Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 6/15 bl. 28-30
  • ‘Erken hierdie soort manne’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Erken hierdie soort manne’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die huis van Stefanas
  • “Hulle het my gees, en julle s’n, verkwik”
  • Getroue samewerking het goeie resultate tot gevolg
  • Hulp om verstandige besluite te neem
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Paulus se medewerkers—Wie was hulle?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Bybelboek nommer 46—1 Korinthiërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • “Hou sulke manne in eer”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 6/15 bl. 28-30

‘Erken hierdie soort manne’

ALLES was nie pluis in die Korintiese gemeente nie. Daar was ’n skokkende geval van onsedelikheid, en daar het verdeeldheid onder die broers geheers. Party het ernstige persoonlike probleme gehad of vrae wat beantwoord moes word. Party broers het mekaar voor die hof gedaag; ander het selfs die opstanding ontken.

Ernstige vrae het ook ontstaan. Moes diegene in godsdienstig verdeelde huisgesinne by hulle ongelowige huweliksmaats bly of moes hulle uitmekaar gaan? Wat was die rol van susters in die gemeente? Was dit gepas om vleis wat aan afgode geoffer is te eet? Hoe moes die vergaderinge—onder andere die Here se Aandmaal—gehou word?—1 Korintiërs 1:12; 5:1; 6:1; 7:1-3, 12, 13; 8:1; 11:18, 23-26; 14:26-35.

Agaïkus, Fortunatus en Stefanas was ongetwyfeld besorg oor die welsyn van hulle broers in so ’n probleemgevulde geestelike klimaat, en daarom het hulle ’n reis onderneem om die apostel Paulus in Efese te gaan besoek. Benewens hierdie ontstellende nuus is dit moontlik dat hulle ’n brief vir Paulus gehad het van die gemeente met vrae oor hierdie geskille (1 Korintiërs 7:1; 16:17). Blykbaar was hierdie drie broers nie die enigstes wat oor die situasie bekommerd was nie. Trouens, Paulus het reeds by “die huisgenote van Chloë” gehoor dat daar onenighede onder party gemeentelede bestaan het (1 Korintiërs 1:11). Die boodskappers se verslag het Paulus ongetwyfeld gehelp om ’n duideliker begrip van die situasie te verkry, om te besluit watter raad hy moes gee en hoe om die vrae wat geopper is te beantwoord. Blykbaar is die brief wat ons nou as Eerste Korintiërs ken Paulus se antwoord, wat deur God se heilige gees gerig is. Agaïkus, Fortunatus en Stefanas het moontlik die brief afgelewer.

Wie was Agaïkus, Fortunatus en Stefanas? Wat kan ons leer uit ’n studie van wat die Skrif oor hulle sê?

Die huis van Stefanas

Die huis van Stefanas was die “eerstelinge” van Paulus se bediening in die Romeinse provinsie Agaje, in die suide van Griekeland, in omstreeks 50 G.J., en hulle is deur Paulus self gedoop. Paulus het hulle blykbaar as ’n goeie voorbeeld beskou, ’n volwasse stabiliserende invloed op die Korintiërs. Hy het hulle hartlik geprys vir hulle bedrywighede ten behoewe van die gemeente: “Ek vermaan julle dan nou, broers: Julle weet dat die huis van Stefanas die eerstelinge van Agaje is en dat hulle hulle tot diens van die heiliges gestel het. Mag julle ook aanhou om julle aan hierdie soort mense te onderwerp en aan elkeen wat saamwerk en arbei” (1 Korintiërs 1:16; 16:15, 16). Daar word nie presies gesê wie almal deel van Stefanas se “huis” was nie. Die uitdrukking kan bloot gesinslede beteken, maar kan ook slawe of werknemers insluit. Aangesien Agaïkus ’n tipiese Latynse naam vir ’n slaaf was en Fortunatus vir ’n vrygemaakte slaaf, vermoed party kommentators dat hulle dalk ook lede van daardie selfde huis was.

Wat ook al die geval was, Paulus het Stefanas se huis as voorbeeldig beskou. Die lede daarvan het “hulle tot diens van die heiliges gestel”. Stefanas se familie moes besef het dat daar werk was wat gedoen moes word om die gemeente te help, en hulle het hierdie diens vrywillig as ’n persoonlike verantwoordelikheid op hulle geneem. Hulle begeerte om hierdie diens aan die heiliges te lewer, het ongetwyfeld morele ondersteuning en erkenning verdien.

