Jehovah—ons sterkte
“Jah Jehovah is my sterkte en my mag.”—Jesaja 12:2, NW.
1. (a) Waarom is Jehovah se Getuies so anders? (b) Hoe verwoord Jesaja 12:2 wat Jehovah vir sy volk gedoen het?
WOON jy vergaderinge by ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies by? Daar sien jy ’n volk wat hemelsbreed van enige ander volk verskil! Wie is hierdie volk, en waarom is hulle anders? Ons is God se volk, en ons is anders omdat ons die grootsste naam van alle name dra—dié van die roemryke Skepper van al die wonders van die heelal om ons. Ons dra sy naam. Dit is in sy naam dat ons vreugdevol vergader om die puik geestelike voedsel te geniet wat hy “op tyd” deur sy organisasie voorsien (Lukas 12:42). Met dankbaarheid verheerlik ons as Jehovah se Getuies sy weergalose naam met die woorde van Jesaja hoofstuk 12, vers 2 (NW), wat lui: “Kyk! God is my redding. Ek sal vertrou en nie vrees nie; want Jah Jehovah is my sterkte en my mag, en hy het my redding geword.” Ons God het ons deur baie beproewings bewaar. Nou kom ons finale redding nader—ook deur Jah Jehovah!
2. (a) Hoe dikwels kom die uitdrukking “Jah Jehovah” in die Bybel voor, en waar? (b) Wat is alternatiewe vertalings van “mag” in Jesaja 12:2, en waarom is hulle ook gepas?
2 Hierdie uitdrukking “Jah Jehovah”, ’n verdubbeling van die goddelike naam, kom net twee keer in die Bybel voor, hier en in Jesaja 26:4 (NW). Selfs die vertalers van die King James Version het dit goedgedink om dit met “die HERE JEHOVAH” weer te gee. Volgens ’n voetnoot in die naslaanuitgawe van die New World Translation is alternatiewe vertalings van “mag” in Jesaja 12:2 “melodie” en “lof”. Hoe waar is dit tog dat die almagtige Jah Jehovah, wat sy aanbidders dinamiese energie gee, ons melodieuse lofliedere verdien!—Jesaja 40:28-31.
3. (a) Wat het Jah Jehovah moontlik gemaak, en op grond waarvan? (b) Watter uitwerking het Paulus se woorde in Romeine 11:33-36 op Jehovah se Getuies?
3 Jehovah se krag is in ewewig met sy wysheid, geregtigheid en liefde. Deur hierdie goddelike hoedanighede aan die dag te lê, het Jah Jehovah dit moontlik gemaak vir die gelowige mensdom om op grond van Jesus se losprysoffer gered te word. Die apostel Paulus het in hierdie verband gesê: “O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van [Jehovah] geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen” (Romeine 11:33-36, vgl. NW). Dit is dus inderdaad gepas dat ons Jah Jehovah aankleef en ons volkome vertroue in hom as ons almagtige God en Soewereine Heer verkondig!—Vergelyk Hebreërs 3:14.
4. (a) Waarom het die profeet Jesaja goeie rede gehad om te sê: “Ek sal vertrou en nie vrees nie”? (b) Waarom het Jehovah se volk goeie rede om in hierdie 20ste eeu op Jah Jehovah te vertrou?
4 Jesaja het goeie rede gehad om te sê: “Ek sal vertrou en nie vrees nie.” Die profeet het later goed vertroud geraak met God se reddingsdade. Hy was ’n ooggetuie toe Jehovah Sy woord gestand gedoen het deur Assirië en sy grootpraterige koning, Sanherib, te verneder. Net een engel wat deur ons almagtige God, Jehovah, gestuur is, het in een nag 185 000 Assiriese soldate doodgemaak! Daardie grootse redding het plaasgevind omdat koning Hiskia en die hele Juda volkome op Jah Jehovah vertrou het (Jesaja 37:6, 7, 21, 36-38). In hierdie 20ste eeu het Jehovah ook sy volk uit onderdrukking, verbooie, vervolging en konsentrasiekampe verlos. Soos daardie grootpraterige Assiriërs van Jesaja se tyd het die Naziheerser, Adolf Hitler, teen Jehovah se Getuies uitgevaar en by een geleentheid geskreeu: “Hierdie gebroedsel sal uitgewis word in Duitsland!” Maar dit was Hitler en sy Nazi’s wat uitgewis is. En die groepie Duitse Getuies wat op Jehovah vertrou het, het nou tot meer as 121 200 toegeneem!—Psalm 27:1, 2; Romeine 8:31, 37.
5. Hoe is die woorde van Jesaja 12:3-5 vandag van toepassing op God se volk wat op hom vertrou?
5 Waar vervolging ook al ontstaan, Jehovah se volk wat op hom vertrou, word verkwik en versterk deur lewegewende water van die waarheid te drink. Dit is soos God se profeet in Jesaja 12:3-5 (vgl. NW) gesê het: “Julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van [redding]. En julle sal in dié dag sê: Dank [Jehovah], roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is! Psalmsing tot eer van [Jehovah], want Hy het heerlike dinge gedoen; laat dit bekend wees op die hele aarde.” Mag ons aanhou om Koninkrykswaarheid in te drink en die naam van ons Soewereine Heer, Jehovah, met dankbaarheid te prys. Laat ons, met volkome vertroue in Jehovah, ‘die woord verkondig en dringend daarmee besig bly, in gunstige tyd, in moeilike tyd’ (1 Timotheüs 4:2, NW). Wat teëstanders ook al mag doen, Jah Jehovah sal ons liefdevol op die weg van redding lei!
“Die dorp van tirannieke nasies”
6, 7. (a) Waarvoor moet Jehovah se aanbidders hom in ooreenstemming met Jesaja 25:1 verheerlik? (b) Hoe beskryf Jesaja 25:2, 3 ’n sekere stad? (c) Van watter stad praat die profeet waarskynlik, en waarom?
6 Laat ons nou ons aandag op Jesaja hoofstuk 25 vestig. In vers 1 (NW) lees ons: “O Jehovah, u is my God. Ek verhoog u, ek prys u naam, want u het wonders gedoen, raadsbesluite uit vroeë tye, in getrouheid, in betroubaarheid.” Jehovah se aanbidders wat op hom vertrou, verheerlik hom vir die wonders wat hy onder hulle gedoen het. Maar dan trek Jesaja ’n sterk teenstelling en sê vir Jehovah: “Want U het van ’n stad ’n hoop klippe gemaak, van ’n versterkte [dorp] ’n puinhoop; ’n paleis van vreemdes, dat dit geen stad meer is nie; vir ewig sal dit nie herbou word nie. . . . Die [dorp] van tirannieke nasies [sal Jehovah] vrees.”—Jesaja 25:2, 3, vgl. NW.
7 Wat is hierdie naamlose stad van tirannie? Jesaja het moontlik gepraat van Ar, die hoofstad van Moab, wat altyd ’n vyand van God se volk was. Maar dit lyk asof die verband hier beter pas by ’n ander tak van Satan se organisasie—die aartsvyand Babilon. Babilon sou Juda en Jerusalem later verwoes, Jehovah se huis van aanbidding vernietig en die oorlewendes van die volk gevange neem. Jesaja haal die koning van Babilon se grootpratery aan: “Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms. . . . Ek wil . . . my gelykstel met die Allerhoogste!” Maar Jehovah sou Kores van Persië verwek om Babilon te verslaan en God se volk in hulle land te herstel. Soos voorspel is, het die ligging van eertydse Babilon niks meer as “’n hoop klippe” en “’n puinhoop” geword nie.—Jesaja 14:12-14; 13:17-22.
8, 9. (a) Met watter ander Babilon het Jehovah se aanbidders te kampe, en hoe het sy ontwikkel? (b) Hoe beskryf Jesaja haar, en waarom is die naam gepas?
8 Meer as 2 500 jaar na die vernietiging van Babilon het Jehovah se aanbidders egter steeds te kampe met ’n ander Babilon—“Babilon [die Grote], die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde” (Openbaring 17:5, vgl. NW). Sy is die wêreldryk van valse godsdiens. Sy het kort ná die Vloed van Noag se dag ontstaan toe Nimrod die oorspronklike Babilon gebou het, wat die bakermat van valse, sektariese godsdiens geword het. Nadat die Christelike godsdiens deur Jesus en sy apostels tot stand gebring is, het afvalliges Bybelwaarheid besoedel deur heidense, Babiloniese “leringe van demone” in te bring, en die Christendom se godsdiensstelsel is voortgebring (1 Timotheüs 4:1, NW). Hierdie voorgewende Christelike godsdiens het die vernaamste deel van “Babilon die Grote” geword, wat oor die hele aarde tot in alle nasies van die mensdom strek. Jesaja beskryf haar as ’n “dorp van tirannieke nasies”.
9 Wrede diktators gebruik tirannieke geestelikes al meer as vier millenniums lank, sedert die stigting van die oorspronklike Babilon tot nou toe, as werktuie om die gewone mense te onderdruk en te beheers. Sodoende het ‘die een mens oor die ander geheers tot sy ongeluk’ (Prediker 8:9). Jesus het jammer gevoel vir die mense omdat sulke valse godsdiensherders ‘hulle gestroop en heen en weer gedrywe het’. Vandag word die afkeurenswaardigste groep geïdentifiseer as “die mens van wetteloosheid”, wat bestaan uit die selfverhewe geestelikes van die Christendom, wat die voortou geneem het met die teenstand teen en vervolging van Jehovah se Getuies.—Mattheüs 9:36, NW; 2 Thessalonicense 2:3, 4, NW.
10. (a) Hoe is “die dorp van tirannieke nasies” in ooreenstemming met Jesaja 25:3 verplig om Jehovah te verheerlik en te vrees? (b) Wat sê Jesaja in Jesaja 25:4, 5 van Jehovah met betrekking tot ‘die geringe’ sowel as “die tiranne”?
10 In 1919 het Jehovah sy ware volk van “Babilon die Grote” se mag bevry. Daardie “dorp van tirannieke nasies” was verplig om Jehovah te verheerlik deurdat sy met bitterheid die “wonders” moes aanskou wat hy verrig het om sy aanbidders tot dinamiese bedrywigheid te herstel. Valse godsdiensyweraars is ook verplig om Jehovah te vrees in afwagting van wat vir hulle voorlê. Tirannieke geestelikes het hulle eeue lank oor die lekedom verhef. Maar nou praat Jesaja van Jehovah en sê hy: “U was ’n vesting vir die [geringe], ’n vesting vir die behoeftige toe hy benoud was; ’n skuilplek teen die stortreën, ’n skaduwee teen die hitte—want die geblaas van die tiranne is soos ’n stortreën teen ’n muur. Soos hitte in ’n dor land het U die rumoer van vreemdes gedemp, soos hitte deur die skaduwee van ’n wolk; die triomfsang van die tiranne moes verstom.”—Jesaja 25:4, 5, vgl. NW.
Geen vreugdelied in “Babilon” nie!
11. Waarom is daar geen vreugdelied in die hele ryk van “Babilon die Grote” nie, en hoe is dit by die interkerklike byeenkoms in Assisi, Italië, toegelig?
11 Dit is beslis vandag die situasie dwarsdeur die ryk van “Babilon die Grote”. Daar is geen vreugdelied aldaar nie. Haar godsdiensleiers is verwar oor die gode wat hulle moet aanbid. Dit is duidelik bevestig by die interkerklike byeenkoms op 27 Oktober 1986 in Assisi, Italië. Daar het pous Johannes Paulus II, in ooreenstemming met die Verenigde Volke se Internasionale Vredesjaar, die leiers van die vernaamste godsdienste van “Babilon die Grote” byeengebring. Hulle het almal om vrede gebid, sommige Boeddhistiese monnike tot 12 uur op een dag. Maar tot wie het hulle gebid? Was dit tot Maria? Of tot die Christendom se Heilige Drie-eenheid? Of tot die drie-eenheid van die Hindoes? Of tot die duisende gode van Boeddhisme? Of tot Allah? Of tot daardie nederige dier, die jakkals, wat deur die Sjintoïste aanbid word? Of was die mees aanvaarbare gebede dié van ’n Crow-Rooihuid? Hy was glo ‘skitterend met ’n indrukwekkende hooftooisel’, terwyl hy ’n vredespyp aangesteek en sy gebede geuiter het “in die rook wat soos reukwerk in die koue lug gestyg het”.
12. Watter woorde van Miga en Jesaja onderskryf daardie godsdiensyweraars nie?
12 Een ding is seker: Nie een van hierdie godsdiensyweraars, van Boeddhisme se Dalai Lama tot “Sy Eminensie” Methodius van die Grieks-Ortodokse Kerk, onderskryf die Bybel se woorde in Miga 4:5 (vgl. NW) nie: “Óns sal wandel in die naam van [Jehovah] onse God vir ewig en altoos.” Hulle onderskryf nie die waarheid van Jesaja se geïnspireerde woorde in hoofstuk 42, verse 5 en 8 (vgl. NW), nie: “So sê [die ware God, Jehovah] wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee en die gees aan wie daarop wandel: Ek is [Jehovah], dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie.”
13. Wat het werklik by Assisi plaasgevind, en hoe het Jesus dit veroordeel toe hy op die aarde was?
13 By Assisi het hulle opsigtige seremonie, kenmerkende kleredrag en gebede vol herhalings gebruik om ’n groot, openbare vertoning te maak. Dit is wat Jehovah se Seun, Jesus, veroordeel het toe hy hier op die aarde was. Hy het van die godsdiensleiers van sy dag gesê: “Hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word”, en hy het reguit vir hulle gesê: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; en julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie.” (Mattheüs 23:5, 13; kyk ook Mattheüs 6:1-8.) Dit is nie uiterlike vertoon of die plek van aanbidding wat vir God belangrik is nie. Soos Jesus gesê het: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”—Johannes 4:21, 24.
Die ware bron van vrede
14. (a) Waarom is die godsdienste van die wêreld se gebede om vrede skynheilig? (b) Wat is die goddelike oordeel oor die Christendom se godsdiens?
14 Kan enigiemand wat die verwarring in die wêreld se godsdienste sien so naïef wees om te dink dat die gebede van godsdiensleiers wêreldvrede kan bring? Hulle het honderde jare lank op skynheilige wyse gebid, terwyl hulle terselfdertyd ten volle aan die oorloë van die nasies, die Kruistogte en die berugte vervolgings deelgeneem het. Jehovah se profeet het gevra: “Kan ’n Kusiet sy vel verander of ’n luiperd sy vlekke? Dan sal julle ook in staat wees om goed te doen, julle wat [gewoond] is om kwaad te doen” (Jeremia 13:23, vgl. NAV). As die vernaamste deel van “Babilon die Grote”—die wêreldryk van valse godsdiens—is die Christendom se godsdiens in die besonder in goddelike weegskale geweeg en hopeloos te lig bevind. Dit is gedoem!—Jeremia 2:34, 35, 37; 5:29-31; Daniël 5:27.
15. Hoe sal Jehovah duursame vrede bewerkstellig, en hoe bevorder diegene wat op hom vertrou die saak van vrede?
15 Jehovah, “die God van vrede”, sal duursame vrede bewerkstellig deur alle bloedskuldige persone te vernietig en die aarde te bevolk met mense wat waarheid en geregtigheid waarlik liefhet (Filippense 4:9). Volgens koning Dawid is dit die sagmoediges wat ‘op Jehovah vertrou en doen wat goed is’ wat ‘die aarde sal besit en hulle sal verlustig oor groot vrede’ (Psalm 37:3, 11). Diegene wat ‘altyd op Jehovah vertrou en doen wat goed is’, bevorder die saak van vrede op ’n manier wat onmoontlik is vir diegene wat verwarde gebede aan teenstrydige gode, afgode en beelde rig.—Psalm 115:2-8; Jesaja 44:14-20.
16. Watter feesmaal voorsien Jehovah vir daardie sagmoediges wat uit “die dorp van tirannieke nasies” versamel word?
16 Daar is inderdaad ’n kontras tussen die gebede en verwagtinge van God se volk en dié van die aanhangers van “Babilon die Grote”! Hoe groot is ons waardering tog vir die feit dat ‘die triomfsang van die tiranne verstom’! (Jesaja 25:5). Maar Jesaja sê voorts aangaande sagmoediges wat uit “die dorp van tirannieke nasies” versamel word: “[Jehovah] van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ’n [feesmaal] van vetspyse, ’n [feesmaal] van . . . gesuiwerde ou wyn” (Jesaja 25:6, vgl. NW). Die oorvloed geestelike voedsel wat vandag geniet word deur diegene wat Jehovah kom aanbid, is heerlik bevredigend, voorwaar ’n feesmaal! Ons harte word versterk om te volhard en ons vreugde loop oor terwyl ons Jehovah ywerig dien in afwagting van die herskepping en die feesmaal van goeie dinge wat Jehovah vir die nuwe aarde beloof het.—Psalm 104:1, 14, 15; Mattheüs 19:28.
17. Watter “wonders” sal Jehovah doen, en watter vreugde sal dit meebring?
17 Jah Jehovah sal binnekort “wonders” doen deur nie net “Babilon die Grote” te verwyder nie, maar ook “die omhulsel” van veroordeling wat die mensdom as gevolg van Adam se sonde omhul (Jesaja 25:7). Ja, op grond van Jesus se offer sal ons God die profesie van Jesaja 25:8 (vgl. NW) vervul: “Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die [Soewereine Heer Jehovah] sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want [Jehovah self] het dit gespreek.” Wat ’n vreugde tog om te sien hoe Adamiese sonde en die dood uit die weg geruim word en om dierbares te verwelkom wanneer hulle uit die kloue van die dood terugkeer! Wat ’n genot tog om te weet dat Jehovah se getroue getuies die groot Smader, Satan die Duiwel, die volledige antwoord gegee het! (Spreuke 27:11). Niemand sal hulle meer smaad nie, want hulle sal getriomfeer het wat hulle onkreukbaarheid betref. Jehovah self sal “in getrouheid, in betroubaarheid” al die voorspelde dinge—sy “raadsbesluite uit vroeë tye”—uitgevoer het. Die hele aarde sal ’n regverdige paradys wees, wat vol regverdige mense is. Voorwaar ’n grootse vooruitsig!
18. Wat is ons in ooreenstemming met Jesaja 25:9 vasbeslote om ondanks druk te doen?
18 Ons volgehoue vertroue in Jehovah deur hierdie donker dae heen sal beslis beloon word. Watter druk ons ook al in ons daaglikse lewe die hoof moet bied—hetsy om vir ons gesinne te sorg, om Bybelbeginsels op skool na te leef of om in moeilike gebiede te getuig—laat ons altyd op Jehovah vertrou. Dit sal ons redding verseker as ons ’n intieme verhouding met Jehovah as die “Hoorder van die gebed” behou (Psalm 65:3). Laat ons dan vasbeslote wees om te bly onder diegene wat, in die woorde van Jesaja 25:9 (NW), sê: “Kyk! Dit is ons God. Ons het op hom gehoop, en hy sal ons red. Dit is Jehovah. Ons het op hom gehoop. Laat ons bly wees en ons verheug in die redding deur hom.”
Vrae ter hersiening
◻ Hoe is Jah Jehovah ons sterkte en ons mag?
◻ Wat is “die dorp van tirannieke nasies”?
◻ Hoe is “die dorp van tirannieke nasies” verplig om Jehovah te verheerlik en te vrees?
◻ Wat toon dat daar geen vreugdelied in “Babilon die Grote” is nie?
◻ Watter “wonders” sal Jehovah nog vir sy volk doen?