Vrae van lesers
◼ Wie was “die twaalf” aan wie Jesus verskyn het, soos 1 Korinthiërs 15:5 toon?
Dit lyk asof die verskyning wat in 1 Korinthiërs 15:5 gemeld word die een is wat in Johannes 20:26-29 opgeteken is, wat Thomas ingesluit het. Dit slaan egter op die apostels as ’n groep en het Matthias waarskynlik ingesluit.
In sy bespreking van die opstanding het Paulus geskryf van Jesus se verskynings aan mense nadat Hy opgewek is. Die apostel het gesê dat Christus “aan Cefas verskyn het; daarna aan die twaalf. Daarna het Hy verskyn aan oor die vyfhonderd broeders.”—1 Korinthiërs 15:5, 6.
Jesus het 12 apostels gekies uit diegene wat hom as dissipels nagevolg het (Mattheüs 10:2-5). Judas Iskariot was een van die 12, maar hy het ’n verraaier geword, Jesus verraai en homself toe opgehang (Mattheüs 26:20-25; 27:3-10). Ten tyde van Christus se dood en opstanding was daar dus uit die oorspronklike 12 net 11 getroue apostels oor. Jesus het tussen sy opstanding en hemelvaart aan verskillende dissipels verskyn. Daarna het die apostels besef dat dit nodig was om Judas te vervang. Matthias is onder goddelike leiding gekies, en “hy is gekies om saam met die elf apostels te wees”.—Handelinge 1:6-26.
Sommige het dus gewonder waarom Paulus sou skryf dat Jesus aan “die twaalf” verskyn het, aangesien Judas teen daardie tyd dood was en Matthias nog nie gekies was nie. Daar was dus, om spesifiek te wees, net elf apostels wat oorspronklik deur Jesus benoem en uitgestuur is.—Lukas 6:13-16.
Dit is normaal om van ’n groep as ’n geheel te praat, selfs al is een lid afwesig. (“Die direksie het besluit . . . ” “Die liggaam van ouere manne het vergader . . . ”) Die uitdrukking “die twaalf” is dus heel moontlik met verwysing na die hele groep apostels gebruik, selfs as een of twee by ’n geleentheid afwesig was. (Vergelyk Handelinge 6:1-6.) Toe Jesus die eerste keer aan sy dissipels in ’n geslote kamer verskyn het, ‘was Thomas, een van die twaalf, nie saam met hulle nie’. Hy was agt dae later teenwoordig, en enige onsekerheid is toe vir hom opgeklaar (Johannes 20:19-29). Hoewel Matthias nie toe aangewys is om Judas te vervang nie, was hy reeds lank ’n dissipel (Handelinge 1:21, 22). Aangesien hy noue omgang met die eerste apostels geniet het en kort daarna ‘gekies is om saam met hulle te wees’, het die terugblikkende opmerking oor Jesus se verskyning aan “die twaalf” Matthias waarskynlik ingesluit.