Godsdiensbeelde—Hoe beskou jy hulle?
IN 1888 was daar geweldige oorstromings in Kanton, China. Aanhoudende reën het die gesaaides verwoes. Die boere het radeloos tot hulle god Loeng-wong gebid om die stortreën te laat ophou, maar dit was tevergeefs. Gebelg oor die onverskilligheid van hulle godheid het hulle sy beeld vyf dae lank opgesluit! ’n Paar jaar tevore het dieselfde god hulle gebede om ’n einde aan ’n droogte te maak, geïgnoreer. Hulle het sy beeld buite in die versengende hitte vasgeketting.
In 1893 het ’n droogte Sicilië getref. Al die godsdiensoptogte, kerse wat in die kerke opgesteek is en gebede tot beelde kon dit nie laat reën nie. Die boere het hulle geduld verloor en party beelde se klere uitgetrek, ander se gesigte na die muur gedraai en party selfs in perdedamme gegooi! In Licata is “Sint” Angelo uitgetrek, vasgeketting, uitgeskel en met die galg gedreig. In Palermo, Italië, is “Sint” Josef in ’n verskroeide tuin neergegooi om op die reën te wag.
Hierdie voorvalle wat in sir James George Frazer se boek The Golden Bough verhaal word, het ontstellende implikasies. Hulle toon dat beide beweerde Christene en nie-Christene blykbaar identiese beskouings van godsdiensbeelde het. In albei gevalle het aanbidders hulle beelde gebruik as ’n middel om met ’n “heilige” of ’n god in aanraking te kom. En dit is interessant dat albei hulle trae “heiliges” of gode tot optrede probeer aanspoor het deur hulle die ongerief wat hulle aanbidders ondervind het te laat deurmaak!
Maar vandag sal talle wat godsdiensbeelde gebruik sulke dade as verregaande of selfs lagwekkend beskou. Hulle voer moontlik aan dat beelde vir hulle bloot voorwerpe van respek is—nie van aanbidding nie. Hulle beweer dalk selfs dat beelde, kruise en gewyde portrette geoorloofde hulpmiddels is om God te aanbid. Moontlik beskou jy dit ook so. Maar die vraag is: Hoe beskou God dit? Kom die verering van ’n beeld nie dalk daarop neer dat dit aanbid word nie? Is dit moontlik dat sulke gebruike in werklikheid verborge gevare inhou?