Spiritisme—Hoe beskou God dit?
“DIESELFDE voorkeur en teensin bou ’n vaste vriendskap”, het die Romeinse geskiedkundige Sallust gesê. ’n Vriend is inderdaad iemand met wie jy die meeste gemeen het, iemand wat jy kan vertrou. God beskou ons eweneens as vriende en laat ons toe om nader aan hom te kom as ons dieselfde voorkeur en teensin as hy het. Dit beteken dat ons aangetrokke voel tot eienskappe van God soos liefde, vrede, vriendelikheid en goedheid, en dat ons ’n ernstige poging aanwend om hierdie eienskappe in ons lewe aan die dag te lê.—Galasiërs 5:22, 23.
Om te bepaal of God spiritisme goedkeur, moet ons derhalwe eers die vrugte daarvan ondersoek. Help dit ons om aantreklike, godvrugtige eienskappe aan te kweek? Laat ons twee werklike voorbeelde ondersoek om uit te vind.
Waarsêery, molestering en die dood
Asamaja Amelia, ’n middeljarige vrou in Suriname, was 17 toe sy by waarsêery, ’n vorm van spiritisme, betrokke geraak het. Aangesien haar voorspellings bewaarheid is en haar raad vir navraers voordelig was, was sy ’n baie gesiene persoon in haar gemeenskap. (Vergelyk Handelinge 16:16.) Maar iets het haar gehinder.
“Die geeste wat deur my gepraat het, was vriendelik teenoor diegene wat hulle om hulp gevra het”, sê sy, “maar hulle het my lewe terselfdertyd versuur. Na elke sessie het dit gevoel asof ek afgeransel is, en ek kon skaars beweeg. Saans het ek gehoop dat ek sou kon rus, maar die geeste het my nie met rus gelaat nie. Hulle het my aanhoudend lastig geval, met my gepraat en my wakker gehou. En die dinge wat hulle gesê het!” Sy sug, kyk af en skud haar kop in afsku. “Hulle het graag oor seks gepraat en het daarop aangedring om omgang met my te hê. Dit was skokkend. Ek was getroud. Ek wou nie ontrou wees nie en het dit vir hulle gesê. Dit het nie gehelp nie. Eenkeer het ’n onsigbare mag my oorweldig, my liggaam aangeraak en gedruk en my selfs gebyt. Ek het ellendig gevoel.”
‘Geeste wat onsedelikheid bevorder? Dit is vergesog!’ sê jy miskien. Is hierdie geeste werklik so verdorwe?
“Dis selfs erger!” sê Izaak, wat vroeër gemeld is. “Een nag is ons ingeroep om ’n siek vrou te help wat deur ’n gees lastig geval is. Die groepleier—die medium van ’n sterker gees—het probeer om die gees weg te jaag. Ons het ’n hele dag lank om die gees se hulp gepleit. Ons het gedans en op die tamboere geslaan, en die vrou se toestand het geleidelik verbeter. Hy het haar gees beveel om haar te verlaat, en dit het gewerk. ‘Ons het die oorwinning behaal’, het die leier glimlaggend gesê. Toe het ons gaan sit en ontspan.”
Izaak hou ’n oomblik op beduie terwyl hy betekenisvol pouseer. Dan sê hy voorts: “Dit het ’n rukkie gelyk asof alles in orde is, maar toe het ’n gil die stilte verbreek. Ons het ons gehaas na die huis waarvandaan dit gekom het en die leier se vrou gesien. Sy het histeries gehuil. Ons het haar dogtertjie in die huis gevind—haar gesig heeltemal na agter gekeer! Die een of ander mag het haar soos ’n hoender doodgemaak deur haar nek om te draai en te breek—klaarblyklik die wraak van daardie gees wat uitgedryf is. Dis weersinwekkend! Daardie geeste is sadistiese moordenaars.”
Spiritisme en “die werke van die vlees”
Onreinheid, geslagsonsedelikheid en moord—wat in hierdie twee ondervindings met spiritisme voorgekom het—is eienskappe wat lynreg met God se persoonlikheid bots. En dit help ons om vas te stel wie daardie geeste werklik is. Hulle gee moontlik voor dat hulle boodskappers van God is, maar hulle onsedelike en moorddadige werke verraai dat hulle navolgers van God se vyand en die eerste moordenaar in die geskiedenis, Satan die Duiwel, is (Johannes 8:44). Hy is hulle leier. Hulle is sy helpers—bose engele, of demone.—Lukas 11:15-20.
Maar dalk vra jy: ‘Kom hierdie sataniese eienskappe net by uitsondering in spiritisme voor? Kan spiritisme my oor die algemeen in aanraking laat kom met goeie geeste wat my sal help om nader aan God te kom?’ Nee, die Bybel meld die “beoefening van spiritisme” saam met die ander “werke van die vlees” wat lynreg in stryd met Christelike eienskappe is.—Galasiërs 5:19-21, vgl. NW.
In Openbaring 21:8 word “towenaars” (“die wat spiritisme beoefen”, NW; “die wat hulle met toordery ophou”, Die Lewende Bybel) in dieselfde kategorie geplaas as “die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders . . . en afgodedienaars en al die leuenaars”. Hoe beskou Jehovah moedswillige leuenaars, hoereerders, moordenaars en beoefenaars van spiritisme? Hy haat hulle dade!—Spreuke 6:16-19.
Betrokkenheid by spiritisme kom dus daarop neer dat ’n mens liefhet wat Jehovah God haat. Dit is soos om Jehovah te verwerp, in Satan se kamp te wees en party te kies vir God se aartsvyand en sy helpers. Dink nou hieraan: Sou jy intiem wou omgaan met ’n persoon wat party kies vir jou vyande? Natuurlik nie. Jy sou daardie persoon eerder vermy. Ons kan dan uiteraard dieselfde reaksie van Jehovah God verwag. Spreuke 15:29 sê: “Die HERE is ver van die goddelose.”—Kyk ook Psalm 5:5.
Spiritisme lei tot die dood
Die oppervlakkige beoefening van spiritisme is ook lewensgevaarlik. God het dit onder sy volk in eertydse Israel as ’n rede vir die doodstraf beskou (Levitikus 20:27; Deuteronomium 18:9-12). Dit behoort ons dus nie te verbaas dat beoefenaars van spiritisme “die koninkryk van God nie sal beërwe nie” (Galasiërs 5:20, 21). In plaas daarvan sal “hulle deel [wees] in die poel wat brand met vuur en swawel”, wat “die tweede dood”, of ewige vernietiging, beteken (Openbaring 21:8). Vandag duld sommige van die Christendom se kerke weliswaar spiritisme, maar die Bybel se beskouing het nie verander nie.
Sê nou jy het reeds die weg na spiritisme betree. Dan sal dit goed wees as jy dadelik ophou en heeltemal omdraai. Volg die goddelik geïnspireerde raad wat God se profeet Jesaja aan die eertydse Israeliete gegee het. Hulle situasie kom ooreen met dié van mense vandag wat onrein gebruike beoefen, maar dink dat hulle God terselfdertyd dien. Daar is derhalwe noodsaaklike lesse in hulle ondervinding. Watter lesse?
Slaan ag op Jesaja se waarskuwing
’n Ondersoek van die eerste hoofstuk van Jesaja toon dat die Israeliete “die HERE verlaat” en “agtertoe weggedraai” het (Vers 4). Hoewel hulle afgedwaal het, het hulle voortgegaan om offers te bring, godsdiensfeeste te vier en te bid. Maar tevergeefs! Omdat hulle nie ’n begeerte gehad het om hulle Skepper te behaag nie, het Jehovah gesê: “[Ek] bedek . . . my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie.” Daardie Israeliete het teen hom in opstand gekom deur onrein gebruike te begin beoefen, selfs in soverre dat hulle ‘hande vol bloedvergieting’ was.—Vers 11-15, vgl. NW.
Onder watter omstandighede sou Jehovah hulle weer aanvaar? Let op die vereistes wat in Jesaja 1:16 uiteengesit word. Hy sê: “Was julle, reinig julle.” As ons dus daardie raad ernstig opneem, sal ons onrein gebruike, waaronder spiritisme, een van “die werke van die vlees”, laat vaar of ons daarvan weerhou. Omdat ons weet dat die bose verstand agter spiritisme dié van Satan die Duiwel is, sal ons haat daarteen ontwikkel.
Dan moet ons ontslae raak van alle voorwerpe wat met spiritisme verband hou. Izaak het dit gedoen. Hy sê: “Ek het eendag al my besittings wat met spiritisme verband hou voor my huis bymekaargemaak, ’n byl gegryp en dit stukkend gekap. My buurvrou het geskreeu dat ek my daad sou berou. Terwyl sy geskreeu het, het ek petrol oor die stukke gegooi en elke stukkie verbrand. Niks het oorgebly nie.”
Dit was 28 jaar gelede. Het Izaak sy daad berou? Inteendeel. Vandag dien hy Jehovah vreugdevol as ’n Christenbedienaar in een van die gemeentes van Jehovah se Getuies.
Jesaja 1:17 gee hierdie verdere raad: “Leer om goed te doen.” Dit beteken dat ’n mens Jehovah se Woord, die Bybel, moet bestudeer om uit te vind wat “die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God” is (Romeine 12:2). En die toepassing van daardie nuutgevonde kennis sal tot verkwikkende seëninge lei. Dit is wat Asamaja uitgevind het.
Ten spyte van venynige teenstand van familielede en bure het Asamaja moedig die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer en kort daarna van spiritisme losgebreek. Toe het sy haar lewe aan Jehovah God toegewy en is sy by ’n byeenkoms gedoop. Nou, nagenoeg 12 jaar later, sê sy met dank: “Sedert my doop is ek nie deur geeste lastig geval nie.” En sy sê glimlaggend: “Die nag nadat ek gedoop is, het ek so vas en onversteurd geslaap dat ek laat was vir die volgende oggend se byeenkomsprogram.”
Blywende voordele
Vandag kan Izaak sowel as Asamaja van harte saam met die psalmis Asaf sê: “Dit is vir my goed om naby God te wees” (Psalm 73:28). Om na aan Jehovah te kom, het voorwaar vir hulle liggaamlike en emosionele voordele meegebring. Maar dit het hulle bowenal gemoedsrus en ’n hegte verhouding met Jehovah gegee.
Sulke seëninge oortref verreweg die pyn en stryd wat nodig is om die juk van spiritisme af te skud. Dit kan egter ’n beproewing wees om los te breek. Lintina van Geenen, ’n vrou in Suriname, het daardie ondervinding gehad. Ons sal vervolgens sien hoe sy jare lank geworstel het, maar uiteindelik daarin geslaag het.
[Prent op bladsy 5]
Asamaja Amelia sê: “Die geeste . . . het my lewe . . . versuur. . . . En die dinge wat hulle gesê het!”