Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 10/1 bl. 20-25
  • Ons lonende lewe as sendelinge in Afrika

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons lonende lewe as sendelinge in Afrika
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Amerikaanse plaaswerker leer die waarheid
  • Ons streef sendingdiens as doelwit na
  • Van Gilead na Afrika
  • ’n Lonende lewe in die veld
  • Ons verhuis na die dak van Afrika
  • Sendelinge bevorder wêreldwye uitbreiding
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Versterk deur ons wêreldwye broederskap
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die boeiende rotsgraverings van Val Camonica
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 10/1 bl. 20-25

Ons lonende lewe as sendelinge in Afrika

Soos vertel deur John Miles

DIE toneel is ’n wildreservaat in noordwestelike Zimbabwe. Ek en my vrou, Val, is op pad na die bekende Victoria-waterval. Nee, ons is nie toeriste nie. Ons is sendelinge en is hierheen gestuur om onder die Swart inwoners te werk. Toe ons om ’n draai kom, staan daar ’n groot olifant langs die pad. Ek hou stil en leun by die venster uit om ’n foto te neem. Ek is net van plan om nog een te neem, toe Val uitroep:

“Hy storm op ons af!”

Ek skakel vinnig die enjin aan, maar dit gaan staan. Wat ’n penarie! Die olifant kom tot stilstand en lig sy pote op om ons te vertrap. Die motor vat net betyds, en ons swenk in die bosse in. Gelukkig is daar geen groot klippe of home om ons in ons vlug te stuit nie. Ons besluit om mnr. Olifant deurgangsreg te gee en ry verder met ’n ander pad.

’n Ander toneel. Hierdie keer is ons in die bergkoninkryk Lesotho, Suidelike Afrika. Dit is Sondagmiddag in die hoofstad, Maseru. Ons is op pad huis toe nadat ons ’n Christenvergadering saam met plaaslike medegelowiges geniet het. Skielik word ons deur twee jong rowers aangeval. Een slaan my met die vuis en die ander spring op my rug. Ek skud hom af, en hy val Val aan en gryp haar sak. Val roep hardop uit: “Jehovah! Jehovah! Jehovah!” Die man los onmiddellik haar sak en retireer met ’n verbysterde uitdrukking. Die een wat my met die vuis slaan, retireer ook terwyl hy met sy vuiste in die lug slaan. Ons haas ons verder en is baie verlig om medegelowiges by die bushalte raak te loop.—Spreuke 18:10.

Elk van die bogemelde voorvalle het net ’n paar minute geduur, maar hulle is van die talle onvergeetlike herinneringe van ons afgelope 32 jaar as sendelinge in Afrika. Hoe het ons hier gekom? Waarom het ons sendelinge geword? Was dit ’n lonende lewe?

’n Amerikaanse plaaswerker leer die waarheid

Dit het alles in 1939 begin toe ek Val Jensen in Yakima, Washington, VSA, ontmoet het. Destyds het ek op ’n plaas gewerk waar Val ’n huishoudster was. Sy het dikwels met my oor die Bybel gesels. Een ding wat my beïndruk het, was haar verduideliking dat die hel nie ’n warm plek is nie (Prediker 9:5, 10; Handelinge 2:31; Openbaring 20:13, 14). Hoewel ek nie kerk toe gegaan het nie, het ek geweet wat die geestelikes oor die hel leer, en wat Val my in die Bybel gewys het, het redeliker geklink.

Val se vader en moeder het in 1932 getuies van Jehovah geword. Val het ook die Bybel begin bestudeer, en sy is in September 1935 gedoop. Nadat ons mekaar beter leer ken het, het Val my genooi om vergaderinge by die Koninkryksaal by te woon. Ek het die uitnodiging aanvaar en het die omgang met die mense wat ek daar ontmoet het, geniet, dit wil sê, wanneer ek tyd van die boerdery kon afknyp om te gaan. Die plaaslewe het steeds eerste in my lewe gekom. Ek het egter geleidelik begin om die vergaderinge in ’n ernstiger lig te beskou, en die plaaslike Getuies het my genooi om aan die predikingswerk van huis tot huis deel te neem. Dit het vir my soos die allergrootste toets gelyk om dit in my tuisdorp te doen. Maar ek het die toets geslaag.

Twee onvergeetlike dinge het in 1941 gebeur. Ek is in Maart as ’n toegewyde getuie van Jehovah gedoop, en later het ek en Val in die huwelik getree. Toe, in Oktober 1942, het ons die voltydse predikingswerk betree as pioniers in die suidooste van Noord-Dakota.

Ons sal nooit vergeet wat die daaropvolgende jaar gebeur het nie. Dit was ’n mylpaal in die geskiedenis van Jehovah se Getuies. Op 1 Februarie 1943 het sendingopleiding begin vir die eerste klas van wat destyds die Wagtoring-Bybelkollege Gilead genoem is. Twee maande later het ons die “Oproep tot Aksie”-byeenkoms in Aberdeen, Suid-Dakota, bygewoon. Die seëninge van sendingdiens in vreemde lande is beskryf, en die begeerte om Gilead by te woon en sendelinge te word het in ons harte posgevat.

Ons streef sendingdiens as doelwit na

Daar sou nege jaar verloop voordat ons ons doelwit bereik. Gedurende daardie tyd het ons ander puik diensvoorregte geniet, en ook ’n paar terugslae gehad. Na pionierdiens van anderhalf jaar in Noord-Dakota het ons ’n pioniergebied in Missouri aangevra. Dit is goedgekeur, en ons het ons in die stad Rolla gevestig. Ons gebied het die hele Phelps-distrik ingesluit, waar daar net een bedrywige Getuie was. Ons het drie genotvolle jare daar deurgebring en het gehelp met die stigting van ’n gemeente.

Toe het ons voor ’n probleem te staan gekom wat ’n demper geplaas het op ons hoop om sendelinge te word. Ons geld was op. Swak bestuur van ons geldsake en ’n gebrek aan geloof dat Jehovah vir ons sal sorg, het ons ons pionierdiens laat staak. Ons was van voorneme dat dit net vir ’n paar maande sou wees, maar anderhalf jaar het verloop voordat ons weer met die pionierdiens begin het. Hierdie keer was ons vasbeslote om nie ons vorige foute te herhaal nie. Ons nuwe toewysing was in ’n gemeente in die dorp Reardan in die oostelike deel van die staat Washington. Dit was moeilik om deeltydse werk te kry, en ons moes dus grootliks op Jehovah vertrou om in ons daaglikse behoeftes te voorsien.—Mattheüs 6:11, 33.

Ons gebied het ’n paar dorpies in die omgewing ingesluit. Eendag moes ons 130 kilometer heen en weer reis om mense met die Koninkryksboodskap te besoek. Ons het nie genoeg petrol gehad nie, maar het nie toegelaat dat dit ons keer nie. Ons het op pad uit die dorp uit by die poskantoor stilgehou, en wat dink jy het ons gevind? Daar was ’n brief vir ons van my neef wat onlangs begin het om die Bybel met die Getuies te bestudeer. Daarin was ’n tjek vir genoeg geld om ons tenk vol te maak, en daar was nog ’n bietjie oor. “Ons wou hierdie geld aan Boys Town skenk”, het hulle geskryf, “maar het besluit dat julle dit nodiger het as ‘vader Flanagan’.” Hoe reg was hulle tog!

Sulke ondervindinge het bewys hoe betroubaar Jesus se belofte is: “Soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge [materiële lewensbehoeftes] sal vir julle bygevoeg word” (Lukas 12:31). Dit was waardevolle opleiding wat ons sou help om ondanks ander probleme te volhard.

Een winter het ons net ’n bietjie steenkool gehad. Sou ons toelaat dat die situasie ons laat afsien van ons vaste voorneme om met die pionierdiens vol te hou? Ons het Jehovah in gebed genader oor die saak en gaan slaap. Om sesuur die volgende oggend was daar ’n klop aan ons deur! Dit was ’n broer en sy vrou wat, met hulle terugkeer van ’n besoek aan familie, besluit het om vir ons te kom kuier. Ons het die vuur aangepor, die laaste stukkie steenkool opgesit en ’n kan koffie gemaak. Terwyl ons lekker gesels het, het die broer skielik gevra: “Hoeveel steenkool het julle nog?” Ek en Val het na mekaar gekyk en begin lag. Steenkool was die een ding wat ons onmiddellik nodig gehad het. Hulle het ons tien dollar gegee, waarmee ons in daardie dae ten minste ’n halwe ton steenkool kon koop.a

By ’n ander geleentheid het ’n kringbyeenkoms voor die deur gestaan, en ons het net vyf dollar gehad. Dit was ook, onmiddellik na die byeenkoms, weer tyd dat ons ons motorlisensie hernieu. Ons het besluit om die belangrike dinge eerste te stel en het die byeenkoms bygewoon. Danksy die vrygewigheid van die broers het ons met $15 by die huis aangekom. Die lisensie het $14.50 gekos!

Ons het ons pionierdiens in oostelike Washington geniet, en ’n aantal gesinne met wie ons Bybelstudies gehou het, het uiteindelik lojale getuies van Jehovah geword. Na twee jaar in daardie toewysing het ek egter ’n brief van die Wagtoringgenootskap ontvang wat gesê het dat ek aanbeveel is om as ’n reisende bedienaar te dien, dit wil sê, iemand wat gemeentes van Jehovah se Getuies in ’n kring besoek en aanmoedig. “Sal jy hierdie toewysing aanvaar as jy aangestel word?” het die Genootskap gevra en bygevoeg: “Laat ons asseblief onmiddellik weet.” Dit is onnodig om te sê dat my antwoord ja was. Ons het in Januarie 1951 begin en het anderhalf jaar in ’n uitgestrekte kring deurgebring wat die westelike helfte van Noord-Dakota en die oostelike helfte van Montana gedek het.

Gedurende hierdie tydperk het ons nog ’n verrassing gekry—’n uitnodiging om die 19de klas van Gilead by te woon! Sou ons begeerte uiteindelik verwesenlik word? Helaas, ’n ander brief het gevolg wat ons meegedeel het dat die klas reeds met broers van ander lande gevul is. Dit was ’n teleurstelling, maar ons is nie vergeet nie! ’n Paar maande later het ons ’n uitnodiging ontvang na die 20ste klas, waarin ons in September 1952 opgeneem is.

Van Gilead na Afrika

Hoe het ons tog Jehovah se goedheid waardeer dat hy ons byeengebring het met meer as honderd studente uit talle dele van die aarde—Australië, Nieu-Seeland, Indië, Thailand, die Filippyne, Skandinawië, Engeland, Egipte en Sentraal-Europa! Dit het ons gehelp om te besef in watter mate Jehovah die Koninkryksboodskap laat verkondig.—Mattheüs 24:14.

Die tyd by Gilead het vinnig verbygaan, en ons het in Februarie 1953 gegradueer. Ons is saam met vier ander na Noord-Rhodesië (nou Zambië) in Afrika toegewys. Die Genootskap het egter vriendelik toegelaat dat ons in die Verenigde State aanbly vir die internasionale byeenkoms wat later daardie jaar in Julie by Yankee-stadion gehou sou word. Tydens die maande voor die byeenkoms en ’n rukkie daarna het ek as kringopsiener in oostelike Oklahoma gedien.

In November 1953 het ek, Val en ses ander sendelinge ons reis na Afrika aan boord van ’n vragskip begin. Ons skip het in Durban gedok, en ons het per trein noordwaarts na Suid-Rhodesië (nou Zimbabwe) gereis. Hier het twee ons verlaat om in hul toewysings in Salisbury (nou Harare) te begin, terwyl die res van ons verder gegaan het na Kitwe, Noord-Rhodesië.

Ek en Val is na die myndorp Mufulira gestuur, waar daar ’n paar belangstellende gesinne was, maar geen gemeente nie. Jehovah het ons predikingswerk van huis tot huis geseën. Ons het talle Bybelstudies begin, en ’n aantal belangstellendes het spoedig Christenvergaderinge begin bywoon. Na ’n paar maande is ons gevra om poste by die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Luanshya te vul. Later het ons ’n ander toewysing gekry, naamlik om as sendelinge in Lusaka te dien. Terwyl ons daar was, het ek van tyd tot tyd as kringopsiener van die paar Engelssprekende gemeentes gedien.

’n Lonende lewe in die veld

Toe, in 1960, is ons na Suid-Rhodesië gestuur, waar ek toegewys is om as ’n streekopsiener onder die Swart broers te dien. Dit het onder andere behels dat ek gemeentes besoek en by kring- en streekbyeenkomste toesig hou. Die meeste van hierdie gemeentes was op die platteland, en ons moes dus leer om in die veld te lewe. Ons het gemeen dat as ons broers in die veld kon lewe ons dit ook kon doen.

Die takkantoor van die Wagtoringgenootskap het ons voorsien van ’n 1,5-ton bakkie. Op die bak was daar ’n plaatmetaalkap met dubbele deure, om oplaaiwerk te vergemaklik. Die vensters tussen die kap en die kajuit was net groot genoeg om deur te klim, en plastiekgordyntjies het daarvoor gehang. Ons meubels het uit ’n ingeboude bed met ’n skuimrubbermatras bestaan. Ons het kassies en ’n paraffienpompstofie gehad. Ons het ook ’n draagbare klerekas en tent gehad.

