Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 11/1 bl. 25-29
  • Godsdiens se vloedgolf—die finale afrekening

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Godsdiens se vloedgolf—die finale afrekening
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Oorstroomde landskap
  • Die vloed sal terugkeer
  • Waar staan jy?
  • Die Hervormingswaters bars uit
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Die Hervorming—’n Nuwe wending in die soektog
    Die mensdom se soeke na God
  • Is Jehovah se Getuies ’n Protestantse godsdiens?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Die Vrede van Wesfale—’n keerpunt in Europa
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 11/1 bl. 25-29

Godsdiens se vloedgolf—die finale afrekening

VREUGDEVURE knetter, vonkstokke glinster, vuurpyle kleur die lug rooi, blou, geel en groen. Aartappels in die skil. ’n Skaterlag, uitroepe van genot. Guy Fawkes-nag in Engeland.

WERKERS het toevallig op die 25 lyke afgekom. Die geraamtes is sorgvuldig begrawe, met die arms oormekaar. Op dié manier het geskiedkundiges afgekom op ’n spoor van geheimsinnigheid wat sowat 200 jaar teruggaan. Quebec, Kanada.

Die bostaande is twee nie-verwante voorvalle met ’n gemeenskaplike oorsprong—die Hervorming.

’N ARTIKEL in ons nommer van 1 Oktober het getoon dat daar in die 16de eeu ’n ontsaglike godsdiensomwenteling in Europa plaasgevind het. Die gevolge daarvan het na ander wêrelddele versprei. Talle aspekte van die lewe vandag is bloot slote wat deur die Hervormingswaters uitgekalwe is. Dalk beïnvloed hulle selfs jou daaglikse roetine. Belangriker nog, ons staan op die rand van ’n finale godsdiensramp wat beslis jou lewe gaan raak. Weet jy hoe?

Volg die spore van die Hervorming in die volgende lande:

Duitsland: Sommige sê dat Luther se invloed op die Duitse kultuur ongeëwenaard is deur dié van enige individu in die Engelssprekende wêreld. Sy vertaling van die Skrif is een van die mees algemeen aanvaarde Duitse Bybels. Luther het ’n groot bydrae gelewer tot die vasstelling van die karakter van die taal en die vorming van die raamwerk van Duitse gesinsbetrekkinge. Hy het die Staat bewus gemaak van die behoefte aan onderwys vir almal en het sodoende die status van die onderwysersberoep verhoog.

Kanada: Brittanje en Frankryk was in die koloniale verlede in ’n kragmeting gewikkel wat sy spore op een provinsie in die besonder—Quebec—afgedruk het. Quebec, wat oorspronklik deur Franse Katolieke immigrante gekoloniseer is, het in 1763 onder Britse, en derhalwe Protestantse, bewind gekom. Dit is kort voor daardie tyd dat die lyke, wat aan die begin van hierdie artikel gemeld is, in die geheim naby die versterkte mure van die stad begrawe is. Waarom in die geheim? Omdat hulle skynbaar Protestante was, wat destyds nie in Katolieke begraafplase begrawe kon word nie. Quebec is nog steeds ’n eiland van Franssprekende Katolisisme, en dit gee aanleiding tot moderne, separatistiese bewegings.

Ierland: Die Smarageiland het, onbeïndruk deur die Hervorming, op ’n afstand gebly. Die Protestantse invloed het mettertyd vanuit Engeland oor die Ierse See in die noordelike provinsies ingesypel. Die erfenis is vandag ’n verdeelde Ierland. Jaarlikse someroptogte in Ulster herdenk Protestantse oorwinnings van die verlede. Vieringe laat gewoonlik ’n spoor van barrikades, bomme en plastiekkoeëls agter. In Julie 1986 is 160 in die Oranjedagoptog beseer. Dit was ter herdenking van die dag sowat 300 jaar gelede toe koning Willem van Oranje, wat Protestantisme in Brittanje gevestig het, Engeland se laaste Katolieke heerser, Jakobus II, verslaan het.

Die Verenigde State: “[Die] verskeidenheid van sektes met uiteenlopende Europese agtergronde was ’n kragtige faktor in die totstandbrenging van godsdiensvryheid in Amerika”, skryf A. P. Stokes in Church and State in the United States. Gedurende die koloniale tydperk was die Verenigde State oorwegend Protestants. Calvinistiese waardes het godsdiens, die politiek en die handel gerig. Die fundamentele oortuiging was dat elke man regstreeks teenoor sy Skepper aanspreeklik was, sonder priesterlike bemiddeling. Hierdie ideaal het ’n karakter geskep wat hom daarop toegespits het om sy eie lot te bewerk en die belonings vir sy eie arbeid te verkry.

T. H. White sê in sy boek In Search of History dat 13 persent van die Amerikaanse bevolking by die eeuwisseling Katoliek was. Hierdie persentasie het teen 1960 tot meer as 25 persent toegeneem. Nogtans het min Katolieke die hoër politieke range bereik. White sê voorts: “Op die hoër vlak van die Senaat, waar oorlog en vrede gemaak is, waar besluite oor verdrae en buitelandse beleid geneem is, waar regters van die Appèlhof aangestel is, het Amerikaners steeds verkies dat Protestante van die ou tradisie die bewakers van die nasionale doel is.” Daar is van die gewoonte afgewyk toe John F. Kennedy die eerste Katolieke president van die Verenigde State geword het.

Kyk asseblief die venster op bladsy 29 vir verdere voorbeelde uit ander lande.

’n Oorstroomde landskap

Onder Protestantisme het teologiese debatte toegeneem, en Bybelvertalings en -verklarings het op die gety van vryheid en individuele uiting gedryf. Maar na verloop van tyd het vryheid Bybelkritiek na die oppervlak gebring. Nuwe idees is aangeneem; die vrye wil het hoogty gevier. Vooruitgang was nie meer die sagte geklots van golfies nie, maar die dawerende gedreun van branders. Die sterk stroom van hervorming het die grondveste van die tradisionele Christelike leer meegevoer. Moderne alternatiewe soos evolusie, die vroue-vryheidsbeweging en die ‘nuwe moraliteit’ is soos opdrifsels uitgespoel en is swygende getuienis van die storm. Individualistiese godsdiens in sommige Protestantse lande het elke individu op sy eie, eensame eiland van geloof gestrand gelaat.

Opvattings in Protestantse gebiede word gevorm deur ’n neiging om vaste norme te bevraagteken. Mense word volgens ’n beleid van vooruitgang, vryheid en menseregte grootgemaak. Max Weber, ’n Duitse sosioloog en ekonoom, het in 1904 ’n verhandeling oor Protestantisme en kapitalisme uitgegee. Hy het beweer dat kapitalisme nie bloot ’n resultaat van die Hervorming was nie. Maar hy het wel gevind dat wanneer dit kom by suksesvolle kapitalistiese gebiede met mense van verskillende godsdiensagtergronde dit by uitstek die Protestante was wat die eienaars, die leiers, die ervarenes en die opgeleides was. Volgens Der Fischer Weltalmanach het lede van Protestantse kulture twee derdes van die 540 Nobelpryse wat tot en met 1985 toegeken is, ontvang. Slegs 20 persent is aan bewoners van Katolieke milieus toegeken. Van die 20 lande met die hoogste bruto nasionale produksie per persoon was nege lande Protestants en twee Katoliek. Daarenteen was daar onder die tien gelyste ontwikkelingslande wat skuld het vyf Katolieke lande maar geen Protestantse lande nie.

Die Duitse weekblad Der Spiegel het geskryf dat Calvinistiese ideale die Britte aangedryf het om ’n vername wêreldmag te word. Sedert die 19de eeu het die toenemende politieke mag van die Verenigde State, Duitsland en Groot-Brittanje maatskaplike hernuwing in die hand gewerk. Gelyke geleenthede vir almal is beklemtoon. Malinge in die hoofstroom van die Hervorming word deur sommige beskou as die voorlopers van die moderne sosialisme. ’n Politieke bewustheid van maatskaplike verantwoordelikheid het die weg gebaan vir die welsynstaat. Die burgerlike owerheid het, veral in Protestantse gebiede, gaandeweg die beheer oor die wetlike aspekte van geboorte, dood, die huwelik, egskeiding en erfenis oorgeneem. Daar is nou dikwels ’n groot verskil tussen Katolieke en Protestantse lande ten opsigte van die beskikbaarheid van egskeiding en wettige aborsies.

Twee bolwerke van Protestantisme, die Verenigde State en Groot-Brittanje, het saamgegroei tot die dier met twee horings van Bybelprofesie (Openbaring 13:11). Die Verenigde Volke-Organisasie, ’n 20ste-eeuse politieke reus wat aanvanklik die Volkebond genoem is, het uit Protestantse inisiatiewe ontwikkel.

Die vloed sal terugkeer

’n Afgaande gety laat ’n hoogwatermerk op die strand wat ons aan die naderende terugkeer daarvan herinner. Die Hervorming van die 16de eeu het eweneens sigbare spore agtergelaat wat ons vandag kan sien. En daar is kragtige bewyse dat ons op die drempel staan van ’n finale golf van godsdiensverandering wat alle vorige omwentelinge sal oortref, valse godsdiens vir ewig sal meevoer en elke lewende persoon sal raak. Sal jy dit oorleef? Daar is wêreldwyd, onder individue en regerings, algemene ontevredenheid met georganiseerde godsdiens. Waarom die ontevredenheid?

Godsdiens oorskry dikwels die grense van sy gebied en verwar die ampsgewaad met die geestelike kleed, die kroon met die biskopsmus en die septer met die kruis. ’n Paar jaar gelede het die Sondagkoerant Observer die vraag geopper of politici in Ierland bereid was om die beheer oor die land van die priesters oor te neem. Voormalige Wes-Duitse kanselier Helmut Schmidt het die volgende oor godsdiens se inmenging in die politiek gesê: “Ek glo nie dat dit vir ’n onbepaalde tyd geduld kan word nie.” En Le Figaro van Parys het die kerk daarvan beskuldig dat dit dermate “in die politiek inmeng” “dat dit gevaar loop dat die politiek in die godsdiens sal inmeng”. Die vermoeiende stryd tussen die politiek en godsdiens duur voort, van Indië tot Egipte tot die Verenigde State, van Pole tot Nicaragua en van Maleisië tot Chili.

Dit is geen verrassing nie, niks nuuts nie. Openbaring hoofstuk 17 beskryf valse godsdiens in die geheel as ’n hoer, “Babilon die Grote”, wat met die politici van die aarde hoereer. Vers 4 beeld haar verder uit as “versierd met goud en kosbare stene en pêrels”. Die godsdiensryk is onversadigbaar, dit swelg in weelde en loop oor van rykdom. In die 16de eeu is daar verlangend na die skitterende geldkoffers van die Katolieke Kerk gekyk. Dit is ook die geval met die juweelryke gewin van alle godsdiens in ons 20ste eeu.

Regerings kyk reeds met begerige oë na sulke rykdom. Albanië het die meer as 2 000 moskees, kerke en ander godsdiensgeboue gesien en hulle òf verbeurd verklaar, òf gesloop. Die Sunday Times het in 1984 berig dat die regering van Malta “verlangend na die kerk se rykdom begin kyk het” en subsidies vir kerkskole verminder het. Toe ’n regeringsminister gevra is hoe die kerk die verlies kon vergoed, het hy geantwoord: “Hulle kan, indien nodig, hulle goue kruise en silwer altare smelt.” Die Grieks-Ortodokse Kerk het wetgewing wat vroeër vanjaar deur die Griekse Parlement goedgekeur is en die regering in staat sou stel om groot grondeiendomme van die kerk (ongeveer 10 persent van die landoppervlakte) oor te neem, ten sterkste teengestaan.

Godsdiens is wêreldwyd ’n groot teleurstelling. Pleks van te verenig, verdeel dit. Een Duitse dagblad het ’n opmerking gemaak oor “die wedywer tussen Katolieke en Protestante wat op haat neerkom”. Die Frankfurter Allgemeine Zeitung het gesê dat selfs ekumeniese bewegings, wat bedoel is om die kloof te oorbrug, uitgegaan het van ’n posisie van “wedersydse wantroue, onversoenlike vyandskap tussen Katolieke en Protestante”. Elie Wiesel, wat in 1986 die Nobelprys vir vrede ontvang het, is soos volg in ’n ander Duitse dagblad aangehaal: “Ek meen dikwels dat ons gefaal het. As iemand ons in 1945 vertel het dat ons weer eens sou sien hoe oorloë wat deur godsdiens aangeblaas word op feitlik elke kontinent woed, . . . sou ons dit nie geglo het nie.” Godsdiens wat moeilikheid aanstook, oorlog aanstig of vergoelik, is valse godsdiens. En die Skepper het al lank gelede besluit om dit uit die weg te ruim.

Openbaring hoofstuk 17 laat ons nie in twyfel oor die lot van alle valse godsdiens nie. In vers 16 lees ons: “Die tien horings [regeringsmagte in die Verenigde Volke-Organisasie] wat jy op die dier [die Verenigde Volke] gesien het, hulle sal die hoer [valse godsdiens] haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand.”

Waar staan jy?

Hoewel dit dalk vreemd klink, is valse godsdiens se tyd verby. Die gebruike, gewoontes, tradisies en voorregte daarvan sal binnekort verdwyn. Dit lyk dalk vir jou net so onwaarskynlik soos wat die oorweldiging van die Katolieke Kerk vir mense in die 16de eeu gelyk het. Maar die Hervormingswaters was oorweldigend. Die Kerk se rykdom het na die mense gegaan, sy mag na die heersers. In ons dag sal die nasies insgelyks ’n sê hê in die finale ontbinding van valse godsdiens.

Wat beteken dit vir jou persoonlik? Ondersoek die godsdiensgenootskap waartoe jy behoort. Strook die dinge waarvoor dit staan in elke opsig met die Bybel? As dit nie die geval is nie, maak jou organisasie deel uit van “Babilon die Grote”, of die wêreldryk van valse godsdiens. Gehoorsaam die bevel in Openbaring 18:4, naamlik: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie . . . van haar plae ontvang nie.”

Onthou, die vloedgolf wat die beslissende vernietiging van valse godsdiens gaan meebring, is in aantog. Dit is reeds op die horison sigbaar. Waar sal jy staan wanneer dit dreunende vernietiging bring? In die vallei van onverskilligheid? Op die heuwel van die een of ander wêreldlike owerheid? Of op die berg van Jehovah? Daar is net een veilige plek.

[Lokteks op bladsy 27]

’n Sterk stroom van hervorming het die grondveste van die tradisionele leer meegevoer. Alternatiewe soos evolusie, die vroue-vryheidsbeweging en die ‘nuwe moraliteit’ is soos opdrifsels uitgespoel

[Lokteks op bladsy 28]

Daar is kragtige bewyse dat ons op die drempel van ’n finale golf van godsdiensverandering staan. Sal jy dit oorleef?

[Lokteks op bladsy 29]

As iemand ons in 1945 vertel het dat ons weer eens sou sien hoe oorloë wat deur godsdiens aangeblaas word op elke kontinent woed, sou ons dit nie geglo het nie

[Venster op bladsy 29]

Suid-Afrika: Die Calvinistiese geloof in voorbestemming het ’n teologiese grondslag vir apartheid gelê. Die Duitse dagblad Frankfurter Allgemeine Zeitung het die teoloë van die Nederduitse Gereformeerde Kerk “grondleggers van die politiek van apartheid” genoem.

Switserland: Genève het, as die sentrum van die Calvinistiese beweging, duisende vlugtelinge gelok, en hulle het rykdom en vaardigheid saam met hulle gebring. Dit is gevolglik steeds ’n vername bankstad en het ’n florerende nywerheid wat horlosies en klokke vervaardig.

Indië: Die Jesuïete-orde het gegroei as ’n deel van die Teenhervorming, ’n beweging om Katolisisme ná die terugslae van die Hervorming te laat herleef. Lede van dié orde het in die 16de eeu na die provinsie Goa gekom, kort nadat dit deur Portugal gekoloniseer is. Die invloed van die kerk blyk uit die hedendaagse bevolking: In Goa is drie uit elke 10 mense Katolieke, terwyl net een uit 25 persone in die hele Indië beweer dat hy ’n Christen is.

Engeland: In 1605 was Jakobus I, ’n Protestant, aan die bewind. Namate Katolieke in die land al hoe meer onderdruk is, is planne gesmee om die Parlement, koning en al, in die lug te blaas. Die samesweerders, ’n groep Katolieke onder leiding van Guy Fawkes, is ontmasker en tereggestel. Op 5 November word Guy Fawkes-nag gevier. Families en vriende kom steeds bymekaar om die klam aand met vuurwerk warmer te maak en ’n beeltenis, of model, van die samesweerder te verbrand.

[Prente op bladsy 26]

Martin Luther en Johannes Calvyn—leiers van die Hervorming

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel