Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 3/1 bl. 10-13
  • Jehovah was my toevlug en my bergvesting

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah was my toevlug en my bergvesting
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Soektog word beloon
  • Die klein dame en die biskop
  • Die Nazi-besetting
  • ’n Buitengewone ontmoeting
  • ’n Uitnodiging na Gilead
  • Bedrywige aftrede
  • Van my jeug af deur Jehovah geleer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Bevoorreg om aan naoorlogse uitbreiding deel te neem
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Op pad na ’n nuwe wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • ‘Ek het met vleuels soos die arende opgevaar’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 3/1 bl. 10-13

Jehovah was my toevlug en my bergvesting

Soos vertel deur Margaret West

STEL jou voor dat jy in die kasteel woon waar koningin Anna Sophie van Denemarke in 1721 gekroon is. Hierdie somerwoning van die Deense koninklike gesin, wat tussen pragtige parke geleë is, was my kindertuiste. Die weelderige kamers, die praaltrappe, die plafonne wat deur ou Franse meesters geskilder is, het vir my destyds soos dinge uit ’n droomwêreld gelyk.

Net ’n hanetreetjie van die kasteel af was ’n ander gebou, meer beskeie, maar my 30 jaar in hierdie gebou het my lewe baie meer verryk. Dit was die Deense Bethel, die takkantoor van Jehovah se Getuies in Denemarke.

Maar laat ek jou eers vertel hoe dit gekom het dat ek in Frederiksbergkasteel in Kopenhagen gewoon het. My vader, ’n kolonel in die Deense leer, was in bevel van die militêre akademie wie se hoofkwartier in die kasteel was. Hierdie posisie het hom en sy gesin die reg gegee om in hierdie bevoorregte omgewing te woon. Vir ’n jong meisie was dit ’n sprokiesagtige lewe, beskerm teen gevaar binne die grense van hierdie pragtige omgewing. Ek het gedink dat hierdie gelukkige, opwindende kinderdae nooit sou eindig nie. Maar hierdie droom het op een onvergeetlike dag in 1921 in skerwe gespat.

Ons kinders is na Vader se kamer ontbied. Ek het hom daar sien lê, hy was baie bleek, en albei hande het bo-op die laken gelê. Moeder het haar arms om ons gesit. Ons dokter, wat ook langs die bed was, het baie somber gelyk. Moeder het saggies gesê: “Vader is dood.” My eerste gedagte was: ‘Dis onmoontlik! Hy was dan skaars siek.’ Dit was ’n verpletterende ondervinding vir ’n kind van tien. Ek het toe min besef dat hierdie tragiese dood daartoe sou lei dat ek die doel van die lewe sou verstaan.

Vader se dood het ’n groot verandering in ons lewe beteken. Die kasteel was ’n amptelike woonplek, en Moeder moes dus ’n ander plek vir ons vind om in te woon. Dit was ’n moeilike tydperk, en om ons te help om oor die tragedie te kom, het sy iets gedoen wat ons familie en vriende verbaas het. Sy het ons almal uit die skool gehaal, en ons het ’n jaar lank ’n toer deur Europa onderneem.

’n Soektog word beloon

Terug in Denemarke het die dood van Vader egter steeds oor ons gehang, en Moeder het haarself oor en oor afgevra: Waarom? Waarom? Waarom? Sy het Oosterse filosofieë begin ondersoek om ’n antwoord te vind, maar dit het nie haar logiese verstand bevredig nie. Sy het toe besluit om haar tot die Bybel te wend en het gedink dat dit dalk antwoorde bevat. Toe sy haar hand na die Bybel op die boekrak uitsteek, het sy ’n rooi boek langs dit gesien, ’n boek wat sy nooit voorheen gesien het nie. Die titel was The Divine Plan of the Ages. My broer het dit pas tevore van ’n Bybelstudent gekoop wat ons besoek het.

Moeder het die boek begin lees en was gou oortuig daarvan dat sy die antwoorde op haar vrae gevind het. Ek het op daardie tydstip in Frankryk skoolgegaan, maar toe ek ’n paar maande later vir vakansie huis toe gekom het, het Moeder my gretig van haar nuutgevonde skat vertel. Sy het my van die Koninkryk van God vertel—’n Koninkryk wat oor die hele aarde sal heers en ’n einde aan alle oorloë sal maak, ’n Koninkryk wat ongetelde seëninge vir die mensdom sal meebring, wat die opstanding van die dode insluit. Dit was wonderlik. Ons het uiteindelik ’n toevlug teen twyfel en onsekerheid gevind.

Toe ek daardie aand bed toe gaan, het ek vir die eerste keer in my lewe gebid. Ons was nooit ’n godsdienstige gesin nie, maar op skool het ons die Onse Vader geleer. Ek het dus huiwerig begin om hierdie gebed op te sê. Toe ek by die woorde kom, “Laat u koninkryk kom . . .”, het my hart oorgeloop van vreugde. Ek het uiteindelik verstaan waarvoor ek gebid het! Sestig jaar het sedertdien verloop, maar ek onthou steeds duidelik die onbeskryflike vreugde wat ek daardie aand ondervind het.

Nadat ek my skoolopleiding in Frankryk voltooi het, het ek ’n jaar lank Engeland toe gegaan om my Engels te oefen. Moeder het daarop aangedring: “’n Meisie moet tale leer, ’n seun wiskunde.” Ek het uiteindelik vyf tale geleer, waarvan almal van onskatbare waarde was, en in later jare het ek Moeder dikwels bedank dat sy my hierdie geleentheid gegee het.

Toe ek in Engeland aankom, het ek gevind dat Moeder die boek Die harp van God in my tas gesit het. Ek het dit sorgvuldig bestudeer en vir die Engelse gesin by wie ek gebly het, begin getuig oor wat ek geleer het. ’n Familielid van hierdie gesin het by een geleentheid kom kuier, en ek het dus ook vir haar getuig. (Ek het heel bekwaam geword om ‘die tien snare’ van hierdie “harp” te bespeel.) Aangesien hierdie dame ’n boek vir haarself wou hê, het ek aan die Londense takkantoor van die Wagtoringgenootskap geskryf, en hulle het my na die plaaslike broers verwys.

Ek het gevolglik begin omgaan met hierdie klein groepie in Wickford, Essex, wat in die huis van een van die Bybelstudente bymekaargekom het. By een vergadering is daar aangekondig dat daar die volgende Sondag ’n “uitstappie” sou wees, en ek is ook genooi. Ek het uitgesien na ’n interessante uitstappie in die platteland, maar toe ek daar opdaag, is ’n gebed gedoen, en ek is lektuur gegee en saam met ’n bejaarde suster gestuur om te preek!

Toe ek na Denemarke teruggekeer het. het ek aangehou om met die Bybelstudente om te gaan en in 1929 is ek gedoop. ’n Onvergeetlike ondervinding was die byeenkoms in Kopenhagen in 1931. Dit was by hierdie byeenkoms dat ons die naam Jehovah se Getuies aangeneem het. Om die maghebbers hiervan in kennis te stel, is broer Rutherford se toespraak en die daaropvolgende resolusie wat by die byeenkoms aanvaar is in die boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld uitgegee. Ons moes dit persoonlik by al die vername mense in die gemeenskap, waaronder regters, lede van die regering, welbekende sakemanne en ook al die geestelikes, aflewer.

Die klein dame en die biskop

Die koning van Denemarke het sy eksemplaar ontvang in ’n oudiënsie wat aan die takopsiener verleen is. Ek het ’n hoop boekies gekry saam met die koeverte met die name en adresse daarop van die mense wat ek in hierdie kampanje moes besoek. Die eerste naam op die lys het my werklik geskok. Dit was ’n vername Lutherse biskop wat bekend was vir sy teenstand teen Jehovah se Getuies.

