Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 7/15 bl. 24-25
  • ’n Barmhartige Samaritaan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Barmhartige Samaritaan
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Barmhartige Samaritaan
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • ’n Goeie Samaritaan
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • ’n Samaritaan betoon naasteliefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • ’n Les om goedhartig te wees
    Leer by die Groot Onderwyser
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 7/15 bl. 24-25

Jesus se lewe en bediening

’n Barmhartige Samaritaan

JESUS is miskien naby Betanië, ’n dorpie wat ongeveer drie kilometer van Jerusalem is. ’n Man wat ’n geleerde in die Wet van Moses is, nader hom met ’n vraag: “Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?”

Jesus gewaar dat die man, ’n wetgeleerde, nie bloot om inligting vra nie, maar dat hy hom op die proef wil stel. Die wetgeleerde se oogmerk is dalk om Jesus ’n antwoord te laat gee wat die Jode in hulle fyngevoeligheid aanstoot sal gee. Jesus laat die wetgeleerde dus self antwoord deur te vra: “Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?”

In sy antwoord openbaar die wetgeleerde buitengewone insig en haal hy aan uit God se wette in Deuteronomium 6:5 en Levitikus 19:18 deur te sê: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.”

“Jy het reg geantwoord”, sê Jesus. “Doen dit, en jy sal lewe.”

Die wetgeleerde is egter nie tevrede nie. Jesus se antwoord is vir hom nie spesifiek genoeg nie. Hy wil van Jesus bevestiging hê dat sy eie beskouings korrek is en dat hy gevolglik regverdig is in sy optrede teenoor ander. Hy vra derhalwe: “En wie is my naaste?”

Die Jode glo dat die uitdrukking “naaste” net op mede-Jode betrekking het, soos die konteks van Levitikus 19:18 skynbaar aandui. Trouens, selfs die apostel Petrus het later gesê: “Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ’n Joodse man om met iemand van ’n ander volk omgang te hê of hom te besoek.” Die wetgeleerde, en moontlik ook Jesus se dissipels, glo dus dat hulle regverdig is as hulle net mede-Jode vriendelik behandel, aangesien nie-Jode, na hulle mening, nie werklik hulle naaste is nie.

Hoe kan Jesus hulle beskouing regstel sonder om sy luisteraars aanstoot te gee? Hy vertel ’n verhaal wat miskien op ’n werklike gebeurtenis gebaseer is. “’n Sekere [Jood]”, verduidelik Jesus, “het afgegaan van Jerusalem na Jerigo en onder rowers verval, en nadat hulle hom uitgetrek en geslaan het, gaan hulle weg en laat hom half dood lê.”

“En bygeval”, gaan Jesus voort, “het ’n priester met daardie pad afgekom, en toe hy hom sien, gaan hy anderkant verby. En net so het ook ’n Leviet by die plek gekom en hom gesien en anderkant verbygegaan. Maar ’n sekere Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy innig jammer gevoel.”

Talle priesters en hulle Levitiese tempelassistente woon in Jerigo, ’n afstand van 23 kilometer op ’n gevaarlike pad wat 900 meter daal van waar hulle by die tempel in Jerusalem dien. Dit is te verwagte dat die priester en die Leviet ’n mede-Jood wat in die nood verkeer, sal help. Maar hulle doen dit nie. ’n Samaritaan help hom eerder. Die Jode haat Samaritane soveel dat hulle Jesus onlangs kwaai beledig het deur hom “’n Samaritaan” te noem.

Wat doen die Samaritaan om die Jood te help? “[Hy het] na hom gegaan”, sê Jesus, “sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom toe op sy eie pakdier gehelp en hom na ’n herberg geneem en vir hom gesorg. En toe hy die volgende môre weggaan, haal hy twee pennings [ongeveer twee dae se loon] uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê vir hom: Sorg vir hom, en enige onkoste wat jy nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom.”

Nadat Jesus die verhaal vertel het, vra hy die wetgeleerde: “Wie dan van hierdie drie, dink jy, was die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”

Die wetgeleerde wat ongemaklik voel om enige deug aan ’n Samaritaan toe te skryf, antwoord eenvoudig: “Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het.”

“Gaan en doen jy net so”, sluit Jesus af.

As Jesus reguit vir die wetgeleerde gesê het dat nie-Jode ook sy naaste is, sou die man dit nie alleen nie aanvaar het nie, maar sou die meeste van die gehoor waarskynlik vir hom party gekies het in die bespreking met Jesus. Hierdie lewensgetroue verhaal het dit egter op ’n onomstootlike wyse duidelik gemaak dat ons naaste ook mense insluit wat nie van ons eie ras en nasie is nie. Wat ’n wonderlike onderrigtingsmetode het Jesus tog! Lukas 10:25-37; Handelinge 10:28; Johannes 4:9; 8:48.

◆ Watter vrae het die wetgeleerde aan Jesus gestel, en wat was blykbaar sy doel met die vrae?

◆ Wie was volgens die Jode hulle naaste, en watter rede is daar om te glo dat selfs die dissipels hierdie beskouing gehuldig het?

◆ Hoe het Jesus die regte beskouing tuisgebring sodat die wetgeleerde dit nie kon weerlê nie?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel