Vroue se verbeterde rol—’n Halwe seën?
“KORTOM, vroue in die tagtigerjare is beter geleerd, gesonder, lewe langer en lei sinvoller lewens.” Dit was die slotwoorde van ’n tydskrifartikel: “Wat ons was; wat ons nou is.” Maar kan dit wees dat vroue se verbeterde rol in werklikheid ’n halwe seën was as gevolg van die newe-effekte daarvan?
Die uitwerking op die huwelik en die gesin
Daar is byvoorbeeld die algemene botsing tussen ’n gesonde gesinslewe en die najaging van ’n loopbaan. Een berig het gesê: “Bedryfsleidsters is baie minder geneig as hulle manlike eweknieë om hulle huislike lewe belangrik te ag, en die kanse dat hulle geskei is, is twee keer so groot.” Jy wonder dalk waarom. ’n Bestuursprofessor aan Kalifornië se Staatsuniversiteit verduidelik: “Mans beskou hulle huislike milieu as ’n steunstelsel, terwyl vroue dit meer as ’n las beskou. ’n Man kom tuis en hy ontspan; dit is waarvoor hy werk. Maar vir vroue verteenwoordig dit ’n bykomende werklas.”
Dit geld nie net vir bedryfsleidsters nie. Russiese vroue is ’n geslag langer as vroue in Westerse lande ’n deel van die arbeidskragte. Dit is vir hulle steeds ’n las om na ’n sekulêre werk en ’n gesin om te sien. ’n Russiese redakteur van Working Woman sê: “Vroue is die kern van die gesin en moet hartliker wees om die hartlike en liefdevolle atmosfeer te skep.” Hulle het dus ’n dubbele las, terwyl talle mans nie met die huiswerk help nie.
Nog ’n oorsaak van botsing word deur een van Wall Street se suksesvolste vroue toegelig. Sy spog: “Vir my is werk ontspanning”, en voeg by: “Ek hou van wat ek doen, en ek doen baie min toegewings”—selfs vir haar gesin. Die gesin se welsyn hang af van die man wat na hulle twee kinders omsien, al is hy ’n sakeman. Haar medewerkers sê dat dit duidelik is dat haar verterende belangstelling “nie goed is vir gesinsverhoudinge nie”.
Een van die eietydse eerste ministers het in ’n soortgelyke situasie verkeer. As gevolg van haar politieke ambisies het haar gesin nie veel aandag gekry nie. Terwyl haar kinders grootgeword het, het hulle dikwels by hulle oom gebly, want, word ons meegedeel, “een van die dinge waarvan [hulle] die meeste gehou het, was om bloot as ’n gesin saam te eet, iets wat nooit [tuis] maklik was om te reël nie”.
In ’n onlangse onderhoud met vier van Europa se vooraanstaande bedryfsleidsters het een gesê dat haar 12-jarige dogtertjie feitlik geheel en al deur haar man grootgemaak word. ’n Ander bedryfsleidster het gesê dat sy slegs naweke na haar kinders kon omsien. Volgens nuusberigte het die gehoor opgemerk dat drie van hierdie vroue nie juis mensliewend is nie.
Party vroue word natuurlik deur die nood gedryf om ’n sekulêre werk te doen, miskien omdat ’n eggenoot gesterf of die gesin verlaat het. Vir sulke vroue kan dit dus gedeeltelik ’n seën wees om werk te vind, maar of hulle daarvan hou of nie, hulle moet worstel met die negatiewe aspekte.
Negatiewe gevolge
Die algemene gevolg wanneer vrouens hulle mans se verdienvermoë of professionele status oortref, toon duidelik dat vroue se veranderde rol ’n halwe seën was. Volgens terapeute word hierdie tendens “’n belangrike en erkende krisis in al hoe meer huwelike”. Een man se klag is tipies: “Ek weet dat ek haar sukses intellektueel goedkeur. Maar emosioneel voel ek sleg. Ek voel ek word verlaat. En ek voel skuldig omdat ek so ontsteld is.” As albei Christeneggenote tans moet werk, kan liefdevolle besprekings en bedagsaamheid help om sulke negatiewe gevoelens en gevolge te verminder.—1 Petrus 4:8.
Nog ’n faktor wat toon dat die vooruitgang wat vroue gemaak het ’n halwe seën is, is die klem wat talle feministe lê op wat hulle hoofsaaklik bevoordeel. The Coming Matriarchy praat van die tyd wanneer die wêreld beheer sal word deur vroue wat egosentries is en wat vra: “Wat sal ek daaruit kry?” Dit is interessant dat die suksesvolle vrouefinansier wat vroeër beskryf is dit presies so gestel het; sy het nie daarin belanggestel om ander teen die maatskaplike leer op te help tensy sy self daarby baat gevind het nie. Sy het erken: “Ek stel te veel in wins belang.” Hoe verstandig is dit, met die oog op Jesus se raad? In die Bergpredikasie het hy gesê: “Behandel ander mense soos julle graag deur hulle behandel wil word.” “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis” (Mattheüs 7:12, Die Lewende Bybel; 6:34, NAV). Christinne streef beslis daarna om Jesus se beskouing van sulke sake te behou.
Is Bybelse sedelikheid ontbeerlik?
Die negatiefste aspek van die veranderde rol van vroue is ongetwyfeld die ondermyning van sedelike waardes. Feministe se verwysings na God en godsdiens is min en gewoonlik krities. Vroue wat die huwelik as gevolg van hulle loopbane uitstel, beweer dikwels dat dit nie noodsaaklik is om te trou voor geslagsomgang geniet mag word nie.
’n Negatiewe tendens van die feministebeweging is sy ondersteuning van lesbiese liefde. In 1971 is daar by die jaarvergadering van NOW (Nasionale Organisasie van Vroue) besluit: “Dat NOW die tweevoudige verdrukking van lesbiese vroue erken, dat ’n vrou se reg op haar liggaam die reg insluit om haar eie seksualiteit te definieer en daaraan uiting te gee en om haar eie lewenstyl te kies, dat NOW die verdrukking van lesbiërs as ’n wettige saak van feminisme erken.” Vergelyk egter God se oordeel in Romeine 1:26, 27 hiermee. Die bepleiting van aborsies op aanvraag gaan dikwels hand aan hand met die feministiese beskouing van lesbiese liefde. Professor in die regte aan die Tulane-Universiteit, Billups Percy, het tereg gesê: “As die vernietiging van die fetus as net nog ’n chirurgiese prosedure beskou word, word eeue se kriminologie, teologie en sedekunde verontagsaam.”
Volgens een berig het ernstige misdade wat deur vroue gepleeg is in die afgelope dekade baie vinniger toegeneem as dié deur mans. Tussen 1974 en 1979 het die aantal vroue wat in die Verenigde State vir bedrog in hegtenis geneem is met feitlik 50 persent toegeneem, maar die toename onder mans was slegs 13 persent. Verduistering deur vroue het eweneens met sowat 50 persent toegeneem, maar net met 1,5 persent onder mans. Arrestasies as gevolg van vervalsing het met 27,7 persent onder vroue gestyg, maar met minder as 10 persent onder mans. Die veranderde rol van vroue het blykbaar nie tot algehele tevredenheid gelei nie.
Ook die rookgewoonte het onder vroue toegeneem. Longkanker as gevolg van die rookgewoonte het borskanker as die vernaamste oorsaak van kankersterftes onder vroue verdring. In ’n onlangse jaar was dit verantwoordelik vir 25 persent van alle kankersterftes onder vroue, en dit neem met 7 persent per jaar toe.
’n Toekoms wat bevrediging verskaf—Hoe?
Kan ’n werk of ’n loopbaan die meeste vroue algehele bevrediging in die lewe verskaf? Blykbaar nie, soos al hoe meer uitvind. Hilary Cosell, skryfster van Woman on a Seesaw: The Ups and Downs of Making It, het hierdie probleem in ’n artikel bespreek en gevra: “Raak vroue, as hulle tevore te geesdriftig geraak het oor die huwelik en moederskap en huisbestuur, nie miskien weer te geesdriftig oor professionalisme, ’n loopbaan en sukses nie?” Sy vra ook: “Kan ons werklik alles doen wat ons moeders gedoen het, en ook alles wat ons vaders gedoen het?”
In The Cost of Loving het Megan Marshall insgelyks getoon dat “die skyn van professionele bekwaamheid skaars die persoonlike wonde verberg het: liefdesteleurstellings, kompulsiewe promiskuïteit, lesbiese eksperimente, aborsies, egskeiding en sommer net eensaamheid”. Sy vertel hoe die vrouebeweging aanleiding gegee het tot die “Onafhanklikheidsmite”, maar vir die meeste is dit nie geslaagd nie.
Marshall kom tot die slotsom dat “ons moet glo in die blywende liefde wat deur ’n goeie huwelik beskerm word”, dat “die mens nie in afsondering bestaan nie” en dat “ons ander moet vind vir wie ons kan omgee en wat vir ons sal omgee”. Dit herinner ons aan die woorde van die grootste Onderrigter wat ooit op die aarde was, Jesus Christus. “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.
Ja waarlik, mense is geneig om van die een uiterste na die ander te gaan. Die feit dat die moderne vrou se verbeterde rol nie ’n suiwer seën is nie, bevestig die profeet Jeremia se woorde: “[Dit behoort] nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). As Christinne weet watter veranderinge plaasgevind het (met die gepaardgaande seëninge en probleme), kan hulle beter besef hoe waardevol dit is om God se raad te volg. Die ondervinding het getoon dat dit “begeerliker as goud” is. “In die onderhouding daarvan is groot loon.”—Psalm 19:8-12.