Graduering van die 85ste Gileadklas—’n vreugdevolle geleentheid
NA DIE inwyding van die tempel ongeveer 3 000 jaar gelede het Salomo “die volk na hul [huise] laat gaan, verheug en vrolik van hart” (2 Kronieke 7:10, vgl. NW). Hierdie woorde is ’n goeie beskrywing van hoe meer as 4 000 mense gevoel het toe hulle die Jersey City-byeenkomssaal van Jehovah se Getuies op 11 September 1988 verlaat het. Die geleentheid? Die graduering van die 85ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead.
Na ’n lied is die program geopen met ’n innige gebed deur W. L. Barry, ’n lid van die Bestuursliggaam. T. Jaracz, ook van die Bestuursliggaam, het as voorsitter vir die dag opgetree. ‘Jehovah se gees en sy seëninge is nodig om hierdie geleentheid werklik geestelik verkwikkend en opbouend te maak’, het broer Jaracz gesê. Blyke daarvan kon ook inderdaad tydens die program gesien word.
Na hierdie verwelkomingskommentare het die studente afskeidsraad in ’n reeks kort, praktiese toesprake ontvang. R. L. Rains van die Bethelkomitee het hulle eerste toegespreek. Broer Rains het sy toespraak op Genesis 12:1, 2 gebaseer en die studente gemaan: ‘Wees ’n seën in julle sendingtoewysing.’ En hoe kan hulle dit doen? Dit is deur julle lewenswandel wanneer julle daar kom’, het hy beklemtoon. Hy het daarna twee faktore benadruk wat grootliks sal help: (1) Hulle moet besef dat hulle ’n paar veranderinge sal moet aanbring om hulle by hulle nuwe toewysings aan te pas; en (2) hulle moet vreedsame betrekkinge met ander behou.
J. E. Barr van die Bestuursliggaam het die studente daarna op ’n hartlike, bemoedigende manier toegespreek oor die tema “Gee ons meer geloof”, gebaseer op Lukas 17:5. ‘Onthou om Jehovah elke dag te vra om jou meer geloof te gee’, het broer Barr gemaan. Hulle moet altyd die werklike rede waarom Jehovah hulle na hul toewysings gestuur het in gedagte hou. ‘Wees altyd bewus van die krag van God se onsigbare asook sy sigbare organisasie wat jou altyd, dag en nag, ondersteun’, het broer Barr hulle aangespoor. ‘lets wat ’n mens nooit te dikwels in jou gebede kan vra nie, is: “Jehovah, gee my asseblief meer geloof.”’
Almal se nuuskierigheid is geprikkel toe die voorsitter die tema van die volgende spreker, F. D. Songer van die Fabriekskomitee, aangekondig het: “’n Unieke pand en ’n spesiale sleutel.” Broer Songer het sy kommentare op 1 Kronieke 9:26, 27 gebaseer en op wat dit daar oor die Levitiese deurwagters sê. ‘Hulle amp was ’n unieke pand’, het broer Songer verduidelik. Hulle het die sleutel gehad—die voorwerp wat gedui het op die mag om toegang tot die heilige gebiede van die tempel te beheer. Hulle was betroubaar en het die deure elke oggend getrou oopgemaak. Broer Songer het ten slotte vir die studente gesê: ‘Hulle het as ’t ware ’n unieke pand en ’n spesiale sleutel gekry waarmee julle elke oggend vir diegene wat toegang tot die voorhowe van ware aanbidding soek, kan oopsluit. Bewaar daardie pand goed en gebruik daardie sleutel betroubaar.’
Broer M. G. Henschel van die Bestuursliggaam het volgende aan die woord gekom met die tema: “Bly vashou aan die patroon van gesonde woorde.” Broer Henschel het die aandag op 2 Timotheüs 1:13, 14 (NW) gevestig en verduidelik dat Paulus se afskeidsraad aan Timotheüs was: ‘Gebruik hierdie patroon van gesonde woorde wat jy van my ontvang het, en bewaar dit soos ’n skat, ’n pand.’ Die studente het ook ’n skat ontvang. Hulle het die vorige vyf maande die Bybel en sake rakende die bediening bestudeer. ‘Hierdie onderrig, hierdie patroon van gesonde woorde’, het broer Henschel verduidelik, ‘is iets wat God in julle hande geplaas het om te gebruik, nie net vir julleself nie, nee, maar ten behoewe van ander.’
Watter afskeidsraad sou die skool se twee instrukteurs vir hulle studente hê? J. D. Redford het eerste oor die tema “Erken jou foute” gepraat. Broer Redford het gesê dat hoewel ons weet dat ‘ons almal dikwels struikel’ ons geneig is om onsself te regverdig wanneer ’n fout onder ons aandag gebring word (Jakobus 3:2). ‘As jy weier om jou foute te erken, is dit asof jy beweer dat jy onfeilbaar is’, het broer Bedford gesê. Die verstandige weg is om ons foute te erken. Waarom? Die spreker het verduidelik: ‘Niemand kan ander se respek behou as hy selfs wanneer hy met ’n ooglopende fout gekonfronteer word, daarop aandring dat hy reg is nie. Hoe kan iemand vertroue hê in ’n persoon wat hy uit ondervinding weet selfs die waarheid sal opoffer net om dit te laat lyk asof hy reg is? Dit bou krag en selfrespek in ons as ons ’n fout erken. Maar as ons dit nie doen nie, is dit lafhartig en verswak dit ons moreel.’ Die toepassing van sulke praktiese raad sal die studente ongetwyfeld help om goed met ander oor die weg te kom.
U. V. Glass, die ander instrukteur en die registrateur van die skool, het sy slotvermaning gebaseer op die Bybelverhaal van Gideon, wat Jehovah gebruik het om Israel van die Midianiete te verlos (Rigters, hoofstukke 6–8). Gideon het getoon dat Jehovah se vertroue in hom nie misplaas was nie, want toe die volk hom koning wou maak, het hy geweier en gesê: “[Jehovah] sal oor julle heers” (Rigters 8:23, vgl. NW). Broer Glass het gesê: ‘Julle moet ook nie opgeblase raak nie. Julle het julself bewys. Maar dit beteken nie dat dit julle is wat die stryd voer nie. Dit is Jehovah wat julle steun.’
Die laaste spreker van die oggend was A. D. Schroeder van die Bestuursliggaam, en dit was duidelik toe hy gepraat het dat die Gileadskool hom na aan die hart lê. En om ’n goeie rede—hy was die registrateur toe die skool in 1943 gestig is. Broer Schroeder het voortgebou op die tema ‘Word getrou bevind’, wat op 1 Korinthiërs 4:2 gebaseer was. Wat beteken dit om getrou te wees? ‘Dit beteken dat ’n persoon volle vertroue in die verklarings en kosbare beloftes van Jehovah het’, het broer Schroeder verduidelik. Dit beteken ook dat ’n mens getrou, standvastig en lojaal aan Jehovah is.’ Is daar enige voorbeelde van diegene wat reeds getrou bevind is? Daar was die voorchristelike manne en vroue wat in Hebreërs hoofstuk 11 gemeld word; Jesus Christus; en die apostels en ander gesalfde dissipels van die eerste eeu G.J. Nadat hy die aandag op ’n paar hedendaagse voorbeelde gevestig het, het broer Schroeder gevra: ‘Wat van ons?’ Hy het bygevoeg: ‘Jy is òf getrou òf jy is nie getrou nie. Hetsy ons van die gesalfdes of van die groot menigte is, ons almal, albei klasse, moet ewe getrou aan ons roeping wees.’
Na broer Schroeder se kommentare het die voorsitter die groete oorgedra wat van verskeie lande ontvang is. Toe het die studente hulle diplomas ontvang. Die 22 studente het van ses lande gekom—Kanada, Finland, Duitsland, Groot-Brittanje, Swede en die Verenigde State. Hulle toewysings sal hulle egter na 11 lande neem—Belize, Dominica, Ecuador, El Salvador, Hongkong, Lesotho, Pakistan, Paraguay, Porto Rico, Senegal en Taiwan. En wat het die studente op hulle gradueringsdag te sê gehad? Een van die studente het ’n brief gelees wat aan die Bestuursliggaam en die Bethelgesin gerig was, wat deels soos volg gelui het: “Ons dank julle almal weer eens dat julle hierdie vyf maande die gedenkwaardigste maande van ons hele lewe gemaak het.”
Na ’n pouse het W. L. Van De Wall van die Diensafdelingskomitee die middagprogram begin deur ’n verkorte Wagtoring-studie te hou. Hierna het die studente ’n kort program aangebied en ’n paar van die interessante—en soms snaakse—ondervindinge uitgebeeld wat hulle gehad het terwyl hulle in die stad New York getuig het. Toe het alle aanwesiges, die 85ste klas inkluis, ’n spesiale program geniet met die titel “Leer ons ywerige sendelinge beter ken”. Deur middel van skyfies en opnames kon die gehoor sommige veteraansendelinge sien en hoor.
As ’n gepaste slot het die studente ’n gekostumeerde Bybeldrama aangebied wat beklemtoon het hoe belangrik dit is om God se wil met ywer uit te voer. Na ’n slotlied is ’n ieder en ’n elk diep geraak toe F. W. Franz, die Wagtoringgenootskap se 95-jarige president, ’n vurige slotgebed gedoen het. Daarna het almal ‘na hul huise gegaan, verheug en vrolik van hart’.
Die Wagtoring-Bybelskool Gilead, wat in 1943 gestig is, lei sendelinge op en stuur hulle na alle dele van die aarde. Die skool is vir die eerste 35 klasse by die Wagtoringgenootskap se Kingdom Farm, naby South Lansing, New York, gehou. Toe die 36ste klas op 6 Februarie 1961 begin het, is die skool na die Genootskap se hoofkwartier in Brooklyn, New York, verskuif, waar dit tot nou toe gehou is. Maar met die aanvang van die 86ste klas op 17 Oktober 1988 word die skool na Watchtower Farms, naby Pine Bush, New York, verskuif.
[Venster op bladsy 21]
Klasstatistiek:
Gemiddelde ouderdom: 29,1
Gemiddelde jare in die waarheid: 13,4
Gemiddelde jare in voltydse bediening: 9,1
Aantal ongetroude broers: 2
Aantal getroude paartjies: 10
[Prent op bladsy 23]
85ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee.
(1) Johnston, Y.; Kuismin, S.; Ugarte, Z.; Williams, Z.; Grischkewitz, G. (2) Powers, E.; D’Angelo, L.; Honsberger, J.; Williams, J.; James, J. (3) Kuismin, V.; Grischkewitz, U.; Ugarte, R.; Rogerson, A.; Lantunen, K.; James, D. (4) Rogerson, M.; Johnston, R.; D’Angelo, T.; Honsberger, T.; Powers, T.; Danielson, M.