’n Volk wat in Jesus se voetspore wandel
“Het ons nie in dieselfde gees, in dieselfde spore gewandel nie?”—2 KORINTHIËRS 12:18.
1. Waarom is dit dikwels nie moeilik om een van Jehovah se Getuies uit te ken nie?
“AS ’N groep is hulle hoflik, verantwoordelik en doen hulle goed op skool. Dit kan nie van ander groepe gesê word nie.” Dit is wat die hoof van ’n laerskool in die Verenigde State gesê het. Van wie het by gepraat? Die kinders van Jehovah se Getuies wat leerlinge in sy skool was. Talle het inderdaad opgemerk dat Jehovah se Getuies, hulle kinders inkluis, dikwels in sekere opsigte met ander Getuies ooreenkom. Deur die jare heen het dit al hoe duideliker geword dat hulle buitengewoon verenig is wat opvattinge en gedrag betref. Dit is dus nie moeilik om die Getuies uit te ken nie.
2. Wat was ’n kenmerk van die vroeë Christengemeente, en wat het Paulus hieroor gesê?
2 Die eenheid van Jehovah se Getuies is iets buitengewoons in hierdie verdeelde wêreld. Maar dit is nie moeilik om te verstaan as ons onthou dat hulle almal in Jesus se voetspore probeer wandel nie (1 Petrus 2:21). Sulke eenheid was ook ’n kenmerk van eerste-eeuse Christene. By een geleentheid het Paulus die gemeente in Korinthe gemaan: “Ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening” (1 Korinthiërs 1:10). Paulus het ook geïnspireerde raad gegee oor hoe om persone te behandel wat nie bereid is om Christelike eenheid te handhaaf nie.—Kyk Romeine 16:17; 2 Thessalonicense 3:6.
3, 4. Hoe het Paulus die eenheid tussen hom en Titus beskryf, en waarop het hierdie eenheid berus?
3 Omstreeks die jaar 55 G.J. het Paulus Titus na Korinthe gestuur om te help met ’n insameling vir behoeftige broers in Judea en moontlik om te sien hoe die gemeente op Paulus se raad reageer. Toe Paulus later aan die Korinthiërs geskryf het, het hy Titus se onlangse besoek gemeld en gevra: “Het Titus hom dan ten koste van julle bevoordeel? Het ons nie in dieselfde gees, in dieselfde spore gewandel nie?” (2 Korinthiërs 12:18). Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het dat hulle “in dieselfde gees” en “in dieselfde spore” gewandel het?
4 Hy het gepraat van die eenheid wat tussen hom en Titus bestaan het. Titus was af en toe Paulus se reisgenoot en hy het ongetwyfeld op hierdie manier baie van Paulus geleer. Maar die eenheid wat tussen die twee bestaan het, het op iets sterkers as dit berus. Dit het berus op hulle goeie verhouding met Jehovah en op die feit dat hulle albei navolgers van Christus was. Titus het Paulus nagevolg net soos Paulus Christus nagevolg het (Lukas 6:40; 1 Korinthiërs 11:1). Dit was derhalwe in Jesus se gees en in sy voetspore wat hulle gewandel het.
5. Wat kan van persone verwag word wat Paulus en Titus vandag navolg terwyl hulle “in dieselfde gees” en “in dieselfde spore” wandel?
5 Dit is gevolglik nie vreemd dat Christene van hierdie 20ste eeu, wat “in dieselfde gees” en “in dieselfde spore” as Paulus en Titus wandel, ongeëwenaarde eenheid geniet nie. Trouens, die verdeeldheid onder naamchristene toon dat hulle skynchristene is, wat nie in die voetspore wandel van die Leier wat hulle beweer hulle volg nie (Lukas 11:17). Hierdie treffende verskil tussen ware en naamchristene kan in verskeie opsigte toegelig word. Kom ons meld vier.
Die heiligheid van bloed
6, 7. (a) Watter regte beskouing van bloed is nodig om in Jesus se voetspore te wandel? (b) Wat is die verskil tussen Jehovah se Getuies en ander wat vandag bloedoortappings weier?
6 Omstreeks die jaar 49 G.J. het die bestuursliggaam van die eerste-eeuse gemeente ’n brief uitgestuur wat die vraag beantwoord het: Moet nie-Joodse Christene die Wet van Moses hou? Die brief het die volgende gesê: “Die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery” (Handelinge 15:28, 29). Let daarop dat die onthouding van bloed onder die “noodsaaklike dinge” getel het. Om in Jesus se voetspore te wandel, sou beteken dat bloed nie mondeliks of op enige ander manier in die liggaam ingeneem word nie.
7 Hierdie beginsel is in die Christendom op flagrante wyse geskend deur die gebruik om bloedoortappings toe te dien. In onlangse jare het ’n aantal mense weliswaar bewus geword van die gesondheidsgevare van bloedoortappings en dit om mediese redes geweier. Dit is veral die geval sedert talle Vigs as gevolg van bloedoortappings opgedoen het. Maar wie respekteer die heiligheid van bloed uit respek vir God se wet en doen dit as ’n groep? Wie dink die dokter outomaties is ’n pasiënt as hy ’n oortapping weier? Sê die dokter nie gewoonlik: ‘Jy is seker een van Jehovah se Getuies’ nie?
8. Hoe is ’n Getuie in Italie geseën vir haar vasbeslotenheid om God se wet in hierdie opsig te hou?
8 Antonietta woon in Italië. Sowat agt jaar gelede was sy baie siek, en haar bloedtelling was so laag dat dokters daarop aangedring het dat oortappings nodig was om haar lewe te red. Sy het geweier en is deur dokters sowel as familielede teëgestaan. Selfs haar twee seuntjies het gepleit: “Mamma, as Mamma ons regtig liefhet, sal Mamma die bloed aanvaar.” Maar Antonietta was vasbeslote om getrou te bly, en gelukkig het sy nie gesterf nie. Haar toestand was nietemin so ernstig dat ’n dokter gesê het: “Ons weet nie waarom sy nog lewe nie.” Maar toe sy behandeling begin ontvang het waarteen sy geen beswaar gehad het nie, het sy so vinnig beter geword dat ’n ander dokter gesê het: “Ek kan dit nie glo nie—jy kon eenvoudig nie so gou herstel het nie, selfs al het ons die hele dag bloed in jou ingepomp.” Sy is tans ’n gewone pionier, en haar twee seuns, wat nou 12 en 14 is, maak goeie vooruitgang in die waarheid. Antonietta het moedig daardie ‘noodsaaklike ding’, die heiligheid van bloed, onderhou. Al Jehovah se Getuies huldig dieselfde beskouing terwyl hulle in Jesus se voetspore wandel.
Goeie sedes
9. Wat is nog ’n ‘noodsaaklike ding’ as iemand in Jesus se voetspore wil volg, en wat gebeur met diegene wat versuim om daarby te hou?
9 Nog ’n ‘noodsaaklike ding’ wat in daardie brief vanaf die eerste-eeuse bestuursliggaam beklemtoon is, was dat ons ons “onthou . . . van hoerery”. In sy eerste brief aan die Korinthiërs het Paulus hieroor uitgewei en gesê: “Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete . . . sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Korinthiërs 6:10). Christene help mense wat Jehovah wil dien om hulle van hierdie onrein gebruike vry te maak. Selfs lede van die gemeente wat daardeur verstrik raak, word gehelp om hulleself te reinig as hulle omdraai en hulle bekeer (Jakobus 5:13-15). Maar as enige Christen in sulke smerige gebruike verval en weier om hom te bekeer, is ’n eenvoudige Bybelreël van toepassing. Paulus het onder goddelike inspirasie gesê: “Nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan by as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is . . . nie. . . . Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.”—1 Korinthiërs 5:11, 13.
10, 11. (a) Wie is verantwoordelik vir die lae sedelike standaarde in die Christendom, en waarom? (b) Hoe toon die ondervinding van ’n man in die Filippyne dat Jehovah se Getuies as ’n groep hoë sedelike standaarde handhaaf?
10 Ondanks hierdie duidelike leerstelling is die Christendom deurtrek van onsedelikheid. Geestelikes wat die goddelike standaarde verwater asook diegene wat lippehulde aan Bybelstandaarde bring, maar versuim om dit moedig in hulle gemeentes toe te pas, is verantwoordelik vir hierdie situasie. Maar ook hierin wandel Jehovah se Getuies as ’n volk in Jesus se voetspore.
11 Beskou Jose van die Filippyne. Op 17 was by reeds bekend as ’n skoorsoeker en ’n dobbelaar. Hy was dikwels dronk, het ’n onsedelike lewe gelei en het herhaaldelik in die tronk beland vir diefstal. Toe het hy met Jehovah se Getuies in aanraking gekom. “Die studie van die Bybel het my lewe heeltemal verander”, sê hy. “Ek drink en rook nie meer nie, en ek het geleer om my humeur te beteuel. Ek het nou ’n skoon gewete, aangesien ek net een vrou het. Ek het ook die respek van my bure gewin, wat my voorheen ‘Jose, die berugte’ en ‘Jose, die spook’ genoem het. Nou noem hulle my ‘Jose, die Jehovahsgetuie’. My seun en my nefie is bedieningsknegte in die gemeente waar ek tans as ouere man en gewone pionier dien.” Jose en miljoene ander Christengetuies van Jehovah wandel as sedelik rein Christene in Jesus se voetspore.
Neutraliteit
12. Watter gesindheid van ware Christene het Jesus beklemtoon in sy gebed wat in Johannes hoofstuk 17 opgeteken is?
12 In die lang gebed wat Jesus gedoen het die laaste aand wat hy saam met sy dissipels was, het hy nog ’n manier gemeld waarop sy volgelinge ‘in sy voetspore sou wandel’. Hy het van sy dissipels gesê: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:16). Dit beteken dat Christene neutraal is. In plaas van aan die politiek of nasionale botsings deel te neem, vertel hulle ander van God se Koninkryk, wat die enigste oplossing vir hierdie wêreld se probleme is.—Mattheüs 6:9, 10; Johannes 18:36.
13, 14. (a) Hoe verskil die Christendom van Jehovah se Getuies wat die neutraliteitskwessie betref? (b) Hoe het die politieke neutraliteit van ’n Getuie in Japan die hele broederskap tot voordeel gestrek?
13 Die meeste lidmate van die Christendom, vir wie volksherkoms gewoonlik belangriker as kerkverband is, het hierdie beginsel ten opsigte van neutraliteit vergeet. Sindikaatrubriekskrywer Mike Royko wys daarop dat dit “Christene” nog nooit “teen die bors gestuit [het] om oorloë teen ander Christene te voer nie”, en by voeg by: “As dit die geval was, sou die meeste van die hewigste oorloë in Europa nooit plaasgevind het nie.” Dit is ’n welbekende feit dat Jehovah se Getuies streng Christelike neutraliteit ten tyde van oorlog handhaaf. Maar as navolgers van Jesus is hulle ook neutraal ten opsigte van maatskaplike en politieke geskille. Niks versteur derhalwe hulle merkwaardige wêreldwye eenheid nie.—1 Petrus 2:17.
14 Hulle neutraliteit lewer soms onverwagte resultate. In die Tsoegaroe-distrik van Noord-Japan word verkiesings byvoorbeeld baie ernstig opgeneem. Maar Tosjio, onderbestuurder in die finansiële afdeling van ’n plaaslike regeringskantoor, het om gewetensredes geweier om by die burgemeester se herverkiesingsveldtog betrokke te raak. Dit het daartoe gelei dat by van sy amp onthef is en in ’n lae posisie in die rioolafdeling aangestel is. ’n Jaar later is die burgemeester egter weens wanpraktyke in hegtenis geneem en was hy verplig om te bedank. ’n Nuwe burgemeester is gekies. Toe hy van Tosjio se demosie hoor, het by hom weer in ’n hoe administratiewe amp aangestel, en dit het Tosjio se Christenbroers tot seën gestrek. Hoe? Tosjio verduidelik dat dit baie moeilik is om toestemming te verkry om sportsale vir byeenkomste te gebruik wat nie sportbyeenkomste is nie. Maar in sy huidige posisie “kon Jehovah my gebruik”—om Tosjio se eie woorde aan te haal—“om die gebruik van sulke sportsale vir drie streekbyeenkomste en vier kringbyeenkomste te bewerkstellig”. Hy sluit af: “Mits ons getrou bly, sal Jehovah ondenkbare maniere oopstel om ons te gebruik.”
In die huis
15. Hoe het Jesus ’n model vir sy navolgers gelaat wat gesinsbetrekkinge betref?
15 Nog ’n gebied waarop Christene ‘in Jesus se voetspore volg’, is in die huis. Die Bybel bevestig Jesus se voorbeeld as die model vir gesinsbetrekkinge wanneer dit sê: “[Wees] aan mekaar onderdanig . . . in die vrees van [Christus]. Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente . . . Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hulle eie mans wees. Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het.”—Efesiërs 5:21-25, vgl. NW.
16, 17. (a) Watter slegte situasie bestaan in die Christendom met betrekking tot gesinsbetrekkinge? (b) Alleenlik hoe kan gesinsbetrekkinge verbeter word, soos die ondervinding van ’n egpaar in Brasilië toon?
16 Die Christendom ignoreer vandag oor die algemeen hierdie raad en is dus vol verbroke gesinne. Verbroke huise is algemeen en botsings tussen ouer en kind gaan dikwels baie diep. “Die gesin is besig om inmekaar te stort”, het ’n professor in die sielkunde ’n paar jaar gelede gesê. Kindersielkundiges, huweliksraadgewers en psigiaters slaag net in ’n mate daarin om bedreigde gesinne bymekaar te hou. Maar Jehovah se Getuies probeer hard om Bybelbeginsels toe te pas en is bekend vir bogemiddeld goeie gesinsbetrekkinge.
17 Aldemar was byvoorbeeld ’n luitenant in Brasilië se militêre polisie en het gesinsprobleme ondervind. Sy vrou het hom verlaat en wou ’n geregtelike skeiding hê. Hy het straf begin drink en selfs selfmoord probeer pleeg. Later het sy familielede, wat Jehovah se Getuies is, met hom oor die Bybel gepraat. Hy het gehou van wat hy hoor en het begin studeer. Omdat hy sy lewe in ooreenstemming wou bring met die neutrale standpunt waarvoor Jehovah se Getuies bekend is, het hy om ontslag uit die leër gevra. Aldemar en sy vrou het hulle huweliksprobleme opgelos deur die Bybelbeginsels toe te pas waarvan Aldemar geleer het. Vandag volg hulle in die voetspore van Jesus en dien hulle Jehovah saam as gewone pioniers.
Gehoorsaam as gevolg van liefde
18. (a) Waarom ontvang Jehovah se Getuies vandag geestelike seëninge? (b) Hoe word Jesaja 2:2-4 nou vervul?
18 Dit is duidelik dat Jehovah se Getuies eensgesind in die gees en in die voetspore van Christus Jesus wandel. As individue en as ’n groep ontvang hulle geestelike seëninge daarvoor (Psalm 133:1-3). Die ooglopende bewyse van goddelike seën op hulle het ’n menigte opregte mense beweeg om in ooreenstemming met die profesie in Jesaja 2:2-4 op te tree. In net die afgelope vyf jaar het 987 828 die nodige stappe vir toewyding gedoen en hulle toe in water laat doop. Jehovah het liefdevol geen arbitrêre beperking gestel op die aantal mense wat dit kan doen voor “die groot verdrukking” uitbreek nie!—Openbaring 7:9, 14.
19. (a) Watter tasbare voordele kan uit diens aan Jehovah spruit, en hoe moet dit beskou word? (b) Wat is die vernaamste rede waarom ons Jehovah se gebooie gehoorsaam?
19 Soos die bogenoemde ondervindinge toon, gaan die geestelike seëninge wat God se volk geniet dikwels met tasbare voordele gepaard. Omdat hulle nie rook nie, sedelike lewens lei en die heiligheid van bloed respekteer, kan hulle byvoorbeeld voorkom dat hulle sekere kwale opdoen. Of omdat hulle in ooreenstemming met die waarheid lewe, kan hulle finansiële of maatskaplike situasie of hulle gesinslewe verbeter. Enige sodanige tasbare voordele word as ’n seën van Jehovah beskou, en dit bewys dat Jehovah se wette prakties is. Maar die moontlikheid dat sulke praktiese voordele geniet kan word, is nie op sigself die vernaamste rede waarom hulle God se wette gehoorsaam nie. Ware Christene gehoorsaam Jehovah omdat hulle hom liefhet, omdat hy hulle aanbidding verdien en omdat die uitvoering van sy wil die enigste regte weg is (1 Johannes 5:2, 3; Openbaring 4:11). Dit is Satan wat beweer dat mense God bloot om selfsugtige voordele dien.—Kyk Job 1:9-11; 2:4, 5.
20. Hoe wandel Jehovah se Getuies vandag in dieselfde gees as drie getroue Hebreeuse Getuies van die ou tyd?
20 Hedendaagse getuies van Jehovah wandel in dieselfde gees as die drie getroue, jong Hebreeuse getuies van Daniël se dag. Toe hulle gedreig is dat hulle in ’n vuuroond gegooi sou word, het hulle gesê: “Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie [dit wil sê, al laat hy ons sterf], moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie” (Daniël 3:17, 18, NAV). Afgesien van onmiddellike, tasbare voordele of gevolge, sal Jehovah se Getuies voortgaan om noukeurig in Jesus se voetspore te volg, in die wete dat die ewige lewe in God se nuwe wêreld verseker is! As ’n verenigde volk sal hulle voortgaan om “in dieselfde gees” en “in dieselfde spore” te wandel, kom wat wil!
Kan jy verduidelik:
◻ Waarom is Jehovah se Getuies eensgesind?
◻ In watter opsigte verskil Jehovah se Getuies van naamchristene?
◻ Wat is die vernaamste rede waarom ware Christene Jehovah dien?
◻ Hoe beskou God se volk voordele wat uit gehoorsaamheid aan Jehovah spruit?
[Prent op bladsy 16]
Wanneer ’n pasiënt weier om ’n bloedoortapping te aanvaar, word daar gewoonlik aangeneem dat hy een van Jehovah se Getuies is
[Prente op bladsy 18]
Dit het talle wat beweer dat hulle Christene is nie teen die bors gestuit om—met die seën van hulle geestelikes—teen mekaar oorlog te voer nie