Sy behae was in die wet van Jehovah
ALBERT D. SCHROEDER, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, het op Woensdag 8 Maart 2006 sy aardse loopbaan voltooi. Hy was 94 jaar oud en was meer as 73 jaar lank in die voltydse bediening.
Broer Schroeder is in 1911 in Saginaw, Michigan, VSA, gebore.a As kind het hy baie omtrent die Bybel geleer by sy ouma aan moederskant, wat ook by hom ’n liefde ingeboesem het om Jehovah se Woord te lees. Hy het Latyn, Duits en elektriese ingenieurswese aan die Universiteit van Michigan gestudeer. Maar sy waardering vir die Skrif het in so ’n mate toegeneem dat hy sy sekulêre studies gestaak het sodat hy aan die voltydse Koninkrykspredikingswerk kon begin deelneem. Hy het in 1932 ’n lid geword van die Bethelgesin in Brooklyn, New York.
In 1937, op 26-jarige ouderdom, is broer Schroeder aangestel om oor die werk van Jehovah se Getuies in Brittanje toesig te hou. Sy ywer vir die predikingswerk het baie verkondigers daar aangespoor om die voltydse diens te betree. ’n Jong man met wie hy by die Bethel in Londen bevriend was, was John E. Barr. Later het hulle baie jare lank saam op die Bestuursliggaam gedien.
Broer Schroeder se werk ten behoewe van Jehovah se Getuies het gedurende die oorlogsjare nie ongemerk gebly nie. In Augustus 1942 is hy uit Brittanje gedeporteer. Ná ’n angswekkende reis oor die Atlantiese Oseaan tydens die oorlog het hy in September weer in Brooklyn aangekom.
Jehovah se knegte het toe reeds verwag dat ’n groot werk ná die Tweede Wêreldoorlog gedoen sou moes word. Broer Schroeder was verbaas en gelukkig oor sy volgende toewysing—om die studiekursus vir die Wagtoring-Bybelskool Gilead te help opstel. Hy het jare lank as ’n instrukteur daar gedien en gehelp om sendelinge op te lei. Studente wat hy in Gilead en later in die Koninkryksbedieningskool onderrig het, het aangename herinneringe aan sy klasse. Hy het behae daarin geskep om liefde vir God se wette by sy studente in te boesem en het beklemtoon hoe belangrik dit is om Jehovah te leer ken.
In 1956 het broer Schroeder met Charlotte Bowin getrou, en in 1958 is hulle seun, Judah Ben, gebore. Broer Schroeder was ’n goeie Christenman en -vader. In 1974 het hy op die Bestuursliggaam begin dien, waar sy insig hoog op prys gestel is. Hy was ’n goedhartige en nederige man wat bowenal God se groot naam wou verheerlik. Ons is seker dat broer Schroeder sy hemelse beloning ontvang het as ’n gesalfde Christen wat werklik ‘behae geskep het in die wet van Jehovah’.—Psalm 1:2.
[Voetnoot]
a Broer Schroeder se lewensverhaal het in Die Wagtoring van 1 Maart 1988 verskyn.