“Hulle het my gees, en julle s’n, verkwik”

Hoewel Paulus oor die situasie in Korinte bekommerd was, het die koms van die drie boodskappers hom bemoedig. Paulus sê: “Ek verheug my oor die teenwoordigheid van Stefanas en Fortunatus en Agaïkus, want hulle het daarvoor vergoed dat julle nie hier is nie. Want hulle het my gees, en julle s’n, verkwik” (1 Korintiërs 16:17, 18). In die lig van die omstandighede was dit seker vir Paulus ’n bron van kommer dat hy nie by die Korintiërs kon wees nie, maar noudat hulle verteenwoordigers daar was, het dit vir die afwesigheid van die hele gemeente vergoed. Hulle verslag het Paulus waarskynlik gehelp om ’n geheelbeeld van die situasie te vorm en ten minste party van sy vrese te verdryf. Miskien was dinge tog nie so sleg soos hy hom voorgestel het nie.

Volgens Paulus het die drie se besoek nie net sy gees verkwik nie, maar ook die Korintiese gemeente aangemoedig. Dit was ongetwyfeld vir hulle ’n verligting om te weet dat hulle verteenwoordigers elke aspek van die situasie duidelik aan Paulus sou beskryf en met sy advies sou terugkeer.

Stefanas en sy twee metgeselle is dus hartlik geprys vir hulle arbeid ten behoewe van die Korintiërs. Paulus se waardering vir hierdie manne was van so ’n aard dat hulle by hulle terugkeer die leiding in die verdeelde Korintiese gemeente moes neem. Die apostel spoor die broers aan: ‘Hou aan om julle aan hierdie soort mense te onderwerp en aan elkeen wat saamwerk en arbei. Erken hierdie soort manne’ (1 Korintiërs 16:16, 18). Sulke sterk aanbevelings toon duidelik dat hierdie manne volkome lojaal was ondanks die spanning in die gemeente. Hierdie soort manne moet in eer gehou word.—Filippense 2:29.

Getroue samewerking het goeie resultate tot gevolg

Dit ly geen twyfel dat noue samewerking met Jehovah se organisasie en sy verteenwoordigers goeie resultate tot gevolg het nie. Toe Paulus, kort ná die eerste brief, die brief geskryf het wat vandag as Tweede Korintiërs bekend staan, het dinge reeds beter in die gemeente gegaan. Die volgehoue geduldige bedrywighede van broers soos Agaïkus, Fortunatus en Stefanas, sowel as die besoek van Titus, het ’n goeie uitwerking gehad.—2 Korintiërs 7:8-15; vergelyk Handelinge 16:4, 5.

Lede van hedendaagse gemeentes van Jehovah se volk kan daarby baat vind as hulle peins oor hierdie getroue manne na wie daar kortliks in die Skrif verwys word. Byvoorbeeld, gestel ’n voortslepende situasie in die plaaslike gemeente kan om die een of ander rede nie onmiddellik opgelos word nie en dit bekommer die broers. Wat moet gedoen word? Volg Stefanas, Fortunatus en Agaïkus na, wat nie teruggedeins het vir hulle verantwoordelikheid om Paulus van die situasie in kennis te stel nie, en laat dan met volle vertroue sake aan Jehovah oor. Ywer vir regverdigheid het hulle geensins onafhanklik laat optree of “woedend vir Jehovah” laat word nie.—Spreuke 19:3, NW.

Die gemeentes behoort aan Jesus Christus, en op sy bestemde tyd sal hy, soos in Korinte, optree om enige probleme reg te stel wat dalk hulle geestelike welsyn en vrede bedreig (Efesiërs 1:22; Openbaring 1:12, 13, 20; 2:1-4). As ons intussen die goeie voorbeeld volg wat deur Stefanas, Fortunatus en Agaïkus gestel is en aanhou om in die diens van ons broers te arbei, sal ons ook die gemeentereëling lojaal ondersteun, ons broers opbou en ‘hulle tot liefde en voortreflike werke aanspoor’.—Hebreërs 10:24, 25.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel