Wonderlike vooruitsigte vir die mens in ’n paradys van genot
“En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.”—GENESIS 1:28.
1, 2. Met watter doel werk Jehovah liefdevol ten behoewe van mense, en watter werktoewysings het hy Adam gegee?
“GOD is liefde”, deel die Heilige Bybel ons mee. Hy toon liefdevolle en onselfsugtige belangstelling in die mensdom en werk onophoudelik sodat hulle vir ewig ’n gesonde, vreedsame lewe in ’n aardse paradys van genot kan geniet. (1 Johannes 4:16; vergelyk Psalm 16:11, NW.) Die eerste mens, die volmaakte Adam, het ’n vreedsame lewe en interessante, aangename werk gehad. Die mens se Skepper het hom aangestel om die pragtige tuin van Eden te bewerk. Die mens se Skepper het hom nou nog ’n taak gegee, ’n spesiale taak, ’n uitdagende toewysing, soos blyk uit die verslag van wat gebeur het:
2 “En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees. So het die mens dan name gegee aan al die vee en aan die voëls van die hemel en aan al die wilde diere van die veld.”—Genesis 2:19, 20.
3. Waarom was Adam en die diereskepping nie bang nie?
3 Die mens het die perd sus genoem, die bul sjor, die skaap sej, die bok ‛es, ’n voël ‛ôph, die duif jo·naʹ, die pou toek·kiʹ, die leeu ’ar·jeʹ of ’ariʹ, die beer dow, die aap qôph, die hond keʹlev, die slang na·chasjʹ, ensovoorts.a Toe hy na die rivier gegaan het wat uit die tuin van Eden gevloei het, het hy visse gesien. Hy het visse da·ghaʹ genoem. Die ongewapende mens was glad nie bang vir hierdie diere, huisdiere sowel as wilde diere, of vir die voëls nie, en hulle was glad nie bang vir hom nie, want hulle het instinktief geweet dat hy hulle meerdere, ’n hoër lewensvorm, is. Hulle was God se skepsele, Hy het hulle lewe gegee, en die mens het geen begeerte of lus gehad om hulle seer of dood te maak nie.
4. Wat kan ons vermoed met betrekking tot Adam se naamgewing van al die diere en voëls, en watter soort ondervinding moes dit gewees het?
4 Die verslag sê nie hoe lank die huisdiere, wilde diere en voëls van die hemel vir die mens gewys is nie. Dit is alles deur God gelei en gereël. Adam het elke dier waarskynlik tydsaam bestudeer, sy kenmerkende gewoontes en geaardheid waargeneem; en dan het hy ’n naam gekies wat vir die dier besonder gepas sou wees. Dit kan beteken dat heelwat tyd verloop het. Dit was vir Adam ’n baie interessante ondervinding om sodoende die talle soorte skepsele op hierdie aarde te leer ken, en dit het groot verstandelike vermoë en spraakvermoë vereis om al hierdie verskillende lewende skepsele deur middel van ’n gepaste naam te onderskei.
5-7. (a) Watter vrae sou waarskynlik ontstaan? (b) Watter soort antwoorde is in die skeppingsverslag in Genesis 1:1-25 gegee?
5 Maar in watter volgorde is al hierdie lewende skepsele geskep? Is die landdiere voor die voëls geskep, en wanneer is die mens geskep in verhouding tot al hierdie laer lewende skepsele? Hoe het God die oppervlak van die aarde vir so ’n groot verskeidenheid skepsele voorberei, die lug voorsien waarin die voëls op sulke groot hoogtes kon vlieg, die drinkwater en die groente vir voedsel voorsien, ’n groot lig geskep om die dag te verhelder sodat die mens kan sien en die klein lig geskep om die nag te verfraai? Waarom was die weer so matig en warm dat die mens onbeskut en naak kon rondbeweeg, werk en slaap?
6 Dit is nie aan die mens oorgelaat om te raai wat die antwoorde is nie. Sy weetgierige gees het intelligente antwoorde verdien van ’n gesaghebbende bron wat akkurate kennis gehad het. Hy is nie verstoot as ’n onkundige seun van God nie, maar God het waarskynlik sy hoë intelligensie in ag geneem en hom die wonderlike geskiedverslag van die skepping in Genesis 1:1-25 gegee.
