Koninkryksverkondigers berig
In Nieu-Seeland—’n Dag om te onthou
“ONS is absoluut verheug om saam met julle te wees. Ons sal dit nooit vergeet nie!”
“In my hele teokratiese loopbaan het ek nog nooit so iets ervaar nie.”
“Dit het gevoel asof ons ’n dag in die nuwe stelsel geniet.”
Dit is enkele van die kommentare van afgevaardigdes na die toewydingsprogram van die takhoofkwartier van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap in Nieu-Seeland op 29 November 1986. Waarom was hierdie mense so ontroer? Omdat dit werklik ’n onvergeetlike dag was. Laat ons jou ’n paar van die redes meedeel.
Eerstens, die pragtige fasiliteite wat toegewy is, het die dag onvergeetlik gemaak. John E. Barr van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het die pasgeboude Koninkryksaal en ander takfasiliteite aldaar beskryf as “smaakvol, sierlik, aangenaam . . . Die voltooide werk toon dat noukeurige aandag aan besonderhede, aan prag, geskenk is. Dit lyk of alles bymekaarpas.”
’n Christelike broederskap
Dit was ook onvergeetlik om so baie veterane bymekaar te sien, Getuies wat Jehovah al baie, baie jare getrou dien. Trouens, hulle het die oorgrote meerderheid van die 658 genooide gaste uitgemaak. Toe hulle ou vriende teëgekom het, en talle van hulle het mekaar dekades laas gesien, het hulle soos Paulus gevoel toe hy na ’n lang reis die broers van Rome teëgekom het: “Toe Paulus [sy broers] sien, het hy God gedank en moed geskep” (Handelinge 28:15, NAV). Dit was ’n bron van aanmoediging en dankbaarheid om soveel voorbeelde van volgehoue lojaliteit—waarvan party ondanks swak gesondheid teenwoordig was—te sien.
Die dag was ook onvergeetlik weens die hartlike, internasionale broederskap. Jehovah se Getuies behoort tot ’n aardwye broederskap, en dit is bewys deur die gaste wat selfs van Australië, die Verenigde State, Kanada, Brittanje en Taiwan, sowel as van Papoea Nieu-Guinee, Samoa en ander eilande van die Suidsee, gekom het. Telegramme het gekom van talle wat nie persoonlik daar kon wees nie, onder meer groete van die Bestuursliggaam, lede van die Brooklyn-Bethelgesin, en die 82ste klas van die sendingskool Gilead. Dit was inderdaad geloofversterkend om te besef dat so baie broers in so baie lande in die toewyding van die takfasiliteite in Nieu-Seeland belangstel.
Lojale Getuies het die fondamente gelê
’n Oorsig van die lang geskiedenis van die predikingswerk in Nieu-Seeland wat tot die bou van hierdie jongste takfasiliteite gelei het, was opwindend en het ook die dag onvergeetlik gemaak. (Vergelyk Hebreërs 10:32.) Soos een spreker gesê het: “Hoe belangrik die fisiese fondamente van die pragtige, nuwe Bethelkompleks ook al is, die figuurlike fondamente wat reg van die begin van die eeu af deur lojale, selfopofferende broers en susters gelê is, is belangriker.”
Toe is onderhoude met 11 getroue manne en vroue gevoer wat al altesaam 680 jaar toegewyde knegte is. Hulle het vertel van een van die vroegste byeenkomste in Nieu-Seeland, in 1913. Hulle het vertel hoe moeilik pionierdiens in die dertigerjare in die Suid-Eiland was, van die ontberinge gedurende die Tweede Wêreldoorlog toe die organisasie verbied was, die oprigting van die Nieu-Seelandse tak in 1947, die aankoms van die eerste Gileadsendelinge en die bou van die land se eerste Koninkryksaal in 1950. Diegene met wie onderhoude gevoer is, was dit almal eens: “Hoe dankbaar is ons tog om hier te wees en die bewys te sien van ’n vermeerdering wat ons in vroeëre dae nie kon gedroom het moontlik sou wees nie!”
Jehovah se seën
Die vernaamste ding wat die dag onvergeetlik gemaak het, was moontlik die besef dat Jehovah se seën die bouwerk gerig en dit tot voltooiing gebring het. Een deel van die dag se program is gepas genoem: “Die goeie hand van ons God is oor ons.”—Nehemia 2:8.
Die goeie hand van Jehovah is gesien in die hulpvaardigheid en samewerking van die plaaslike sakemanne en owerheid, asook in die Christelike eienskappe wat die werkers self op die perseel getoon het. Een sakeman, wat die bouperseel besoek het, het gesê: “Ek het die gevoel van vrede en kalmte wat ek hier ondervind het nog nooit elders ervaar nie.”
Jehovah se seën is gesien in die vrygewigheid van die gewone Getuies dwarsoor die land wat die projek finansieel ondersteun het. Dit het ook geblyk uit die gewilligheid van diegene wat aangebied het om met die werk te help. Altesaam 1 237 het aansoekvorms ingevul waarin hulle hulle hulp aangebied het, en party het van verafgeleë lande en op eie koste na die perseel gereis om ’n paar weke of maande met die bouwerk te help. Een broer het gesê: “Die tyd wat ek op die perseel gewerk het, was ’n keerpunt in my lewe.”
Soos broer Barr in die toewydingstoespraak gemeld het, moet die nuwe takfasiliteite beskou word as ’n “uiterlike, sigbare bewys dat God se Messiaanse Koninkryk nou opgerig is”. Ja, dit was waarlik ’n onvergeetlike dag vir Nieu-Seeland. Aan die einde het almal daar teenwoordig heelhartig ’n resolusie aangeneem waarin hulle “volle ondersteuning aan Jehovah se organisasie soos verteenwoordig deur ons tak” beloof het.