Nie lank nadat ons in ons toewysing in die westelike deel van die land begin het nie, is ek deur die een of ander onbekende insek gebyt. Dit het my been laat opswel, en ek het ’n hoë koors gekry. Om sake te vererger, het die weer versleg en het dit swaar begin reën. Ek het soveel gesweet dat die bed kort-kort skoon oorgetrek moes word. Omstreeks middernag het Val besluit dat ek ’n dokter moet sien. Sy het na die hoofpad gery, maar die voertuig het in die modder vasgeval. Die enigste uitwerking van Val se pogings om dit vorentoe of agtertoe te beweeg, was om my goed rond te skud. Toe sy daarvan oortuig was dat sy niks meer kon doen nie, het sy haar in die laaste droë kombers toegedraai en by my in die bakkie kom sit terwyl dit steeds gegiet het.

Die volgende oggend het dit beter gegaan. Ek het beter gevoel, die reën het opgehou, en die broers wat opgedaag het om voorbereidsels vir die byeenkoms te tref, het ons voertuig uit die modder gestoot. In Bulawayo het ander goedhartige broers my na die hospitaal geneem, en na behandeling kon ek teruggaan en met die byeenkomsreëlings voortgaan.

Dit was gedurende hierdie tydperk, terwyl ons van gemeente na gemeente gereis het, dat ons die olifant teëgekom het. Ons het ook talle kleiner diertjies teëgekom. Behalwe vlieë en muskiete, was sommige van ons tentbesoekers knipmiere. Hulle kan in ’n baie kort tydjie gate maak in enige klere of materiaal wat op die grond gelaat is. Die verskillende soorte akkedisse en jagspinnekoppe wat ons besoek het, was skadeloos, maar ons het gou van die kobra wat ingekom het ontslae geraak. En die skerpioene was ook onwelkom. Val sê dat dit voel asof ’n vuurwarm spyker met ’n smidshamer in jou ingeslaan word as hulle jou steek. Sy behoort te weet. Sy is vier keer gesteek!

Miskien laat hierdie dinge die veldlewe allesbehalwe lonend klink, maar ons het dit nie so beskou nie. Vir ons was dit ’n bedrywige, gesonde lewe in die buitelug, en die geestelike seëninge het enige liggaamlike ongerief ver oortref.

Dit was altyd geloofversterkend om te sien hoeveel moeite plattelandse broers doen om vergaderinge by te woon. Een gemeente het uit twee groepe bestaan wat 23 kilometer uit mekaar gewoon het met slegs ’n voetpaadjie wat hulle verbind het. Hulle “Koninkryksaal”, wat halfpad tussen die groepe was, was ’n groot boom om skaduwee te verskaf en klippe wat as sitplekke gedien het. Broers van elke groep het twee keer per week 11,5 kilometer geloop om hulle vergaderinge by te woon. Ons onthou nog die bejaarde egpaar wat met hulle tasse en komberse 120 kilometer geloop het om ’n kringbyeenkoms by te woon. Dit is net twee voorbeelde van hoe Swart broers die vermaning waardeer om ‘nie hulle onderlinge byeenkoms te versuim nie’.—Hebreërs 10:25.

In sommige gebiede het die plaaslike inwoners ons motief begin wantrou, en sommige was selfs gekant daarteen dat ons in hulle omgewing bly. By een geleentheid het ek ons tent naby die byeenkomsterrein opgeslaan op ’n plek wat deur hoë gras omring is. Na afloop van die byeenkomssessie en nadat ons etlike ure reeds in die bed was, het ’n geraas buite my wakker gemaak. Ek het my flitslig gebruik en kon iemand agter ’n boompie sien staan.

“Wat wil jy hê?” het ek uitgeroep. “Waarom kruip jy agter daardie boom weg?”

“Sjuut, broer”, het die antwoord gekom, “ons het party mense hoor sê dat hulle die gras aan die brand gaan steek. Ons het dus gerëel om julle gedurende die nag op te pas.”

Hulle het ons nie vroeër van die gevaar vertel nie sodat hulle nie ons slaap sou versteur nie. Maar hulle was bereid om hulle slaap prys te gee om ons op te pas! Toe die byeenkoms Sondagmiddag klaar was, het hulle gereël dat een motor voor ons en een agter ons ry totdat ons uit die gevaargebied is.

Dit was ook lonend om te sien hoeveel waarde hierdie nederige mense aan die Bybel heg. Een gemeente waar ons gedien het, was in ’n gebied waar statbewoners grondboontjies gekweek het: Gedurende die week het ons lektuur en Bybels vir kartonne ongedopte grondboontjies verruil. Aan die einde van ons besoek het ons ons toerusting, lektuur en grondboontjies opgelaai en na die volgende byeenkomsplek vertrek. Kort nadat ons die gebied verlaat het, is ons gevra om stil te hou omdat iemand ons probeer inhaal het. Ons het stilgehou en gewag. Dit was ’n baie ou dame wat ’n karton grondboontjies op haar kop gedra het. Teen die tyd dat sy ons bereik het, was sy so uitgeput dat sy op die grond geval het en daar moes lê totdat sy haar asem kon terugkry. Ja, sy wou ’n Bybel hê! Ons moes feitlik alles uitpak, maar dit was ’n plesier om aan haar wens te voldoen. Nog ’n Bybel in liefdevolle hande—en nog ’n karton grondboontjies in ons bakkie!

Dit was ook wonderlik om te sien hoe Jehovah kringopsieners verwek het om die talle gemeentes in Afrika se bosgebiede te besoek. Destyds was dit moeilik vir die Genootskap om bekwame broers te vind wat nie gesinsverpligtinge het nie. Dit was dus nie ongewoon vir ’n reisende opsiener om met sy vrou en twee of drie kinders, tasse, komberse en lektuur per bus of per fiets van gemeente na gemeente te reis nie. Hierdie broers en hulle gesinne het werklik hard gewerk om die gemeentes te dien en het nooit gekla nie. Dit was ’n groot voorreg om saam met hulle te dien.

In die sewentigerjare het burgeroorlog probleme vir die broers begin veroorsaak, en talle van hulle het weens die neutraliteitsgeskil voor ernstige toetse van lojaliteit te staan gekom (Johannes 15:19). Die Genootskap het dit goedgedink om my toewysing te verander ten einde die situasie vir die broers nie onnodig te bemoeilik nie. Ek is dus in 1972 gevra om by die takkantoor in Salisbury te dien. Dit het my die geleentheid gebied om te help met die bou van ’n nuwe takkantoor. Ek is later as kringopsiener vir die wydverspreide Engelssprekende gemeentes aangestel. Dit het beteken dat ek oor die hele Zimbabwe heen gereis het. In sommige gebiede was die situasie so gevaarlik dat ons in staatsgereëlde konvooie moes ry onder beskerming van lugmagvliegtuie en -helikopters.

Ons verhuis na die dak van Afrika

Toe het ’n ander groot toewysingverandering gekom. Ons moes in Maseru, die hoofstad van Lesotho, gaan dien. Dit is ’n bergagtige land, wat soms die dak van Afrika genoem word, en daar is talle plekke met mooi natuurtonele.

Hoewel ons die natuurskoon waardeer en geniet, was dit nie die doel waarom ons hierheen gekom het nie. Ons is hier om te help om “die skatte” te vind waarvan Haggai 2:7 praat. Dit is ’n klein landjie met ’n bevolking van slegs anderhalf miljoen. Toe ons in 1979 hier aangekom het, het gemiddeld 571 Getuies elke maand aan die verkondiging van die “evangelie van die koninkryk” deelgeneem (Mattheüs 24:14). Die gemeente in Maseru het so gegroei dat dit in twee verdeel moes word. Heel onlangs, in April 1988, was ons verheug toe ’n hoogtepunt van 1 078 Koninkryksverkondigers bereik is.

Intussen vorder die werk steeds in ons vorige sendingtoewysings, naamlik Zambië en Zimbabwe. Toe ons ongeveer 35 jaar gelede in Afrika aangekom het, was daar altesaam 36 836 Koninkryksverkondigers in hierdie twee lande. Vandag is die syfer 82 229. Die voorreg om ’n geringe aandeel in hierdie vermeerderings te hê was vir ons ’n wonderlike beloning.

“Smaak en sien dat die HERE goed is”, het die psalmis Dawid geskryf (Psalm 34:9). Wat ons in sendingdiens ‘gesmaak’ het, het ons oortuig van die waarheid van hierdie woorde. Trouens, reeds sedert 1942, toe ons saam die voltydse diens betree het, is ons lewens gevul met seëninge terwyl ons Jehovah se oorvloedige goedheid ervaar het. Daar is nog baie werk om te doen. Hoe dankbaar is ons tog teenoor Jehovah dat ons steeds ’n mate van krag en gesondheid het wat ons in sy diens kan gebruik!

[Voetnoot]

a $1 is tans gelyk aan R2,30.

[Prent op bladsy 24]

John Miles met sy vrou, Val

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel