Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 10/1 bl. 4-5
  • Die oorsprong van die hel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die oorsprong van die hel
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Mesopotamiese hel
  • Egiptiese en Oosterse godsdienste
  • Griekse, Etruskiese en Romeinse helle
  • Die Jode en die Hebreeuse Skrifte
  • Die waarheid omtrent die hel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Wat het van die helse vuur geword?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Is die hel ’n regte plek? Wat is die hel volgens die Bybel?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Wie gaan hel toe?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 10/1 bl. 4-5

Die oorsprong van die hel

“DIE hel”, verduidelik die New Catholic Encyclopedia, is die woord wat “gebruik word om die plek van die verdoemdes aan te dui”. ’n Protestantse ensiklopedie definieer die hel as “die plek van toekomstige straf vir die goddeloses”.a Maar dit is nie net die vernaamste kerke van die Christendom wat aan so ’n plek van straf ná die dood glo nie. Dit het baie eeue voor die Christendom ontstaan.

Die Mesopotamiese hel

Ongeveer 2 000 jaar voor die geboorte van Jesus het die Sumeriërs en die Babiloniërs aan ’n onderwêreld geglo, wat hulle die ‘Land waarvandaan daar geen terugkeer is nie’ genoem het. Hierdie aloue opvatting word weerspieël in die Sumeriese en die Akkadiese gedigte wat as “Die Epos van Gilgamesj” en die “Neerdaling van Isjtar na die Onderwêreld” bekend staan. Hulle beskryf hierdie woonplek van die dode as ’n huis van duisternis, “die huis wat niemand verlaat wat dit binnegegaan het nie”.

Aangaande die toestande wat daar heers, het ’n ou Assiriese teks gesê dat “die onderwêreld vol verskrikking is”. Die Assiriese prins wat kwansuis ’n gesig van hierdie ondergrondse woonplek van die dode vergun is, het getuig dat sy “bene gebewe het” van wat hy gesien het. Hy het Nergal, die koning van die onderwêreld, beskryf en gesê: “Met ’n wreedaardige kreet het hy, soos ’n onstuimige storm, woedend op my geskreeu.”

Egiptiese en Oosterse godsdienste

Die eertydse Egiptenare het aan die onsterflikheid van die siel geglo en hulle het hulle eie idee van die hiernamaals gehad. The New Encyclopædia Britannica sê: “Egiptiese begrafnistekste beeld die weg na die volgende wêreld vol verskriklike gevare uit: skrikwekkende monsters, mere van vuur, poorte waar ’n mens net met die gebruik van magiese formules kan deurgaan en ’n sinistere veerman wie se bose voorneme deur magiese kuns gedwarsboom moet word.”

Die Indo-Iraanse godsdienste het verskeie opvattinge van straf ná die dood ontwikkel. Die Franse Encyclopædia Universalis (Universele Ensiklopedie) sê aangaande Hindoeïsme: “Daar is ontelbare beskrywings van die 21 helle wat deur die Hindoes voorgestel word. Sondaars word deur wilde diere en slange verslind, ywerig gebraai, in stukke gesaag, deur dors en honger gefolter, in olie gekook, of in yster- of kliphouers tot ’n fyn poeier gemaal.”

Djainisme en Boeddhisme het albei hulle weergawes van die hel, waar onboetvaardige sondaars gefolter word. Zoroastrisme, wat in Iran, of Persië, ontstaan het, het ook ’n hel—’n koue, onwelriekende plek waar die siele van sondaars gefolter word.

Dit is interessant dat die folteringe van die Egiptiese, Hindoeïstiese, Djainistiese, Boeddhistiese en Zoroastristiese weergawe van die hel blykbaar nie ewigdurend is nie. Volgens hierdie godsdienste gaan die siele van sondaars, na ’n tydperk van lyding, na ’n ander plek of toestand oor, na gelang van die bepaalde godsdiens se begrip van die mens se lotsbestemming. Hulle idees van die hel kom met Katolisisme se vaevuur ooreen.

Griekse, Etruskiese en Romeinse helle

Die eertydse Grieke het aan die voortbestaan van ’n siel (psu·cheʹ, die woord wat hulle ook vir die skoenlapper gebruik het) geglo. Hulle het die doderyk Hades genoem en geglo dat ’n god met dieselfde naam daaroor geheers het. Die Franse geleerde Salomon Reinach het in sy boek Orpheus—A General History of Religions omtrent die Grieke geskryf: “’n Algemene opvatting was dat [die siel] die onderwêreld binnegegaan het nadat dit die Styx-rivier in die boot van die ou veerman Charon oorgesteek het. Hy het ’n obolus [muntstuk] as veergeld geëis, wat in die mond van die dooie persoon geplaas is. In die onderwêreld het [die siel] voor die drie regters van die plek verskyn . . . ; as dit vir sy misdade veroordeel is, moes dit in Tartarus ly. . . . Die Grieke het selfs ’n Limbus, die woonplek van kinders wat jonk gesterf het, uitgedink, sowel as ’n vaevuur waar matige kastyding siele gereinig het.” Volgens The World Book Encyclopedia het siele wat in Tartarus beland het “ewige foltering ondergaan”.

Die Etruskers in Italië, wie se beskawing dié van die Romeine voorafgegaan het, het ook aan straf ná die dood geglo. Die Dictionnaire des Religions (Woordeboek van godsdienste) sê: “Die uiterste sorg waarmee die Etruskers hulle afgestorwenes behandel het, word deur hulle beskouing van die onderwêreld verklaar. Hulle het dit, soos die Babiloniërs, as ’n plek van foltering en wanhoop vir die skimme [geeste van die afgestorwenes] beskou. Hulle enigste verligting kon deur soenoffers kom wat deur hulle nakomelinge gebring is.” ’n Ander naslaanwerk sê: “Etruskiese grafte toon tonele van afgryse wat ’n invloed op Christelike skilderye van die hel gehad het.”

Die Romeine het die Etruskiese hel aangeneem en dit Orcus of Infernus genoem. Hulle het ook die Griekse mites oor Hades, die koning van die onderwêreld, oorgeneem en hom Orcus, of Pluto, genoem.

Die Jode en die Hebreeuse Skrifte

Wat van die Jode voor Jesus se dag? Ons lees in die Encyclopædia Britannica (1970) omtrent hulle: “Die Jode was vanaf die 5de eeu vC in noue kontak met die Perse en die Grieke, wat almal goed ontwikkelde idees oor die hiernamaals gehad het. . . . Teen die tyd van Christus het die Jode geglo dat goddelose siele ná die dood in Gehenna gestraf sou word.” Die Encyclopædia Judaica sê egter: “Geen aanduiding van hierdie latere idee oor Gehenna word in die Skrif gevind nie.”

Hierdie laasgenoemde verklaring is korrek. Daar is geen aanduiding in die Hebreeuse Skrifte van ’n nadoodse straf vir ’n siel in ’n vurige hel nie. Hierdie skrikwekkende leerstelling kan teruggevoer word tot die godsdienste van Babilon ná die Sondvloed, en nie tot die Bybel nie. Die Christendom se leerstelling van straf in die hel het by die vroeë Babiloniërs ontstaan. Die Katolieke idee van reinigende lyding in die vaevuur word tot die vroeë Egiptiese en Oosterse godsdienste teruggevoer. Limbus is van die Griekse mitologie oorgeneem. Die Etruskers het vir die dode gebid en offerandes gebring.

Maar op watter basiese veronderstelling is hierdie leerstellings van bewuste straf ná die dood gegrond?

[Voetnoot]

a M’Clintock en Strong se Cyclopædia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature, Deel 4, bladsy 165.

[Prent op bladsy 5]

Die Styx word oorgesteek, soos beskryf in Dante se “Inferno”

[Erkenning]

Dover Publications, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel