God se voorneme is dat die mens lewe in ’n paradys geniet
“Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.”—GENESIS 2:15.
1. Wat was die Skepper se oorspronklike voorneme met gehoorsame mense?
DIT was die Skepper se oorspronklike voorneme, en dit is steeds sy voorneme, dat gehoorsame mense die lewe geniet sonder om te verouder, dat hulle altyd met jeugdige lewenskrag gevul is, nooit verveeld is nie, altyd ’n verdienstelike doel het om na te streef en ware, onselfsugtige liefde op volmaakte wyse betoon en ontvang—in ’n paradys!—Genesis 2:8; vergelyk Lukas 23:42, 43, NW.
2. (a) Wat het waarskynlik gebeur toe die eerste mens sy bewussyn ontvang het? (b) Wanneer, waar en watter tyd van die jaar is die eerste mens geskep?
2 Dít is duidelik wanneer ’n mens terugkyk na die pas geskape Adam toe hy sy bewussyn ontvang het, toe hy sy liggaam bekyk en alles ondersoek het wat hy om hom gesien en gehoor en gevoel het, toe hy skielik besef het dat hy lewe! Dit het volgens die chronologie van die Heilige Bybel sowat 6 000 jaar gelede, in die jaar 4026 voor ons Gewone Jaartelling, plaasgevind. Dit het plaasgevind op die landoppervlakte van wat nou Turkye is, of in die suidwestelike deel van wat nou Asië is, êrens in die omgewing van die Eufraatrivier en die Tigrisrivier, en dus in die noordelike halfrond van ons aardbol. Die tyd sou ongeveer 1 Oktober gewees het, aangesien die mensdom se oudste kalenders om en by daardie datum tyd begin tel het.
3. (a) In watter toestand het die eerste mens lewendig geword? (b) Wat was die eerste mens se naam, en wat het dit beteken?
3 Die eerste mens was volgroeid, volmaak gevorm, volmaak gesond en volmaak wat sedes betref toe hy lewendig geword het. Die naam waarop hy herhaaldelik in die Bybelverslag genoem word, vestig ons aandag op die boustof waaruit hy gevorm is. Sy naam was ’A·dhamʹ.a Die aarde, of grond, waaruit hy gevorm is, is ’a·dha·mahʹ genoem. Daar kan dus gepas gesê word dat sy naam “Aardse Mens” beteken. Dit was die persoonlike naam van hierdie eerste mens—Adam. Wat ’n gewaarwording moes dit tog vir Adam gewees het toe hy lewendig geword het, toe hy ’n bewuste, intelligente persoon geword het!
4. Watter vreemde bewuswording van die lewe het die eerste mens nie gehad nie, en waarvan was hy dus nie ’n seun nie?
4 Toe hierdie eerste mens, Adam, lewendig geword, met intelligente bewustheid wakker geword en sy oë oopgemaak het, het hy nie op ’n harige bors in die sterk, lang arms van ’n soort aapwyfie gelê, aan haar vasgeklou, in haar oë opgekyk en haar met tere liefde Moeder genoem nie. Die eerste mens, Adam, het nie so ’n vreemde bewuswording van die lewe gehad nie. Hy het nie gedink dat hy vleeslik aan ’n aap verwant is nie, nie eens later toe hy vir die eerste keer ’n aap gesien het nie. Op die dag van sy skepping was daar géén aanduiding dat hy ’n afstammeling of ver langs ’n seun van ’n aap of enige dergelike skepsel was nie. Maar sou die eerste mens, Adam, altyd in die duister verkeer oor hoe hy ontstaan het? Nee.
5. Wat het Adam beslis van sy parkagtige tuin en van homself geweet?
5 Dit is te begrype dat hy heel moontlik gewonder het hoe al die pragtige dinge waarna hy gekyk het, ontstaan het. Hy het hom in ’n parkagtige tuin bevind, ’n paradys wat hy nie self ontwerp, geskep en ingerig het nie. Hoe het dit tot stand gekom? As ’n volmaak intelligente mens met rede begaaf, sou hy wou weet. Hy het geen vroeëre ondervinding gehad nie. Hy het geweet dat sy bestaan nie aan homself te danke is nie. Hy het hierdie toestand nie deur eie inspanning bereik nie.—Vergelyk Psalm 100:3; 139:14.
6. Hoe sou Adam waarskynlik reageer op die feit dat hy in ’n volmaakte, aardse tuiste lewe?
6 Die eerste mens, Adam, was dalk in die begin te opgewonde oor hierdie sonderlinge ervaring—die vreugde om in ’n volmaakte aardse tuiste te lewe—om te wonder waar hy vandaan gekom het en waarom. Hy kon nouliks anders as om vreugdevol uit te roep. Hy het gevind dat hy woorde kon praat. Hy het homself in mensetaal hoor praat oor die pragtige dinge wat hy gesien en gehoor het. Hoe wonderlik was dit tog om in hierdie Paradystuin te lewe! Maar terwyl hy met genot inligting ingeneem het van alles wat hy gesien, gehoor, geruik en gevoel het, sou hy ook begin dink het. As ons in sy omstandighede was, sou alles ’n raaisel gewees het, ’n raaisel wat ons nie self sou kon oplos nie.
Die mens se bestaan nie ’n raaisel nie
7. Waarom was Adam nie lank dronkgeslaan oor die feit dat hy lewendig was en hom in ’n paradystuin bevind het nie?
7 Die eerste mens, Adam, was nie lank dronkgeslaan oor die situasie waarin hy hom bevind het nie—lewend en alleen, met niemand soos hy in die Paradystuin te sien nie. Hy het ’n stem gehoor van iemand wat praat. Die mens het dit verstaan. Maar waar was die spreker? Die mens het niemand sien praat nie. Die stem het uit die onsigbare ryk gekom, en dit het met hóm gepraat. Dit was die stem van die mens se Skepper! En die mens kon hom met dieselfde soort spraak antwoord. Hy het met God, die Skepper, gepraat. Die mens het nie ’n hedendaagse wetenskaplike radio-ontvangtoestel nodig gehad om die goddelike stem te hoor nie. God het direk met hom as sy skepsel gepraat.
8, 9. (a) Op watter vrae kon Adam antwoorde kry, en met watter vaderlike sorg en belangstelling is hy behandel? (b) Watter antwoord het Adam van sy hemelse Vader ontvang?
8 Die mens het nou geweet dat hy nie alleen is nie, en dit het hom seker beter laat voel. Hy het baie vrae gehad. Hy kon die onsigbare Persoon wat met hom gepraat het, vra. Wie het hom en hierdie tuin van genot geskep? Waarom is hy daar geplaas, en wat moet hy met sy lewe doen? Was daar ’n doel in die lewe? Hierdie eerste mens, Adam, is met vaderlike sorg en belangstelling behandel, want sy vrae is só beantwoord dat dit sy weetgierige gees tevrede gestel het. Hoe genotvol moes dit tog vir sy Skepper, sy Lewegewer, sy hemelse Vader, gewees het om te hoor hoe die mens begin praat en sy eerste woorde uiter! Dit het die hemelse Vader groot vreugde verskaf om te hoor hoe sy seun met hom praat! Dit sou natuurlik wees om eerste te vra: “Hoe het ek ontstaan?” Die hemelse Vader het dit met genoeë beantwoord en sodoende erken dat die eerste mens Sy seun is. Hy was ’n “seun van God” (Lukas 3:38). Jehovah het homself as die Vader van hierdie eerste mens, Adam, geïdentifiseer. Die kern van die antwoord wat Adam van sy hemelse Vader op sy vraag ontvang en wat hy aan sy nageslag oorgedra het, was:
9 “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword. Ook het die HERE God ’n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ’n plek gegee. En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad. En daar het ’n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword.”—Genesis 2:7-10.b
10, 11. (a) Watter feite het Adam klaarblyklik te wete gekom, maar watter ander vrae moes beantwoord word? (b) Watter antwoorde het die hemelse Vader aan Adam gegee?
10 Adam se helder, vars verstand het hierdie bevredigende inligting gretig ingeneem. Nou het hy geweet dat hy nie afkomstig was uit daardie onsigbare ryk waaruit sy Skepper en Formeerder gepraat het nie. Hy is eerder geformeer uit die aarde waarop hy lewe en was derhalwe aards. Sy Lewegewer en Vader was Jehovah God. Hy was “’n lewende siel”. Aangesien hy sy lewe van Jehovah God ontvang het, was hy ’n “seun van God”. Die bome om hom in die tuin van Eden het vrugte gedra wat goeie voedsel was, wat hy kon eet om as ’n lewende siel aan die lewe te bly. Maar waarom moes hy aan die lewe bly, en waarom is hy op die aarde, in hierdie tuin van Eden, geplaas? Hy was ’n volgroeide, intelligente mens met liggaamlike vermoëns, en hy het verdien om te weet. Hoe anders kon hy sy lewensdoel bereik en sodoende sy Skepper en Vader behaag deur die goddelike wil te doen? Die antwoorde op hierdie gepaste vrae is in die volgende inligting verstrek:
11 “Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”—Genesis 2:15-17.
12. Waarvoor het Adam sy Skepper seker bedank, en hoe kon die mens God dus verheerlik?
12 Adam het seker sy Skepper daarvoor bedank dat hy iets gegee is om hom in hierdie pragtige tuin van Eden nuttig besig te hou. Nou het hy geweet wat die wil van sy Skepper is, en hy kon iets op aarde vir Hom doen. Hy het nou ’n verantwoordelikheid gehad, naamlik om die tuin van Eden te bewerk en te versorg, maar dit sou ’n aangename taak wees. Deur dit te doen, kon hy die tuin van Eden so hou dat dit altyd die Skepper daarvan, Jehovah God, tot eer en lof strek. Wanneer Adam gewerk en honger geword het, kon hy sy honger stil deur van die bome in die tuin te eet. Sodoende kon hy sy krag hernieu en sy lewe van geluk ’n onbepaalde tyd lank—eindeloos—onderhou.—Vergelyk Prediker 3:10-13.
Die vooruitsig op ewige lewe
13. Watter vooruitsig het die eerste mens gehad, en waarom?
13 Eindeloos? Wat ’n feitlik ongelooflike gedagte moes dit tog vir die volmaakte mens gewees het! Maar waarom nie? Sy Skepper was glad nie van plan om hierdie tuin van Eden, wat so meesterlik ontwerp is, te vernietig nie. Waarom sou hy sy eie werk vernietig wanneer dit so goed en ’n uiting van sy kunstige skeppingsvermoë was? Dit sou logieserwys nie sy voorneme wees om dit te doen nie (Jesaja 45:18). En aangesien hierdie weergalose tuin altyd bewerk moes word, sou ’n bewerker en opsigter soos die volmaakte mens, Adam, nodig wees. En as die opsigter, die mens, nie die vrugte van die verbode “boom van die kennis van goed en kwaad” geëet het nie, sou hy nooit sterf nie. Die volmaakte mens kon vir ewig lewe!
14. Hoe kon Adam ewige lewe in die Paradys geniet?
14 Ewige lewe in die Paradystuin van Eden is aan Adam voorgehou! Hy kon dit vir ewig geniet, mits hy volmaak gehoorsaam aan sy Skepper gebly het deur nooit vrugte te eet wat deur die Skepper van die mens verbied is nie. Dit was Sy wens dat die volmaakte mens gehoorsaam bly en vir ewig lewe. Die verbod op die vrugte van “die boom van die kennis van goed en kwaad” was geensins dodelik nie. Dit was bloot ’n toets van die mens se volmaakte gehoorsaamheid aan sy Vader. Dit het die mens ’n geleentheid gebied om sy liefde vir God, sy Skepper, te bewys.
15. Waarom kon Adam uitsien na ’n rooskleurige toekoms waar hy die goeie van sy Skepper sou ontvang?
15 Die volmaakte mens het, met die hartgrondige bevrediging dat hy nie bloot ’n onbedoelde ongeluk was nie maar ’n hemelse Vader het, met ’n duidelike begrip van sy lewensdoel en met die vooruitsig op ewige lewe in die Paradys, na die rooskleurige toekoms uitgesien. Hy het van die bome geëet wat goeie voedsel was en “die boom van die kennis van goed en kwaad” vermy. Hy wou die goeie van sy Skepper ontvang. Werk, nie nadelige werk nie, maar die bewerking van die tuin van Eden, was goed, en die volmaakte mens het gewerk.
Geen verpligting om dinge te verklaar nie
16-18. Watter sogenaamde raaisels het Adam nie verplig gevoel om op te los nie, en waarom nie?
16 Die daglig het verflou namate die groot lig van die dag, wat hy kon sien terwyl dit deur die lug beweeg, gesak het. Dit het donker geword, dit was nag, en die maan het sigbaar geword. Dit het hom nie bang gemaak nie; dit was die klein lig wat oor die nag heers (Genesis 1:14-18). Vuurvlieë het waarskynlik in die tuin rondgevlieg met hulle koue lig wat soos lampies flikker.
17 Toe dit met sononder donker geword het, het hy besef dat hy slaap nodig het soos die diere rondom hom. Toe hy wakker geword het, was hy weer honger en het hy met ’n goeie eetlus ontbyt genuttig deur vrugte van die toegelate vrugtebome te eet.
18 Die nagrus het hom versterk en verkwik, en hy het aandag gegee aan die dag se werk. Terwyl hy na al die groenigheid om hom gekyk het, het hy nie verplig gevoel om die raaisel te ondersoek wat mense duisende jare later fotosintese sou noem nie, die raaiselagtige proses waardeur die groen kleurstof van plante, die chlorofil, die energie van die sonlig aanwend om voedsel vir mens en dier voort te bring, terwyl dit terselfdertyd die koolstofdioksied opneem wat mens en dier uitasem en suurstof afgee wat hulle kan inasem. ’n Mens sal dit dalk ’n raaisel noem, maar dit was nie vir Adam nodig om dit op te los nie. Dit was ’n wonderwerk van die mens se Skepper. Hý het dit verstaan en dit ten behoewe van die skepsele op aarde laat plaasvind. Dit was derhalwe vir die eerste mens se volmaakte intelligensie genoeg dat God, die Skepper, dinge laat groei het, en dit was die mens se godgegewe werk om hierdie plantegroei in die tuin van Eden te versorg.—Kyk Genesis 1:12.
Alleen—maar vreugdevol
19. Wat het Adam nie gedoen nie, hoewel hy besef het dat hy alleen was en dat daar niemand anders soos hy op aarde was nie?
19 Die mens se onderrig deur sy hemelse Vader was nie klaar nie. Die mens het die tuin van Eden alleen versorg. Daar was niemand soos hy op aarde om saam met hom te werk of hom te help nie. Wat sy soort, die mensesoort, betref het, was hy alleen. Hy het nie na iemand soos hy vir aardse geselskap gaan soek nie. Hy het God, sy hemelse Vader, nie gevra om hom ’n broer of ’n suster te gee nie. Sy alleenheid as ’n mens het hom nie uiteindelik mal gemaak en hom sy lewensvreugde en werklus ontneem nie. Hy het kameraadskap met God gehad.—Vergelyk Psalm 27:4.
20. (a) Wat het Adam die grootste vreugde en genot verskaf? (b) Waarom sou dit nie vir Adam ’n moordende las wees om hierdie lewenswyse voort te sit nie? (c) Wat sal die volgende artikel bespreek?
20 Adam het geweet dat sy hemelse Vader hom dophou en sy werk ondersoek. Dit het hom die grootste genot verskaf om sy God en Skepper te behaag, wie se wonderlike eienskappe in al die pragtige skeppingswerke om die mens heen geopenbaar is. (Vergelyk Openbaring 15:3.) Dit sou vir hierdie volmaak gebalanseerde mens wat met sy God kon praat nie ’n moordende las of vervelende taak wees om hierdie lewenswyse voort te sit nie. En God het Adam interessante werk, fassinerende werk, gegee waaruit hy groot bevrediging en genot kon put. Die volgende artikel sal meer besonderhede verstrek oor die seëninge en vooruitsigte wat Adam in die Paradys van sy liefdevolle Skepper ontvang het.
[Voetnote]
a Dit is die woord in die oorspronklike taal van die skeppingsverslag in die Heilige Bybel.—Genesis 1:26, voetnoot in NW-naslaanuitgawe.
b Die profeet Moses, wat die inligting in die boek Genesis in die 16de eeu voor ons Gewone Jaartelling opgeteken het, het ooreenkomstig die kennis van sy dag die volgende inligting oor hierdie rivier in Eden bygevoeg:
“Die naam van die eerste is die Pison. Dit is hy wat om die hele land Hawila loop waar die goud is. En die goud van dié land is goed. Daar is ook balsemgom en onikssteen. En die naam van die tweede rivier is die Gihon. Dit is hy wat om die hele land Kus loop. En die naam van die derde rivier is die [Tigris]. Dit is hy wat oos van [Assirië] loop. En die vierde rivier is die [Eufraat].”—Genesis 2:11-14, vgl. NAV.
Wat is jou antwoorde?
◻ Waarom het Adam nie lank in die duister verkeer oor sy bestaan nie?
◻ Watter werk het God aan Adam gegee, en hoe het hy seker gereageer?
◻ Watter vooruitsig het die volmaakte mens gehad, en waarom?
◻ Waarom het Adam hom nie daarop toegelê om raaisels op te los nie?
◻ Waarom het die feit dat Adam die enigste mens was hom nie sy lewensvreugde ontneem nie?
[Foto-erkenning op bladsy 10]
Foto: NASA