Vrae van lesers
▪ Kul of mislei Jehovah mense, waaronder sy knegte, soos Jeremia 4:10 en 20:7 skynbaar toon?
Nee, die Skepper is nie misleidend, slinks of skelm in sy handelinge nie. Hy kan egter ten spyte van menseverwagtinge sy regverdige wil volbring, en hy doen dit ook.
Ons sien een voorbeeld hiervan uit Jeremia 4:10, waar die profeet gesê het: “Ag, Here, HERE, waarlik, U het hierdie volk en Jerusalem grootliks mislei met die woorde: Julle sal vrede hê—terwyl die swaard tot aan die siel raak.”
Jehovah het Jeremia gebruik om die komende onheil vir die afvallige nasie wat Hom kwansuis gedien het, te voorspel (Jeremia 1:10, 15-19; 4:5-8; 5:20-30). Maar daar was ook ander wat beweer het dat hulle profete was (Jeremia 4:9). Wat het die mense by sulke sogenaamde profete gehoor? God het dit so beskryf: “Die profete profeteer vals . . . en my volk wil dit graag so hê.”—Jeremia 5:31; 20:6.
Hoewel Jehovah nie daardie valse profete gestuur het nie, het hy hulle ook nie verhinder om boodskappe soos: “Julle sal vrede hê” en “Geen onheil sal oor julle kom nie” te versprei nie (Jeremia 23:16, 17, 25-28, 32). Die mense moes kies—hulle moes die kragtige maar ware profesieë wat Jeremia oorgedra het, aanvaar of hulself deur valse, eiegemaakte profete soos Hananja en Semaja laat mislei (Jeremia 28:1-4, 11; 29:30-32). Omdat God nie daardie misleidende profete gekeer het nie, kan daar van hom gesê word: “U het hierdie volk en Jerusalem grootliks mislei met die woorde: Julle sal vrede hê.”
Jeremia is in ’n ander sin mislei. “U het my mislei, o Jehovah, en ek het my laat mislei. U het u krag teen my aangewend, sodat u geseëvier het. Ek was ’n belagging die hele dag; almal bespot my.”—Jeremia 20:7, NW.
Pashur, ’n prominente priester, het Jeremia in die openbaar te lyf gegaan en hom toe in die blok gesit. Uit ’n menslike oogpunt kon Jeremia gedink het dat dit soveel is as wat hy kon verdra, dat hy net nie meer die krag gehad het om ondanks onverskilligheid, verwerping, bespotting en fisiese geweld aan te hou nie. Maar dit was nie die geval nie. Jehovah het Sy krag teen (of in teenstelling met) Jeremia se menslike neiging gebruik. God het Jeremia mislei in die sin dat Hy hierdie onvolmaakte man gebruik het om te volbring wat die profeet nie in sy eie krag kon doen nie. Al was Jeremia hierdeur mislei of verbaas, was dit vir ’n goeie doel: Die wat hom vervolg het, is beskaamd gemaak, en God se boodskap is oorgedra.—Jeremia 20:11.
Wanneer Jeremia 4:10 en 20:7 dus in die konteks beskou word, stem dit ooreen met Elihu se gevolgtrekking: “God handel nie onregverdig nie, en die Almagtige verdraai nie die reg nie.”—Job 34:12.