Die waarheid omtrent die hel
DIE grondleerstelling agter die opvatting van straf ná die dood is uiteraard die opvatting dat die eintlike mens nie werklik sterf wanneer die vleeslike liggaam doodgaan nie, maar dat iets—dikwels ’n siel genoem—die dood van die liggaam oorleef. Hierdie opvatting word tot die vroeë Sumeriërs en Babiloniërs in Mesopotamië teruggevoer, soos ons in die vorige artikel gesien het. Dit is later deur die Grieke aangeneem, wie se filosowe, soos Plato, die teorie verfyn het. Hulle afgeronde dualistiese opvatting van die “liggaam en siel” het ’n deel van die afvallige Joodse geloof geword.
Wanneer het beweerde Christene die opvatting van so ’n lewe hiernamaals aangeneem? Beslis nie gedurende die tyd van Jesus en sy apostels nie. Die Franse Encyclopædia Universalis sê: “Die [apokriewe] Openbaring van Petrus (2de eeu G.J.) was die eerste Christelike werk wat die straf en folteringe van sondaars in die hel beskryf het.”
Dit lyk trouens asof daar onder die vroeë kerkvaders heelwat meningsverskille oor die hel was. Justinus Martyr, Clemens van Alexandrië, Tertullianus en Cyprianus was ten gunste van ’n vurige hel. Origines het probeer om die hel beter te laat klink deur te beweer dat sondaars in die hel uiteindelik gered sou word. Hy is in meerdere of mindere mate deur Gregorius van Nazianzus en Gregorius van Nyssa gevolg. Maar Augustinus het ’n einde aan sulke matige sienings van die hel gemaak. Professor J. N. D. Kelly van Oxford skryf in sy boek Early Christian Doctrines: “Teen die vyfde eeu was die streng leerstelling dat sondaars ná hierdie lewe geen tweede kans sal hê nie en dat die vuur wat hulle sal verteer nooit geblus sou word nie alom oorheersend.”
Wat die vaevuur betref, sê die boek Orpheus—A General History of Religions: “St. Augustinus het beweer dat daar ’n tussentydse proeftoestand tussen toekomstige geluksaligheid en verdoemenis is, naamlik die reiniging van siele deur vuur. Dit is die Orphiese [heidense Griekse] en Vergiliaanse [heidense Romeinse] leerstelling van die Vaevuur: dit word nooit in die Evangelies genoem nie. . . . Die leerstelling van die Vaevuur . . . is in die sesde eeu geformuleer, en deur die Konsilie van Florence (1439) as ’n dogma van die Kerk verklaar.” Die New Catholic Encyclopedia erken: “Die Katolieke leerstelling van die vaevuur is op tradisie, nie op die Heilige Skrif nie, gegrond.” Met betrekking tot Limbus erken kardinaal Ratzinger van Rome dat dit “slegs ’n teologiese veronderstelling” is.
Geen straf ná die dood nie
Maar wat van die Bybel? Sê dit dat die siel ná die dood van die liggaam voortlewe en dus in ’n vurige hel of die vaevuur gestraf kan word? Die New Catholic Encyclopedia sê: “Die idee dat die siel ná die dood voortlewe, kan nie maklik in die Bybel waargeneem word nie. . . . Die siel in die O[u] T[estament] beteken nie ’n deel van die mens nie, maar die hele mens—die mens as ’n lewende wese. In die N[uwe] T[estament] beteken dit eweneens menselewe: die lewe van ’n individu.”
Die grondleerstelling vir straf ná die dood stort dus in duie. Die Bybel sê: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4). Dit meld ook: “Die loon van die sonde is die dood” (Romeine 6:23). Wanneer die Bybel dus van onboetvaardige goddelose mense praat wat in “Gehenna”, “die ewige vuur” of “die poel van vuur” beland, gebruik dit bloot simboliese taal vir die permanente dood, “die tweede dood”, wat hulle ondergaan.—Mattheüs 23:33, NW; 25:41, 46; Openbaring 20:14; 21:8;a vergelyk 2 Thessalonicense 1:7-9.
Die hel word deur die opstanding geledig
Is die hel dus warm? Nie volgens die Bybel nie. Trouens, die Hebreeuse en Griekse woorde wat in sommige Bybels met “hel” vertaal word, sien slegs op die gemeenskaplike graf van afgestorwe mense. Dit is nie ’n warm plek van foltering nie. Dit is eerder ’n plek van rus, waaruit die dode in die opstanding sal kom (Prediker 9:10; Handelinge 24:15). Oscar Cullmann, professor in die teologiese fakulteit van die Universiteit van Basel, Switserland, en van die Sorbonne, in Parys, praat van die “radikale verskil tussen die Christelike verwagting van die opstanding van die dode en die Griekse opvatting van die onsterflikheid van die siel”. Hy sê tereg: “Die feit dat die latere Christendom ’n skakel tussen die twee opvattings teweeggebring het . . . is eintlik glad nie ’n skakel nie, maar ’n versaking van een [die Bybelleerstelling van die opstanding] ten gunste van die ander [die heidense opvatting van die onsterflikheid van die mensesiel]”.—Ons kursiveer.
Jehovah se Getuies het nie hulle geloof in die opstanding ten gunste van die idee van die onsterflikheid van die siel versaak nie. Hulle sal jou met die grootste plesier van hulle vreugdevolle hoop vertel en vir jou uit die Bybel wys dat die hel in werklikheid nie warm is nie.
[Voetnoot]
a Kyk die boek Is hierdie lewe al wat daar is?, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir meer inligting omtrent hierdie en ander Bybeltekste wat gebruik word in ’n poging om die leerstelling van ’n vurige hel te steun.