7 Adam sou baie dankbaar gewees het vir daardie opwindende skeppingsverslag. Dit het baie dinge verklaar. Uit die bewoording het hy verstaan dat drie lang tydperke, wat God volgens Sy tydsberekening dae genoem het, die vierde skeppingstydperk voorafgegaan het waartydens God die twee groot ligte aan die uitspansel van die hemel laat verskyn het om die mens se veel korter dag van 24 uur aan te dui. Hierdie korter mensedag op aarde het geduur van die groot lig se een ondergang tot die volgende. Adam het ook besef dat daar vir hom jare van tyd sou wees, en hy het ongetwyfeld dadelik begin om sy lewensjare te tel. Die groot lig aan die uitspansel van die hemel sou hom in staat stel om dit te doen. Maar wat God se langer skeppingsdae betref, het die eerste mens besef dat hy toe in die sesde dag van God se aardse skeppingswerk gelewe het. Hy is nog nie meegedeel dat daardie sesde dag waarop al die landdiere en toe die mens afsonderlik geskep is, geëindig het nie. Nou kon hy verstaan in watter volgorde die plantelewe, seelewe, voëllewe en landdiere geskep is. Maar Adam, alleen in die tuin van Eden, was nie die volle, volledige verwesenliking van God se liefdevolle voorneme met die mens in sy aardse Paradys nie.
Die skepping van die eerste vrou
8, 9. (a) Wat het die volmaakte mens in die diereskepping gesien, maar watter gevolgtrekking het hy oor homself gemaak? (b) Waarom was dit gepas dat die volmaakte mens God nie ’n maat gevra het nie? (c) Hoe beskryf die Bybelverslag die skepping van die eerste mensevrou?
8 Die eerste mens, met sy volmaakte verstand en waarnemingsvermoë, het gesien dat daar in die voël- en diereryk mannetjies en wyfies is en dat hulle saam hulle soort voortbring. Maar op daardie stadium was dit nie met die mens die geval nie. As hierdie waarneming by hom die begeerte na ’n metgesel gewek het, kon hy geen geskikte maat in die diereryk vind nie, nie eens onder die ape nie. Adam sou die gevolgtrekking maak dat daar geen maat vir hom is nie, want sou God nie hierdie maat na hom gebring het as daar een was nie? Die mens is apart van al daardie diersoorte geskep, en hy was veronderstel om anders te wees! Hy wou nie self oor die saak besluit, vermetel wees en God sy Skepper om ’n maat vra nie. Dit was gepas dat die volmaakte mens die hele saak aan God oorgelaat het, want hy het kort daarna gevind dat God Sy eie gevolgtrekkings oor die situasie gemaak het. Die verslag sê die volgende oor hierdie aangeleentheid en wat toe gebeur het:
9 “Maar vir die mens het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie. Toe het die HERE God ’n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ’n vrou en bring haar na die mens. Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal [vrou] genoem word, want sy is uit die man geneem. Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees. En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.”—Genesis 2:20-25, vgl. NAV.
10. Hoe het die volmaakte man gereageer toe die volmaakte vrou na hom gebring is, en waarop dui sy woorde moontlik?
10 Volkome tevredenheid blyk uit sy woorde toe die volmaakte vrou as ’n helper en komplement na hom gebring is: “Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees.” Hierdie woorde toe hy uiteindelik sy pas geskape vrou gesien het, dui daarop dat hy moontlik ’n hele ruk gewag het om sy verruklike menslike metgesel te ontvang. Toe Adam sy komplement beskryf het, het hy sy eggenote “vrou” (’is·sjaʹ of, letterlik, “vroulike man”) genoem, “want sy is uit die man geneem” (Genesis 2:23, voetnoot in NW-naslaanuitgawe). Adam het nie gedink dat hy vleeslik verwant is aan die voëls en landdiere wat God vroeër onder sy aandag gebring het om hulle name te gee nie. Sy vlees was anders as hulle s’n. Maar hierdie vrou was waarlik van dieselfde vleessoort. Die ribbebeen wat uit sy sy geneem is, het dieselfde soort bloed vervaardig as wat in sy eie liggaam was. (Kyk Mattheüs 19:4-6.) Nou het hy iemand gehad vir wie hy as God se profeet kon optree en aan wie hy die wonderlike skeppingsverslag kon vertel.
11-13. (a) Watter vrae kon ontstaan het toe Adam ’n vrou gekry het? (b) Wat was God se voorneme met die eerste mensepaar? (c) Wat sou vir die volmaakte mensegesin voedsel wees?
11 Maar wat was die voorneme van die mens se Skepper toe Hy hom ’n vrou gegee het? Was dit bloot om hom ’n helper en komplement te gee, ’n metgesel van sy eie soort sodat hy nie eensaam sou word nie? Die verslag verklaar God se voorneme wanneer dit ons vertel van die seën wat God oor hulle huwelik uitgespreek het:
12 “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.
13 “Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees. Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin ’n lewende siel is, gee Ek al die groen plante as voedsel. En dit was so.”—Genesis 1:26-30.
Die eerste mensepaar se vooruitsigte
14. Watter toekoms het, met God se seën, vir die volmaakte man en vrou voorgelê, en wat kon hulle hulle tereg voorstel?
14 Hoe wonderlik was dit tog vir daardie volmaakte man en sy volmaakte vrou om die stem van God met hulle te hoor praat toe hy vir hulle gesê het wat om te doen en hulle geseën het! Met God se seën sou die lewe nie tevergeefs wees nie, maar sou hulle kon doen wat hulle beveel is om te doen. Wat ’n toekoms het tog vir hulle voorgelê! Toe die gelukkige egpaar daar in hulle tuiste, die tuin van Eden, gestaan het, het hulle waarskynlik nagedink oor wat sou gebeur terwyl hulle God se wil vir hulle uitvoer. In hulle geestesoog het hulle die verre toekoms in gekyk en gesien hoe die hele aarde, nie net die “tuin . . . in Eden, in die Ooste” nie, vol stralende manne en vroue is (Genesis 2:8). Die hart van die man en die vrou sou gebons het by die gedagte dat almal hulle kinders, hulle nakomelinge, is. Almal is volmaak, sonder gebrek in liggaamsvorm en -bou, met ewige jeug gepaard met blakende gesondheid en groot lewensvreugde, almal betoon volmaakte liefde teenoor mekaar, almal aanbid hulle groot Skepper, hulle hemelse Vader, eensgesind tesame met die eerste mensevader en -moeder. Hoe bly moes die eerste man en vrou tog nie by die gedagte aan so ’n gesin gewees het nie!
15, 16. (a) Waarom sou daar genoeg voedsel vir die mensegesin wees? (b) Watter werk sou daar buite die tuin van Eden vir die gelukkige gesin wees namate hulle talryker geword het?
15 Daar sou genoeg voedsel wees vir elke lid van hierdie mensegesin wat die hele aarde sou vul. Daar was van die begin af genoeg voedsel daar in die tuin van Eden. God het in hulle onderhoud voorsien en hulle alle saaddraende plante, asook die vrugtebome, as gesonde, lewensonderhoudende voedsel gegee.—Vergelyk Psalm 104:24.
16 Namate hulle gelukkige gesin talryker geword het, sou hulle die tuin uitbrei tot die gebiede buite die grense van Eden, want God se woorde dui aan dat die aarde buite die tuin van Eden onbewerk was. Ten minste, dit was nie versorg en in dieselfde mate bewerk as die tuin van Eden nie. Daarom het hulle Skepper hulle beveel om oor die aarde te “heers”, of dit te onderwerp, terwyl hulle dit vul.—Genesis 1:28, vgl. NW.
17. Waarom sou daar genoeg voedsel vir die groeiende bevolking wees, en wat sou uiteindelik bestaan namate die tuin uitgebrei is?
17 Namate die tuin deur volmaakte bewerkers en opsigters uitgebrei is, sou die onderworpe aarde ’n oorvloedige opbrengs vir die groeiende bevolking lewer. Uiteindelik sou die immer uitbreidende tuin die hele aarde bedek, en ’n aardomvattende paradys sou bestaan wat as die mensdom se ewige tuiste sou floreer. Dit sou ’n pragtige gesig vanuit die hemel wees, en die hemelse Skepper sou kon sê dat dit baie goed is.—Vergelyk Job 38:7.
18. Waarom sou die wêreldwye tuin van Eden rustig wees, en watter vreedsaamheid sou daar heers?
18 Dit sou alles so vreedsaam en rustig soos die tuin van Eden wees waarin die pasgetroude man en vrou hulle bevind het. Niemand sou hoef te vrees dat al daardie diere en voëls wat deur die eerste man, Adam, bestudeer en name gegee is gevaarlik of skadelik sou wees nie. Soos hulle eerste mensevader en -moeder sou die volmaakte inwoners van die aardomvattende Paradys heers oor die visse van die see, die voëls van die hemele en elke lewende dier wat op die aarde beweeg, selfs die wilde diere van die veld. Danksy ’n instinktiewe sin van onderworpenheid aan die mens, wat ‘na God se beeld’ geskep is, sou hierdie laer lewende skepsele in vrede saam met hom leef. Hulle liefdevolle, volmaakte menslike meesters sou ’n klimaat van vrede onder die diereskepping bevorder terwyl hulle oor hierdie laer lewende skepsele heers. Die vreedsame invloed van hierdie menslike meesters na God se beeld sou hierdie vergenoegde laer lewende skepsele beskerm. Bowenal sou die volmaakte mensdom vrede met God geniet, wie se seën nooit van hulle verwyder sou word nie.—Vergelyk Jesaja 11:9.
God rus van sy skeppingswerke
19. (a) Wat moes die eerste man en vrou met betrekking tot God se voorneme besef het? (b) Wat het God met betrekking tot tyd aangedui?
19 Terwyl die volmaakte mensepaar gepeins het oor die aardse toneel wat ooreenkomstig God se voorneme voltooi is, sou hulle iets besef het. Dit sou tyd kos om hierdie wonderlike opdrag van God uit te voer. Hoeveel tyd? Hulle Skepper en hemelse Vader het geweet. Hy het vir hulle aangedui dat daar nou weer ’n einde aangebreek het in die groot reeks skeppingsdae en dat hulle hul in die “aand” bevind het, die begin van ’n nuwe dag volgens God se bepaling van skeppingsdae. Dit sou ’n geseënde dag wees wat vir God se rein, regverdige voorneme geheilig is. Die volmaakte mens, die profeet van God, het hierop ag geslaan. Die geïnspireerde verslag deel ons mee:
20. Wat sê die Bybelverslag van “die sewende dag”?
20 “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag. So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak. Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het.”—Genesis 1:31–2:4.
21. (a) Sê die Bybel dat God sy rusdag beëindig het en dat dit baie goed was? Verduidelik. (b) Watter vrae ontstaan?
21 Die verslag sê nie dat God sy rusdag beëindig het en gesien het dat dit baie goed was en dat dit aand en môre, ’n sewende dag, was nie. Om met die vorige ses skeppingsdae ooreen te stem, moet daar nog verklaar word dat die sewende dag baie goed is, want dit het nog nie geëindig nie. Kan Jehovah God verklaar dat die dag tot dusver baie goed was? Was dit tot dusver vir hom ’n dag van vreedsame rus? Wat van die aangrypende vooruitsig wat die eerste man en vrou hulle op hul huweliksdag in die Paradys voorgestel het? Kom ons kyk hoe die toneel hom in die volgende artikel ontvou.
[Voetnoot]
a Dit is name wat in die Hebreeuse teks van Genesis en ander geïnspireerde boeke van die Hebreeuse Skrifte voorkom.
Hoe sou jy antwoord?
◻ Watter taak benewens die versorging van die tuin het God vir Adam gegee, en wat het dit behels?
◻ Wat het die skeppingsverslag in Genesis 1:1-25 getoon?
◻ Hoe is die eerste mensevrou geskep, en hoe het Adam op hulle huweliksdag gereageer?
◻ Watter vooruitsigte het die eerste mensepaar gehad?
◻ Hoe het God aangedui dat daar weer ’n einde in die groot reeks skeppingsdae aangebreek het?