Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 12/15 bl. 10-15
  • Getuig van Jehovah en moenie vermoeid word nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Getuig van Jehovah en moenie vermoeid word nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die uitdaging word aanvaar
  • Koninkryksuitbreiding en vervolging
  • Paulus se brief aan die Hebreërs
  • Hoe getroue voorbeelde ons baat
  • Sonder om vermoeid te word
  • Waarom Jehovah ons dissiplineer
  • ‘Werklikhede wat ons nie sien nie’
  • Moenie die wedloop om die lewe gewonne gee nie!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Bybelboek nommer 58—Hebreërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Bring offers wat Jehovah behaag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Pas op vir ’n gebrek aan geloof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 12/15 bl. 10-15

Getuig van Jehovah en moenie vermoeid word nie

“Julle moet [noukeurig] ag gee op Hom wat so ’n teëspraak van die sondaars . . . verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie.”—HEBREËRS 12:3, vgl. “NW”.

1, 2. Watter oortuigende bewys dat hy opgewek is, het Jesus sy dissipels gegee?

“EK HET die Here gesien!” Met daardie verbasende woorde het Maria Magdalena die nuus oor Jesus se opstanding bekendgemaak (Johannes 20:18, NAV). Dit was die begin van 40 dae vol opwindende gebeure vir Christus se dissipels, wat vroeër deur sy dood bedroef is.

2 Jesus wou nie hê dat sy dissipels enigsins daaraan moes twyfel dat hy werklik lewendig was nie. Daarom het Jesus, soos Lukas sê, “Hom lewend vertoon . . . deur baie kentekens, terwyl Hy gedurende veertig dae aan hulle verskyn het” (Handelinge 1:3). Trouens, by een geleentheid “het Hy verskyn aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk” (1 Korinthiërs 15:6). Daar was nou beslis nie meer enige twyfel nie. Jesus het gelewe!

3. Watter vraag oor die Koninkryk het Jesus se dissipels hom gevra, en waarom het sy antwoord hulle verbaas?

3 Destyds het Jesus se dissipels net gedink aan ’n aardse “koninkryk van God”, ’n koninkryk wat weer vir Israel opgerig sou word (Lukas 19:11; 24:21). Daarom het hulle vir Jesus gevra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” Sy antwoord het hulle ongetwyfeld verbaas, want hy het gesê: “Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:6-8). Wat ’n uitdaging was dit tog vir die dissipels! En wat ’n verantwoordelikheid! Hoe sou hulle so ’n taak kon verrig? Die antwoord het spoedig op ’n verbasende manier gekom.

Die uitdaging word aanvaar

4. Beskryf die gebeure op Pinksterdag.

4 Lukas deel ons mee: “En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel ’n geluid soos van ’n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.” Die geluid was so hard dat dit die aandag getrek het van ’n klomp Jode wat in Jerusalem gebly het vir die fees. Hulle was verbaas om ‘in hulle eie taal oor die groot dade van God’ te hoor.—Handelinge 2:1-11.

5. In watter mate is Jesus se voorspelling in Handelinge 1:8 spoedig vervul?

5 Petrus het sonder versuim ’n dinamiese toespraak gehou en onbetwyfelbare bewys gelewer dat “Jesus, die Nasarener”, wat deur hulle tereggestel is, die “Here” was wat met hierdie woorde deur Dawid voorspel is: “Die Here [“Jehovah”, NW] het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ’n voetbank van u voete.” Petrus se luisteraars is diep in die hart getref en het gevra: “Wat moet ons doen, broeders?” Petrus het geantwoord deur hulle aan te spoor: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes.” Die gevolg? Drieduisend is gedoop! (Handelinge 2:14-41). Daar is reeds begin om die getuienis in Jerusalem te gee. Later het dit dwarsdeur Judea versprei, toe deur Samaria en uiteindelik “tot aan die uiterste van die aarde”. Die Koninkrykspredikingswerk het so vinnig uitgebrei dat die apostel Paulus in ongeveer 60 G.J. kon sê dat die goeie nuus “verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel”.—Kolossense 1:23.

Koninkryksuitbreiding en vervolging

6, 7. (a) Hoe het Koninkryksuitbreiding en vervolging van Christene hand aan hand gegaan in die eerste eeu? (b) Watter dringende behoefte het onder die Christene in Jerusalem ontstaan, en hoe is hierdie behoefte bevredig?

6 Nie lank na Pinkster 33 G.J. nie het Jesus se dissipels rede gehad om terug te dink aan sy woorde: “’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg” (Johannes 15:20). Die Joodse leiers was woedend toe ‘die woord van God toegeneem en die getal van die dissipels in Jerusalem baie vermeerder het’. Die dissipel Stefanus is op valse aanklagte gestenig. Dit was blykbaar die teken waarvoor baie gewag het, want “daardie dag het daar ’n hewige vervolging van die gemeente in Jerusalem begin. Al die gelowiges behalwe die apostels is uitmekaar gejaag en verstrooi oor die gebiede van Judea en Samaria.”—Handelinge 6:7; 7:58-60; 8:1, NAV.

7 Die vervolging het tydelik afgeneem. Maar kort daarna het Herodes Agrippa I die apostel Jakobus om die lewe gebring. Petrus is in die tronk gegooi, maar is deur ’n engel bevry. Later het die broers in Jerusalem materieel verarm en moes medegelowiges in ander gebiede noodsaaklike middele aan hulle stuur (Handelinge 9:31; 12:1-11; 1 Korinthiërs 16:1-3). Tydens een van die apostel Paulus se besoeke aan Jerusalem het godsdiensfanatisme hoogty gevier toe ’n menigte geskreeu het: “Weg van die aarde met so ’n mens, want hy behoort nie te lewe nie!” (Handelinge 22:22). Daardie Christene wat in Jerusalem en Judea gewoon het, het beslis baie aanmoediging nodig gehad om aan te hou om getrou oor die Koninkryk te getuig. Jesus het sy dissipels beloof dat “die heilige gees, wat die Vader in my naam sal stuur”, as ’n “helper” sou optree (Johannes 14:26, NW). Maar hoe sou die Vader nou sulke nodige hulp of vertroosting voorsien? Onder andere deur die apostel Paulus.

Paulus se brief aan die Hebreërs

8. (a) Wat het Paulus beweeg om sy brief aan die Hebreërs te skryf? (b) Watter aspek van sy brief gaan ons ondersoek, en waarom?

8 In ongeveer 61 G.J. was Paulus ’n gevangene in Rome, maar hy was bewus van wat met sy broers in Jerusalem gebeur het. Daarom het hy, onder die leiding van Jehovah se gees, sy tydige brief aan die Hebreërs geskryf. Dit is vol liefdevolle besorgdheid oor sy Hebreeuse broers en susters. Paulus het geweet wat hulle nodig gehad het om hulle geloof en vertroue in Jehovah as hul Helper op te bou. Dan sou hulle ‘met volharding die wedloop kon loop wat voor hulle gelê het’ en vol vertroue kon sê: “Die Here [“Jehovah”, NW] is vir my ’n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ’n mens aan my doen?” (Hebreërs 12:1; 13:6). Dit is hierdie aspek van Paulus se brief aan die Hebreërs (hoofstukke 11-13) wat ons nou wil ondersoek. Waarom? Omdat die situasie waarvoor daardie vroeë Christene te staan gekom het dieselfde is as dié waarmee Jehovah se Getuies vandag te kampe het.

9. Met watter geskil waarvoor Christene in die eerste eeu te staan gekom het, het Christene vandag te kampe, en alleenlik hoe kan hulle dit die hoof bied?

9 In ons geslag het menigtes gunstig op die Koninkryksboodskap gereageer deur hulle aan Jehovah toe te wy en as sy Getuies gedoop te word. Maar hierdie uitbreiding van ware aanbidding het met gewelddadige vervolging gepaard gegaan, en net soos Stefanus, Jakobus en ander getroue eerste-eeuse getuies het baie Christene selfs hul lewe verloor. Vandag is die geskil dus dieselfde as wat dit destyds was: Wie sal ondanks toenemende teenstand teen die Koninkryksboodskap getrou kan bly as hulle onkreukbaarheid op die proef gestel word? Wie sal daarbenewens die verskriklike gebeure kan deurstaan wanneer die ongeëwenaarde “groot verdrukking” binnekort hierdie huidige geslag tref? (Mattheüs 24:21). Die antwoord is: diegene wat bereid is om ‘die goeie stryd van die geloof te stry’, diegene wat “standvastig in die geloof” is. Dit is húlle wat uiteindelik sal kan sê: “Dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.”—1 Timotheüs 6:12; 1 Petrus 5:9; 1 Johannes 5:4.

Hoe getroue voorbeelde ons baat

10. (a) Wat is geloof? (b) Hoe het God oor geloofsmanne en -vroue van die ou tyd gevoel?

10 Wat is geloof? Paulus antwoord: “Geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge [“werklikhede”, NW] wat ons nie sien nie. Want daardeur het die mense van die ou tyd getuienis ontvang” (Hebreërs 11:1, 2). Dan staaf Paulus sy definisie van geloof met voorbeelde van geloof in aksie. Hy bespreek die vernaamste gebeure in die lewe van party manne “van die ou tyd”, sowel as in dié van vroue soos Sara en Ragab. Hoe bemoedigend is dit tog om te leer dat “God Hom nie vir hulle [skaam] om hulle God genoem te word nie”! (Hebreërs 11:16). Kan God vanweë ons geloof dieselfde van ons sê? Mag ons hom geen rede gee om hom aan die einde van enige dag vir ons te skaam nie.

11. Hoe kan ons vandag baat vind by die “wolk van getuies rondom ons”?

11 Na die verslag oor hierdie getroue manne en vroue sê Paulus: “Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê” (Hebreërs 12:1). Is hierdie voorbeeldige getroue getuies lewend in ons verstand al slaap hulle nou in die graf? Ken jy hulle en hulle ondervindinge goed genoeg om ja te antwoord? Dit is een van die talle belonings van gereelde Bybelstudie waartydens ons al ons sinne gebruik om die opwindende ondervindinge van hierdie “wolk van getuies” te herlewe. As ons hulle getroue voorbeeld ter harte neem, sal dit ons inderdaad baie help om enige gebrek aan geloof te bowe te kom. Dít weer sal ons help om in alle omstandighede vrymoedig en onverskrokke van die waarheid te getuig.—Romeine 15:4.

Sonder om vermoeid te word

12. (a) Hoe kan Jesus se voorbeeld ons help om ‘nie in ons siele vermoeid te word en te verslap nie’? (b) Wat is party hedendaagse voorbeelde van diegene wat nie vermoeid word nie?

12 Ons grootste voorbeeld van geloof is Jesus. Paulus het gemaan: “Laat ons . . . met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog [oplettend] gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof . . . Want julle moet [noukeurig] ag gee op Hom wat so ’n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie” (Hebreërs 12:1-3, vgl. NW). Hoe “noukeurig” gee jy ag op Jesus se voorbeeld? Hoe “oplettend” hou jy jou oog op hom gevestig? (1 Petrus 2:21, vgl. NW). Satan wil hê dat ons ‘in ons siele vermoeid moet word en moet verslap’. Hy wil hê dat ons moet ophou met ons getuieniswerk. Hoe doen hy dit? Partymaal deur direkte teenstand deur godsdienstige en sekulêre owerhede, soos in die eerste eeu. Verlede jaar was daar in sowat 40 lande ’n beperking op die Koninkrykspredikingswerk. Maar het dit ons broers vermoeid laat word? Nee! Hulle getroue werk het daartoe gelei dat meer as 17 000 in 1988 in daardie lande gedoop is. Wat ’n aansporing moet dit tog wees vir almal wat in lande woon waar daar relatiewe vryheid is! Laat ons nooit moeg word om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig nie!

13. (a) Wat is party van die subtiele dinge wat ons vermoeid kan laat word in ons predikingswerk? (b) Wat was ‘die vreugde wat Jesus voorgehou is’, en hoe kan ons ’n soortgelyke vreugdevolle gesindheid verkry?

13 Daar is egter subtieler dinge wat ons vermoeid kan laat word. Dit is onder andere teenstand in ’n verdeelde huisgesin, geesteskwelling, gesondheidsprobleme, portuurdwang, mismoedigheid weens ’n gebrek aan positiewe resultate in ons predikingswerk of dalk ’n gevoel van ongeduld omdat die einde van hierdie stelsel van dinge nog nie gekom het nie. Wel, wat het Jesus gehelp om verstandelike en fisiese lyding te verduur? Dit was “die vreugde wat Hom voorgehou is” (Hebreërs 12:2). Jesus is onderskraag deur die vreugde wat dit meegebring het om sy Vader se hart te verbly deur Hom te regverdig en deur die vooruitsig op die latere geluk wat hy sou smaak wanneer hy die wonderlike seëninge van die Messiaanse Koninkryk administreer (Psalm 2:6-8; 40:10, 11; Spreuke 27:11). Kan ons hierdie vreugdevolle gesindheid van Jesus oplettender navolg? En onthou Petrus se gerusstellende woorde in 1 Petrus 5:9 (NAV): “Moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.” Die wete dat Jehovah verstaan, die hartlikheid van die wêreldwye broederskap wat ons geniet en die feit dat ons ons oë gevestig hou op die toekomstige vreugdes onder die Koninkryksheerskappy—al hierdie dinge sal ons help om nie moeg te word om Jehovah in geloof te dien en om te preek noudat die einde so naby is nie.

Waarom Jehovah ons dissiplineer

14. Watter voordele kan toetse en beproewinge wat ons dalk moet verduur, meebring?

14 Paulus werp nou lig op die rede waarom ons dalk toetse en beproewinge moet verduur. Hy stel voor dat ons sulke dinge as ’n vorm van dissipline beskou. Paulus redeneer: “My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet” (Hebreërs 12:5, 6). Selfs Jesus “het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het” (Hebreërs 5:8). Ons moet beslis ook gehoorsaamheid leer. Let op die voordelige gevolge as ons toelaat dat dissipline ons vorm. Paulus het gesê: “Later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.” Hoe bemoedigend is dit tog nie!—Hebreërs 12:11.

15. Hoe kan ons Paulus se raad toepas om ‘reguit paaie vir ons voete te maak’?

15 As ons “tugtiging van die Here” in hierdie lig aanvaar, sal ons ag slaan op Paulus se positiewe raad: “Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete” (Hebreërs 12:12, 13). Partymaal is dit baie maklik om af te wyk van ‘die smal pad wat na die lewe lei’ (Mattheüs 7:14). Die apostel Petrus en ander in Antiochië het hulle eenkeer hieraan skuldig gemaak. Waarom? Want hulle het “nie reguit [geloop] volgens die waarheid van die evangelie nie” (Galasiërs 2:14). Vandag moet ons aanhou luister na ons Grootse Onderrigter, Jehovah God. Ons moet die hulpmiddels wat deur “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien word ten volle benut. Dit sal ’n ‘reguit pad’ vir ons voete verseker.—Mattheüs 24:45-47; Jesaja 30:20, 21, vgl. NW.

16. (a) Hoe kan ’n “giftige wortel” in ’n gemeente begin groei? (b) Waarom bring Paulus onsedelikheid en ’n gebrek aan waardering vir heilige dinge in verband met mekaar, en hoe kan ons ons teen sulke gevare beveilig?

16 Paulus waarsku vervolgens dat ons sorgvuldig moet “toesien dat niemand van die onverdiende goedheid van God beroof word nie; dat daar geen giftige wortel opskiet en onrus veroorsaak en talle daardeur verontreinig word nie” (Hebreërs 12:15, NW). As ons misnoeg en ontevrede raak en fout vind met die manier waarop dinge in die gemeente gedoen word, kan dit soos ’n “giftige wortel” wees wat gou kan versprei en die gesonde denke van ander in die gemeente kan vergiftig. Ons kan sulke negatiewe gedagtes teenwerk deur na te dink oor die tallose seëninge wat die waarheid in ons lewe meegebring het (Psalm 40:6). Nog ’n gevaar is om onsedelike neigings of, soos Esau, ‘’n gebrek aan waardering vir heilige dinge’ te hê (Hebreërs 12:16, vgl. NW). Paulus bring hierdie twee gevare in verband met mekaar, aangesien die een maklik tot die ander kan lei. Geen Christen hoef vir sulke selfsugtige begeertes te swig nie as hy Petrus se woorde toepas: “Hom [die Duiwel] moet julle teëstaan, standvastig in die geloof.”—1 Petrus 5:9.

‘Werklikhede wat ons nie sien nie’

17. Vergelyk die ontsagwekkende gebeure by die berg Sinai met dié waarvoor Christene vandag staan.

17 Ons geloof berus in groot mate op ‘werklikhede wat ons nie sien nie’ (Hebreërs 11:1, vgl. NW). Paulus meld vervolgens party van hierdie onsigbare werklikhede in Hebreërs 12:18-27. Hy beskryf die ontsagwekkende gebeure by die berg Sinai toe God direk met Israel gepraat het en toe Moses gesê het: “Ek is verskrik en ek sidder.” Dan voeg die apostel by: “Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele . . . by die feestelike vergadering.” In die geval van die eertydse Israeliete by die berg Sinai het God se stem die aarde geskud, het Paulus gesê, maar nou het Hy beloof: “Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe.” Hoewel hierdie woorde hoofsaaklik tot gesalfde Christene gerig is, kan die “groot menigte” ander skaapgeaardes dit ook ter harte neem (Openbaring 7:9). Begryp jy ten volle wat Paulus sê? Ons staan voor ’n vergadering van tienduisende engele. Ons staan natuurlik ook voor Jehovah. Aan sy regterhand is Jesus Christus. Ja, ons is in ’n ontsagwekkender posisie en het ’n groter verantwoordelikheid as daardie eertydse Hebreërs by die berg Sinai! En onthou dat die geskud by die komende slag van Armageddon die huidige goddelose hemel en aarde sal laat verdwyn. Vandag is beslis nie die tyd om goddelike bevele ‘af te wys’ deur nie na God se Woord te luister en dit nie te gehoorsaam nie!

18. Slegs hoe kan ons aanhou om van Jehovah te getuig sonder om vermoeid te word?

18 Ons lewe dus waarlik in die ontsagwekkendste tyd in die mensegeskiedenis. As Jehovah se Getuies is ons tot aan die uithoeke van die aarde gestuur om die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk te verkondig. Om dit te kan doen, moet ons ’n onwankelbare geloof hê, ’n geloof wat nie vermoeid word nie, ’n geloof wat ons in staat stel om Jehovah se dissipline te aanvaar. As ons sulke geloof het, sal ons onder diegene tel wat “onverdiende goedheid [sal] bly geniet, waardeur ons heilige diens aan God kan verrig op ’n wyse wat vir hom welgevallig is, met godvrugtige vrees en ontsag” (Hebreërs 12:28, NW). Ja, en ons sal aanhou om van Jehovah te getuig en nie vermoeid word nie.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Waarom is Paulus se brief aan die Hebreërs voordelig vir ons?

◻ Watter geskil moet Christene vandag die hoof bied?

◻ Hoe kan ons baat vind by die voorbeeld van getroue getuies van die ou tyd?

◻ Waarom dissiplineer Jehovah diegene wat hy liefhet?

◻ Wat is die sleutel tot volgehoue getuieniswerk sonder om vermoeid te word?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel