Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 6/1 bl. 26-29
  • Gileadgegradueerdes begin ’n lonende leefwyse

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gileadgegradueerdes begin ’n lonende leefwyse
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Soortgelyke materiaal
  • Gileadskool—Floreer nog ná 50 jaar!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Gileadgegradueerdes aanvaar die gawe van sendingdiens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Graduering van die 85ste Gileadklas—’n vreugdevolle geleentheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Gileadgegradueerdes aangespoor om goeie kommunikasievermoëns aan te kweek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 6/1 bl. 26-29

Gileadgegradueerdes begin ’n lonende leefwyse

“WAT ’n vreugdevolle geleentheid is die graduering van die 90ste klas van Gilead tog!” Die voorsitter Karl F. Klein van die Bestuursliggaam het die gradueringsprogram met daardie woorde ingelei. Toe hy vertel het hoe die Wagtoring-Bybelskool Gilead begin het, het hy bygevoeg: “Wie sou in 1943, toe die eerste klas van Gilead gegradueer het, kon dink dat ons 48 jaar later steeds vir die graduering van nog ’n klas—die 90ste—sou vergader?”

Tog het meer as 4 000 genooide gaste en lede van die Bethelgesin op 3 Maart 1991, ’n ontsettend warm dag in New Jersey, by die Jersey City-byeenkomssaal, met New York-stad net aan die ander kant van die rivier, vir die graduering van hierdie nuwe sendelinge vergader. Die gegradueerdes sal vandag, net voor hulle hulle lewe as sendelinge begin, afskeidsraad op hulle gradueringsdag ontvang.

Die program is met ’n lied geopen. Daarna is al die aanwesiges diep geroer toe Frederick W. Franz, die 97-jarige president van die Wagtoring-Bybelskool Gilead, die openingsgebed gedoen het. Toe, ná die inleidende opmerkings van die voorsitter, het die gegradueerdes—en al die aanwesiges—met belangstelling na ’n reeks kort, praktiese toesprake geluister.

Max H. Larson van die Fabriekskomitee was eerste aan die woord met die tema “Medewerkers van Jehovah”. Nadat hy die aandag gevestig het op die ark van redding wat deur Noag en sy gesin gebou is, het hy gesê: ‘Jehovah versamel vandag ’n wêreldwye gesin van miljoene, en dit is sy voorneme om hierdie groot gesin deur die groot verdrukking te neem.’ Hoe? Deur middel van die hedendaagse ark—die geestelike paradys! ‘Julle’, het hy die gegradueerdes daaraan herinner, ‘gaan na verskillende dele van die aarde, waar julle medewerkers van Jehovah sal wees deur die hedendaagse ark te bou.’ Ter voorbereiding vir wat op hulle wag, het hy gesê: ‘Dit gaan werk van julle verg. Dit gaan geduld verg. Julle gaan struikelblokke teëkom. Dit is wanneer julle die vaardighede nodig sal hê wat julle opleiding julle gegee het.’

Daniel Sydlik, ’n lid van die Bestuursliggaam, het onlangs sendelinge wat reeds lank dien in Japan en Costa Rica besoek. Terwyl hy die tema “Julle lewenswyse is lonend” bespreek het, het hy vir hulle ’n paar nuttige wenke gegee wat hy by hierdie bekwame sendelinge gehoor het. Een suster, het hy verduidelik, het gesê watter raad haar ma haar gegee het: ‘Kry die velddiens lief. Maak vriende met mense. Deel jou lewe met ander, en dit sal jou gelukkig maak.’ ’n Ander suster het gesê: ‘Ons het deur die jare geleer dat as ons nie te veel van ander verwag nie ons nie maklik teleurgestel sal word nie. Enige vriendelike of liefdevolle daad teenoor ons beteken vir ons soveel meer.’ As die gegradueerdes sulke praktiese raad toepas, sal dit hulle ongetwyfeld help om self bekwame sendelinge te word.

“Wees lankmoedig teenoor almal”, sê 1 Thessalonicense 5:14. Leon Weaver van die Diensafdelingkomitee het oor hierdie teks kommentaar gelewer toe hy gepraat het oor die tema “Wees geduldig in al jou bedrywighede”. Watter mense teenoor wie ons geduld moet beoefen, word ingesluit by “al” die bedrywighede? Die spreker het geantwoord: ‘Diegene wat jy in die velddiens gaan ontmoet. Die broers en susters in jou nuwe gemeente. Jou medesendelinge. Diegene in die takkantoor. Jou maat. Jouself.’ Waarom moet ons in al ons bedrywighede geduldig wees? ‘Broers en susters’, het die spreker verduidelik, ‘geduld verminder spanning en kommer. Geduld lei tot vrede. Geduld hou hoop lewendig. Geduld help ons om ons vreugde in die diens te behou.’

Albert D. Schroeder, ’n lid van die Bestuursliggaam en die oorspronklike registrateur van die Gileadskool, was vervolgens aan die woord. Hy het gepraat oor die tema “Hou aan om julle model—Jesus Christus—te volg” en sy kommentare op Filippense hoofstuk 2 gebaseer. “Hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was”, sê vers 5. ‘Dit toon’, het die spreker verduidelik, ‘dat ons denke gebalanseerd moet wees, soos Jesus se denke gebalanseerd was.’ Hy het by vers 6 begin en voorts ’n interessante opsomming gemaak, waarin hy getoon het dat Paulus eers bewyse lewer dat Jesus se denke gebalanseerd was (verse 6-8) en dan toon hoe Jehovah hom vir sy gehoorsame weg beloon het (verse 9-11). ‘Dit is ’n deel van julle voorreg’, het hy afgesluit, ‘om die Here Jesus Christus te verkondig en ander te help om dieselfde gesindheid as hy te hê.’

Watter afskeidswoorde sou die skool se instrukteurs vir hulle studente hê? Jack D. Redford het gepraat oor die tema “Denkvermoë sal oor jou waghou” (Spreuke 2:10, 11, NW). ‘Wanneer julle nou weggaan’, het hy verduidelik, ‘gaan julle geluk nie afhang van wie julle is of wat julle het of selfs van die feit dat julle Gileadgegradueerdes is nie. Julle geluk sal afhang van hoe julle dink. As julle julle denkvermoë gebruik en julle kennis toepas, sal julle gelukkig wees.’ Hy het getoon hoe belangrik denkvermoë is toe hy verduidelik het: ‘Die verskil tussen regte dade en verkeerde dade is denke. Wat jy dink, bepaal wat jy doen.’ J. D. Redford het met hierdie bemoedigende woorde aan die studente afgesluit: ‘Daar is talle hoogs intelligente mense in die wêreld wat swak denkers is, en daar is baie mense van gemiddelde intelligensie wat bekwame denkers geword het. Bekwaam jou dus daarin. Wees vasberade om jou verstand te gebruik. Gebruik jou kennis. Bied probleme die hoof. Leer om met mense oor die weg te kom. Aanvaar gesag. Wees vrugbaar in jou werk. Volhard in jou toewysing.’

Ulysses V. Glass, die registrateur van die skool, het die tema “Jehovah ondersteun ons hand” gekies, wat op Psalm 37:23, 24 gebaseer is. ‘Ek moet hierdie klas prys’, het hy gesê, ‘vir hulle belangstelling daarin om te leer.’ Hy het hulle herinner aan sommige van die hulpmiddele wat Jehovah ter ondersteuning van hulle voorsien het—God se Woord, die getroue en verstandige dienskneg onder Jesus se leiding om die Skrif sinvol en verstaanbaar te maak, verskeie publikasies, vergaderinge en byeenkomste. ‘Die hulpmiddele wat julle in julle studies gebruik het’, het hy voorts gesê, ‘is soos ’n geestelike stok en staf. Ons het hulle vir ons geestelike ondersteuning nodig, en hulle stel ons ook in staat om met gesag te praat wanneer ons God se Woord aan ander oordra.’ Hy het ter afsluiting hierdie woorde van raad vir die studente gehad: ‘As julle hart vol menseliefde is, sal opregte harte daarop reageer. Julle sal welslae in julle bediening behaal, en julle sal weet dat Jehovah julle hand ondersteun.’

