Waarom moet jy ontvanklik wees vir nuwe idees?
TOE die misgordyn stadig oopgegaan het, kon Amerikaanse kommodoor Matthew C. Perry die Foedjijama van die dek van sy vlagskip Susquehanna af sien. Hy het altyd ’n brandende begeerte gehad om Japan te sien en het dit uiteindelik na meer as sewe maande se navigasie op 8 Julie 1853 bereik. Die kommodoor het elke beskikbare verslag oor die land bestudeer. Waarom? Omdat hy gehoop het dat hy hierdie “self-geïsoleerde koninkryk” vir die wêreld sou kon oopstel.
Inderdaad self-geïsoleerd! Meer as 200 jaar tevore het Japan handels- en kulturele bande met alle lande behalwe China, Korea en Nederland verbreek. Die volk het toe in onverstoorde selftevredenheid agteroor gaan sit. Daardie toestand van dié Japannese kan vergelyk word met dié van talle individue wat hul teen nuwe idees versit en weier om na opinies te luister wat van hul eie verskil. In party opsigte kan dit gerusstellend wees, want nuwe idees kan ’n mens verontrus, selfs bang maak. Maar is so ’n posisie verstandig? Wel, beskou die gevolge van Japan se afsonderingsbeleid.
Wat was die oorsake van Japan se afsondering?
Japan het etlike redes vir sy afsondering gehad. In 1549 het Jesuïetesendeling Franciscus Xaverius in Japan aangekom om sy godsdiens te versprei. Die Rooms-Katolieke geloof het vinnig prominent geword in die land. Die destydse heersers het vroeër met ’n godsdiensopstand deur’n Boeddhistesekte te doen gehad en het gesien dat dieselfde onder die Katolieke kon gebeur. Katolisisme is dus verbied, hoewel die verbod nie streng toegepas is nie.
Omdat die heersers beweer het dat Japan “die goddelike nasie” was, sou hulle dit hoegenaamd nie duld dat ’n “Christelike” godsdiens hulle stelsel bedreig nie. Waarom het hulle die verbod op Katolisisme dan nie strenger toegepas nie? Omdat Katolieke sendelinge op Portugese handelskepe gekom het en die regering maar alte bly was oor die wins wat daardie vaartuie vir hulle beteken het. Maar mettertyd het vrees dat Katolieke die Japannese sal beïnvloed swaarder begin weeg as die heersers se begeerte na handel. Daarom het hulle bevele uitgevaardig wat hulle in staat gestel het om strenger beheer oor die buitelandse handel, emigrasie en “Christene” uit te oefen.
Toe “Christene” wat vervolg en onder groot druk geplaas is teen ’n plaaslike leenheer in opstand gekom het, was dit die einde. Die sentrale Sjogoenaat-regering het die opstand as ’n direkte gevolg van Katolieke propaganda beskou en het die Portugese die land uitgesit en die Japannese verbied om oorsee te gaan. Met die uitvaardiging van hierdie bevel in 1639 het die afsondering van Japan ’n werklikheid geword.
Die Nederlanders was die enigste Westerlinge wat toegelaat is om hul handel met Japan voort te sit, maar hulle is saamgehok op Dejima, destyds ’n klein eilandjie in Nagasaki se hawe. Dejima, wat nou aangewonne land is, was 200 jaar lank die enigste skakel waardeur die Westerse kultuur Japan ingesypel het. Die direkteur van die eiland se handelspos het elke jaar die “Nederlandse Verslag” ingehandig, wat die regering op hoogte gebring het van wat in die buitewêreld gebeur. Maar die Sjogoenaat-regime het seker gemaak dat niemand anders hierdie verslae gesien het nie. Gevolglik het die Japannese in afsondering gelewe totdat kommodoor Perry in 1853 aan hul deur kom hamer het.
Die einde van afsondering
Toe Perry se groot, swart skepe Edo-baai al stomende ingevaar het, was die plaaslike vissers, wat gedink het dat hulle bewegende vulkane is, heeltemal verbyster. Die inwoners van Edo (nou Tokio) het paniekerig geword, en talle het met hul meubels uit die stad gevlug. Hierdie uittog was so groot dat die regering ’n amptelike afkondiging moes doen om die mense te kalmeer.
Dit was nie net die stoomskepe onder bevel van kommodoor Perry wat die afgesonderde mense dronkgeslaan het nie, maar ook die geskenke wat hy gebring het. ’n Demonstrasie van hoe boodskappe van een gebou na ’n ander getelegrafeer is, het hulle verstom. Die Narrative of the Expedition of an American Squadron to the China Seas and Japan, wat onder Perry se toesig saamgestel is, vertel van Japannese amptenare wat nie die versoeking kon weerstaan om op ’n miniatuurlokomotief te spring wat “skaars ’n kind van ses jaar kon dra” nie. Selfs “’n statige mandaryn” het aan die lokomotief se dakkie vasgeklou, “met sy los gewaad al wapperende in die wind”.
Die deur na Japan is uiteindelik heeltemal oopgebreek deur Perry se tweede besoek die daaropvolgende jaar. Die regering het voor die druk geswig en die land oopgestel. Bittereinders wat Japan se isolasie wou handhaaf, het die toevlug tot terrorisme geneem, die regering se hoofminister vermoor en buitelanders aangeval. Party landhere wat ten gunste van isolasionisme was, het op buitelandse vlote begin skiet. Hulle aanvalle het egter geleidelik afgeneem, en die keiser het die regeringsleisels by die Tokoegaba-Sjogoenaat oorgeneem.
Toe Perry die deur na Japan geopen het, was die Industriële Omwenteling reeds iets van die verlede in die Westerse lande. Weens Japan se afsondering was die ander lande hom ver vooruit. Geïndustrialiseerde lande het reeds van stoomkrag gebruik gemaak. Teen die 1830’s was stoomlokomotiewe en stoomaangedrewe masjiene algemeen in gebruik. Japan se afsonderingsbeleid het veroorsaak dat hy baie ver agter geraak het in industrialisasie. Die eerste Japannese afvaardiging na Europa het maar alte bewus hiervan geword. By ’n tentoonstelling wat in 1862 in Londen gehou is, was Japannese uitstallings van papier en hout soos wat ’n mens, in die woorde van een verleë afgevaardigde, “in ’n antiekwinkel sou uitstal”.
Japannese afgevaardigdes na Europa en die Verenigde State het besef hoe noodsaaklik dit is om hulle land te industrialiseer en was gretig om moderne uitvindsels en idees in te voer. Vier-en-sestig jaar na Perry se eerste besoek het die enigste lid van sy bemanning wat nog gelewe het Japan besoek en gesê: “Die vooruitgang in Japan in ’n rapsie meer as sestig jaar het my verstom.”
Japan se afsonderingsbeleid het sy groeipotensiaal dus grootliks beperk. Toe hy sy deure vir nuwe idees oopgemaak het, het dit die nasie op talle maniere tot voordeel gestrek. Maar vandag wys party in Japan op ’n “afsondering van die gemoed” onder die mense en soek hulle ’n oplossing vir hierdie probleem. Trouens, dit is nie net vir die moderne Japannese nie, maar vir alle mense ’n uitdaging om die neiging om teen nuwe idees te skop die hoof te bied. Wat van jou en die kwessie van “afsondering van die gemoed”? Sal dit jou tot voordeel strek as jy jou gemoed vir nuwe idees oopstel, soos Japan in die 1850’s gedoen het?