Vroue se verbeterde rol in ons dag
IN 1906 het tsaar Nikolaas van Rusland ’n petisie van enkele Russiese boervroue ontvang wat onder meer gelui het:
“Die vroue van die boerestand het geslagte lank sonder enige regte hoegenaamd gelewe. . . . Ons word nie eens as mense beskou nie, maar bloot as lasdiere. Ons eis dat ons geleer word om te lees en te skryf; ons eis dat ons dogters dieselfde leerfasiliteite as ons seuns gegee word. . . . Ons weet dat ons onkundig is, maar dit is nie ons skuld nie.”
Daardie droewe situasie is in algehele teenstelling met die beskrywing wat die Bybel van ’n bekwame en gerespekteerde vrou gee waar dit haar as ’n navolgenswaardige en prysenswaardige voorbeeld voorhou (Spreuke 31:10-31). Die beskrywing uit Rusland weerspieël nietemin ’n onomstootlike waarheid wat lank gelede deur wyse koning Salomo in die Bybel gemeld is: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk” (Prediker 8:9). Daardie ongeluk was beslis nie tot mans beperk nie. Maar wat ’n verandering was daar tog in die lot van vroue, soos die situasie in Rusland toelig!
Vandag “is die meeste Russiese dokters en onderwysers vroue. Vroue maak feitlik twee derdes van al die ekonome en driekwart van die kultuurwerkers uit. Veertig persent van dié wat wetenskaplike werk doen, is vroue . . . Uit elke duisend vroue wat by die nasionale ekonomie betrokke is, het 862 hoër of sekondêre (volledige of onvolledige) onderwys ontvang.”—Women in the USSR.
Vroue in die politiek
Wat in Rusland gebeur het, het in meerdere of mindere mate in talle ander lande gebeur. Nieu-Seeland was die eerste land wat vroue stemreg gegee het, en dit was in 1893. Tussen 1917 en 1920 is daardie reg in Rusland, Groot-Brittanje, die Verenigde State en Kanada aan hulle toegestaan. In Switserland moes hulle tot 1971 wag, hoewel Switserse vroue politieke ampte kon beklee.
Vandag stem vroue nie net nie maar ding hulle met mans om politieke ampte mee. Israel het ’n vrou, Golda Meir, as eerste minister gehad, en ook Indië, naamlik Indira Gandhi. Korter gelede is vroue as eerste ministers in Groot-Brittanje en Joego-Slawië gekies. Vierhonderd-twee-en-negentig, of tussen 30 en 40 persent, van Rusland se Opperste Sowjet is vroue. ’n Vrou is nou ’n lid van die Amerikaanse Appèlhof, en in 1984 se presidentsverkiesing was ’n vrou vir die eerste keer ’n vise-presidentskandidaat vir ’n vername politieke party. In Frankryk beklee vroue ongeveer 15 persent van alle kabinetsposte.
Vroue in die sakewêreld
Pleks dat tekens lui: “Mans aan die werk”, lui talle in die Verenigde State nou: “Mense aan die werk.” Waarom? As gevolg van ’n verandering in die vrou se rol in die ekonomiese sektor. Die aantal vroue wat uitwerk, het in die afgelope 25 jaar verdubbel. Vroue het in 1970 maar 27 persent van die kantoorposte beklee; 14 jaar later het vroue 65 persent daarvan beklee. Vir party is dit ’n finansiële noodsaaklikheid om sekulêre werk te doen; ander verkies om dit te doen. In party plekke word die besoldiging vir mans en vroue wat dieselfde werk doen gaandeweg gelyker.
In die onderwys, die kunswêreld en godsdiens
Vroue het feitlik in alle wêrelddele merkwaardige vooruitgang ten opsigte van die onderwys gemaak. Die getal vroue in skole het van 95 miljoen in 1950 tot 390 miljoen in 1985 gestyg. In Spanje was daar 25 jaar gelede twee keer soveel ongeletterde vroue as mans. In 1983 het die situasie in so ’n mate verbeter dat 30 persent van die universiteitstudente vroue was. Women in Britain berig “’n dramatiese toename in die aantal vroue wat voltydse universiteitstudente is”.
Deur die jare heen het vroue hulle in die musiekwêreld onderskei as soliste, wat sang sowel as instrumente betref. Maar voor 1935 was die enigste vroue wat in die Verenigde State in orkeste gespeel het die harpiste, ’n rol wat mans skynbaar vermy het. Daarteenoor is 40 persent van dié wat tans in groot, streeks- en metropolitaanse orkeste speel vroue.
Daar was ’n soortgelyke toename op godsdiensgebied. Talle vroue het hulle by kweekskole ingeskryf, sodat 29 tot 52 persent van sulke studente in die Verenigde State vroue is. Vroue verskyn op preekstoele, en daar is ook vroue wat rabbi’s is. Sowat 11 persent van Sweedse geestelikes is vroue, en daar is Anglikaanse vrouepriesters in die Ooste. Volgens The New York Times (16 Februarie 1987) “is daar 968 geordende vroue in die Anglikaanse Kerk”.
Met watter gevolg?
Daar kan dus nie ontken word dat die situasie van vroue in onlangse tye dramaties verander het nie. Jy het miskien die veranderinge gesien of self ervaar. Maar die vraag moet geopper word: Was al hierdie veranderinge ’n suiwer seën?