Die biskop het in ’n eksklusiewe deel van Kopenhagen gewoon, en ek moet erken dat ek selfs kleiner as my klein 1,5 meter gevoel het toe ek die klokkie gelui het. ’n Diensmeisie het die deur oopgemaak en my agterdogtig op en of bekyk en gevra: “Kan ek u help, asseblief?” “Dankie, ek wil met die biskop praat”, het ek vasbeslote geantwoord. Moeder het my ’n deftige astrakanjas vir die geleentheid geleen, en miskien het dit die diensmeisie oortuig dat my versoek toegestaan moes word, want na ’n lang stilte wat soos ’n ewigheid gevoel het, het sy gesê: “Wag net ’n oomblik.” Sy het gou teruggekeer en my deur ’n lang gang gelei, die deur oopgemaak, en daar agter ’n groot lessenaar het die biskop gesit. Hy was ’n lang, frisgeboude man. Hy het opgekyk en vriendelik vir my geglimlag.

Ek het myself daaraan herinner dat die Een agter my groter was as die een voor my, en het die doel van my besoek aan hom verduidelik en hom die koevert gegee. Hy het dit geneem en dit toe op die lessenaar gegooi asof dit aan die brand was. Hy het opgespring, my hand gegryp en my al met die eindelose gang langs na die voordeur laat terugloop. Die deur het toegeslaan, maar ek het by myself geglimlag. Die boekie was op sy lessenaar; my werk is gedoen.

In 1933 het ek die pionierdiens betree, aangesien ek gemeen het dat dit ’n ideale manier was om Jehovah in groter mate te dien. ’n Jaar later het ek met broer Albert West getrou, ’n Engelse broer wat ’n paar jaar vantevore na Denemarke gestuur is. Ons het 30 jaar lank saam in die Deense Bethel gedien.

Die Nazi-besetting

’n Dag wat ek nooit sal vergeet nie, is 9 April 1940. Ek is om sesuur wakker gemaak deur die egalige gedreun van vliegtuie wat geklink het asof dit reg bo ons gevlieg het. Wat was aan die gang? Denemarke was ’n neutrale land. Mense het buitekant op die strate saamgedrom, daar was volop gerugte, die atmosfeer was gespanne. Toe het die radio aangekondig: “Denemarke is deur die Duitse leërs beset.”

’n Onmiddellike probleem was wat ons moes doen met al die lektuur wat ons in die gebou gebêre het. Die broers in Kopenhagen het wonderlike voorsorg getref en wysheid aan die dag gelê. Die boeke was spoedig onder die plaaslike broers versprei, en takverslae was veilig in die bewaring van ’n waaksame bejaarde suster gegee, wat hulle vir die duur van die oorlog onder haar bed gehou het.

’n Ander probleem was wat ons moes doen met 350 000 boekies wat pas tevore daar aangekom het. Daar is besluit om hulle onmiddellik te versprei. Ek sou nooit kon glo dat ’n mens soveel trappe in net twee dae kan klim nie. Dit is alles gedoen sonder om die Duitse soldate wat die strate gepatrolleer het agterdogtig te maak. Wanneer hulle verbygeloop het, het ons die indruk probeer gee dat ons na die winkelvensters kyk. Al die broers, jonk sowel as oud, het deelgeneem aan hierdie blitsige verspreiding, en na net 48 uur was al die boekies in die hande van die publiek.

Tydens die inval is alle kontak met die hoofkwartier in Brooklyn afgesny, maar die voorraad geestelike voedsel het nie opgedroog nie. Daar was een of twee broers wat in die diplomatieke diens gewerk het, en hulle bagasie is nie deursoek nie. Aangesien hulle gereeld na Swede gereis het, kon hulle Die Wagtoring in Sweeds vir ons bring. Ek het ’n bietjie Sweeds geken, en ek is dus die taak opgedra om elke nommer in Deens te vertaal. Dit was ’n groot uitdaging, maar ek het aan die werk gespring en soveel geleer as wat ek kon. Op hierdie manier het ons dwarsdeur die oorlog ’n gereelde toevoer van Die Wagtoring gehad.

Trouens, ons kon selfs ’n paar Deense eksemplare na die broers in Noorweë stuur. Kartonne eiers vir Nazi-amptenare is gereeld van Denemarke na Noorweë gestuur. Ons kon die eiers in bladsye van die Deense Wagtoring toedraai, wat die Noorweegse broers dan weer versigtig oopgevou het voordat die eiers aan die Duitsers oorhandig is.

’n Buitengewone ontmoeting

Gedurende die oorlog het broer Eneroth, wat die takkneg in Swede was, toestemming gekry om Denemarke te besoek, en Albert het na die pont gegaan om hom te ontmoet. Toe broer Eneroth van die loopbrug afklim, het twee Duitse offisiere verskyn en Albert en broer Eneroth gevra om saam met hulle te gaan.

Hulle is na die Cosmopolite-Hotel geneem, een van die militêre hoofkwartiere van die Duitse leër, en is na ’n kantoor op die tweede verdieping geneem waar hulle deur ’n Duitser in burgerdrag ingewag is. Hy het hulle in volmaakte Engels aangespreek en gesê: “Soos julle goed weet, is daar ’n oorlog aan die gang. Ek is ’n sakeman van Hamburg, en ek is as sensor hierheen gestuur. Ek sensor al die korrespondensie van die Wagtoring-Bybelgenootskap [tussen Denemarke en Swede]. Dit is iets wat teen my gevoel indruis, maar ek het geen keuse nie. Mag ek julle komplimenteer op julle korrespondensie, wat eerlik en verkwikkend is om te lees. Julle kan jul nie voorstel watter bedrog ek in die briewe van sommige maatskappye vind nie.”

Hy het ’n vraag aan die broers gestel: “Wat is ’n herbesoek?” Albert het ’n kort demonstrasie van ’n herbesoek gegee en broer Eneroth as sy huisbewoner gebruik. Die offisier het toe die onderhoud afgesluit en gesê: “Dankie, menere, dit is al wat ek wou weet.” Miskien was dit sy manier om die broers te waarsku om versigtig te wees oor wat hulle in hulle briewe sê.

’n Uitnodiging na Gilead

Aan die einde van 1945 het ons ’n uiters welkome besoek van broers Knorr en Henschel ontvang. Gedurende hierdie besoek is ek en Albert na die Wagtoring- Bybelskool Gilead genooi, en ons het die 11de klas van hierdie sendingskool in 1948 bygewoon. Na ons Gileadopleiding het ek ses maande lank in Maryland, Virginië, en Washington, D.C., saam met my man, wat in die kringwerk aangewys is, gedien voordat ons na Denemarke teruggekeer het.

’n Paar jaar later het Albert siek geword, en die siekte is uiteindelik as kanker gediagnoseer. Ek het hom tien jaar lank verpleeg terwyl ek gedoen het wat ek kon as ’n vertaler, totdat hy in 1963 gesterf het. Die daaropvolgende jaar het ek voor ’n ander verantwoordelikheid te staan gekom. My moeder was nou 88 jaar oud en het iemand nodig gehad om na haar te kyk. Ek moes dus, met leedwese, die voltydse diens laat vaar. Moeder het geleef totdat sy 101 jaar oud was en het tot die einde toe getrou gebly.

Bedrywige aftrede

Gedurende die laaste jare van my moeder se lewe het ons die wintermaande in Spanje deurgebring. Toe sy dus sterf, het ek besluit om daar te bly. Ek het Spaans geleer en het ook gemeen dat ek op hierdie manier in ’n vreemde gebied kon dien. Hoewel ek, vanwee my ouderdom en ander verantwoordelikhede, nie soveel kan doen soos wat ek graag wil nie, kan ek steeds gereeld aan die hulppionierdiens deelneem.

Ek het meer as 20 jaar van my lewe daaraan gewy om na ’n siek man en ’n bejaarde moeder te kyk. Maar ek het dit nooit as ’n las beskou nie. Ek het altyd gemeen dat hulle albei sulke sorg en bedagsaamheid verdien het, en ek het dit as deel van my diens aan Jehovah beskou, wat my altyd gehelp het om die droefheid en beproewinge wat onder sulke omstandighede verduur moet word, onder die oë te sien.

Ek woon nou in ’n klein woonstelletjie, so anders as die indrukwekkende kasteel waar ek gebore is. Maar geboue kan nooit sekuriteit gee nie, soos ek vroeg in die lewe uitgevind het. Aan die ander kant het ek ’n groter toevlug en bergvesting gevind, een wat my nooit in die steek gelaat het nie. Ek kan werklik soos die psalmis sê: “My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.”—Psalm 91:2.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel