Ek kon altyd iets vir Jehovah doen
Soos vertel deur Jean Queyroi
DIT was ’n pragtige somer in 1939. Die landskap om Martigny, in die Switserse kanton Valais, het in die Augustusson geskitter. Sommige van die hoogste pieke in die Alpe het bo ons uitgetoring, soos die sneeubedekte Grand Combin, wat 4 314 meter hoog is. Ek het ’n paar dae lank die gasvryheid van ’n Christengesin geniet, en ons het talle sorgvrye ure op die bergpaadjies deurgebring. Dit het gevoel asof ek reeds in die Paradys was.
Dit was alte gou tyd om tot siens te sê en na Parys terug te keer. Ek het ’n koerant gekoop om op die trein te lees, en die verontrustende nuus het my met ’n skok na die werklikheid laat terugkeer. Die wêreldsituasie het baie versleg, en oorlog was ophande.
Ek het weer by die Paryse kantoor van die Wagtoringgenootskap gaan werk, waar ek reeds meer as ’n jaar lank gedien het. Maar enkele dae later is ek vir militêre diens opgeroep en beveel om my by die kaserne van Fort Vincennes, net oos van Parys, aan te meld. My lewe sou toe ingrypend verander.
’n Neutrale standpunt
Op 3 September 1939 het Frankryk en Groot-Brittanje oorlog teen Duitsland verklaar. Ek het my by Vincennes aangemeld en my standpunt ten opsigte van die geskil van Christenneutraliteit ingeneem. Kort daarna was ek in die syspanwaentjie van ’n militêre motorfiets waarmee ’n jong soldaat beveel is om my na die nabygeleë Fort Charenton te neem. Ten spyte van die oorverdowende gedreun van die motorfiets het die jong soldaat, wat geweet het waarom ek soontoe gestuur is, met my probeer redeneer. Hy het gepleit: “Queyroi, moet asseblief nie daarmee deurgaan nie. Moenie weier om te veg nie, anders sal dit sleg met jou gaan.” Ek het hom baie gou verseker dat ek nie bang is nie.
My eerste nag in ’n gevangenissel het aangebreek. Die sel was 2 meter by 1,5 meter en het slegs ’n paar komberse bevat en ’n plank om op te slaap. Daar was geen lig nie. Ek het nagedink oor wat ek in my huidige omstandighede vir Jehovah kon doen. Toe ek wakker geword het, het ek ontdek dat daar nie eers ’n klein venstertjie was om ’n straaltjie daglig in te laat nie. Ek kon elke dag ’n kwartier lank uitgaan om te was. ’n Sersant met ’n rewolwer en twee soldate met gewere het my na die wasbak vergesel. Ek is soos ’n gevaarlike misdadiger behandel!
Verskillende soldate het my kos vir my gebring. Hulle het my standpunt vreemd gevind, en dit het my die geleentheid gebied om iets vir Jehovah te doen. Ek het hulle ’n goeie getuienis gegee, en kort daarna het party van hulle vriendeliker teenoor my begin word en vir my vuurhoutjies, kerse en selfs ekstra kos gebring. My Bybel is aanvanklik gekonfiskeer, maar danksy ’n offisier is dit aan my teruggegee. Hoe het ek dit tog nie waardeer om die kosbare woorde daarvan by kerslig te lees nie!
Ek is later na ’n militêre gevangenis verplaas wat nie meer bestaan nie, op die rue du Cherche-Midi in Parys. Ek is alleen opgesluit en het dus genoeg tyd gehad om oor my situasie na te dink.
Ek was 27 en het Jehovah reeds twee jaar lank voltyds gedien. My gesin se eerste kennismaking met Jehovah se Getuies was deur uitsendings oor Radio Vitus, ’n private stasie in Parys. Dit was in 1933. Ek het in 1935 my standpunt vir die waarheid ingeneem, nadat ek verpligte militêre diens voltooi het. Ek is in Augustus 1936 in Luzern, Switserland, gedoop.
Ek, my ouers, my broer en my suster was lede van die enigste gemeente in Parys. Broer Knecht, wat toe toesig oor die werk in Frankryk gehad het, het jong Getuies gedurig aangespoor om die voltydse diens te betree. In April 1938 het ek, my broer en my suster gevolglik besluit om pioniers, of voltydse bedienaars, te word. Ons is na Auxerre, ’n dorp sowat 154 kilometer suidoos van Parys, gestuur. My suster Jeannette het in die dorp self getuig, en ek en my broer Marcel het die omliggende dorpies binne ’n omtrek van ongeveer 30 kilometer per fiets besoek. Die predikingswerk het destyds merendeels uit die verspreiding van Bybellektuur bestaan, sonder dat die mense weer besoek is. Ek kan onthou hoeveel dit my gekwel het.
In Junie 1938 is ek genooi om by die Paryse kantoor van die Wagtoringgenootskap te werk. Die personeel, of Bethelgesin, in Frankryk het destyds uit sowat 10 lede bestaan, en my toewysing was om in die Versendingsafdeling te help. Ek het daar gewerk toe ek vir militêre diens opgeroep is en ’n “nuwe toewysing” ontvang het.
My nuwe toewysing—die gevangenis
Ek het uit die staanspoor besef dat my geloof gou sou verswak as ek nie na maniere gesoek het om iets—hoe gering ook al—vir Jehovah te doen terwyl ek in die gevangenis was nie. Maar ek kon gou geleenthede skep om oor die waarheid van God se Woord te gesels. ’n Paar weke nadat ek by die Cherche-Midi-gevangenis aangekom het, is ek saam met ander gevangenes na ’n gemeenskaplike sel verplaas. Daar het ek ’n regstudent ontmoet wat gevangenis toe gestuur is omdat hy ’n paar dae laat van sy militêre verlof teruggekeer het. Daar was ook ’n Katolieke teologiese student wat weens diefstal gevonnis is. Ons drie het talle lang gesprekke oor Bybelwaarheid geniet.
Ek het eendag ’n gevangene alleen in die hoek van die binnehof sien sit. Terwyl ek nader gestap het, kon ek sien dat hy iets lees. Ek het met hom gepraat. Hy het omgedraai en my sy Bybel gewys. Stel jou net voor! Hy was een van Jehovah se Getuies! Hy was van Poolse herkoms, sy naam was Ceglarski, en hy was net soos ek in die gevangenis weens sy neutraliteit. Uiteindelik Christengeselskap! Jy kan jou voorstel hoe verheug ons albei was. Ons kon nou ure lank opbouende geselskap geniet.
In hierdie gevangenis is ons toegelaat om ’n paar uur elke dag in die binnehof uit te gaan, en ek kon dus met ’n paar gevangenes gesels wat graag die Bybelboodskap wou hoor. Soms het selfs van die wagte aan ons gesprekke deelgeneem. Ek het iets gevind om vir Jehovah te doen. Trouens, die gevangenis het my nuwe predikingstoewysing geword, en ek het nou net soveel ure soos ’n pionier gepreek, al kon ek dit nie rapporteer nie. Maar dit het my nie gepla nie.
Die uittog
Die maande het feitlik sonder voorval verloop—die sogenaamde Skynoorlog. Maar dit het in Mei 1940 tot ’n einde gekom toe die Duitsers Frankryk aangeval het. In Junie het die Franse owerheid al die gevangenisse in Parys weens die oprukkende Duitse troepe ontruim. Ons is in militêre vragmotors gelaai en na Orleans, ’n dorp meer as 100 kilometer suid van Parys, geneem. Nadat ons ’n rukkie stilgehou het, is siviele en militêre gevangenes in groepe verdeel en beveel om al met die noordelike oewer van die Loirerivier langs suidoos te loop. Gewapende wagte het die konvooi bewaak. Die warm Junieson het sake bemoeilik.
Daar was misdadigers onder ons en die wagte is beveel om enigiemand te skiet wat gaan stilstaan, val of nie verder kan loop nie. Broer Ceglarski het op die derde dag aan sonsteek begin ly. Dit sou sy gewisse dood beteken het as ons hom agtergelaat het. Die wagte het my toegelaat om hom, met die hulp van ’n paar ander gevangenes, in ’n kombers toe te draai, en ons het hom gedra. Die volgende dag het hy beter gevoel en kon hy self verder loop.
Net voordat ons in Briare, ’n klein dorpie aan die noordelike oewer van die Loirerivier aangekom het, het ons groep ’n stroom mense teëgekom wat oorlaai was met al die besittings wat hulle kon dra of in ’n waentjie kon stoot. Hulle het voor die oprukkende Duitse leërs suid gevlug. Ons kon in ’n mate besef hoe groot die burgerlike uittog was terwyl duisende mense vir hulle lewe gevlug het.
Toe het ons ontdek dat ons wagte verdwyn het, en ons was op ons eie. Wat moes ons nou doen? Dit was onmoontlik om die breë Loirerivier oor te steek en ons reis suid voort te sit want al die brûe is opgeblaas. Ons klein groepie (ek, broer Ceglarski en twee ander gevangenes) het besluit om na Parys terug te keer.
Ons het op perde afgekom wat agtergelaat is en ons het hulle so goed moontlik opgesaal. Ek het my knie vroeër beseer en kon nie my been buig nie. My metgeselle moes my gevolglik help om op die perd te kom. Toe het ons agtergekom dat my perd ook mank loop! Ons het dus stadig gevorder terwyl my perd voortgehink het. Ons tog het in elk geval gou tot ’n skielike einde gekom. Ons het slegs ’n paar kilometer gery voordat ons van aangesig tot aangesig met ’n Duitse leërafdeling gekom het, en ’n militêre polisieman ons beveel het om van ons perde af te klim. Ons het bloot daarin geslaag om ander wagte te kry!
’n Krygsgevangene
Ek en broer Ceglarski is kort ná ons gevangeneming van mekaar geskei, en hy het tot aan die einde van die oorlog ’n Duitse gevangene gebly. Na ’n paar maande in die gevangenis by die Joigny-kaserne, in sentraal-Frankryk, is ek na Stettin, ’n hawestad in destydse Oos-Pruise, gedeporteer. Dit is nou die Poolse hawestad Szczecin.
Aangesien ek eintlik in ’n Franse militêre gevangenis was toe die Duitsers my gevang het, is ek in ’n krygsgevangenekamp geplaas, waar toestande nie naastenby so sleg as in die konsentrasiekampe was nie. Die kamp was ’n yslike vliegtuigskuur wat 500 gevangenes gehuisves het en deur gewapende wagte bewaak is. Die gevangenes het bedags verskillende werke in die stad gedoen en is saans na die kamp teruggebring. Hoe kon ek dan iets vir Jehovah doen as die mans die hele dag weg was?
Daar was ’n groot inligtingsbord in die vliegtuigskuur, en ek het toestemming gekry om ’n klein spasie daarop te gebruik. Ek het ’n stukkie papier gekry, dit versigtig uitgestryk en toe etlike kort tekste oor Bybelonderwerpe daarop geskryf. Ek het onderaan verduidelik waar ek gevind kon word en op watter tyd enigiemand wat in die boodskap van God se Koninkryk belangstel my kon besoek.
Ek getuig vir allerhande mense
Hierdie metode het goeie resultate gelewer. Kort daarna kon ek elke aand ’n klein vergadering hou waarby ses, agt en soms selfs tien persone teenwoordig was. Ons besprekings het dikwels ’n uur of langer geduur, na gelang van die vrae wat gestel is. Van tyd tot tyd het ’n Duitse wag wat Frans kon praat, bygesit.
Aangesien ek net een Bybel gehad het, het ek aan die Rooi Kruis in Genève geskryf en hulle gevra om soveel Bybels moontlik aan my te stuur. Na verloop van tyd het ek my eerste pakkie tweedehandse Bybels ontvang. Ek is eendag na die kampkantoor ontbied omdat ’n besoeker, ’n verteenwoordiger van die Rooi Kruis, met my wou praat. Hy was ’n Protestantse predikant. Hy het blykbaar gedink dat ek ook ’n Protestant was. Hy was ietwat teleurgesteld toe hy uitgevind het dat ek een van Jehovah se Getuies was!
Hy was nietemin vriendelik en het my selfs gelukgewens met wat ek gedoen het. Hy het my verseker dat ek nog Bybels kon bestel en dat ek hulle sou ontvang. Dit was waar. Ek kon dus gedurende my verblyf in daardie kamp nagenoeg 300 Bybels versprei. Hoe bly was ek tog nie om na die oorlog uit te vind dat ’n Belgiese gevangene genaamd Wattiaux, vir wie ek in die Stettin-kamp getuig het, sy standpunt vir die waarheid ingeneem het nie!
Ek was gedurende my gevangenskap in Duitsland bevoorreg om voedselpakkies van my gesin te ontvang. Ek het gou ontdek dat ’n oorvloed geestelike voedsel ook in elke pakkie versteek was. My suster het artikels uit Die Wagtoring op baie dun papier getik en dit in pakkies macaroni weggesteek. Die wagte het dit nooit gevind nie. Ek het selfs ’n eksemplaar van die boek Kinders in ’n voedselpakkie ontvang. Dit het my baie in my bediening gehelp.
Ek brei my bediening uit
Omdat ek ’n werktuigkundige was, moes ek uiteindelik gaan werk in ’n garage waar trekkers herstel is. Sowat 20 Duitsers, waarvan die meeste te oud was om vir militêre diens opgeroep te word, het daar gewerk. Ek het dus probeer om ’n bietjie Duits te leer. Dit was my opregte begeerte om my bediening uit te brei en nie net vir Franssprekende gevangenes te getuig nie.
Maar ek moes omsigtig te werk gaan, want die Duitse werkers was bang om hul menings in die openbaar te lug. Ek het dus individueel met hulle gesels. Hulle het gewoonlik heelwat Bybelkennis gehad en het al van Jehovah se Getuies gehoor. Sommige het selfs geweet dat baie Getuies na konsentrasiekampe gestuur is.
Ek het aan die einde van elke dag in die garage met my medewerkers oor die waarheid gepraat. Party het gunstig op die boodskap gereageer, maar die man in bevel het nie. Ek het ongetwyfeld te ver gegaan toe ek Jehovas Zeugen (Jehovah se Getuies) met kryt op sy werkbank geskryf het om hom te help besef wie ek was. Die man het bang gelyk toe hy dit sien en het dit gou afgevee. Maar hy het my nie gestraf nie. Met verloop van tyd het ander werkers vriendelik geword. Trouens, hulle het vir my so baie kos gebring dat ek dit met etlike ander gevangenes in die kamp kon deel.
Jehovah, ’n sterk toring
Ek het deur die jare heen geleer dat ons altyd iets vir Jehovah en ons medemens kan doen, hoe moeilik omstandighede ook al word. Stettin is verskeie kere baie erg deur die Geallieerdes gebombardeer. Ons het in loopgrawe wat met planke en grond bedek is, probeer skuil. Dit het slegs skynveiligheid gebied, want tientalle gevangenes het in daardie loopgrawe omgekom. Gedurende die lugaanvalle het ek soms gevoel hoe ’n hand my in die donker gryp en my dan los sodra die aanval verby is. Ek het nooit geweet wie dit was nie. Sommige van die gevangenes het blykbaar gedink dat ek spesiale beskerming geniet het omdat ek van God gepraat het.
Gedurende een lugaanval is ons kamp deur brandbomme afgebrand. Ons het in die strate van die dorp rondgeloop en het talle afgryslike tonele gesien. Burgerlikes met ernstige brandwonde het in die kanale van die Oderrivier wat deur Stettin vloei, gespring. Wanneer hulle uit die water gekom het, het die fosfor aan hulle bly brand. Baie het gesterf.
Weens die opmars van die Russiese troepe is ons beveel om Stettin te verlaat en wes na Neubrandenburg en daarna na Güstrow te gaan. Ons het hoog op ’n groot trekker gesit en ’n pad gevolg waar Sowjet-granate van tyd tot tyd geval het. Die Russiese tenks het ons uiteindelik in Güstrow ingehaal. Die Sowjet-stormtroepe het ’n week lank in die dorp die oorhand gehad. Die Britse troepe het genader, en terwyl die Sowjet-owerheid gewag het dat die leërs ontmoet, het hulle militêre gevangenes van die burgerlike gevangenes geskei. Hulle het sommige van die gevangenes teruggehou en die res (ek inkluis) aan die Britte oorhandig.
Dit was die einde van ’n nagmerrie. ’n Paar weke later was ek weer op die platform in die Gare du Nord-stasie in Parys. Dit was dagbreek, middel-Mei 1945, en ek was uiteindelik tuis, na 69 maande van gevangenskap.
Nog dinge wat ek vir Jehovah kon doen
In 1946 het die Genootskap my weer genooi om in Bethel te dien, wat toe in Montmorency, ’n voorstad noord van Parys, geleë was. ’n Paar maande later is ek en broer Paul Dossman gestuur om die gemeentes in Frankryk as kringopsieners te besoek. Daar was destyds skaars 2 000 Getuies in die hele land. Vandag, meer as 40 jaar later, is daar meer as honderdduisend verkondigers.
Ek is later na Bethel teruggeroep, wat toe in ’n woonbuurt van Parys geleë was. Twee sendelinge van Engeland het my aangespoor om Engels te leer, en ek het in 1949 begin—maar ek moet erken dat dit nie maklik was nie. Die volgende jaar is ek na die Wagtoring-Bybelskool Gilead genooi.
Nadat ek na Frankryk teruggekeer het, het ek ’n ruk as kringopsiener gedien, en daarna het die Genootskap my gevra om as ’n sendeling in Afrika te dien. Ek is intussen met Titica, ’n suster van Griekse herkoms, getroud. Ons het vyf jaar lank in Senegal gewoon en was bevoorreg om die vorming van die eerste gemeente in Dakar te sien. Ons moes later om gesondheidsredes na Frankryk terugkeer.
Ek is nou in my 50ste jaar van voltydse diens en het deur die jare heen die vreugde gesmaak om meer as honderd persone te help om hulle standpunt vir die waarheid in te neem. Jehovah het my inderdaad nog altyd goed en vrygewig behandel. Ek het uit my lewenservaringe geleer dat ons altyd, wat ons situasie ook al mag wees, die een of ander manier kan vind om ons God, Jehovah, te prys en te eer.
[Prent op bladsy 23]
Jean Queyroi by sy vrou, Titica