Koninkryksverkondigers berig
’n Vreugdevolle reünie in Brasilië
Drie-en-sestig van die 67 sendelinge wat by Gilead opgelei is en tans in Brasilië dien, het by die takkantoor bymekaargekom en vir hierdie historiese foto geposeer. Hierdie vreugdevolle reünie het plaasgevind op 18 November 1986, gedurende die besoek van A. D. Schroeder, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York.
Dit was feitlik op die kop 41 jaar vroeër—op 17 November 1945—dat twee gegradueerdes van die eerste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead na Brasilië gekom het. Dit was vir een van hulle, Charles Leathco (agter, links van die middel), ’n spesiale reünie omdat hy en besoekster Charlotte Schroeder Gilead-klasmaats was en broer Schroeder een van hulle instrukteurs was.
Sedert daardie eerste klas het altesaam 258 sendelinge na Brasilië gekom, onder andere 16 gebore Brasiliane. Een van hulle, Augusto Machado (links voor), het die waarheid by ’n vroeë sendeling geleer, na Gilead gegaan en na Brasilië teruggekeer. Hy dien al die afgelope 30 jaar by die takkantoor en is nou die koördineerder van die Takkomitee. Hoewel baie van die sendelinge nie meer as sendelinge dien nie, het die goeie werk wat hulle gedoen het, behoue gebly. In 1945 was daar net 394 Koninkryksverkondigers in daardie land; nou is daar meer as 200 000 in Brasilië, met ’n hoogtepunt van 201 226 verkondigers in Februarie 1987.
Wat ’n vreugde was dit tog vir die Brasiliaanse sendelinge, jonk en oud, om by hierdie vreugdevolle reünie herinneringe aan al die wonderlike bedrywighede van die afgelope 41 jaar op te haal.