Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g02 4/22 bl. 26-27
  • Die boeiende rotsgraverings van Val Camonica

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die boeiende rotsgraverings van Val Camonica
  • Ontwaak!—2002
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Camuniane
  • Inspirasie vanuit die berge
  • Graverings as ’n vorm van gebed
  • Inhoudsopgawe
    Ontwaak!—2002
  • Ons lonende lewe as sendelinge in Afrika
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Die Kersboom se voor-Christelike oorsprong
    Ontwaak!—2011
  • 3 God is wraaksugtig—Is dit waar?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Ontwaak!—2002
g02 4/22 bl. 26-27

Die boeiende rotsgraverings van Val Camonica

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ITALIË

MILLENNIUMS lank lewer hulle ’n stilswyende getuienis van ’n antieke lewenswyse. Hulle is gestileerde figure in rots gegraveer wat jag, die landbou, oorlog en aanbidding uitbeeld. In skilderagtige Val Camonica in die Alpe van Noord-Italië versier honderdduisende van hierdie figure die rotsagtige landskap.

Vandag kan besoekers aan Val Camonica nog steeds, in die sagte strale van die vroegoggendson, die graverings duidelik sien. Maar wie het hulle gedoen, en waarom?

Die Camuniane

Hierdie pragtige vallei is na sy eertydse inwoners vernoem—die Camuniane. Hulle maak vir die eerste keer hulle verskyning in die geskiedenis in die jaar 16 v.G.J., toe hulle deur die Romeine verower is en hulle onafhanklikheid verloor het. Maar daar is baie eeue voor die aankoms van die Romeinse leërs met die graverings van Val Camonica begin.

Wat meer is, ’n ontleding van wat hierdie graverings voorstel—wapens, gereedskap, huisdiere, kaarte van dorpies—laat deskundiges tot die gevolgtrekking kom dat die kunstenaars aan ’n bevolking met ’n gevorderde ekonomie behoort het. Hulle het blykbaar ’n menigte bedrywe beoefen, insluitende metaalbewerking, tekstielvervaardiging, landbou, veeboerdery asook handeldrywery.

Die oorgrote meerderheid van die graverings is gedurende die eerste millennium v.G.J. gedoen, hoewel baie aansienlik ouer is. Dit wil voorkom asof die Camuniane hulle kulturele hoogtepunt tussen 1000 en 800 v.G.J. bereik het. Duisende ontwerpe van hierdie tydperk beeld besonderhede van hulle lewenswyse uit. Party is van mense wat aan mekaar vasgebind is en perderuiters wat met spiese gewapen is, wat op gevangenes dui. Daar is ook uitbeeldings van smede, werkperde en waens sowel as geboue wat deur pilare ondersteun word.

Inspirasie vanuit die berge

Geleerdes beskryf die skeppers van hierdie uitbeeldings as ‘kunstenaar-priesters’, manne wat deur godsdienstige of mistieke invloede gedryf is. Hulle het hulle dalk in stil plekke afgesonder, weg van die bewoonde gebiede, sodat hulle kon peins. In hierdie opsig is die Camuniane moontlik veral geïnspireer deur ten minste twee uitsonderlike natuurverskynsels wat elke jaar ’n paar dae lank hier plaasvind.

In die lente en die herfs kom die son agter die berg Pizzo Badile op, ’n majestueuse spits wat oor die vallei uitkyk. Op sekere dae, voordat die son heeltemal opgekom het, skyn sonlig van agter die berg en veroorsaak dit ’n enorme skaduwee wat omring word deur helder strale wat in ’n melkerige hemel opskiet. Hierdie treffende skouspel staan nog steeds as die “gees van die berg” bekend. En wanneer die son agter ’n nou skeur in die berg Concarena aan die ander kant van die vallei ondergaan, skyn ’n indrukwekkende ligstraal, wat lyk of dit die berg in twee kloof, net ’n paar minute lank in die skemer voor dit stadig verdwyn. Blykbaar het hierdie verskynsels, wat destyds onverklaarbaar was, in die oë van die vallei se eertydse bewoners bonatuurlike eienskappe aan die plek gegee.

Talryke graverings word aan die voet van die berg Pizzo Badile en in die onmiddellike omtrek gevind. Die graverings is met klip-, horing-, been- en ivoorinstrumente gedoen. Partykeer het die kunstenaar ’n omtrekskets met ’n skerp instrument gemaak. Die graverings wissel in diepte van merke wat net op die oppervlak gekrap is tot groewe wat meer as drie sentimeter diep is. Daar is bewyse dat die kunstenaars ook verskillende kleure verf gebruik het, hoewel dit nie meer moontlik is om hierdie kleure met die blote oog te sien nie.

Graverings as ’n vorm van gebed

Die Camuniane was moontlik sonaanbidders. Dit sal een van die temas van die graverings verklaar wat herhaaldelik voorkom—’n figuur wat met opgehefde arms voor ’n ronde voorwerp bid, moontlik ’n simbool van die son. Hoewel argeoloog Ausilio Priuli die “kultus van die songod” as die vernaamste kultus identifiseer, noem hy ook “ondergeskikte kultusse”. Hy sê: “Optogte, versoeningsdanse, offerandes, rituele gevegte en gemeenskaplike gebede was die algemeenste godsdienstige dade wat die meeste afgebeeld is. Gravering was opsig self ’n vorm van gebed.” Maar gebede vir wat?

Volgens Emmanuel Anati, ’n kenner op die gebied van prehistoriese rotskuns, is gravering “beskou as deel van die bedrywighede wat noodsaaklik was om die ekonomiese en maatskaplike welvaart van die groep en vriendelike naasbestaan met okkultemagte te verseker”. Die Camuniane het blykbaar gehoop om die produktiwiteit van die landerye te verbeter deur ploegwerk uit te beeld, om die vrugbaarheid van die weivelde te vermeerder deur veeboerdery uit te beeld, om die oorhand oor hulle vyande te verkry deur oorlog uit te beeld, ensovoorts.

Val Camonica is ’n Wêrelderfenisgebied, wat deur die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur beskerm word. Interessant genoeg, gegraveerde en geverfde rotse bestaan in ten minste 120 lande—in Afrika, Asië, Australië, Europa, Noord- en Suid-Amerika en op talle eilande. Dit is betekenisvol dat soortgelyke temas herhaaldelik in rotskunsontwerpe regoor die wêreld voorkom. Dit getuig van die mens se natuurlike begeerte om homself uit te druk en hom tot geestelike magte hoër as hy te wend.

[Prente op bladsy 26]

Die son se strale skyn deur ’n keep in die berg Concarena

Val Camonica is ’n Wêrelderfenisgebied

Rotsgraverings wat bedoel is om te verseker dat die jag suksesvol is

’n Menslike figuur wat met opgehefte arms bid

[Erkennings]

Berg Concarena: Ausilio Priuli, “IL Mondo dei Camuni”; rotsgraverings en menslike figuur: Parco nazionale delle incisioni rupestri: su concessione del Ministero per i Beni e le Attività Culturali. Ogni riproduzione è vietata

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel