Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 4/1 bl. 26-29
  • ‘Ek het met vleuels soos die arende opgevaar’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Ek het met vleuels soos die arende opgevaar’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrede word weggeneem
  • Ek vind geloof in God
  • ’n Verbasende vangs en doop
  • ’n Tyd van sifting
  • Verdere toetse wat ek moes deurstaan
  • Die Tweede Wêreldoorlog en daarna
  • Jehovah was my toevlug en my bergvesting
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • As ons God se wil doen, sal hy ons nooit verlaat nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • 1923 – Honderd jaar gelede
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Bevoorreg om aan naoorlogse uitbreiding deel te neem
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 4/1 bl. 26-29

‘Ek het met vleuels soos die arende opgevaar’

Soos vertel deur Ingeborg Berg

EK IS meer as honderd jaar gelede, op 5 Junie 1889, naby Fredensborg-kasteel, net noord van Kopenhagen, gebore. Wanneer die Deense koninklike gesin gaste gehad het, waaronder konings en keisers van Europese lande, is dames uit die welgestelde huise in Fredensborg genooi om met die voedsel en die bediening te help. As klein dogtertjie is ek dikwels saamgeneem en toegelaat om in die kasteel te speel en rond te loop.

Ek onthou tsaar Nikolaas II van Rusland en sy gesin baie goed. Sy lyfwag, ’n Kosak met ’n ontblote swaard, het buite sy kamer gestaan. Die Kosakke was lief vir kinders, en een van hulle het eenkeer probeer om my ’n drukkie te gee. Sy lang baard het my bang gemaak en ek het verskrik deur die lang gange van die kasteel gevlug.

By een geleentheid het tsaar Nikolaas II, keiser Wilhelm II van Duitsland en die seun van koningin Victoria, wat later koning Eduard VII van Engeland geword het, die Deense koning Christiaan IX besoek. Terwyl hulle in die strate van Fredensborg gewandel en vriendelik met mense gesels het, het tsaar Nikolaas sy hand liggies op my kop geplaas terwyl ek ’n kniebuiging voor hom gemaak het. Dit was destyds ’n vreedsame tyd, en staatshoofde het nie soos vandag vir hulle veiligheid gevrees nie.

Vrede word weggeneem

In 1912 het ek in Suid-Jutland as verpleegster onder die Deensgesinde mense aan die Duitse kant van die grens begin werk. Suid-Jutland was sedert die oorlog tussen Denemarke en Pruise in 1864 onder Duitse bewind. Ek het moeders met pasgebore babas gehelp en het baie van hierdie jong gesinne goed leer ken.

In 1914 het ek met ’n Deense grenswag getrou en aan die Deense kant van die grens gaan woon. Kort daarna het oorlog uitgebreek. Later is dit die Groot Oorlog en uiteindelik die Eerste Wêreldoorlog genoem. Een oggend is doringdraad langs die grens uitgerol, wat vrye beweging oor die grens verhinder het. Die vrede en veiligheid wat ons tot op daardie stadium ondervind het, was verby.

Die afgryse en sinloosheid van die oorlog het ons diep geraak toe ons gehoor het dat die jong vaders in al die gesinne wat ek as verpleegster besoek het vir militêre diens opgeroep is. En almal behalwe een het aan die Wesfront by die Marne gesneuwel! Dit was verskriklik om te dink aan die jong weduwees wat hulle mans verloor het en aan die kindertjies wat nou sonder vaders was. Hoe kon hierdie jong vroue na hulle plase omsien? “Waar is God?” het ek gevra.

Gedurende die oorlog was die situasie aan die grens dikwels baie gespanne wanneer vlugtelinge dit probeer oorsteek het. Ek is aangestel om die vroue te deursoek wat daarvan verdink is dat hulle iets insmokkel. Hulle het gewoonlik kos ingesmokkel, en ek het dit dikwels geïgnoreer en hulle laat gaan. Die oorlog het in 1918 geëindig, en in 1920 is Suid-Jutland met Denemarke herenig.

Ek vind geloof in God

Hoewel my geloof in God verswak het vanweë al die ongeregtighede wat ek gesien het, het ek na die een of ander doel in die lewe gesoek. Ek en Alfred, my man, het gereeld kerk toe gegaan, maar ons vrae is nie beantwoord nie.

In 1923 het ons na ’n klein vissersdorpie aan die Flensburg-fjord verhuis, en Alfred het as visser begin werk. Ons het spoedig ’n gesin leer ken wat Baptiste was. Hoewel ons Lutherane was, het ons eendag hulle uitnodiging na ’n Bybeltoespraak by die Ferry Inn in Egernsund aanvaar. Voordat ons gegaan het, het ek op my knieë gegaan en gebid: “As daar ’n God is, luister asseblief na my gebed!”

Die toespraak was oor die vrou by die put van Sigar, en dit het by my die begeerte gewek om die Bybel te lees. Gevolglik het ek as ’t ware ’n nuwe mens geword! Ek het aan my ma geskryf: “Ma het altyd gesê dat ek my tot God moet bekeer. Ek dink dit het nou gebeur; ek was bang om Ma te vertel omdat ek bang was dat die vreugde wat ek ondervind het, sal verdwyn. Maar dit is steeds daar!”

Heelwat later, in 1927, het ek ’n boekie in ons solder gevind met die titel Vryheid vir die volke. Dit het my aandag getrek, en ek het so verdiep geraak daarin dat ek alles om my vergeet het. Eers toe die kinders van die skool af gekom het en wou eet, het ek dit neergesit.

Toe Alfred daardie aand huis toe kom, het ek hom met groot geesdrif vertel wat ek gelees het. Ek het vir hom gesê dat as die boekie die waarheid praat die kerk nie die huis van God is nie en dat ons dan daaruit moet bedank en dit onmiddellik moet verlaat. Alfred het gedink dat dit ’n bietjie oorhaastig sou wees en het so gesê. Maar ons het ooreengekom om ’n brief aan die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Kopenhagen te stuur en meer lektuur te bestel.

In antwoord op ons versoek is ’n reisende opsiener, Christian Rømer, gestuur om ons te besoek. Ons het hom die kinders se kamer gegee en hulle beddens in die solder gesit. Soggens en smiddae het broer Rømer van huis tot huis gaan preek en elke aand het hy met ons gestudeer. Hy het vier dae lank gebly, en ons het werklik ’n wonderlike tyd gehad. Toe hy vertrek, het ek Alfred weer gevra of ons uit die kerk gaan bedank. Hierdie keer het hy geesdriftig ingestem.

Alfred het dus na die predikant gegaan met ons bedanking. Die predikant het gedink dat Alfred gekom het omdat daar nog ’n baba was wat gedoop moes word. Maar toe hy hoor waarom Alfred gekom het, kon hy dit nie glo nie. “Wat is fout met die kerk?” wou hy weet. Alfred het die leerstelling oor die Drie-eenheid, onsterflikheid van die siel en ewige foltering gemeld. “Die Bybel leer nie hierdie dinge nie”, het Alfred gesê. Toe die predikant flou antwoord dat hy nooit oor hierdie sake praat met mense wat vir hulself kan dink nie, het Alfred beslis gesê: “Ons wil die kerk verlaat!”

’n Verbasende vangs en doop

’n Byeenkoms sou in Kopenhagen gehou word, maar ons het te min geld gehad en kon nie die reis bekostig nie. Ek het tot God gebid en hom gevra om ons te wys hoe om daar te kom, aangesien ons ons wou laat doop. ’n Rukkie voor die byeenkoms het Alfred op die fjord uitgevaar om vis te vang. Hy het soveel vis gevang dat die boot vol was en ons vir ons reis kon betaal. Die plaaslike vissers was verstom, aangesien min vis daardie jaar in die fjord gevang is. Trouens, meer as 50 jaar later het die plaaslike vissers steeds oor “die wonderwerk” gepraat. Ons het dit Petrus se visvangs genoem. Op 28 Augustus 1928 is ons dus gedoop.

Die doopplegtigheid was anders as hedendaagse doopplegtighede. Die doopbad was agter ’n gordyn. Toe die gordyn oopgetrek is, was broer Christian Jensen daar, gereed om die doop waar te neem. Hy het ’n swaelstertbaadjie aangehad en in die middel van die doopbad gestaan met die water tot by sy middel. Die doopkandidate was in lang, wit gewade geklee. Die mans is eerste gedoop en daarna die vroue.

Gedurende die byeenkoms in Kopenhagen het ons by my ouers gebly. Toe ek daardie aand huis toe kom, het my pa gevra waarheen ons was.

“Ons was na ’n byeenkoms”, het ek gesê.

“Wat het daar gebeur?”

“Ons is gedoop”, het ek geantwoord.

“Julle is gedoop?” het hy gebulder. “Was die doop wat jy as kind ondergaan het nie goed genoeg nie?”

“Nee, Pa”, het ek geantwoord. Hy het my toe ’n oorveeg gegee en uitgeroep: “Ék sal jou doop!”

Ek was 39 en die moeder van vyf kinders toe ek die laaste oorveeg van my pa gekry het, wat andersins baie gaaf en vriendelik was. Hy het nooit weer die voorval gemeld nie. Gelukkig was Alfred nog nie by die huis nie, en ek het hom eers jare later vertel wat gebeur het.

’n Tyd van sifting

Toe ek by die huis kom, het ek iemand besoek wat ek as ’n suster beskou het, en ek het haar geesdriftig van die byeenkoms en ons doop vertel. Sy het doodstil gesit en toe gesê: “Arme, arme suster Berg. Jy moenie meer hieraan glo nie. Een van die dae sal ’n broer van Flensburg kom, en hy sal die waarheid aan ons verduidelik.”

