Is jou gawe ’n opoffering?
’n Gebalanseerde beskouing van bydraes
NADAT Jesus die mense baie dinge in die tempel geleer het, het hy “reg voor die skatkis gaan sit en gekyk hoe die skare geld in die skatkis gooi” (Markus 12:41). Die welbekende verhaal van die weduwee se penning het hierop gevolg. Maar waarom het Jesus daar gesit en kyk hoe die mense hulle offers bring? Het hy nie vir sy dissipels gesê dat hulle nie eens hul linkerhand moet laat weet wat hulle regterhand doen wanneer hulle liefdadigheid bewys het nie?—Mattheüs 6:3.
Jesus het die godsdiensleiers vroeër skerp veroordeel omdat hulle gewetenlose metodes gebruik het om “die huise van die weduwees” (NAV) in te palm. Hy het gesê dat hierdie godsdiensleiers ‘’n swaarder oordeel sal ontvang’ (Markus 12:40). Hy het toe, om ’n les tuis te bring, sy aandag gewend tot wat die mense daar by die skatkiste gedoen het. Wanneer ons vandag soveel hoor oor die groot bedrae wat by kerkorganisasies betrokke is, die misbruik van sulke fondse en die rojale lewenstyle van diegene in verantwoordelike posisies, sal dit goed wees as ons aandagtig luister na wat Jesus gesê het.—Lees asseblief Markus 12:41-44.
Die skatkiste
Die verhaal deel ons mee dat Jesus “reg voor die skatkis gaan sit [het]”. Dit was klaarblyklik in die Voorhof van die Vroue, waar ’n aantal kiste, of houers, langs die mure geplaas is sodat die mense hulle offers kon ingooi. Volgens Joodse tradisie was daar altesaam 13 houers. In Hebreeus is hulle trompette genoem, omdat hulle bo ’n klein opening in die vorm van ’n trompet se klankbeker gehad het. ‘Niemand het glo die tempel binnegegaan sonder om iets in te gooi nie’.
Die Franse professor Edmond Stapfer het in sy boek Palestine in the Time of Christ (1885) ’n taamlik breedvoerige beskrywing van hierdie skatkiste gegee. Sy verslag gee ons ’n bietjie insig in die godsdienstige lewe van destydse mense, veral wat hulle bydraes tot die tempeldienste betref.
“Elke kis was vir ’n ander doel, wat deur ’n inskripsie in Hebreeus aangedui is. Die eerste inskripsie was: Nuwe sikkels; dit wil sê, sikkels wat vir die huidige jaar se uitgawes opsygesit is. Die tweede: Ou sikkels; dit wil sê, sikkels wat aan die uitgawes van die vorige jaar gewy is. Derdens: Tortelduiwe en jong duiwe; die geld wat in hierdie kis geplaas is, was die prys wat betaal moes word deur diegene wat twee tortelduiwe of twee jong duiwe moes offer, die een as ’n brandoffer, die ander as ’n sondoffer. Bokant die vierde kis is geskryf: Brandoffers; hierdie geld het die koste van die ander brandoffers gedek. Die vyfde inskripsie was: Hout, en het die getroues se gawes vir die koop van hout vir die altaar bevat. Die sesde: Wierook (geld om wierook te koop). Die sewende: Vir die heiligdom (geld vir die versoendeksel). Die ses oorblywende kiste het die inskripsie Vrywillige offers gehad.”
Die naam op die eerste twee kiste het verwys na die hoofbelasting van ’n halwe sikkel (twee dragme in Griekse geld) wat elke volwasse man volgens wet moes betaal vir die instandhouding van die tempel, die dienste wat daar gelewer is en die daaglikse offerandes wat ten behoewe van die hele volk geoffer is. Die belasting is dikwels in plaaslike gemeenskappe ingevorder en dan na die tempel gebring.—Mattheüs 17:24, vgl. NAV.
Die Wet het ook vereis dat die mense verskillende offers namens hulself maak. Sommige was vir sondes wat gepleeg is, ander om seremoniële redes en nog ander as blyk van hulle toegewydheid en danksegging. Die houers met die inskripsie “Tortelduiwe en jong duiwe” en “Brandoffers” sou hiervoor wees. Die boek The Temple, Its Ministry and Services sê dat “daardie vroue, wat tortelduiwe as ’n brand- en ’n sondoffer moes bring, hulle ekwivalent in geld in Trompet III ingegooi het, waarna dit daagliks uitgehaal en ’n ooreenstemmende getal tortelduiwe geoffer is”. Dit is waarskynlik wat die ouers van die kindjie Jesus gedoen het.—Kyk Lukas 2:22-24; Levitikus 12:6-8.
Dan was daar offers vir die hout en wierook wat by die altaar gebruik is en vir vrywillige offers. “As enigeen geld vir hout of wierook gegee het, is ’n minimum vasgestel, en minder as dit kon nie geoffer word nie. Dit was nodig om ten minste die bedrag van ’n handjievol wierook, of twee groot stompe, elk ’n el lank, te gee”, weer eens volgens professor Stapfer.
Wat leer ons hieruit? Dit is heel duidelik dat die Israeliete talle verantwoordelikhede teenoor die instandhouding van die tabernakel en later die tempel in Jerusalem, die sentrum van ware aanbidding, gehad het. Opofferings en offers was ’n essensiële deel van hul aanbidding. Trouens, die Wet het beveel dat “hulle . . . nie met leë hande voor die aangesig van die HERE [mag] verskyn nie” (Deuteronomium 16:16). Maar hoe het hulle hierdie verpligtinge beskou?
Verskillende beskouings
Die Bybelverslag toon dat die mense in die tyd van Moses en Dawid en later gedurende die heerskappy van Joas en Josia baie ruimhartig en vrygewig was (Exodus 36:3-7; 1 Kronieke 29:1-9; 2 Kronieke 24:4-14; 34:9, 10). Hulle was bly dat hulle ’n deel kon hê in die bou van Jehovah se huis en die instandhouding daarvan, sowel as in die bevordering van ware aanbidding. Hulle gevoelens is goed uitgedruk deur die woorde van Dawid toe hy gesê het: “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die HERE gaan!”—Psalm 122:1.
Maar nie almal het hierdie vrygewige gesindheid gehad nie. Ons lees byvoorbeeld dat die priesters in die dae van Maleagi “geroofde en lam en siek diere” aan Jehovah geoffer het. Pleks van verheug te wees oor hul diensvoorreg, het hulle gesê: “Kyk, wat ’n moeite!”—Maleagi 1:13.
In Jesus se tyd het sommige eweneens die situasie uitgebuit om hulle eie belange te bevorder. Die berugte geldwisselaars by die tempel was byvoorbeeld nie daar net om geld te wissel nie. Hulle het eerder munt geslaan uit die feit dat net Hebreeuse sikkels aanvaarbaar was as offers en almal met Romeinse of Griekse geld dit sou moes wissel. Volgens Alfred Edersheim, ’n kenner op die gebied van Joodse geskiedenis, “is die geldhandelaars toegelaat om ’n silwer meah, of ongeveer ’n kwart van ’n denarius [’n arbeidersloon vir ’n dag se werk] vir elke halwe sikkel te vra”. As dit korrek is, is dit nie moeilik om te sien wat ’n winsgewende onderneming dit moes geword het en waarom die godsdiensleiers so woedend was toe Jesus die geldwisselaars uitgejaag het nie.
“Uit haar gebrek”
Dit alles beklemtoon net Jesus se illustrasie oor die arm weduwee se klein bydrae, wat sy ongetwyfeld in een van die houers gegooi het waarop “Vrywillige offers” geskryf was. As ’n weduwee is daar nie van haar verwag om hoofbelasting te gee nie, en omdat haar inkomste beperk was, kon sy waarskynlik nie aan die minimum vereistes vir die brandoffers of die hout- of wierookoffers voldoen nie. Sy wou nogtans iets doen om haar liefde vir Jehovah te toon. Sy wou nie uitgesluit word of dit net aan diegene oorlaat wat dit ‘kon bekostig’ nie. Jesus het gesê: “Sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.”—Markus 12:44.
Ons kan baie waardevolle lesse uit hierdie verhaal leer. Die belangrikste is miskien dat, hoewel ons almal die voorreg het om ware aanbidding deur middel van ons materiële besittings te ondersteun, dit in God se oë waarlik kosbaar is as ons gee wat vir ons waardevol is en nie waarsonder ons in elk geval kan klaarkom nie. Met ander woorde, gee ons iets wat ons nie werklik sal mis nie? Of is ons gawe ’n ware opoffering?
Bevorder ware aanbidding vandag
Jehovah se Getuies bevorder ware aanbidding vandag deur “hierdie evangelie van die koninkryk” ywerig “in die hele wêreld” te verkondig (Mattheüs 24:14). Dit behels nie net toegewyde inspanning, tyd en energie nie, maar ook aansienlike uitgawes om hierdie wêreldwye taak uit te voer. Die 1987 Yearbook of Jehovah’s Witnesses berig dat “altesaam [R52 324 003, 56] gedurende 1986 bestee is om . . . die 2 762 sendelinge, 13 351 spesiale pioniers en opsieners en hulle vrouens vir die wêreld se 3 353 kringe en streke finansieel te ondersteun”. Dit was buiten “baie uitgawes om eiendom te koop, daarop te bou en dit op te knap; om fabrieke en kantore by die hoofkwartier en in die Genootskap se 93 takke toe te rus; en om te voorsien in die materiële behoeftes van die 8 920 vrywillige werkers wat in die Bethelgesinne dien”.
‘Waar kom sulke geld vandaan?’ is ’n vraag wat dikwels gevra word. Anders as die kerke van die Christendom, samel Jehovah se Getuies nie kollektes in en stuur hulle ook nie koeverte uit om bydraes te vra nie. Bydraebussies—soos die skatkiste van Bybelse tye—word eerder in hulle Koninkryksale gesit. Soms kan ander bussies daar gesit word vir spesifieke doeleindes, soos die bou van Koninkryksale of Byeenkomssale of om sendelinge te help om byeenkomste in hulle geboorteland by te woon. Bydraes kan ook regstreeks aan die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap by Privaatsak 2067, Krugersdorp, 1740, of in ander lande na die Genootskap se takkantoor aldaar gestuur word om die predikingswerk wêreldwyd te bevorder.
Hoe beskou jy hierdie vele en verskillende maniere waarop bydraes gemaak word? Beskou jy dit, soos sommige in Maleagi se dag, as ’n vermoeiende las en sê jy miskien in jou hart: “Kyk, wat ’n moeite!”? Of beskou jy dit, soos die “arm weduwee”, as geleenthede om te toon dat jy jou vir ware aanbidding beywer en daarin deel en dat jy begeer om Jehovah met jou waardevolle dinge te eer? Moenie die pertinente vraag vergeet nie: Is jou gawe ’n opoffering?
“Beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie” (Maleagi 3:10). Die geestelike welvaart en die wêreldwye uitbreiding onder Jehovah se volk bewys dat Jehovah dit alreeds doen. Mag ons voortgaan om Jehovah ’n offer te gee wat waarlik ’n opoffering is.
[Venster op bladsy 30]
HOE PARTY TOT DIE KONINKRYKSWERK BYDRA
◻ SKENKINGS: Vrywillige geldelike bydraes kan regstreeks aan die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, Privaatsak 2067, Krugersdorp, 1740, gestuur word, of in ander lande na die Genootskap se takkantoor aldaar. Eiendom, soos vaste eiendom, asook juwele of ander kosbaarhede kan ook geskenk word. ’n Kort briefie wat meld dat dit ’n regstreekse bydrae is, moet hierdie bydraes vergesel.
◻ REËLING VIR VOORWAARDELIKE SKENKINGS: Geld kan aan die Wagtoringgenootskap gegee word om in trust beheer te word, op voorwaarde dat dit, in geval van persoonlike behoefte, aan die skenker terugbetaal sal word.
◻ VERSEKERING: Die Wagtoringgenootskap kan benoem word as die begunstigde van ’n lewensversekeringspolis of in ’n aftree-/pensioenstelsel. Die Genootskap moet van sulke reëlings in kennis gestel word.
◻ TESTAMENTE: Eiendom of geld kan deur ’n wettige testament aan die Wagtoringgenootskap bemaak word. ’n Kopie moet aan die Genootskap gestuur word.