Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 5/15 bl. 21-23
  • Hulp om verstandige besluite te neem

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hulp om verstandige besluite te neem
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Leer uit die verlede
  • Neem ’n besluit
  • Trek voordeel uit verstandige raad
  • Nie onbekend met Satan se planne nie
  • Bybelboek nommer 46—1 Korinthiërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Bybelboek nommer 47—2 Korinthiërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Vereis Christelike eenheid eenvormigheid?
    Ontwaak!—2003
  • ‘Erken hierdie soort manne’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 5/15 bl. 21-23

Hulp om verstandige besluite te neem

ALICE het ’n onverstandige besluit geneem, en die gevolge was rampspoedig. “Ek het my van Jehovah en sy organisasie gedissosieer”, sê sy. Hoewel sy eindelik teruggekeer het, was dit eers na meer as 13 jaar—sy noem hulle “ongelukkige jare”.

’n Christen moet nie die gevaar van onverstandige besluitneming in verband met sy diens aan God onderskat nie. Dit is nie dat verkeerde besluite opsetlik geneem word nadat die betrokke feite oorweeg is nie. Soms word hulle bloot op grond van instinktiewe reaksies geneem. Wanneer emosies eers die kwessie begin vertroebel en ’n onvolmaakte hart die denkvermoë oormatig beïnvloed, kan dit allerhande skade en droefheid tot gevolg hê.

“Die hart is [voorwaar] bedriegliker as enigiets anders” (Jeremia 17:9, NAV). Maar die Bybel vertel ons hoe om onsself te beskerm. “Wanneer wysheid in jou hart inkom”, sê dit, “sal onderskeidingsvermoë self jou beveilig” (Spreuke 2:10, 11, NW). Maar hoe kan ons wysheid in ons hart laat inkom?

Leer uit die verlede

Probeer jou verplaas in die toestand van vroeë knegte van God wat hulle in beproewende situasies soortgelyk aan joune bevind het. Gestel byvoorbeeld dat jy bekommerd is oor ’n situasie in die plaaslike Christengemeente. Probeer dink aan ’n ooreenstemmende situasie wat in die Bybel gemeld word.

Wat van die eerste-eeuse Christengemeente in Korinthe? Stel jou voor dat jy ’n lid van die Korinthiese gemeente is. Jy is al twee of drie jaar ’n Christen. Wat ’n vreugde was dit tog om gedurende Paulus se 18 maande lange besoek aldaar die waarheid te leer ken! Maar nou lyk dinge sleg.

’n Neiging om klieke en partye te vorm, veroorsaak verdeeldheid in die gemeente en bedreig die eenheid daarvan (1 Korinthiërs 1:10, 11). Onsedelike gedrag word geduld en stel die gemeente se gees in gevaar (1 Korinthiërs 5:1-5). Gemeentelede lug hulle onderlinge verskille openlik in geregshowe en doen sodoende afbreuk aan die gemeente se goeie reputasie.—1 Korinthiërs 6:1-8.

Stel jou steeds voor dat jy in eertydse Korinthe is. Jy is bekommerd omdat sommige gemeentelede gedurig oor onbenullige sake twis. (Vergelyk 1 Korinthiërs 8:1-13.) Jy is hartseer oor die twis, jaloesie, toorn en wanorde wat jy sien (2 Korinthiërs 12:20). Jy word ontstem deur ’n paar hoogmoediges wat die Christelike lewenswyse onnodig bemoeilik (1 Korinthiërs 4:6-8). Dit maak jou seer om te hoor dat sommige selfs die apostel Paulus se posisie en gesag in twyfel trek, onregverdige aantygings maak en met hom die spot dryf oor sy gebrek aan welsprekendheid (2 Korinthiërs 10:10; 12:16). Jy is bekommerd dat diegene wat persoonlike menings openlik propageer die gemeente se geloof in fundamentele leerstellings sal ondermyn.—1 Korinthiërs 15:12.

Neem ’n besluit

‘Dit moet eenvoudig nie so wees nie’, sug jy. ‘Waarom stel die ouere manne dit nie reg nie? Daar skort iets groots.’

Sal jy die gemeente in Korinthe verlaat en tot die slotsom kom dat dit vir jou beter sal wees om God elders te dien? Of sal jy moontlik selfs besluit dat dit die beste sou wees om glad nie meer met mede-Christene om te gaan nie? Sal jy toelaat dat hierdie probleme jou vreugde demp en jou vertroue dat Jehovah God en Jesus Christus sake beheer, laat afneem? Gaan jy ’n vitterige, klaerige gees ontwikkel, wat jou die beweegredes van mede-Christene in twyfel sal laat trek? Sal jy minder predikingswerk doen omdat jy meen dat dit nutteloos is om belangstellendes na so ’n gemeente te rig?

As jy die situasie onpartydig uit die hedendaagse oogpunt beskou, is dit dalk maklik om te sê dat jy sou besluit het om lojaal na aan God se gemeente te bly, ondanks die onvolmaakthede daarvan. Maar sal jy, as jy vandag voor ’n soortgelyke situasie te staan kom, ’n helder verstand en ’n kalm gemoed kan behou? Sal jy vandag besluit soos jy dink jy sou besluit het as jy toe geleef het?

Trek voordeel uit verstandige raad

Die Korinthiese Christene wat ’n verstandige besluit geneem het, was dié wat na aan die gemeente gebly het. Hulle het gevoel soos Petrus jare tevore gevoel het. Toe party van die dissipels nie meer met Jesus wou omgaan nie, het Petrus gesê: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is” (Johannes 6:68, 69, NAV). Dit is uiteraard slegs deur na aan God se organisasie te bly dat ons voordeel uit die raad daarvan kan trek.

In nuwe gemeentes, soos die eertydse Korinthiese gemeente, is dit glad nie ongewoon dat menslike onvolmaaktheid ’n probleem skep wat moontlik ferm raadgewing vereis nie. Maar toe Paulus die Korinthiese Christene raad gegee het, het hy in gedagte gehou dat die oorgrote meerderheid van hulle nietemin “geliefdes” was (1 Korinthiërs 10:14; 2 Korinthiërs 7:1; 12:19). Hy het nie vergeet dat Jehovah onverdiende goedheid toon en vergifnis skenk aan diegene wat op Sy leiding reageer nie.—Psalm 130:3, 4.

Aangesien allerhande mense deur die Christengemeente aangetrek word, duur dit natuurlik vir party langer as vir ander om op hierdie leiding te reageer. Daar is verskeie redes hiervoor. Party veranderinge is moeiliker om aan te bring as ander. Boonop verskil elke individu ten opsigte van fisieke en geestesstruktuur, milieu, agtergrond en omstandighede. Hoe verstandig is dit dan tog om nie te krities te word nie en te onthou dat “liefde . . . ’n menigte sondes bedek”! (1 Petrus 4:8). Jehovah en sy Seun is bereid om menslike onvolmaaktheid en onrypheid in hulle gemeente te verdra. Moet ons dan nie dieselfde gees aan die dag lê nie?—1 Korinthiërs 13:4-8; Efesiërs 4:1, 2.

As jy in die gemeente in antieke Korinthe was, sou Paulus se liefdevolle dog ferm raad jou daaraan herinner het dat Christus, as hoof van die Christengemeente, ’n lewendige belangstelling in die welvaart van daardie gemeente het (Mattheüs 28:19, 20). Dit sou jou vertroue versterk het in Jesus se belofte om sy volgelinge verenig te hou terwyl hulle reageer op die hulp wat deur “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien sou word (Mattheüs 24:45-47; Efesiërs 4:11-16). Ja, en Paulus se woorde sou jou gehelp het om selfs onder moeilike omstandighede vreugdevol en bestendig te bly. Jy sou vol vertroue gewees het dat God jou die krag sou gee om enige moeilikheid wat hy dalk tydelik toelaat die hoof te bied.

Dit beteken nie dat ’n Christen niks moet doen as ’n slegte toestand in ’n gemeente ontstaan nie. In Korinthe het ryp manne soos Stefanus, Fortunatus, Achaïcus en party huisgenote van Chloë handelend opgetree. Hulle het Paulus klaarblyklik van die situasie in kennis gestel (1 Korinthiërs 1:11; 5:1; 16:17). Maar nadat hulle dit gedoen het, het hulle sake met gerustheid aan hom oorgelaat. Ywer vir regverdigheid het nie veroorsaak dat hulle hul vertroue in Christus se hoofskap verloor of ‘vir Jehovah kwaad word’ nie.—Spreuke 19:3, NW.

Ons ywer vir regverdigheid sal vandag voorkom dat ons dit selfs oorweeg om minder te begin doen in ons Godgegewe toewysing om die goeie nuus te verkondig. Dit sou ’n gebrek aan besorgdheid oor ander se welsyn toon en sou ’n versuim wees om te doen wat Jesus wil hê ons moet doen. “Daarom, my geliefde broeders”, het Paulus gemaan, “wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”—1 Korinthiërs 15:58.

Nie onbekend met Satan se planne nie

Gemeentelike moeilikhede soos dié in Korinthe kan soms moeiliker wees om te hanteer as direkte vervolging. Satan buit sulke situasies uit in ’n poging om ons verkeerde besluite te laat neem wat ons van Jehovah sal vervreem. Maar “ons is met [Satan se] planne nie onbekend nie”.—2 Korinthiërs 2:11.

Paulus het vir die Korinthiese Christene gesê dat ’n ondersoek van die verslag oor vroeëre knegte van God hulle tot voordeel kan strek. “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde”, het hy van die Israeliete gesê, “en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11). Ons kan eweneens vandag voordeel trek uit ’n sorgvuldige ondersoek van die verslag oor die vroeë Christene. Ons kan byvoorbeeld kyk na wat in Korinthe gebeur het. Bepeinsing oor hoe ons toe die regte besluite sou geneem het, sal help om te voorkom dat ons nou verkeerde besluite neem.

Ná 13 “ongelukkige jare” van afwesigheid sê Alice die volgende van haar eerste vergadering in die Koninkryksaal: “Ek was bang om te praat uit vrees dat ek sou huil. Ek was tuis—regtig tuis. Ek kon dit nie glo nie.” Wees dus vasbeslote om, ondanks probleme wat dalk sal opduik, te bly by jou verstandige besluit om nooit Jehovah se organisasie te verlaat nie! Jy sal talryke seëninge saam met God se volk geniet. En hulle sal nimmereindigend wees.—Spreuke 2:10-15, 20, 21.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel