Vertrou op Jah Jehovah!
“Vertrou op Jehovah vir altyd, want in Jah Jehovah is die Rots van onbepaalde tye.”—JESAJA 26:4, NW.
1, 2. Watter jubelende loflied is in Jesaja 26:1-6 opgeteken, en waarom?
DIE vernedering van die “dorp van tirannieke nasies” vereis ’n oorwinningslied! (Jesaja 25:3, vgl. NW). ’n Jubelende loflied tot die Soewereine Heer Jehovah is dus gepas in die profesie in Jesaja hoofstuk 26, verse 1 tot 6 (NW), opgeteken. Dit word selfs nou “in die land Juda” gesing, en Juda beteken “Geprese”. Hier gebruik die King James Version weer eens die uitdrukking “die HERE JEHOVAH” waar die goddelike naam verdubbel word. Maar hoeveel treffender is die woorde van daardie lied tog soos dit in die New World Translation voorkom, waar die goddelike naam hier en op alle ander plekke korrek weergegee word!
2 Luister nou na daardie melodieuse lied: “Ons het ’n sterk stad. Hy [Jehovah] stel redding tot mure en ’n skans. Maak oop die poorte, sodat die regverdige nasie, wat getroue gedrag bewaar, kan binnegaan. Die standvastige gesindheid sal hy beveilig in voortdurende vrede, omdat ’n mens beweeg word om op u te vertrou. Vertrou op Jehovah vir altyd, want in Jah Jehovah is die Rots van onbepaalde tye. Want hy het die bewoners van die hoogte, die verhewe dorp, neergewerp. Hy verneder dit, hy verneder dit tot op die aarde; hy bring dit in aanraking met die stof. Die voet sal dit vertrap, die voete van die geteisterdes, die voetstappe van die geringes.” Dit is voorwaar ’n vreugde om onder diegene te wees wat vertroue openbaar en nou hierdie lied sing—Jehovah se Getuies!
3. (a) Wat is “die regverdige nasie”, en wie het deur sy oop “poorte” ingegaan? (b) Waarom beweeg Jehovah se organisasie eensgesind vorentoe ondanks vyande se pogings om dit te stuit?
3 Die Here Jehovah—Jah Jehovah—sal inderdaad die hoogmoediges verneder en diegene wat altyd op hom vertrou, verlos. Hoewel hulle eens ’n “kleine” was, het geestelike Israel “’n magtige nasie” geword, “die regverdige nasie”. En ’n groot menigte welwillende metgeselle, wat meer as driemiljoen tel, het deur die oop “poorte” van Jehovah se stadagtige organisasie ingegaan. Saam vorm hulle ’n internasionale broederskap met ’n bevolking wat groter is as dié van ten minste 57 lidlande van die sogenaamde Verenigde Volke. Maar God se “nasie” en diegene wat daaraan verbonde is, is waarlik verenig. Hulle gesindheid dwarsdeur die wêreld is om sy regverdige beginsels te gehoorsaam. Die organisatoriese “mure” van God se “nasie” vorm ’n skans teen Satan se pogings om hul getroue gedrag ter ondersteuning van waarheid te beïnvloed. Die vyand kan nie die lojale opmars van God se volk stuit nie! Ons stel ons vertroue altyd in ‘Jah Jehovah, die Rots tot onbepaalde tyd’.—Jesaja 54:17; 60:22, vgl. NW.
4, 5. (a) Wat is “die verhewe dorp”, en hoe vertrap Jehovah se volk dit figuurlik gesproke? (b) Wanneer ondergaan die profesie van Jesaja 26:10 sy vernaamste vervulling, en hoe? (c) Watter ander toepassing het hierdie profesie?
4 Terwyl ons die waarskuwing gee dat Jehovah op die punt staan om “die verhewe dorp”, “Babilon die Grote”, te verneder, is dit bemoedigend om te sien hoe die geteisterdes en geringes van die aarde die goeie nuus van die Koninkryk aanneem (Openbaring 18:2, 4, 5, vgl. NW). Figuurlik gesproke vertrap hulle ook daardie “verhewe dorp”, nie deur aan die vernietigingswerk deel te neem nie, maar deur die dag van Jehovah se wraak op daardie verdorwe stelsel te verkondig (Jesaja 61:1, 2). Jehovah se Getuies betoon nou al dekades lank selfs aan die goddeloses vriendelikheid deur hulle tuis met die lewensreddende Koninkryksboodskap te besoek. Maar die gevolg is soos in Jesaja 26:10 (NW) opgeteken is: “Al sou die goddelose guns betoon word, sal hy eenvoudig geen regverdigheid leer nie. In die land van opregtheid sal hy onreg pleeg en hy sal die verhewenheid van Jehovah nie sien nie.”
5 Hierdie herstellingsprofesie ondergaan vandag sy vernaamste vervulling. Hoewel mense die geleentheid gebied word, is min bereid om hulle lewe te verander ten einde Jehovah se guns in “die land van opregtheid” te ontvang. Diegene wat Jehovah en sy lojale getuies smaad, “sal die verhewenheid van Jehovah nie sien nie”, want hulle sal nie behoue bly om die wonderlike seëninge te geniet wat die mensdom ná die heiliging van Jehovah se naam sal ontvang nie (Jesaja 11:9). Die profesie kan ook in die Paradysaarde van toepassing wees op diegene wat uit die grafte opgewek word. Die name van enige persone wat weier om hulle te skik na God se vereistes, wat in die goddelike “boekrolle” van daardie tyd uiteengesit sal word, sal nie in “die boek van die lewe” geskryf word nie.—Openbaring 20:12, 15, vgl. NW; vergelyk Esegiël 33:11.
Jehovah beskik vrede
6. Watter woorde uiter Jehovah se lojale volk vreugdevol, en waarom?
6 God se lojale volk stel egter intens daarin belang dat Jah Jehovah verheerlik en geregverdig word. Hulle doen ’n beroep op hom om vir sy volk ‘vrede te beskik’, en hulle roep vreugdevol uit: “U het, o [Jehovah], die nasie vermeerder; U het die nasie vermeerder, Uself verheerlik; U het al die grense van die land uitgebrei” (Jesaja 26:12, 15, vgl. NW). In 210 lande oor die hele aarde voeg Jehovah steeds sagmoedige mense by sy geestelike nasie. Honderdduisende nuwe metgeselle word gedoop. Meer as ’n halfmiljoen spesiale, gewone en hulppioniers dien in maande waarin ’n hoogtepunt bereik word. Meer Koninkryksale en Byeenkomssale word gebou. Wagtoringtakke vergroot hulle Bethelhuise en fabrieke en bekom meer druktoerusting. Daar is volgehoue groei!
7. Waaraan kan die uitbreiding van Jehovah se stadagtige organisasie toegeskryf word?
7 Hierdie uitbreiding vind plaas omdat die “Vredevors” die aangeleenthede van God se volk op aarde rig. Soos Jesaja vroeër in sy profesie sê: “Aan die oorvloed van die vorstelike heerskappy en aan vrede sal geen einde wees nie, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit stewig te bevestig en om dit te versterk deur middel van geregtigheid en deur middel van regverdigheid, van nou af en tot onbepaalde tyd. Ja, die ywer van Jehovah van die leërskare sal dit doen” (Jesaja 9:6, 7, NW). Daardie woorde ondergaan inderdaad vandag ’n grootse vervulling! Diegene wat op Jehovah vertrou, ondervind reeds die vrede, die geregtigheid en die regverdigheid van daardie vorstelike heerskappy. Dit het hulle byeengebring in ’n liefdevolle eenheid wat net deur Jesus se ware dissipels geniet word (Johannes 13:34, 35). Bowendien sien hulle met gretige afwagting uit na die vinnig naderende tyd wanneer Jesus se Koninkryksheerskappy en “die kennis van Jehovah” die hele aarde sal vul.—Jesaja 11:9, NW; Daniël 2:35, 44, 45.
8. Wat toon Jehovah se woorde in Jesaja 26:20, en waarmee hou die “binnekamers” verband?
8 Namate Koninkryksuitbreiding ’n klimaks nader, weerklink Jehovah se aansporing in Jesaja 26:20: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ’n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan.” Die “binnekamers” van hierdie profesie hou ongetwyfeld ten nouste verband met die meer as 54 000 stadagtige gemeentes waardeur Jehovah se Getuies vandag aardwyd bedien word. Wat Jehovah in gedagte het, moet nog blyk. Maar ons kan seker wees dat hy, wanneer hy die goddelose vernietig, sy volk wat op hom vertrou, sal beskerm, net soos hy in Jesaja se dag gedoen het toe hy die wrede Assiriër teruggedryf het.—Jesaja 10:24-26.
Verlossing verseker!
9. (a) Hoe het koning Hiskia sy vertroue in Jehovah geopenbaar? (b) Hoe reageer ons gepas wanneer ons deur haters van Jehovah vervolg of uitgeskel word?
9 Jehovah se knegte vertrou vandag op hom om dieselfde rede as Koning Hiskia. Hy het volkome op Jehovah as sy Soewereine Heer vertrou. Toe die Assiriese bedreiging sy hoogtepunt bereik het, het hy dus met hierdie woorde tot Jehovah gebid: “o HERE van die leërskare, God van Israel wat op die gerubs troon! Ú alleen is die God van al die koninkryke van die aarde; Ú het die hemel en die aarde gemaak. o HERE, neig u oor en luister! HERE, open u oë en kyk en hoor al die woorde van Sanherib, wat hy gestuur het om die lewende God te smaad!” (Jesaja 37:16, 17). Kom ’n soortgelyke gebed nie in jou hart op wanneer jy deur haters van Jehovah vervolg, bespot of uitgeskel word nie? Smeek jy Jehovah nie met volle vertroue in hom om sy naam van oneer te suiwer nie? Dit is hoe Jesus gevoel het toe hy op die punt gestaan het om aan die folterpaal te sterf. Hy het selfs gevra dat die beker wat hy moes drink by hom moet “verbygaan” vanweë die groot smaad wat dit sy Vader sou aandoen.—Mattheüs 26:39-44.
10. (a) Wat was volgens Hiskia se gebed vir hom die belangrikste? (b) Hoe kan ons soos Hiskia wees terwyl ons die toetse wat Armageddon voorafgaan die hoof bied?
10 Hiskia se gebed het getoon dat hy nie ’n selfsugtige beweegrede gehad het toe hy verlossing van die Assiriër gevra het nie. Hy het nie bloot probeer om sy eie lewe te red nie. Dit was eerder vir hom ’n saak van erns dat Jehovah se naam geheilig en Sy soewereiniteit geregverdig word. Hy het sy gebed dus met hierdie woorde afgesluit: “En nou, o Jehovah, onse God, red ons uit sy hand, sodat al die koninkryke van die aarde mag weet dat u, o Jehovah, alleen God is” (Jesaja 37:20, NW). Laat ons eweneens, terwyl ons die toetse wat die finale oorlog van Armageddon voorafgaan die hoof bied, in gedagte hou dat ons persoonlike redding minder belangrik is as die heiliging van Jehovah se naam. Soos ons Soewereine Heer sowat 60 keer deur sy profeet Esegiël gesê het: “Hulle sal moet weet dat ek Jehovah is.”—Esegiël 38:23, NW.
11. (a) Watter fout het Sanherib begaan, en wat het Jehovah daaroor gesê? (b) Watter vertroue kan ons hê met die oog op wat met Sanherib gebeur het?
11 Nadat Hiskia gebid het, het Jesaja die koning vertel van Jehovah se uitspraak teen Sanherib. Daardie Assiriese godslasteraar het inderdaad ’n fout begaan toe hy die lewende God gesmaad het! Jehovah het deur Jesaja die volgende aangaande Sanherib gesê: “Wie het jy gesmaad en gelaster? En teen wie het jy die stem verhef en jou oë hoogmoedig opgehef? Teen die Heilige van Israel!” En dit was die Heilige van Israel wat daardie nag opgetree het! Net een engel van Jehovah was nodig om 185 000 Assiriese soldate, die room van Sanherib se leër, neer te vel en “dooie liggame” van hulle te maak. Daardie trotse koning het in skaamte na Nineve teruggetrek en is ’n paar jaar later deur sy eie seuns neergevel terwyl hy met sy afgodiese aanbidding volgehou het. Ons kan op Jehovah vertrou en seker wees dat Hy Satan en sy hele krygsbende wat Jehovah se Getuies godslasterlik uitskel en vervolg op soortgelyke wyse sal behandel.—Jesaja 37:23, 36-38.
Wraak op diegene ‘wat gedood is’
12. (a) Hoe beskryf Jesaja 26:21 die afrekening wat by Armageddon sal plaasvind? (b) Wie is diegene ‘wat gedood is’ wat selfs voor Armageddon gewreek sal word, en hoe sal dit gebeur?
12 Dit was destyds ’n verskriklike gevegstoneel, maar ’n baie ontsettender afrekening sal gedurende die “groot verdrukking” plaasvind (Mattheüs 24:21). Jehovah nooi ons om na die omvang van daardie slagting te kyk: “Want kyk! Jehovah kom uit sy plek te voorskyn om die bewoner van die land rekenskap te vra van sy dwaling, en die land sal stellig sy bloedvergieting aan die lig bring en sal die wat op hom gedood is, nie langer bedek nie” (Jesaja 26:21, NW). Jehovah sal eers die politieke magte beweeg om oordeel aan die voorstanders van godsdiensdwaling te voltrek. Hulle valse gode sal hulle nie op daardie dag red nie! Laat die Roomse pous voortgaan om alle godsdienste van “Babilon die Grote” vir interkerklike gebede byeen te bring. Nie een van hierdie beskermhere van geloofsvermenging vereer die ware en lewende God, Jehovah, nie. Hulle leerstellings is onjuis en onbybels, en so ook hulle handelwyse. Hulle het mekaar deur die eeue heen vermoor. Hulle het die bloed van geweldlose Christene vergiet. In hierdie 20ste eeu het baie van hierdie oortreders die wrede diktators ondersteun wat Jehovah se Getuies in tronke en konsentrasiekampe, voor vuurpelotons en deur die byl omgebring het. Soos Jehovah reguit deur sy profete sê, sal sulke persone ‘wat gedood is’, gewreek word.—Deuteronomium 32:41, 43; Jesaja 1:24; 63:4; Openbaring 17:15-18; 18:21, 24.
13. Wat voorspel Jesaja in verband met ‘die dag van Jehovah’, en op wie is die woorde van toepassing?
13 Nadat valse godsdiens verwoes is, sal Jehovah vinnig teen alle oorblywende teëstanders van Christus se Koninkryk optree. God se woorde in Jesaja 13:6, 9 is op al sulke teëstanders, sowel as op “Babilon die Grote”, van toepassing: “Huil julle, want die dag van die HERE is naby; hy kom as ’n verwoesting van die Almagtige. Kyk, die dag van die HERE kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ’n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg.” Dit sal wees net soos die psalmis Dawid voorspel het: “Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose.”—Psalm 145:20; Openbaring 19:11-21.
14. Op watter verdere woorde van Jesaja kan die nasies gerus ag slaan, en waarom?
14 Die nasies van die aarde kan gerus ag slaan op Jesaja se verdere woorde in hoofstuk 34, verse 1 tot 8: “Kom nader, o volke, om te hoor; en nasies, luister! . . . Want die toorn van die HERE is oor al die nasies, en grimmigheid oor al hulle leërskare; Hy het hulle met die banvloek getref, Hy het hulle oorgegee om geslag te word. En hulle gesneuweldes sal weggewerp word, en die stank van hulle lyke gaan op, en die berge smelt van hulle bloed. . . . Want die HERE hou ’n dag van wraak.” Verdorwenheid en onsedelikheid vier vandag hoogty in die politieke arena, die sakewêreld en op die gebied van valse godsdiens. Maar Jehovah is voornemens om ’n rein aarde te hê. Met hierdie doel voor oë versamel hy uit die nasies—vir oorlewing—mense wat bereid is om hulle lewe te verander om hom in regverdigheid te dien. Alle ander moet in sy dag van wraak omkom.—Jeremia 25:31-33.
’n Paradys van vrede
15. Wat beskryf Jesaja in hoofstuk 35 aangaande (a) vandag? (b) die toekoms?
15 In Jesaja hoofstuk 35 gaan God se profeet voort om in pragtige, skilderende taal die toestand van Jehovah se herstelde volk, diegene wat vandag altyd op hom vertrou, te beskryf. Omdat hulle in ’n geestelike paradys versamel is, “sien [hulle] die heerlikheid van die HERE, die sieraad van onse God”. Hulle sien ook uit na ’n fisiese paradys en die vervulling van die belofte: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis” (Jesaja 35:1, 2, 5, 6). Verheug jy jou oor daardie vooruitsig? Vertrou jy op Jehovah, met die oortuiging dat hy daardie beloftes gaan vervul?
16, 17. (a) Watter dringende beroep doen Jesaja terwyl hy die Paradys beskryf? (b) Hoe moet Jehovah se volk op hierdie beroep reageer?
16 Jy kan, deur op Jehovah te vertrou, nuwelinge, sowel as ander wie se geloof moontlik versterk moet word, bemoedig. Terwyl die profeet Jesaja die Paradys beskryf, doen hy ook hierdie dringende beroep: “Versterk die slap hande en maak die struikelende knieë vas. Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos” (Jesaja 35:3, 4). Ja, ons wil sien dat alle regskapenes vertroue in Jehovah opbou sodat hulle tot in die paradysaarde behoue kan bly.
17 Laat ons derhalwe enige slap hande ondersteun sodat hulle ‘die woord van die lewe stewig kan vashou’. Laat ons diegene met struikelende knieë versterk en hulle help, waar nodig, om ‘waardiglik voor Jehovah te wandel en Hom in alles te behaag’ (Filippense 2:16, NW; Kolossense 1:10, vgl. NW). Ja, laat ons diegene wat terneergedruk is, vertroos, en laat ons mekaar bemoedig wanneer ons voor beproewinge of vervolging te staan kom om ‘des te meer moed te toon om die woord van God onbevrees te spreek’ (Filippense 1:14, NW; 1 Thessalonicense 5:14; Efesiërs 5:15, 16). Dan kan ons, wanneer Jehovah se dag van wraak aanbreek, seker wees van sy seën wanneer ‘hy kom om sy volk te verlos’. Sal jy op daardie dag onder diegene wees wat op Jehovah vertrou vir redding?
18. Watter heerlike vooruitsig is daar vir diegene wat op Jehovah vertrou, en wat is hulle vaste voorneme?
18 Diegene wat altyd op Jehovah vertrou, het inderdaad ’n heerlike vooruitsig ná daardie dag! Sondige verdrukkers sal uit die weg geruim wees! Diegene wat Jah Jehovah liefhet, sal in ’n nuwe wêreld deur sy Seun tot sondelose volmaaktheid herstel word! Smag jy nie na daardie tyd nie? Jou vertroue in Jehovah sal jou tot daardie wonderlike dag bring. Ja, vertrou altyd op Jehovah, want dit beteken redding!
Vrae ter hersiening
◻ Wat spoor die oorwinningslied van Jesaja 26 ons aan om te doen?
◻ Watter “verhewe dorp” sal Jehovah verneder, en hoe vertrap ons dit?
◻ Wat leer ons uit Hiskia se gebed ten tyde van Sanherib se bedreiging?
◻ Hoe word diegene ‘wat gedood is’, wat in Jesaja 26:21 gemeld word, gewreek?
◻ Wat sal die resultaat wees as ons op Jah Jehovah vertrou?
[Venster op bladsy 19]
Vervolg die Heilige Stoel?
World Press Review sê in ’n opsomming van ’n artikel deur Umberto Siniscalchi in Il Giornale van Milaan: “Italië se hoogste Appèlhof word hewig gekritiseer omdat dit in Julie [1987] die lasbriewe tot inhegtenisneming van drie bankamptenare van die Vatikaan wat by die Banco Ambrosiano-korrupsieskandaal betrokke was nietig verklaar het.” Die besluit, gebaseer op ’n ou ooreenkoms tussen die Vatikaan en die Italiaanse regering, het immuniteit verleen aan die bank se voorsitter, wat ’n aartsbiskop is, sowel as aan die bank se besturende direkteur en hoofrekenmeester. Die opsomming voeg by: “Hoewel sommige kritici die regters nie vir die besluit kwalik neem nie, hou hulle vol dat die ooreenkoms teen die Italiaanse grondwet indruis deur immuniteit te verleen aan diegene wat oortredings in Italië begaan het. Party wetgewers dring aan op ’n ooreenkoms wat Italië se regstelsel toelaat om die Heilige Stoel te vervolg vir misdade wat in Italië gepleeg word.”