christene gemeld.”
Dit is nie verbasend dat die godsdiensowerheid sê dat hierdie daad op tradisie berus nie. Maar kinderdoop word steeds, in weerwil van hierdie feite, in groot dele van die Christendom beoefen. Maak sulke steun van die geestelikes dit reg? Jesus het sy volgelinge opdrag gegee om gelowiges wat geleer is om al sy gebooie te onderhou, nie babas nie, te doop. Hyself was nie ’n baba toe hy in die water van die Jordaanrivier gedoop is nie, maar was “omtrent dertig jaar oud”.—Lukas 3:21-23; Mattheüs 28:19, 20.