Vrae van lesers
▪ Het die apostel Paulus etniese vooroordeel getoon toe hy saamgestem het met kritiek wat alle Kretense oor een kam geskeer het?
Nee, Paulus het hom nie skuldig gemaak aan die gewoonte om neerhalende veralgemenings oor mense met ’n ander etniese of volksagtergrond te maak nie.
Hierdie vraag ontstaan op grond van opmerkings in Paulus se brief aan die dissipel Titus. Paulus het hom op die groot Mediterreense eiland Kreta agtergelaat sodat hy “sou regmaak wat [nog gereël moes word], en van stad tot stad ouderlinge sou aanstel”. Paulus het ’n paar kwalifikasies vir gemeentelike ouere manne gemeld, maar het Titus aangeraai: “Daar is baie wat tugteloos is, wat onsin praat en verleiers is, veral die wat uit die besnydenis is; hulle mond moet gestop word. Hulle keer hele huise onderstebo.”—Titus 1:5, 10, 11, vgl. NAV.
Toe het Paulus in vers 12 [vgl. NAV] gesê: “Een uit hulle, hul eie profeet, het gesê: Die Kretense is altyd leuenaars, ongediertes, lui [vrate].” In vers 13 het hy bygevoeg: “Hierdie getuienis is waar. Daarom moet jy hulle skerp bestraf, sodat hulle gesond in die geloof kan wees.”
Talle Bybelvertalers laat Paulus se opmerking “hierdie getuienis is waar” direk volg op die woorde van ’n Kretensiese profeet wat hy aangehaal het. Ander begin ’n nuwe paragraaf met vers 13.a Wat het Paulus, ongeag die teksindeling, beaam?
Hy het beslis nie ’n neerhalende veralgemening van rassistiese of etniese aard oor die Kretense onderskryf nie. Ons kan seker wees daarvan, want Paulus het geweet dat daar voortreflike Christene op Kreta was wat deur God goedgekeur en met Sy heilige gees gesalf is (Handelinge 2:5, 11, 33). Daar was genoeg getroue Christene om “van stad tot stad” gemeentes te vorm. Hoewel sulke Christene nie volmaakte mense was nie, kan ons seker wees dat hulle nie leuenaars en lui vrate was nie; anders sou hulle nie steeds Jehovah se goedkeuring geniet het nie (Filippense 3:18, 19; Openbaring 21:8). En soos ons vandag in alle nasies vind, was daar waarskynlik regskape mense op Kreta wat die lae sedestandaarde om hulle betreur het en gereed was om op die Christenboodskap te reageer.—Esegiël 9:4; vergelyk Handelinge 13:48.
Daar was andersyds ook mense op Kreta wat nie hoë sedestandaarde gehad het nie. Paulus het dit gepas geag om die woorde aan te haal wat blykbaar deur Epimenides, ’n Kretensiese digter (profeet of woordvoerder) van die sesde eeu v.G.J., uitgespreek is. Maar Paulus het met daardie beskrywing saamgestem vir sover dit van toepassing was op ’n sekere gedeelte van die Kretensiese bevolking.
Húlle het ‘onsin gepraat en was verleiers’ wat met getroue Christene omgegaan het en probeer het om ‘hele huise onderstebo te keer’. Sulke ondermynende verleiers is waarlik goed beskryf as “leuenaars, ongediertes”, en die beskrywing was ewe geldig vir sulke mense op ander plekke (2 Timotheüs 3:6, 13). Bowendien moes enigiemand wat met die gemeente omgegaan het en verlei is om so op te tree “skerp bestraf” word. Diegene wat by teregwysing baat gevind het, kon sodoende gehelp word om voorbeeldig te wees in goeie werke en “gesonde spraak wat nie veroordeel kan word nie”.—Titus 2:6-8, NW.
Dit moet vir ons almal ’n waarskuwing wees. Etniese of volksvooroordeel kom dalk algemeen om ons voor. (Vergelyk Johannes 7:47-52.) Ons hoor waarskynlik hoe bure, skoolmaats of kollegas veralgemeen in hul opmerkings oor ander mense, soos: ‘O, daardie noorderlinge is almal koud en ongevoelig’; ‘Wel, jy weet hoe trots daardie suiderlinge is’; of, ‘Dis gevaarlik om daardie mense van oorkant die grens te vertrou.’
Ons moet probeer om ons nie te laat beïnvloed deur algemene karakterbeskrywings wat waarskynlik ongegrond is of baie oordryf word nie. Party mense is dalk spontaner en gee maklik uiting aan hulle gevoelens, terwyl ander dalk meer teruggetrokke is of dit moeilik vind om hartlik te wees teenoor vreemdelinge. Maar ons moet onthou dat daar ongetwyfeld van ons Christenbroers onder die mense van daardie etniese groep of nasionaliteit is, sowel as talle ander wat nog nie ware Christene geword het nie, maar bewonderenswaardige eienskappe het en na geregtigheid honger.
Die apostel Petrus het die feit beklemtoon dat “God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is” (Handelinge 10:34, 35). Ons kan heeltemal seker wees dat Paulus dit daarmee eens was en dieselfde beskouing in sy geskrifte en spraak weerspieël het. Ons moet ook.
[Voetnoot]
a Kyk The New Berkeley Version asook die vertalings deur R. F. Weymouth, F. A. Spencer, K. S. Wuest en Abner Kneeland.