Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 7/1 bl. 30-31
  • ’n Samaritaan betoon naasteliefde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Samaritaan betoon naasteliefde
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Barmhartige Samaritaan
  • ’n Les vir ons
  • Wat beteken dit om ’n “Goeie Samaritaan” te wees?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • ’n Barmhartige Samaritaan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • ’n Barmhartige Samaritaan
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • ’n Goeie Samaritaan
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 7/1 bl. 30-31

Hulle het Jehovah se wil gedoen

’n Samaritaan betoon naasteliefde

IN JESUS se dag was daar ’n duidelike vyandigheid tussen Jode en nie-Jode. Mettertyd is daar in die Joodse Misjna selfs ’n wet ingesluit wat Israelitiese vroue verbied het om ’n nie-Joodse vrou by te staan wanneer sy geboorte skenk, aangesien dit net sou help om nog ’n heiden in die wêreld in te bring.—Aboda Zara 2:1.

Die Samaritane was nouer verwant aan die Jode as die nie-Jode, wat godsdiens asook ras betref. Tog is hulle ook as uitgeworpenes beskou. “Jode het niks met Samaritane te doen nie”, het die apostel Johannes geskryf (Johannes 4:9). Trouens, die Talmoed het geleer dat “’n stukkie brood wat deur ’n Samaritaan gegee word onreiner as varkvleis is”. Party Jode het selfs die term “Samaritaan” as ’n uiting van minagting en skande gebruik.— Johannes 8:48.

In die lig van hierdie situasie is Jesus se woorde aan ’n man wat vertroud was met die Joodse wet baie insiggewend. Die man het Jesus genader en gevra: “Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?” In antwoord hierop het Jesus sy aandag gevestig op die Mosaïese Wet, wat ’n mens beveel om ‘Jehovah met jou hele hart, siel, krag en verstand lief te hê’ en om ‘jou naaste soos jouself lief te hê’. Die regsgeleerde het Jesus toe gevra: “Wie is dan my naaste?” (Lukas 10:25-29; Levitikus 19:18; Deuteronomium 6:5). Volgens die Fariseërs was die term “naaste” net van toepassing op diegene wat die Joodse tradisies gevolg het—beslis nie op nie-Jode of Samaritane nie. As hierdie leergierige regsgeleerde gedink het dat Jesus daardie beskouing sou ondersteun, het daar ’n verrassing op hom gewag.

’n Barmhartige Samaritaan

Jesus het die man se vraag beantwoord deur ’n gelykenis te vertel.a “’n Sekere man”, het hy gesê, “het van Jerusalem na Jerigo afgegaan.” Die afstand tussen Jerusalem en Jerigo was ongeveer 23 kilometer. Die pad wat hierdie twee stede verbind het, het skerp draaie en rotse gehad wat uitsteek, wat dit maklik gemaak het vir diewe om weg te kruip, aan te val en te ontsnap. Die reisiger in Jesus se gelykenis het “in die hande van rowers geval, wat hom uitgetrek sowel as slae toegedien het, en hulle het weggegaan en hom halfdood agtergelaat”.—Lukas 10:30.

“Per toeval”, het Jesus verder gegaan, “het ’n sekere priester met daardie pad afgegaan, maar toe hy hom sien, het hy aan die oorkant verbygegaan. Net so het ook ’n Leviet, toe hy tot by die plek afgekom het en hom sien, aan die oorkant verbygegaan” (Lukas 10:31, 32). Die priesters en die Leviete was leermeesters van die Wet—waaronder die wet van naasteliefde (Levitikus 10:8-11; Deuteronomium 33:1, 10). Van alle mense moes hulle immers gedronge gevoel het om die beseerde reisiger te help.

Jesus het voortgegaan: “’n Sekere Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom.” Deur van ’n Samaritaan melding te maak, is die regsgeleerde se nuuskierigheid ongetwyfeld verder geprikkel. Sou Jesus die negatiewe beskouing van hierdie ras steun? Inteendeel, toe die Samaritaan die ongelukkige reisiger sien, “is hy deur medelye ontroer”. Jesus het gesê: “Hy het dus na hom toe gegaan en sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Toe het hy hom op sy eie dier getel en hom na ’n herberg gebring en vir hom gesorg.b En die volgende dag het hy twee denarii uitgehaal, dit vir die herbergier gegee en gesê: ‘Sorg vir hom, en wat jy ook al meer as dit uitgee, sal ek jou vergoed wanneer ek hierheen terugkom.’”—Lukas 10:33-35.

Jesus het nou vir die man wat hom die vrae gestel het, gevra: “Wie van hierdie drie, lyk dit vir jou, het hom die naaste gemaak van die man wat in die hande van die rowers geval het?” Die regsgeleerde het geweet wat die antwoord is, maar hy was blykbaar huiwerig om “die Samaritaan” te sê. Pleks daarvan het hy eenvoudig geantwoord: “Die een wat barmhartig teenoor hom opgetree het.” Jesus het toe gesê: “Gaan heen en doen jy net so.”—Lukas 10:36, 37.

’n Les vir ons

Die man deur wie Jesus uitgevra is, het dit gedoen om te “bewys dat hy regverdig is” (Lukas 10:29). Miskien het hy gedink dat Jesus sy nougesette onderhouding van die Mosaïese Wet sou prys. Maar hierdie aanmatigende man moes die waarheid van die Bybelspreuk leer: “Elke weg van ’n mens is reg in sy oë, maar die HERE toets die harte.”—Spreuke 21:2.

Jesus se gelykenis toon dat ’n mens wat waarlik opreg is nie alleen God se wette gehoorsaam nie, maar ook sy eienskappe navolg (Efesiërs 5:1). Die Bybel sê byvoorbeeld vir ons dat “God nie partydig is nie” (Handelinge 10:34). Volg ons God in hierdie verband na? Jesus se roerende gelykenis toon dat ons naasteliefde oor nasionale, kulturele en godsdiensgrense heen moet reik. Christene word in werklikheid beveel om ‘goed te doen aan almal’—nie net aan mense van dieselfde sosiale stand, ras of nasie nie en nie net aan medegelowiges nie.—Galasiërs 6:10.

Jehovah se Getuies probeer hierdie skriftuurlike vermaning volg. Wanneer natuurrampe plaasvind, voorsien hulle byvoorbeeld humanitêre hulp aan medeaanbidders sowel as aan ander wat nie Getuies is nie.c Daarbenewens bestee hulle gesamentlik meer as ’n miljard uur elke jaar om mense te help om hulle kennis van die Bybel te vergroot. Hulle probeer om almal met die Koninkryksboodskap te bereik, want dit is God se wil dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom”.—1 Timoteus 2:4; Handelinge 10:35.

[Voetnote]

a ’n Gelykenis is ’n kort, gewoonlik denkbeeldige verhaal waaruit ’n sedelike of geestelike waarheid geleer word.

b Party herberge in Jesus se dag het blykbaar nie alleen verblyf verskaf nie, maar ook voedsel en ander dienste. Dit is moontlik die soort geriewe wat Jesus in gedagte gehad het, want die Griekse woord wat hier gebruik word, verskil van die een wat in Lukas 2:7 as “verblyfvertrek” vertaal word.

c Sien Die Wagtoring van 1 Desember 1996, bladsye 3-8, en 15 Januarie 1998, bladsye 3-7, vir voorbeelde.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel