Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 7/15 bl. 4-7
  • Werk wat jou gelukkig kan maak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Werk wat jou gelukkig kan maak
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Grondige beweegredes?
  • Die mens is gemaak om te werk
  • ‘Geniet die goeie’ wanneer jy God se wil doen
  • Hardwerkendheid—Wanneer dit ’n deug is
    Ontwaak!—1993
  • Hoe om harde werk te geniet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Geniet jou werk
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Sien die goeie vir jou harde werk
    ‘Hou julle in God se liefde’
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 7/15 bl. 4-7

Werk wat jou gelukkig kan maak

“EK HET my werk as ’n drukker regtig baie geniet”, sê Antonio in Genua, Italië. “Ek het ’n goeie salaris verdien, en daarom moes ek baie ure oortyd werk. Na net ’n paar jaar het ek, ten spyte van my jeug, my werkgewers se regterhand geword.” Antonio het skynbaar die doelwitte bereik wat baie beweeg om hard te werk: rykdom, aansien en ’n interessante werk wat hy geniet het.

Het Antonio ‘die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid’? (Prediker 3:13). En het sulke werk hom werklik gelukkig gemaak? “Weens die spanning wat ons dol lewenstyl meegebring het”, sê hy voorts, “het ons probleme as ’n gesin begin ondervind. Dit het ons ongelukkig gemaak.” Ten spyte van hulle bevredigende werk was nòg Antonio nòg sy vrou gelukkig. Wat van jou? ‘Geniet jy die goeie by al jou moeitevolle arbeid’? Maak jou werk jou werklik gelukkig?

Grondige beweegredes?

’n Vername rede waarom mense hard werk, is om ’n bestaan te maak. In sommige lande moet mense lang ure werk net om die pot aan die kook te hou. Sommige sloof hulle dag en nag af sodat hulle kinders ’n beter lewe sal hê. Nog ander werk kompulsief om rykdom te vergaar.

Leonida in die Filippyne het twee betrekkings beklee. Sy het bedags by ’n bank gewerk en saans drie of vier uur by ’n kollege klas gegee. Was die ekstra geld die moeite werd? “Ek het altyd die horlosie dopgehou”, verduidelik sy. “Ek was verveeld. Dit het my geen bevrediging gegee nie.”

Nee, dit lei nie tot ware bevrediging en geluk as ’n mens net vir geld werk nie. “Vermoei jou nie om ryk te word nie”, maan wyse koning Salomo, “want skielik maak dit vir hom vlerke en vlieg soos die arend na die hemel toe” (Spreuke 23:4, 5). Sommige arende vlieg blykbaar teen snelhede van tot 130 kilometer per uur. Dit lig goed toe hoe vinnig swaar verdiende rykdom kan wegvlieg. Selfs as ’n persoon rykdom bymekaarmaak, kan hy niks saam met hom neem wanneer hy sterf nie.—Prediker 5:15; Lukas 12:13-21.

Dit hou soms ernstige gevare in as ’n mens te veel tyd daaraan bestee om ’n bestaan te maak. Dit kan tot geldgierigheid lei. In die eerste eeu was daar ’n groep godsdiensyweraars, die Fariseërs, wat bekend was vir hulle geldgierigheid (Lukas 16:14). As ’n oud-Fariseër was die Christenapostel Paulus ten volle bewus van hulle lewenstyl (Filippense 3:5). “Die wat ryk wil word”, waarsku Paulus, “val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle . . . hulleself met baie smarte deurboor” (1 Timotheüs 6:9, 10). Ja, “geldgierigheid”, om enigiets en alles vir geld te doen, kan jou lewe ruïneer. So ’n weg lei nie tot geluk nie.

Die rede waarom sommige hulle inspan, is om al hoër met die maatskappyleer op te beweeg. Hulle kom nietemin uiteindelik voor die werklikheid te staan. “Ambisieuse jongmense”, sê die tydskrif Fortune, “wat in hulle twintiger- en vroeë dertigerjare opofferinge gemaak het om tussenleiers te word, kom tot die onaangename maar onvermydelike besef dat, ten spyte van baie harde werk, nie almal heel bo sal uitkom nie. Van skone uitputting het hulle lus om te vra watter sin dit alles het. Waarom so hard stry? Wie gee om?”

Die hoofsaak in die lewe van een so ’n man, Mizoemori, was om vooruitgang in die wêreld te maak. Weens sy najaging van ’n loopbaan in bestuurdersposte by een van die grootste banke in Japan het hy nie tyd vir sy gesin gehad nie. Nadat hy meer as 30 jaar lank hard gewerk het, was sy gesondheid geruïneer en was hy beslis nie gelukkig nie. “Ek het besef”, sê hy, “dat die mededinging om poste onder mense wat graag vernaam wil wees ‘tevergeefs is en ’n gejaag na wind’.”—Prediker 4:4.

Maar wat van diegene soos Antonio, wat hulle werk geniet? Omdat Antonio se werk hom geboei het, het hy sy gesinslewe op die altaar van werk geoffer. Ander offer hulle gesondheid en selfs hul lewe, soos die skielike dood van talle vername en oorwerkte Japannese direkteure toon. ’n Voorligtingsdiens vir hulle bedroefde familielede het in net een dag ’n verbasende 135 oproepe ontvang.

Sommige wy hulle lewe daaraan om ander te help. Jesus het hierdie gees aangemoedig (Mattheüs 7:12; Johannes 15:13). Dit bring werklik geluk as ’n mens besig bly met die verdienstelike werk om ander te help.—Spreuke 11:25.

Sulke edelmoedige ywer kan egter ook gevare inhou. Die Judese koning Ussia het byvoorbeeld ’n reuse- siviele taak aangepak, naamlik om wateropgaarplekke in die woestyn uit te kap. Ussia moes die belange van sy volk op die hart gedra het, aangesien hy God destyds “gedurig gesoek” het en blykbaar die goddelike opdrag dat konings onselfsugtig moet wees, gehoorsaam het (2 Kronieke 26:5, 10; Deuteronomium 17:14-20). Dit het sy militêre voorspoed vergroot, en “sy roem is verbrei”. Maar toe hy sterk geword het, het hy hoogmoedig geword, en dit het tot sy ondergang gelei (2 Kronieke 26:15-20; Spreuke 16:18). Iemand wat hom beywer om ander te help, maar wat deur selfvoldoening en trots beweeg word, kan ook val. Waarom behoort enigeen dan hard te wil werk?

Die mens is gemaak om te werk

Ons kan baie oor werk leer van ’n man wie se werk baie beter vrugte afgewerp het as die van enige ander mens wat ooit op die aarde geleef het. Hy is Jesus Christus (Mattheüs 20:28; Johannes 21:25). Toe hy aan die folterpaal gesterf het, het hy uitgeroep: “Dit is volbring!” (Johannes 19:30). Sy lewe van 331/2 jaar was bevredigend.

Jesus se lewe help ons om ’n antwoord te vind op die vraag: “Watter soort werk kan jou gelukkig maak?” Dit was die uitvoering van sy hemelse Vader se wil wat hom onvergelyklike geluk besorg het. Net so sal dit ons laat voel dat ons iets bereik en ons gelukkig maak as ons ons Skepper se wil doen. Waarom? Omdat hy ons samestelling en ons behoeftes selfs beter as ons ken.

Toe God die eerste man, Adam, geskep het, het Hy hom hande- sowel as verstandelike werk gegee om te doen (Genesis 2:15, 19). Omdat hy oor alle ander aardse skepsele moes “heers”, het Adam ook bestuurswerk gehad (Genesis 1:28). Solank Adam hom by hierdie reëling gehou het, was sy werk sinvol en verdienstelik. Elke takie het aan hom nog ’n geleentheid gebied om die Allerhoogste te behaag.

Dit was egter nie altyd die geval met Adam nie. Hy het besluit om weg te breek van God se reëling. Adam het nie meer behae daarin geskep om God se wil te doen nie, maar wou doen waarvoor hy lus gehad het. Hy het teen die Skepper gesondig. As gevolg van sy besluit is Adam, sy vrou en al hulle nageslag aan “die nietigheid onderwerp” (Romeine 5:12; 8:20). Pleks van geluk te bring, het werk ’n geswoeg geword. God se oordeel teen Adam het hierdie woorde ingesluit: “Vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde” (Genesis 3:17-19). Werk, wat verhewe moes wees omdat die einddoel daarvan was om die mens se Skepper te behaag, het nou net pynlike arbeid beteken bloot sodat ’n mens jou eie brood kan kry.

Watter gevolgtrekking kan ons uit hierdie feite aflei? Dit: Harde werk bring blywende tevredenheid en geluk slegs as ons lewens om die uitvoering van die goddelike wil draai.

‘Geniet die goeie’ wanneer jy God se wil doen

Vir Jesus Christus was dit soos voedsel om die goddelike wil te doen—iets wat hy kon geniet en wat sy geestelike lewe kon onderhou (Johannes 4:34). Hoe kan jy sulke genot uit werk put?

Jy moet verstaan “wat die wil van die Here” vir jou is (Efesiërs 5:17). Sy wil is dat die mensdom herstel moet word “tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” (Romeine 8:21; 2 Petrus 3:9). Die wêreldwye insamelingswerk waardeur dit tot stand gebring sal word, vind nou plaas. Jy kan ook ’n deel hê aan hierdie uiters bevredigende werk. Sulke werk sal jou beslis gelukkig maak.

Antonio, wat aan die begin gemeld is, het later tevredenheid en geluk gevind. Toe hy en sy vrou hulle “nuttelose” sekulêre betrekkings eerste in hulle lewe gestel het en diep betrokke was daarby, het hulle geestelike lewe daaronder gely. Toe het hulle gesinsprobleme begin ondervind. Omdat hulle besef het wat die situasie was, het sy vrou besluit om uit haar werk te bedank en begin om haar ‘kragtig in te span’ in die werk om God se Koninkryk voltyds te verkondig.—Lukas 13:24, NW.

“Onmiddellik”, sê Antonio, “het ons ’n groot verandering opgemerk”. “Ons het nie meer aanhoudend gestry nie. Vrede het na ons gesin teruggekeer.” Sy vrou het die vreugde gesmaak om ander te help om die kennis te verkry wat “die ewige lewe” beteken (Johannes 17:3). Haar geluk het Antonio beweeg om weer te dink oor wat werklik die moeite werd is. Sy begeerte om God heelhartig te dien het die swaarste geweeg. Hy het ’n aanbod van bevordering van die hand gewys en uit sy sekulêre werk bedank. Hoewel die verandering beteken het dat hy nederiger werk moes aanvaar, is Antonio en sy vrou bly om die meeste van hulle tyd in die Christelike bediening deur te bring en God se wil te doen.

Natuurlik kan nie almal sulke groot veranderinge aanbring nie. Mizoemori, die Japannese bankier wat vroeër gemeld is, geniet sy bediening as ’n ouere man in ’n Christengemeente en voorsien steeds vir sy gesin deur middel van sy sekulêre werk, waar hy ’n bestuurderspos beklee. Sy lewe draai egter nie meer om sy sekulêre werk nie, maar eerder om die uitvoering van God se wil. Sy sekulêre werk is die middel waarmee hy hom onderhou en wat hom in staat stel om daardie oogmerk te bereik. Nou is sy sekulêre werk ook sinvol.

Wanneer jy hierdie beskouing van jou werk kry, sal jy jou ongetwyfeld inspan “nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar in eenvoudigheid van hart, omdat julle God vrees” (Kolossense 3:22). Dit lyk dalk of sulke opregtheid nie baie voordelig is in hierdie mededingende samelewing nie, maar soos Mizoemori erken, sal jy vertrou en waardeer word as jy sulke beginsels toepas. Alhoewel hy opgehou het om vir bevordering te werk, het dit hom nogtans te beurt geval.—Spreuke 22:29.

Ja, as jy geluk in harde werk wil vind, is die sleutel dat jy die uitvoering van God se wil die middelpunt van jou lewe maak. Dit is waarom wyse koning Salomo tot die slotsom gekom het: “Daar [is] niks beters onder hulle . . . nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe. En ook—dat elke mens eet en drink en die goeie geniet vir al sy moeitevolle arbeid; dit is ’n gawe van God.”—Prediker 3:12, 13.

[Prent op bladsy 7]

Die sleutel tot die genieting van die vrugte van harde werk is om Bybelstudie en die uitvoering van God se wil die middelpunt van jou gesinslewe te maak

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel