Wat is die doel van profesieë?
DIEGENE wat beweer dat hulle verskeie aanbiddingsvorme deur bonatuurlike bronne geopenbaar is, erken ook dat daar goeie en slegte bonatuurlike kragte is. Hierdie erkenning lei tot die volgende vrae: Is al hierdie aanbiddingsvorme deur ’n goeie bron geopenbaar? Of kom hulle van ’n slegte bron? Watter aanbiddingsvorm is deur die ware God geïnspireer?
Die eerste godsdiens
Die mensdom word as een familie beskou, en dit stem ooreen met die Bybel se verslag van een oorspronklike mensepaar, Adam en Eva. Jehovah, die Skepper, het hom aan hulle bekend gemaak. Hy het aan Adam en Eva hulle rol in sy voorneme en hul ware verhouding tot hom geopenbaar. God het Adam sy eerste profeet gemaak, en hom die verantwoordelikheid opgelê om goddelike openbaringe aan sy vrou en uiteindelik aan hulle nageslag, dit wil sê, die hele mensdom, oor te dra.—Genesis 1:27-30; 2:15-17.
Dit was die enigste godsdiens, die een aanbiddingsvorm wat deur Jehovah God geopenbaar is. Dit het in gehoorsaamheid aan God se wil tot uiting gekom. Geen ritusse, offerandes, altare of orakels was nodig nie.
Valse godsdiens verskyn
Die eerste teenstellende “openbaring” het gekom van ’n engel wat aanbid wou word. Hy het ’n alternatief vir ware godsdiens aangebied en Adam en Eva oorgehaal om saam met hom teen hul Skepper in opstand te kom. Dit het hom Satan, Jehovah se teenstander, gemaak. Sy “profesie” het skynbaar selfbeskikking en onafhanklikheid van God gebied. In plaas daarvan het dit slawerny aan Satan en aan die sonde veroorsaak, en die dood tot gevolg gehad.—Genesis 3:1-19; Mattheüs 4:8-10; Romeine 5:12.
Ander opstandige engele, of demone, het uiteindelik by Satan aangesluit. Hulle het ongetwyfeld valse godsdiensbegrippe voortgebring wat tot die verderf van die mensdom bygedra het. In die dae van Adam se kleinseun Enos “het die mense begin om die Naam van [Jehovah] aan te roep”. Volgens die Targum of Palestine is dit oneerbiedig gedoen as ’n deel van die afgodiese aanbidding van daardie tyd.—Genesis 4:26, NAV; Ge 6:1-8; 1 Petrus 3:19, 20; 2 Petrus 2:1-4.
Valse godsdiens is in die Vloed van Noag se dag uitgewis. Net die ware aanbiddingsvorm wat Jehovah se profeet, Noag, beoefen het, het behoue gebly (Genesis 6:5-9, 13; 7:23; 2 Petrus 2:5). Maar die demone was steeds teenwoordig en het weer valse profesieë en godsdiensbegrippe ingevoer. Hulle het veroorsaak dat Noag se afstammelinge Jehovah beledig deur die stad Babel as ’n sentrum van valse aanbidding te bou. Maar God het hulle taal verwar en ‘hulle daarvandaan oor die hele aarde verstrooi’.—Genesis 11:1-9.
Wat leer ons hieruit? Ons is almal afstammelinge van Noag en Adam. Alle kulture het dus ’n gemeenskaplike oorsprong en het die een of ander begrip van God behou as ’n oorblyfsel van die kennis wat sedert Noag se dag behoue gebly het. Maar hierdie basiese begrip is besmet deur valse godsdiensidees wat geërf is van daardie voorvaders wat van Babel (wat later as Babilon herbou is) oor die hele aarde verstrooi is. Dit blyk uit algemene bygelowe oor geeste van die afgestorwenes, uit voorouerverering en uit die beoefening van astrologie, waarsêery en towery.—Daniël 2:1, 2.
Die doel van profesieë
Beteken dit dat hedendaagse godsdienste net gebaseer is op begrippe wat uit die verre verlede oorgeneem is? Nee. Satan en die demone inspireer steeds valse profesieë om die mensdom te bedrieg en te verdeel, om ware openbaringe omtrent God te verdoesel en om valse idees en godsdienste te skep (1 Timotheüs 4:1; 1 Johannes 4:1-3; Openbaring 16:13-16). Die Bybel sê: “Daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye [“sektes”, NW] heimlik sal invoer.”—2 Petrus 2:1.
Daarenteen het Jehovah die ware godsdiens wat in Eden gegee is, bewaar. Hy het verdere inligting gegee om ons kennis van hom en van ons verantwoordelikheid in die vervulling van sy voorneme uit te brei. Ware profesieë openbaar dus die waarheid omtrent God, sy wil en sy morele standaarde. Hulle verduidelik die mens se verhouding tot hom sodat die mensdom weer in ooreenstemming met sy voorneme gebring kan word, wat tot die volle vervulling daarvan lei.—Jesaja 1:18-20; 2:1-5; 55:8-11.
Aan die begin van die mens se opstand het Jehovah ’n profesie uitgespreek wat Adam en Eva se nageslag hoop gegee het. Hy het geopenbaar dat daar ’n verlosser, ’n “saad”, sou wees wat Satan en sy nageslag sou vernietig (Genesis 3:15). Latere profesieë het gehelp om hierdie beloofde “saad”, of God se “gesalfde”, te identifiseer en het getoon dat hy die hoofrol in die vervulling van God se voornemens sou speel.—Psalm 2:2; 45:7; Jesaja 61:1.
’n Vername doel van profesieë was dus die bekendmaking van God se voornemens en van die “gesalfde”, of “Christus”, deur wie dit vervul sou word. Aangesien dit duidelik geword het dat hierdie uitverkorene Jesus Christus is, het Jehovah se engel gesê: “Aanbid God. Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Openbaring 19:10). Twee feite blyk uit hierdie verklaring. In die eerste plek sal geen ware profeet aanbidding vereis nie, want ware aanbidding kom net Jehovah God toe (Mattheüs 4:4; Johannes 4:23, 24). In die tweede plek moet die einddoel van alle ware profesieë wees om gebeure en feite omtrent Jesus te openbaar. Dit is ’n erkenning van die sleutelrol wat Jehovah hom gegee het in die ontplooiing van Sy voorneme om Sy naam te heilig en die aarde tot sy regmatige plek in Sy reëling te herstel.—Johannes 14:6; Kolossense 1:19, 20.
Daarom het geïnspireerde boodskappe van God die aandag hoofsaaklik op Jesus gevestig. Die hele gees, of oogmerk, van sulke ware profesieë was om van hom te getuig. Daarbenewens is die feit dat die profesieë in Jesus vervul is ’n bewys dat hulle almal waar is. Die Bybel sê derhalwe: “Die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja.”—Johannes 1:17; 2 Korinthiërs 1:20; Handelinge 10:43; 28:23.
Waarom aan die Israeliete?
Jehovah het sy “getuienis van Jesus” begin met sy profesie oor die beloofde “saad”. God het later geopenbaar dat die aardse geslagslyn van die “saad” deur Noag, Sem, Abraham, Isak (nie Ismael nie) en Jakob sou wees. Hierdie manne het aan die ware godsdiens lojaal gebly en sodoende bewys dat hulle getroue profete van Jehovah was terwyl al die nasies deur die aanbidding van valse gode verderf is (Genesis 6:9; 22:15-18; Hebreërs 11:8-10, 16). Die geslagslyn het voortgegaan deur afstammelinge van hierdie manne—die nasie Israel en in die besonder die geslag van Dawid, Israel se vernaamste koning.—2 Samuel 7:12-16.
Jehovah verduidelik soos volg waarom hy Israel gekies het: “Nie omdat julle meer was as al die ander volke nie . . . [maar] omdat die HERE . . . die eed gehou het wat hy vir julle vaders [Abraham, Isak en Jakob] gesweer het” (Deuteronomium 7:6-8; 29:13). Uiteraard kon net een nasie die geslagslyn vir die beloofde “saad” voorsien. Maar ware godsdiens was nie tot die Israeliete beperk nie. Hoewel openbaringe van waarheid nie aan ander nasies gegee is nie, kon individue uit hierdie nasies saam met Israel aanbid, en party van hulle was selfs voorouers van die “saad” (Numeri 9:14; Rut 4:10-22; Mattheüs 1:5, 6). Afsonderlike openbaringe aan nasionale of rassegroepe sou net groter godsdiensverdeeldheid veroorsaak het, terwyl dit Jehovah se wil is om die mensdom in een aanbidding te herenig.—Genesis 22:18; Efesiërs 1:8-10; 2:11-16.
God se vereistes is dieselfde vir alle rasse. Aangesien hy onveranderlik is ten opsigte van sy morele standaarde en voorneme, het sy handelinge met Israel getoon hoe hy te eniger tyd in soortgelyke omstandighede sal optree (Maleagi 3:6). Israel was dus ’n model vir alle nasies. God het deur dié nasie die voordele van ware aanbidding en die dwaasheid van valse kultusse getoon. Solank die Israeliete aan hom getrou gebly het, het hy hulle beskerm en geseën. Wanneer hulle hulle tot ander nasies se valse gode gewend het, is hulle deur daardie nasies verdruk, soos Jehovah hulle gewaarsku het.—Deuteronomium 30:15-20; Daniël 9:2-14.
Israel was ook ’n profetiese model, en Dawid het ’n profetiese afbeelding van Jesus, die erfgenaam van God se Koninkryksverbond met Dawid, geword (1 Kronieke 17:11, 14; Lukas 1:32). Die Wet wat aan Israel gegee is, met sy offerandes en priesterdom, het Jesus se offer afgeskadu en op sy hemelse Koninkryk en priesterskap gedui. Die Wet het dus ’n “leermeester geword wat tot Christus lei”.—Galasiërs 3:19, 24, NW; Handelinge 2:25-36; Hebreërs 10:1-10; Openbaring 20:4-6.
Die boek van ware profesie
Hierdie allerbelangrikste inligting kon nie met juistheid deur mondelinge oorlewering of deur afsonderlike openbaringe aan verskeie nasies bewaar word nie. Die beste manier om dit te bewaar en aan alle nasies oor te dra, is ’n skriftelike verslag. En die Bybel vervul hierdie rol. Dit alleen bevat God se geïnspireerde openbaringe en bewaar die geskiedkundige en profetiese verslag van sy handelinge met mense. Dit alleen vestig die aandag op Jesus Christus as God se Werktuig vir redding en bevat die finale profesieë oor die toekomstige uitvoering van sy Messiaanse taak. Dit is dus die volledige, geïnspireerde, skriftelike Woord van God.—Romeine 15:4; 1 Korinthiërs 10:11; 2 Petrus 1:20, 21.
Sedert die voltooiing van die Bybel kan diegene wat nuwe “profesieë”, godsdienste en sektes ingevoer het, nie deur God geïnspireer wees nie. Ware profesieë is nie gegee om nuwe godsdienste te openbaar nie. Hulle het die een ware godsdiens lewend gehou en die toekomstige ontplooiing van Jehovah se voorneme bekend gemaak. Die vervulling van dié profesieë lewer bewys van sy ongeëwenaarde godheid en krag en toon dat net hy gebeure eeue vooruit kan voorspel en dit onfeilbaar kan teweegbring.—Jesaja 41:21-26; 46:9-11.
Almal wat ware profesie wil leer ken en ware godsdiens wil beoefen, moet hul dus tot die Bybel wend. Dit is God se boek van profesie—sy volledige boodskap aan die mensdom.—2 Timotheüs 3:16, 17.
[Prente op bladsy 7]
Geslagslyn van die beloofde “saad”
Noag
Sem
Abraham
Isak
Jakob
Dawid
Jesus