My strewe om ‘’n werker te wees wat hom oor niks hoef te skaam nie’
SOOS VERTEL DEUR ANDRÉ SOPPA
Die Tweede Wêreldoorlog het gewoed en onbeskryflike bloedvergieting en wanhoop veroorsaak. As ’n seiner in die Duitse Vloot wat naby Narvik, Noorweë, gestasioneer was, het ek self gesien hoe onmenslik mense teenoor mekaar is. Terwyl ons snags in die fjords geskuil het, het die hemelse prag van die noorderlig my diep oor die lewe laat nadink. Ek was seker dat die God wat sulke dinge geskep het nie vir die sinneloosheid van oorlog verantwoordelik kon wees nie.
EK IS in 1923 gebore in die klein dorpie Lassoth (nou in Pole), naby die Tsjeggiese grens, en ek het in ’n arm gesin op ’n plaas grootgeword. My ouers was aktiewe Katolieke, en godsdiens het ’n baie groot rol in ons lewe gespeel. Maar ek het vroeg reeds aan my godsdiens begin twyfel. In ons dorp was daar drie Protestantse gesinne, en hulle is deur die Katolieke gemeenskap verstoot. Ek kon nie verstaan waarom dit so moes wees nie. Op skool het ons katkisasieklasse bygewoon. Maar toe ek die priester eendag gevra het om die Drie-eenheid te verduidelik, was die enigste antwoord wat ek gekry het tien houe met ’n lat. Toe ek 17 jaar oud was, het daar egter iets gebeur wat my totaal ontnugter het wat die kerk betref. My ma se ouers is albei binne die bestek van ’n maand oorlede, en sy het nie genoeg geld gehad om die kerk vir twee begrafnisdienste te betaal nie. Sy het dus vir die priester gevra of sy hom later kon betaal. “Jou ouers het mos ’n paar besittings gehad, of hoe?” was sy antwoord. “Verkoop dit, en gebruik die geld vir die begrafnis.”
’n Paar jaar vroeër, nadat Hitler in 1933 aan bewind gekom het, is ons verbied om Pools te praat; ons moes Duits praat. Diegene wat geweier het om dit te doen of nie Duits kon leer nie, het geleidelik verdwyn—later is daar vir ons gesê dat hulle na die konsentrasiekampe gestuur is. Selfs ons dorp het ’n Duitse naam, Grünfliess, gekry. Ek het skool verlaat toe ek 14 was, en omdat ek nie in die Hitlerjeug-organisasie was nie, het ek gesukkel om werk te kry. Maar ek het uiteindelik werk gekry as ’n leerlingystersmid. Toe die oorlog eers begin het, is daar in die kerk vir Hitler en vir die Duitse troepe gebid. Ek het gewonder of soortgelyke gebede vir oorwinning deur die vyand gedoen is.
Diens in die Duitse Vloot
In Desember 1941 het ek by die Duitse Vloot aangesluit, en aan die begin van 1942 is ek na die Noorweegse kus gestuur om op ’n verkenningskip te werk. Ons moes as geleiskip tussen Trondheim en Oslo dien en skepe begelei wat troepe, ammunisie of ander goedere vervoer het. Terwyl ek op see was, het ek twee matrose hoor praat oor die einde van die wêreld wat in die Bybel voorspel word. Hoewel hulle bang was om openlik te praat, het hulle vir my gesê dat hulle ouers Jehovah se Getuies is, maar dat hulle nie hulle voorbeeld gevolg het nie. Dit was die eerste keer dat ek van Jehovah se Getuies gehoor het.
Aan die einde van die oorlog is ons deur die Britte gevange geneem en aan die Amerikaners oorgelewer om na Duitsland teruggeneem te word. Diegene wie se tuistes nou in die Sowjet-sone geleë was, is na ’n gevangenekamp in Liévin, in die noorde van Frankryk, gestuur om in die steenkoolmyne te werk. Dit was in Augustus 1945. Ek onthou nog ek het een van my Franse wagte gevra aan watter godsdiens hy behoort. “Katoliek”, het hy geantwoord. Aangesien ek ook ’n Katoliek was, het ek hom gevra waarom ons vyande was. “Dit help nie om te probeer verstaan nie. Dis maar net hoe dit is”, was sy antwoord. Vir my was dit sinneloos dat mense van dieselfde godsdiens teen mekaar baklei en mekaar doodmaak.
’n Ligstraal in ’n steenkoolmyn
Op my eerste dag in die myn saam met plaaslike mynwerkers het ’n sekere Evans Emiot sy toebroodjies met my gedeel. Hy was oorspronklik van Ohio, in die Verenigde State, en het al ’n aantal jare in Frankryk gewoon. Hy het met my oor ’n wêreld gepraat waar daar nie meer oorlog sal wees nie. Sy goedhartigheid het my verbaas. Hy was my glad nie vyandiggesind nie, al was ek ’n Duitser en hy ’n Amerikaner. Ek het hom eers weer aan die begin van 1948 gesien toe hy my ’n boekie met die titel Die “Vredevors” gegee het. Hier het ek uiteindelik geleer van ’n God van goedheid wat oorlog haat—die soort God waaraan ek gedink het terwyl ek na die noorderlig gekyk het. Ek het my voorgeneem om die godsdiens te vind wat hierdie dinge leer. Maar aangesien Evans in ’n ander deel van die myn gewerk het, kon ek nie met hom in aanraking kom nie. Ek het na al die godsdiensgroepe in die gevangenekamp gegaan en hulle gevra of hulle enigiets van die boekie weet, maar dit was tevergeefs.
In April 1948 is ek uiteindelik uit die gevangenekamp vrygelaat en het ek ’n vry man geword. Net die volgende Sondag was ek verbaas om die gelui van ’n klokkie in die straat te hoor. Hoe bly was ek tog om vir Evans te sien! Hy was saam met ’n groep van Jehovah se Getuies met reklameborde aan wat die titel van ’n openbare toespraak aangekondig het. Die Getuie wat die klokkie gelui het, was Marceau Leroy, wat nou ’n lid van die takkomitee in Frankryk is. Ek is voorgestel aan ’n Duitssprekende Pool met die naam Joseph Kulczak, wat weens sy geloof in die konsentrasiekampe gely het. Hy het my genooi om daardie aand na die vergadering te kom. Ek het nie veel verstaan van wat gesê is nie, maar toe almal wat daar was hulle hand opsteek, het ek vir die persoon langs my gevra waarom hulle dit doen. “Dit is hulle wat volgende week Duinkerken toe kan gaan om te getuig.” “Kan ek saamgaan?” het ek gevra. “Natuurlik!” was die antwoord. Ek het die volgende Sondag dus van huis tot huis getuig. Hoewel nie almal wat ons ontmoet het vriendelik was nie, het ek dit geniet en het ek kort voor lank gereeld aan hierdie werk deelgeneem.
Ek leer om my humeur in toom te hou
Kort daarna het die Getuies in die barakke begin getuig waar die bevryde Duitse gevangenes gewoon het. Dit was nie vir my maklik nie, want ek was bekend vir my vinnige humeur. Wanneer iemand my nie ernstig wou opneem nie, het ek hom gedreig met die woorde: “As jy nie versigtig is nie, gaan jy moeilikheid kry.” Terwyl ek in die myn gewerk het, het ek eenkeer selfs iemand wat Jehovah bespot het ’n opstopper gegee.
Maar met Jehovah se hulp kon ek veranderinge in my persoonlikheid aanbring. Terwyl ons eendag in hierdie barakke getuig het, het ’n groep mans wat te veel gedrink het vir sommige van die Getuies moeilikheid gemaak. Omdat die broers wat saam met my was van my slegte humeur geweet het, het hulle probeer keer dat ek tussenbeide tree, maar een van die mans het dreigend op my afgeloop en sy baadjie begin uittrek. Ek het van my fiets afgeklim, dit vir hom gegee om vas te hou en my hande in my sakke gesteek. Dit het hom so verbaas dat hy geluister het na wat ek wou sê. Ek het vir hom gesê om huis toe te gaan en te gaan slaap en dan na die openbare toespraak te kom. En om 3:00 nm. was hy sowaar daar! Op die ou end het ongeveer 20 voormalige gevangenes die boodskap aangeneem. En ek is in September 1948 gedoop.
’n Besige maar lonende lewe
Ek is die verantwoordelikheid gegee om na ons getuienisgebied om te sien en om plekke te vind waar ons openbare toesprake kon hou. Om dit te doen, het ek soms sowat 50 kilometer ver op my klein motorfiets gery voordat ek die laatskof in die myn gaan werk het. Ons het dan oor naweke per bus na die gebied gegaan en twee of vier verkondigers saam met die spreker daar afgelaai. In groter dorpe het ons, nadat ons ’n geskikte plek gevind het, ons reistasse opmekaargestapel en dit as ’n rostrum gebruik. Ons het dikwels reklameborde gedra om die tema van die openbare toespraak te adverteer waarnatoe ons mense genooi het.
In 1951 het ek kennis gemaak met Jeannette Chauffour, ’n Getuie van Reims. Dit was liefde met die eerste oogopslag, en een jaar later, op 17 Mei 1952, het ons getrou. Ons het na Pecquencourt, ’n myndorp naby Douai, getrek. Maar ek het kort daarna gesondheidsprobleme begin kry. Daar is vasgestel dat ek silikose het, ’n asemhalingsiekte wat by mynwerkers voorkom, maar ek kon nie enige ander soort werk kry nie. Toe ons dus in 1955, tydens die internasionale byeenkoms in Neurenberg, Duitsland, gevra is om ’n klein gemeente in Kehl, ’n industriële dorpie langs die Ryn, te help, kon ons soontoe trek. Daar was destyds net 45 verkondigers in die gemeente. Gedurende die daaropvolgende sewe jaar wat ons saam met hierdie gemeente gewerk het, het die aantal verkondigers tot 95 toegeneem.
Verdere diensvoorregte
Aangesien die gemeente goed gevestig was, het ons die Genootskap gevra om ons ’n toewysing as spesiale pioniers in Frankryk te gee. Tot ons groot verbasing is ons na Parys gestuur. Die agt maande wat ons daar deurgebring het, was ’n baie gelukkige tyd. Saam het ek en Jeannette die voorreg gehad om 42 Bybelstudies te hou. Vyf van ons studente is tydens ons verblyf daar gedoop, en 11 ander het die waarheid later aangeneem.
Omdat ons in die studentewyk gewoon het, het ons dikwels professore van die Sorbonne ontmoet. ’n Afgetrede professor van filosofie wat geloofsgenesing beoefen het, het die Bybel bestudeer en het uiteindelik een van Jehovah se Getuies geword. Ek het eendag ’n Bybelbespreking met ’n siviele ingenieur begin wat noue kontak met Jesuïeteleermeesters gehad het. Hy het drie-uur die middag na ons woonstel gekom en is eers tienuur die aand daar weg. Tot ons verbasing was hy ná ’n uur en ’n half weer voor ons deur. Hy het met ’n Jesuïet gepraat wat nie sy vrae oor Bybelprofesieë kon beantwoord nie. Hy het eenuur die oggend huis toe gegaan en het weer sewe-uur teruggekeer. Mettertyd het hy ook een van Jehovah se Getuies geword. Hierdie dors na waarheid was ’n groot aanmoediging vir my en my vrou.
Nadat ek in Parys gedien het, is ek genooi om as reisende opsiener in die ooste van Frankryk te dien. Dit was ’n groot vreugde vir ons om Franse en Duitse gemeentes te besoek en die broers te versterk. Terwyl ons die gemeente in Rombas, in Lorraine, besoek het, het ek Stanislas Ambroszczak ontmoet. Hy was ’n Pool wat gedurende die oorlog op ’n Geallieerde duikboot gedien het en in Noorweegse waters geveg het. Ons was vyande terwyl ons dieselfde seë bevaar het. Nou is ons broers wat ons God, Jehovah, skouer aan skouer dien. By ’n ander geleentheid het ek iemand wat ek herken het by ’n byeenkoms in Parys gesien. Dit was die bevelvoerder van die kamp in die noorde van Frankryk waar ek ’n gevangene was. Hoe bly was ons tog om gedurende die byeenkoms saam te werk! Dit is hoe kragtig God se Woord is, dat dit voormalige vyande in broers en hegte vriende verander!
Ná 14 jaar in die reisende werk moes ek ongelukkig as gevolg van verswakkende gesondheid daarmee ophou. Maar ek en my vrou was vasbeslote om voort te gaan om Jehovah na die beste van ons vermoë te dien. Ons het dus ’n blyplek en werk in die dorpie Mulhouse, in die ooste van Frankryk, gevind en pioniers (voltydse evangeliedienaars) geword.
Nog ’n groot vreugde wat ek deur die jare heen gesmaak het, was om met die bou van Koninkryksale te help. In 1985 is ek gevra om ’n bouspan vir die ooste van Frankryk te organiseer. Deur geskoolde ambagsmanne te gebruik en gewillige vrywilligers op te lei, kon ons ’n span vorm wat gehelp het om meer as 80 sale te bou of op te knap en hulle geskik te maak vir die aanbidding van Jehovah. En hoe bly was ek tog dat ek in 1993 kon help om ’n Byeenkomssaal en vyf Koninkryksale in Frans-Guiana, Suid-Amerika, te bou!
Volharding ondanks beproewinge
Ek kan beslis sê dat my lewe oor die afgelope 50 jaar van teokratiese bedrywigheid met groot vreugdes en diensvoorregte gevul is. Ongelukkig is my dierbare vrou, met wie ek 43 jaar getroud was, in Desember 1995 oorlede. Hoewel dit ’n tyd van groot verdriet was—en ek treur vandag nog—gee Jehovah my krag, en my geestelike broers en susters het my hulle liefde en ondersteuning gegee wat die pyn effens laat afneem namate die tyd aangaan.
Ek onthou nog duidelik die woorde van ’n gesalfde broer by ’n byeenkoms in 1963 in München, Duitsland. “André”, het hy gesê, “moenie links of regs kyk nie. Die broers in die konsentrasiekampe het toetse verduur. Ons moet nou voortgaan. Ons moet onsself nooit bejammer nie. Volhard dus!” Ek het dit nog altyd in gedagte gehou. Noudat ek as gevolg van swak gesondheid en ouderdom nie meer soveel kan doen nie, is die woorde in Hebreërs 6:10 ’n voortdurende bron van vertroosting vir my: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie.” Ja, om in Jehovah se diens te werk, is die grootste voorreg wat enigiemand kan hê. Die afgelope 50 jaar was dit my doel, en is dit nog steeds, om ‘’n werker te wees wat hom oor niks hoef te skaam nie’.—2 Timoteus 2:15.
[Prent op bladsy 22]
Die soort skip waarop ek in die fjords van Noorweë gewerk het
[Prent op bladsy 23]
Die predikingswerk per fiets in die noorde van Frankryk
[Prent op bladsy 23]
Opmekaargestapelde reistasse het as ’n rostrum vir die openbare toespraak gedien
[Prente op bladsy 24]
Met my vrou, Jeannette, op ons troue in 1952