Volg Jehovah na deur geregtigheid te beoefen
1 “Die rots, volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. . . . Regverdig en opreg is hy” (Deut. 32:4, NW). Hierdie woorde van ’n eertydse lied beklemtoon een van Jehovah se vernaamste eienskappe, naamlik geregtigheid. Omdat Jehovah ons na sy beeld en gelykenis gemaak het, verwag hy tereg dat ons ‘in ons wandel met ons God, geregtigheid beoefen’.—Miga 6:8, NW; Gen. 1:26.
2 Ons pogings om Jehovah na te volg, sal duidelik wees by al 14 “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkomste wat deur die Suid-Afrikaanse tak gereël is (Ef. 5:1). Honderde van ons broers tref geesdriftig die nodige voorbereidsels, en dit is met groot afwagting dat ons almal na vanjaar se “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkomste uitsien. Het jy spesifieke reëlings getref om elke sessie by te woon?
3 Van Donderdag tot Sondag sal ’n oorvloed van geestelike voedsel deur middel van Bybeltoesprake, demonstrasies, onderhoude en dramas aangebied word, wat sal beklemtoon hoe noodsaaklik dit is om goddelike geregtigheid te handhaaf. Die program sal ook ondervindinge en informasie insluit oor die bedrywighede van broers en susters wat as sendelinge dien. Hulle voorbeeld van standvastige handhawing van goddelike geregtigheid, dikwels onder uiters moeilike omstandighede, kan ons aanspoor om in al ons handelinge in harmonie met goddelike geregtigheid te lewe en op te tree.
HELP ANDER OM ‘GEREGTIGHEID IN AG TE NEEM’
4 Het jy jou Bybelstudente persoonlik uitgenooi om die streekbyeenkoms by te woon? Sal dit nie ’n rede tot vreugde wees as al die belangstellendes wat vanjaar by die
Gedenkmaalviering teenwoordig was ook die streekbyeenkoms bywoon nie? Hulle kan persoonlik die vreugde van Jehovah se volk waarneem en informasie ontvang wat hulle sal oortuig van Jehovah se vermoë en voorneme om alle ongeregtigheid te beëindig. Hierdie byeenkoms kan ’n keerpunt in hulle lewe meebring en hulle beweeg om ’n besliste standpunt vir die God van geregtigheid in te neem.
5 Hoewel ons ’n byeenkoms gaan bywoon en talle gedurende Desember en Januarie 1989 met vakansie sal wees, wil ons graag ’n goeie velddiensrooster behou en belangstellendes se aandag op die Koninkrykshoop vestig. Voordat jy na die byeenkoms of met vakansie gaan, moet jy reëlings tref om te getuig. Soek geleenthede om op geskikte tye met ander te praat.
6 Mag ons ons hierdie somer ten volle in teokratiese bedrywigheid verdiep. Wanneer ons saamkom vir die “Goddelike Geregtigheid”-Streek-byeenkomste en wanneer ons aan die velddiens deelneem, wil ons ons liefde vir geregtigheid openbaar en ons God, Jehovah, ‘wat die reg liefhet’, navolg.—Ps. 37:28.