Ek was verbysterd. Ek kon skaars met my fiets terugry huis toe. ’n Kerkklok het daar naby gelui, en met elke slag was dit asof die woorde “dood, dood” in my ore weergalm het. Ek het Jehovah in my hart om hulp geroep, en die woorde van Psalm 32:8, 9 het by my opgekom: “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees. Wees nie soos ’n perd, soos ’n muilesel wat geen verstand het nie, wat ’n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.”

Toe ek by die huis kom, het ek my Bybel geneem en die Modelgebed gelees. Ek is gerusgestel. Die gelykenis van die kosbare pêrel het by my opgekom (Mattheüs 13:45, 46). Die Koninkryk was soos daardie pêrel. Ek wou alles opoffer om die Koninkryk te beërwe. Hierdie gedagtes het my vertroos. En daar was ander seëninge.

In 1930 is The Golden Age (nou Ontwaak!) vir die eerste keer in Deens uitgegee onder die naam Die Nuwe Wêreld. En die daaropvolgende jaar was die Bybelstudente verheug om die naam Jehovah se Getuies te ontvang. Daar was destyds net ’n paar van ons in ons omgewing, en vergaderinge is nou en dan in ons huis gehou. Aangesien die straat waarin ons gewoon het Die Trap genoem is, is ons Die Trap-gemeente genoem.

Verdere toetse wat ek moes deurstaan

In 1934 het ek ’n groot operasie ondergaan en as gevolg daarvan is ek verlam. Ek was twee en ’n half jaar lank verlam, en die dokters het voorspel dat ek die res van my lewe in ’n rolstoel sal wees. Dit was ’n baie moeilike tyd vir my, maar my gesin was ’n wonderlike hulp.

Alfred het vir my ’n Bybel met groot druk gekoop, en ons jongste seun het ’n stander daarvoor gemaak sodat ek dit in die bed kon lê en lees. Maar ek wou ook preek, en Alfred het dus ’n plakkaat langs die pad gesit wat die nuwe tydskrifte geadverteer het. Diegene wat belanggestel het, het ingekom na my toe, en ek het met hulle gepraat. As gevolg van hierdie plakkaat het mense in die streek ons gesin Die Nuwe Wêreld genoem.

Reisende opsieners het my gereeld besoek. Ek het hierdie ryp en ervare broers dus goed leer ken en is baie aangemoedig deur hulle. Ek het ook die tyd gebruik om die Bybel te bestudeer, en die kennis het my versterk. Ek het gevoel asof ‘ek met vleuels soos ’n arend opvaar’.—Jesaja 40:31.

Toe die identiteit van die “groot menigte” in 1935 duidelik geword het, het die meeste broers en susters in ons gebied, onder andere ons oudste seun en dogter, opgehou om die brood en die wyn by die Gedenkmaal te gebruik. Maar ’n paar van ons het nooit oor ons hemelse roeping getwyfel nie. Ons was nogtans ook bly oor ons nuwe begrip van Jehovah se wonderlike voorneme ten opsigte van die groot menigte en hulle beloning van ewige lewe op die aarde.—Openbaring 7:9; Psalm 37:29.

Ondanks die dokters se voorspelling het my gesondheid langsamerhand verbeter, en ek kon weer ’n volle aandeel in die lewensbelangrike predikings- en onderrigtingswerk hê.

Die Tweede Wêreldoorlog en daarna

Oorkant die fjord kon ons Duitsland sien, en ons het die invloed van Nazisme begin gewaar. Sommige van ons bure het Nazi’s geword en hulle het ons gedreig: “Wag totdat Hitler kom. Dan sal julle in ’n konsentrasiekamp of op ’n verlate eiland beland!”

Ons het gemeen dat ons eerder moes verhuis. Vriendelike mense het ons gehelp om ’n woonstel in Sønderborg te kry, ’n groter dorp nie te ver daarvandaan nie. Die Tweede Wêreldoorlog het in September 1939 uitgebreek; ons het in Maart 1940 verhuis; en op 9 April het Duitse troepe Denemarke beset. Vreemd genoeg, in Denemarke het die Duitsers hulle aandag nie soveel op Jehovah se Getuies toegespits nie.

Toe Hitler se droom van oorwinning uiteindelik aan skerwe gespat het, het ek Bybelstudies gehou met talle ontnugterde Duitsers wat in Sønderborg gewoon het. Watter vreugde was dit tog om te sien hoe hierdie Bybelstudente hulle lewe aan Jehovah toewy en om die meeste van my kinders en kleinkinders bedrywig in Christelike diens te hê!

Ek het my man in 1962 verloor, ’n kleinkind in 1981 en my oudste dogter in 1984. Ek is deur hierdie tye van verdriet gehelp deur bedrywig in Jehovah se diens te bly.

Dit was wonderlik om die vordering van die Koninkrykswerk in Denemarke te sien sedert die tyd toe ek in 1928 begin het. Toe was daar net ongeveer 300 verkondigers, maar nou is daar meer as 16 000! Ek is dankbaar dat ek op honderdjarige ouderdom nog bedrywig in die diens kan wees. Ek het waarlik die vervulling van die woorde in Jesaja 40:31 ervaar: “Maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel