Jy word genooi na die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkomste
WAT ’N grootse Voorsiener is ons liefdevolle Skepper, Jehovah God, tog! Waarlik, “elke goeie gif en elke volmaakte gawe” kom van hom (Jakobus 1:17). Ons lees gepas 26 keer in Psalm 136 die uitdrukking: “Want sy goedertierenheid is tot in ewigheid”.
Drie jaarlikse feeste het onder sy talle geestelike voorsienings vir sy eertydse volk getel: die Pasga en die fees van die ongesuurde brode; die fees van die weke, of Pinkster; en die huttefees, of fees van insameling. Hierdie drie feeste is met groot afwagting bejeën, want hulle was geestelik opbouend en was baie vreugdevolle geleenthede.—Levitikus 23:40-43.
In ons tyd het Jehovah God dit in die harte van sy knegte gegee om eweneens drie jaarlikse, geestelike feeste te hê: die spesiale byeenkomsdag, die tweedaagse kringbyeenkoms en die drie- of vierdaagse streekbyeenkoms. Dit is eweneens geleenthede vir geestelike opbouing en vreugdevolle omgang. Volgens rapporte wat ontvang is toe hierdie artikel geskryf is, het 6 128 388 die “Vertrou op Jehovah”-Streekbyeenkomste bygewoon wat in Junie 1987 begin het, en 85 091 is gedoop. Vanjaar sien elke Getuie daarna uit om die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkoms by te woon.
Wat ’n grootse en edele tema is “Goddelike Geregtigheid” tog! En hoe belangrik! Selfs onvolmaakte mense bring lippehulde aan die belangrikheid van geregtigheid. Daarom het die opstellers van die Verenigde State se Grondwet ongeveer 200 jaar gelede nie net voorsiening gemaak vir uitvoerende en wetgewende regeringsafdelings nie, maar ook vir ’n geregtelike sodat die saak van geregtigheid bevorder sou word. Maar eeue vantevore het Jehovah God self drie regeringsafdelings voorsien wat almal by hom berus. Ons lees dus in Jesaja 33:22 (NW): “Jehovah is ons Regter, Jehovah is ons Wetgewer, Jehovah is ons Koning.”
Trouens, ons word meegedeel dat geregtigheid die eindpunt, doelwit of voorneme van regering is. Maar hoewel ons hierdie goeie beginsel erken, skiet selfsugtige en onvolmaakte mense ver tekort wat die toepassing daarvan betref! Alle vorme van rasse-, nasionale en godsdiensvooroordeel is bloot voorbeelde van die skending van geregtigheid. En dit geld ook vir alle magsmisbruik, hetsy deur regerings, korporasies, godsdiensliggame of individue.
Hoe dankbaar kan ons tog wees dat God se Woord ons daarvan verseker dat geregtigheid en regverdigheid uiteindelik sal seëvier, want Jehovah is by uitstek die God van geregtigheid! Dit is waarom Moses van hom gesing het: “Die Rots, volmaak is sy aktiwiteit, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie geen onreg is nie; Regverdig en opreg is hy” (Deuteronomium 32:4, NW). Jehovah God beskou geregtigheid as so belangrik dat hy sy eniggebore Seun as ’n offerande gegee het sodat Hy gehoorsame mense ewige lewe kon gee (Romeine 3:25, 26). Diegene wat geregtigheid en regverdigheid liefhet, geniet tereg Jehovah se guns, soos ons in Psalm 11:7 lees: “Die HERE is regverdig; Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien.” Volgens ’n ander vertaling ‘is hy regverdig en het hy regverdige handelwyse lief’.—NAV.a
Ons “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkoms sal ons geloof in die uiteindelike oorwinning van regverdigheid versterk. Dit sal ook ons voorneme versterk om te alle tye en onder alle omstandighede ag te slaan op die bevel in Miga 6:8 (NW) om “geregtigheid te beoefen”. Dit is ’n ware uitdaging met die oog op ons oorgeërfde selfsugtige neigings en die versoekinge van die selfsugtige wêreld rondom ons.
In die meeste plekke sal die byeenkoms Donderdagmiddag begin, en dit sal elke dag ’n gepaste tema hê. Die eerste dag se tema, gebaseer op Psalm 106:3, is: “Welgeluksalig is hulle wat die reg bewaar.” Die programrede sal beklemtoon dat al God se weë deur geregtigheid gekenmerk word, en dit sal gevolg word deur onderhoude met voltydse handhawers van geregtigheid, soos sendelinge uit ander lande.
‘Neem tug aan wat verstandig maak’ (gebaseer op Spreuke 1:3) is Vrydag se tema. Op hierdie dag sal twee simposiums die belangrikheid van tug en die aanvaarding daarvan beklemtoon. ’n Hedendaagse drama, “Gemerk vir oorlewing”, sal benadruk hoe noodsaaklik dit is om as een van Jehovah se knegte geïdentifiseer te word. Die dag se program sal afsluit met die baie goeie raad: “Wend jou tot Jehovah vir insig.”
Die tema vir die derde dag, Saterdag, wat uit Openbaring 19:2 geneem is, is bemoedigend: “Sy oordele is waaragtig en regverdig.” Die toespraak “Doop wat tot ’n gunstige oordeel lei”, sal in die oggend gehou word. Die middagprogram sal begin met ’n simposium wat ouere manne sal aanspoor om ‘ter wille van geregtigheid te dien’. Dit sal gevolg word deur nog ’n simposium met die titel “Die bestemde tyd is naby”, wat profesieë in die Christelike Griekse Skrifte sal bespreek wat die oorwinning van geregtigheid voorspel.
“Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag” (Deuteronomium 16:20) is die tema vir Sondag, die vierde en laaste dag van die byeenkoms. ’n Hoogtepunt van die oggendprogram is die kleurryke en tydige Bybeldrama “Jehovah se oordele teen wetsoortreders”. Die middag se openbare toespraak “Geregtigheid vir almal deur God se aangestelde Regter” bevat ’n waarlik vertroostende boodskap vir alle liefhebbers van geregtigheid. Almal sal groter baat vind by hierdie toespraak as hulle voor die tyd met Handelinge hoofstuk 17 vertroud raak. Alle aanwesiges sal gepas in die slottoespraak vermaan word: “Hou aan om geregtigheid na te jaag namate die einde nader.”
’n Ryk geestelike fees wag waarlik op almal wat een van die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkomste gaan bywoon. Kom dus met ’n goeie geestelike aptyt, ten volle bewus van jou geestelike behoefte. Toon dieselfde waardering vir Jehovah se tafel wat jy toon wanneer jy jou plaaslike gemeentelike vergaderinge bywoon—deur jou persoonsversorging, deur lank voor die program begin op te daag en dan vir elke dag se slotgebed te bly. Luister aandagtig na elke deel van die program. Maak aantekeninge; dit sal jou nie net iets gee waardeur jy die byeenkoms kan onthou nie, maar sal jou help om op die materiaal te konsentreer wanneer dit aangebied word.
En laat ons nie die beginsel oor die hoof sien wat deur Jesus gemeld is, en in Handelinge 20:35 opgeteken is nie: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.” Doen dus jou deel om die byeenkoms glad en doeltreffend te laat verloop. En wees altyd wakker vir geleenthede om informeel te getuig. Wees veral hiervan bewus, omdat geen tyd opsygesit is vir huis-tot-huisgetuieniswerk gedurende die byeenkoms nie. Jy kan op al hierdie maniere toon dat jy inderdaad ’n gelukkige handhawer van geregtigheid is.
Vind by Jehovah se Getuies in jou omgewing uit waar die byeenkoms naaste aan jou gehou sal word
[Voetnoot]
a Daar is wesenlik geen onderskeid tussen geregtigheid en regverdigheid nie, hoewel geregtigheid dikwels met wetlike aspekte verband hou.—Vergelyk 2 Timotheüs 2:22; Jakobus 1:20, AB en NW.