Die laaste spreker op die oggendprogram was Carey W. Barber van die Bestuursliggaam, wat die tema “Gaan in deur die nou poort” gekies het. Hy het oor Lukas 13:23, 24 kommentaar gelewer en gesê: ‘Baie wil seëninge in die lewe hê, maar baie min is bereid om hulle genoeg in te span om dit te verkry.’ Wat van ons? ‘Dit is goed dat ons ons afvra: “Wat beteken hierdie beskrywing van die nou poort vir my persoonlik?”’ Diegene wat nie deur die nou poort ingaan nie, doen dit nie omdat dit onmoontlik is nie, maar omdat hulle nie bereid is om hulle in te span nie. ‘Jehovah vra nie te veel van ons nie’, het die spreker verduidelik. ‘Mag ons ons almal vreugdevol dermate inspan dat ons met Jehovah se hulp deur die nou poort in die nuwe wêreld van ewige lewe, vrede, vreugde en geluk kan ingaan, tot ewige heerlikheid van Jehovah!’ het hy afgesluit.

Ná hierdie opmerkings het die voorsitter die groete oorgedra wat uit verskeie dele van die wêreld ontvang is. Die tyd het nou aangebreek vir die gegradueerdes om hulle diplomas te ontvang. Die studente het uit ses lande gekom—Duitsland, Finland, Groot Brittanje, Kanada, Switserland en die Verenigde State. Maar hulle toewysings sal hulle na lande soos Argentinië, Benin, Bolivia, die Dominikaanse Republiek, Papoea-Nieu-Guinee, Peru, St Lucia en Taiwan neem. En hoe het die gegradueerdes op hulle gradueringsdag gevoel? In ’n roerende brief aan die Bestuursliggaam en die Bethelgesin het hulle deels gesê: “Ons is vol vertroue dat ons die steun van die Bestuursliggaam, die Bethelgesin en Jehovah se hele organisasie het. Wanneer ons in die toekoms voor beproewinge te staan kom, sal ons daardie steun as ’n skat bewaar. Ons is werklik dankbaar daaroor.”

Die middagprogram het ná ’n pouse met ’n verkorte Wagtoring-studie begin, wat deur Karl A. Adams gehou is. Daarna het die studente ware ondervindinge opgevoer wat getoon het hoe die hart bereik kan word wanneer ’n mens God se Woord aan ander leer. Ten laaste het al die aanwesiges, onder andere die gegradueerdes van die 90ste klas, ’n tydige drama Vermy die lewe se bekommernisse geniet, wat deur plaaslike verkondigers aangebied is.

Die voorsitter, Karl Klein, het namens almal gepraat toe hy in sy slotopmerkings gesê het: “Dit was werklik vir ons goed om op hierdie derde dag van Maart 1991 hier te wees!” Die heerlike program het toe met ’n slotlied geëindig, wat gevolg is deur ’n gebed deur Harold J. Dies.

[Venster op bladsy 27]

Klasstatistiek

Aantal lande verteenwoordig: 6

Aantal lande waarheen gestuur: 10

Aantal studente: 24

Gemiddelde ouderdom: 31,2

Gemiddelde jare in die waarheid: 15

Gemiddelde jare in voltydse bediening: 11

[Prent op bladsy 26]

90ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer, en name word van links na regs in elke ry aangegee. (1) Miller, M.; Helenius, S.; Marsh, L.; Kleeman, A.; Loosli, Y.; Nizan, H. (2) Skogen, R.; Nutter, D.; Noack, E.; Diehl, L.; Hair, J. (3) Marsh, C.; Helenius, H.; Loosli, M.; Danio, A.; Danio, A.; Nizan, D. (4) Miller, L.; Noack, J.; Hair, L.; Kleeman, W.; Skogen, D.; Diehl, S.; Nutter, W.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel