Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 10/1 bl. 22-25
  • Die Hervormingswaters bars uit

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Hervormingswaters bars uit
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Groeiende golf
  • ’n Breuk in die dam
  • Die oorloop vloei na die buiteland
  • Die nuwe panorama
  • Die Hervorming—’n Nuwe wending in die soektog
    Die mensdom se soeke na God
  • Godsdiens se vloedgolf—die finale afrekening
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Wessel Gansfort—“’n Hervormer voor die Hervorming”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Is godsdiensgeskiedenis vir jou van enige nut?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 10/1 bl. 22-25

Die Hervormingswaters bars uit

“SKIELIK het ek nog ’n geluid gehoor, soos dié van donderweer, wat op ons afstorm. Ons gesin . . . het so vinnig soos ons kon na ’n nabygeleë heuwel begin hardloop. Die bruisende waters het ons ingehaal. Ons het harder geswem as ooit tevore. Ofskoon ons heelwat seewater gesluk het . . . , het ons dit oorleef.”

Dit is hoe een Filippyner ’n skrikwekkende ondervinding verhaal het wat sy lewe verander het. Jy is miskien nog nooit deur ’n natuurramp—van water of enige ander aard—getref nie. Maar ’n kykie na die geskiedenis onthul dat miljoene lewens deur die een of ander kataklisme hervorm is.

Godsdiens het ook ’n aantal ontsaglike omwentelinge gesien wat die daaglikse lot van tallose mense heeltemal verander het. Dit het Hindoes, Boeddhiste, Moslems, Jode en Christene ingesluit. Het sulke beroeringe jou lewe geraak? Dit het so goed as seker, waar jy ook al woon. Kom ons lig dit toe deur ongeveer 400 jaar, na die 16de eeu, terug te reis. Ons vestig ons aandag vir eers op Europa wat destyds met meningsverskille gekook het, soos ’n maalstroom wat al hoe vinniger maal.

’n Groeiende golf

Die Rooms-Katolieke Kerk en Europese monarge het in die eeue wat tot die sogenaamde Hervorming gelei het met mekaar meegeding, en elkeen het op gesag oor mekaar en oor die bevolking aanspraak gemaak. ’n Groep mense op die vasteland het hulle stemme verhef in beswaar teen wat hulle as misbruike deur die kerk beskou het.

Watter soort misbruike het hulle gesien? Hebsug, flagrante onsedelikheid en bemoeiing met die politiek. Gewone mense was verontwaardig oor mans en vroue wat enersyds op grond van hulle gelofte van armoede en kuisheid op spesiale voorregte aanspraak gemaak het, maar terselfdertyd die wet verontagsaam het deur openlik verdorwe en onsedelik te wees. Edelliede in Engeland was ontstoke oor die enigsins sonderlinge situasie dat hulle skatting moes betaal aan ’n pous wat in Frankryk, Engeland se grootste oorlogsvyand, gewoon het en ’n bondgenoot daarvan was.

Die verdorwenheid in die Katolieke Kerk het van bo afgesypel. Geskiedskryfster Barbara W. Tuchman skryf in haar boek, The Maart of Folly, dat die ses pouse wat van 1471 af aan die bewind was hulle “op groot skaal aan omkoopbaarheid, amoraliteit, hebsug en opvallend rampspoedige magspolitiek” skuldig gemaak het. Barbara Tuchman beskryf voorts hoe pous Sixtus IV, ten einde sy tot nog toe armoedige familie te verhef en te verryk, vyf neefs en ’n agterneef as kardinale aangestel het, ’n ander agterneef as biskop, en ses van sy ander familielede in heersende families laat introu het. Alexander VI was berug daarvoor dat hy etlike minnaresse en sewe kinders gehad het toe hy pous geword het. In sy vasbeslotenheid om in die amp verkies te word, het hy sy twee belangrikste mededingers omgekoop, waarvan een “vier muilvragte muntmetaal” ontvang het, skryf Barbara Tuchman. Hy het later ’n Vatikaanse feesmaal gelei wat “in die geskiedboeke van pornografie welbekend” geword het. Dieselfde werk beskryf dan in hooftrekke hoe die beroemde beeldhouer Michelangelo deur pous Julius II opdrag gegee is om ’n beeld van hom te maak. Toe hy deur die vakman gevra is of die standbeeld hom met ’n boek in die hand moet uitbeeld, het die krygshaftige pous geantwoord: “Sit ’n swaard daar. Ek dra geen kennis van die letterkunde nie.”

’n Breuk in die dam

Gewone Europeërs het steeds geestelike leiding verlang. Hierdie nederiger persone het gesien hoe die verskillende range in die kerkhiërargie in ’n waansinnige strewe na selfvoldoening vasgevang is, en hulle het hulle tot ’n alternatiewe bron van gesag gewend, ’n gesag wat hulle hoër as al die ander geag het—die Bybel. Volgens skrywer Joel Hurstfield, was “die Hervorming in die diepste sin, ’n krisis van gesag”. Die predikers en monnike in Italië was ontsteld oor die verdorwenheid in die kerk en het openlik oor die behoefte aan hervorming begin praat. Maar die waters van ontevredenheid het nêrens onheilspellender opgewel as in Duitsland nie.

In heidense tye het Germaanse stamme ’n tradisie gehad waardeur geld betaal kon word om die vrystelling van straf vir misdade te bewerk. Met die uitbreiding van die Roomse geloof is die gebruik in die kerk ingebring in die vorm van aflate. Dit het ’n sondaar in staat gestel om die waarde van afgestorwe “heiliges” se verdienstes by die pous te koop en dit in die plek van tydelike straf vir sondes toe te pas. Weens finansiële druk, veroorsaak deur oorloë teen Frankryk en deur grootskaalse bouwerk in Rome, het pous Leo X die verkope van aflate gemagtig en volkome kwytskelding van tydelike straf vir sonde aangebied. ’n Verontwaardigde Martin Luther het sy nou bekende 95 stellinge oor die valse leerstellings van die kerk uiteengesit. Die beweging om ’n hervorming, wat ’n paar geslagte tevore as ’n drupstraaltjie begin het, het ’n sterk stroom geword namate al hoe meer mense hulle steun daaraan gegee het.

In die 16de eeu het individue soos Luther in Duitsland, Zwingli en Calvyn in Switserland en Knox in Skotland saamtrekpunte geword vir baie wat die geleentheid gesien het om die Christelike geloof te reinig en tot die oorspronklike waardes en standaarde van die Bybel terug te keer. ’n Benaming is in Duitsland uitgedink om diegene te beskryf wat geweier het om die beperkinge wat deur Rooms-Katolieke heersers ten opsigte van geloofsbeoefening opgelê is te erken en wat getrouheid aan God bo enigiemand anders bely het. Hierdie benaming het naderhand almal ingesluit wat die Hervormingsbeweging ondersteun het. Die benaming was “Protestant”.

Protestantisme het met verstommende snelheid deur Europa getrek, die godsdienstige landskap hervorm en nuwe teologiese grense gestel. Duitsland en Switserland het voorgeloop, met Skotland, Swede, Noorweë en Denemarke kort op hulle hakke. Daar was hervormingsbewegings in Oostenryk, Boheme, Pole, Transsilvanië, die Nederlande en Frankryk.

In Engeland het ontevredenheid al langer as ’n eeu, sedert die dae van John Wycliffe en die Lollarde, kop uitgesteek. Maar toe daar uiteindelik van die Katolieke Kerk weggebreek is, was dit om meer wêreldse redes. Die koning het besluit om nie sy godsdiens nie, maar sy vrou te verander. In 1534 het Hendrik VIII homself hoof van die nuwe Anglikaanse Kerk verklaar. Sy beweegredes het verskil van dié van die vasteland se andersdenkendes, maar sy optrede het nietemin die sluisdeure geopen sodat die waters van godsdiensverandering in Brittanje kon instroom. Oral in Europa het hierdie waters vinnig rooi verkleur met die bloed van duisende wat op die pynbanke van godsdienspolarisasie uitgestrek is.

Waar die drang tot hervorming ook al ’n houvas gekry het, het kerkbesittings en -eiendom die aandag getrek. Die Engelse kroon het in net vier jaar op 560 kloosters beslag gelê, waarvan sommige ontsaglike inkomstes gehad het. In ander lande het heersers sowel as leke kerkgrond oorgeneem. Toe Rome self geplunder is, het die wreedheid geen perke geken nie. “Die wreedheid en bloeddorstigheid van die aanvallers ‘sou ’n klip tot medelye beweeg het’”, is hoe Barbara Tuchman dit beskrywe. “Gille en kreune het elke hoek gevul; die Tiber was vol dooie liggame.” Beide Katolieke en Protestantse minderheidsgroepe is wreed vervolg. In Boheme is Protestante se grond onteien en in Ierland was dit die Katolieke se beurt. Franse Hugenote sowel as Skotse Presbiteriane en Engelse Puriteine is agtervolg. Dit het gelyk asof ’n sinnelose mallemeule van slagting aan die gang gesit is, en godsdiens was die vernaamste smeerolie. Sou die wreedhede nooit ophou nie?

Die kerk het geen olyftak gehad om aan te bied nie. Maar die monarge was sat van die uitputting van burgeroorlog en het ooreenkomste gesluit wat die grense tussen die strydende gelowe geformaliseer het. Die Vrede van Augsburg in 1555 en die Vrede van Munster in 1648 het godsdienstige en nasionale grense verenig deur die plaaslike heerser te laat besluit watter godsdiens sy bevolking moes volg. Europa het dus ’n nuwe tydperk binnegegaan, een wat sowat 300 jaar sou duur. Eers aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog is gesag in Europa deur die destyds seëvierende Geallieerdes herbepaal.

Die hunkering na godsdiensvryheid en hervorming het druk agter die dam van kerkbedwang opgebou. Na eeue van onversetlike bedwang, het die waters uiteindelik uitgebars, deur die valleie van Europa gestroom en ’n verwoeste landskap agtergelaat. Toe die golf gesak het, was leiding in geloofsake in Protestantse lande uit die hande van die geestelikes gevee en het dit op die strande van wêreldlike magte gelê. Europa was egter nog deurweek met godsdiensonverdraagsaamheid en vlugtelinge het van die een land na die ander gevlug. Die vasteland kon die waters wat uitgebars het nie langer inhou nie. Dit het spoedig na die buiteland begin oorstort. Die 17de eeu het ’n kanaal vir die oorloop verskaf. Die Nuwe Wêreld is gekoloniseer.

Die oorloop vloei na die buiteland

“Een van die hoofoorsake vir vroeë verhuising na Amerika”, skryf A. P. Stokes in Church and State in the United States, “was die begeerte na godsdiensvryheid.” Mense was moeg vir die vervolging. Baptiste, Kwakers, Rooms-Katolieke, Hugenote, Puriteine, Mennoniete en andere was almal gewillig om die ontberinge van die seevaart te verduur en die onbekende aan te durf. Stokes haal een van hulle aan: “Ek het gehunker na ’n land waar ek vry kon wees om God te aanbid soos die Bybel my geleer het.” Die mate van onverdraagsaamheid wat hierdie emigrante agtergelaat het, kan geoordeel word na die ontberinge wat hulle gewillig was om te verduur. Volgens geskiedskrywer David Hawke in The Colonial Experience is ’n hartbrekende vertrek van die geboorteland af waarskynlik gevolg deur “twee, drie of vier maande waartydens hulle elke dag verwag het om deur golwe verswelg en ongenadige seerowers oorval te word”. Daarna sou die stormgeteisterde reisiger “tussen barbaarse Indiane beland wat vir niks anders as wreedheid bekend was nie . . . [en sou hy] lank in ’n verhongerde toestand [bly]”.

Individue het na vryheid gestreef, die koloniale magte na rykdom. Ongeag die motief, die nedersetters het hulle eie godsdiens met hulle saamgeneem. Duitsland, Nederland en Brittanje het Noord-Amerika ’n Protestantse vesting gemaak. Die Britse regering by uitstek wou “voorkom dat Rooms-Katolisisme . . . die oorhand in Noord-Amerika kry”. Kanada het onder die invloed van beide Frankryk en Brittanje gekom. Die Franse regering se beleid was om “Nieu-Frankryk in die Rooms-Katolieke geloof te hou” en het selfs geweier om Hugenote toe te laat om na Quebec te emigreer. Suider-Afrika en dele van Wes-Afrika het onder Protestantse invloed gekom. Hierdie invloed het met verloop van tyd toegeneem namate Australië, Nieu-Seeland en baie eilande in die Stille Oseaan by die Protestantse skoot gevoeg is.

Spanje en Portugal was reeds besig om Suid- en Sentraal-Amerika te katoliseer. Franse en Portugese het die Katolieke banier in Sentraal-Afrika gehys. In Indië was Goa onder Portugese invloed en so het Katolisisme daar wortelgeskiet.

Die Jesuïete-orde is in die 16de eeu gestig om die Katolieke saak te bevorder. Teen die middel van die 18de eeu het meer as 22 000 Jesuïete oral in die wêreld gewerk en Katolieke invloed selfs in China en Japan verstewig.

Die nuwe panorama

Water wat uitgebars het, het geweldige krag, soos die getuie wat aan die begin van hierdie artikel aangehaal is, getuig het. Dit vee landskappe plat, kerf nuwe valleie en klowe uit en verpletter hindernisse wat in die pad is. ’n Tierende stortvloed ken geen meester nie en kan nie beheer of gerig word nie. Dit was net so met die Hervormingsvloed.

“Wat gebeur het . . . was dus nie soseer die triomf van ’n nuwe, afgeskeie geloof nie, maar die algemene en geleidelike aanvaarding van ’n verdeelde Christendom, wat niemand wou gehad het nie”, sê G. R. Elton in The Reformation Crisis. Die Christendom was verdeeld, deur storms heen en weer geslinger en sy krag is ondermyn. Mense was eerder getrou aan plaaslike monarge en kleiner staatskerke. Die langgevestigde bewind vanuit Rome is ondergrawe. Nasionalisme het wortelgeskiet in die deurweekte landskap van Protestantisme. Brittanje en die Verenigde State, stewig in die hande van Protestantse wêreldlike leiers, het saam die sewende wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis gevorm en het die roer in die 18de eeu vasgevat.

Maar die Hervormingsbeweging het die een ding wat mense gehoop het dit tot stand sou bring, nie gedoen nie. Wat was dit? Met verloop van tyd het grondleerstellings van Protestantse kerke, hetsy staatskerke of andersins, grootliks met die leerstellings van Rome ooreengekom. Vroeë hervormers het illusies gekoester om na Bybelse standaarde, na die suiwer Christelike godsdiens, terug te keer. Namate die golf van ondersteuning in omvang en vaart toegeneem het, het onduidelike leiding eenvoudig koue water op daardie illusies gegooi.

Die grondsee van die Hervormingswaters het selfs in ons 20ste eeu vore gelaat. Kan jy party daarvan identifiseer? Belangriker nog, ons staan op die rand van ’n beslissende wêreldwye godsdiensomwenteling. Godsdiens se verlede is besig om hom in te haal. Sal jy dan behoue bly om die nuwe horison te ondersoek? Hierdie vrae sal in November in ’n nommer van hierdie tydskrif beantwoord word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel