Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w93 8/1 bl. 21-25
  • Jehovah, my vertroueling van jongs af

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah, my vertroueling van jongs af
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë geestelike bekommernisse
  • My geestelike aptyt neem toe
  • Geestelike vooruitgang in Birma
  • Moedige getuieniswerk
  • Ons vlug na Indië
  • Hoe die verbod opgehef is
  • Ons keer terug na oorloggeteisterde Birma
  • Ons vestig ons in Australië
  • Ek verheug my oor die oes in Indië
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Jehovah voorsien in al my behoeftes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • God ‘doen groot dinge’—Hoe ek dit uitgevind het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • ‘Die oes is ryp’ in Birma
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
w93 8/1 bl. 21-25

Jehovah, my vertroueling van jongs af

SOOS VERTEL DEUR BASIL TSATOS

Die jaar was 1920; die plek, die heuwels van Arkadië in die pragtige Peloponnisos, Griekeland. Ek was in die bed, ernstig siek aan die gevreesde Spaanse griep wat soos ’n veldbrand deur die hele wêreld versprei het.

ELKE keer wanneer die kerkklok gelui het, het ek geweet dat dit die dood van nog ’n slagoffer aankondig. Sou ek volgende wees? Gelukkig het ek herstel, maar miljoene het nie. Hoewel ek toe net agt was, is hierdie vreesaanjaende ondervinding steeds ’n heldere herinnering.

Vroeë geestelike bekommernisse

Kort daarna is Oupa oorlede. Ná die begrafnis onthou ek hoe Ma tuis by my en my suster op die balkon kom staan het. Sy het ongetwyfeld met die oog daarop om ons hartseer te verlig kalm gesê: “Wel, kinders, ons moet almal oud word en sterf.”

Hoewel sy dit so mooi gestel het, het haar woorde my gekwel. ‘Wat ’n jammerte! Hoe onregverdig!’ het ek gedink. Maar ons is albei opgebeur toe Ma bygevoeg het: “Maar wanneer die Heer weer kom, sal hy die dooies opwek, en ons sal nie meer sterf nie!” Ja, dit was vertroostend!

Van toe af het ek baie belanggestel om uit te vind presies wanneer daardie gelukkige tydperk sou aanbreek. Ek het baie mense gevra, maar niemand kon my sê nie, en dit het in elk geval ook nie gelyk of enigiemand daarin belangstel om die saak te bespreek nie.

Eendag, toe ek omtrent 12 was, het my pa ’n boek ontvang van sy broer wat in die Verenigde State gewoon het. Die titel was Die harp van God, wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee is. Ek het na die inhoudsopgawe gekyk en van vreugde geglimlag toe ek die hoofstuk “Die Wederkoms van onse Heer” gesien het. Ek het dit met groot belangstelling gelees, maar ek was teleurgesteld omdat daar nie ’n jaar vir die wederkoms gegee is nie. Maar die boek het getoon dat dit in die nabye toekoms sou wees.

Ek het spoedig met my hoërskoolloopbaan begin en my in my studies verdiep. Maar my oom in Amerika het af en toe Die Wagtoring gestuur, en ek het geniet om dit te lees. Ek het ook elke Sondag die Sondagskool bygewoon, waar die biskop dikwels met ons kom praat het.

Op een spesifieke Sondag was die biskop hoogs ontsteld en het gesê: “Besoekers vul ons stad met ketterpublikasies.” Hy het toe ’n eksemplaar van Die Wagtoring omhoog gehou en geskreeu: “As enigeen van julle sulke publikasies by die huis vind, moet julle dit kerk toe bring, en ek sal dit verbrand.”

Sy stemtoon het my ontstel, maar sy wraaksugtige gesindheid het my meer ontstel. Daarom het ek nie aan sy versoek voldoen nie. Maar ek het aan my oom geskryf en gevra dat hy geen Wagtoringpublikasies meer aan my stuur nie. Tog het ek steeds oor Christus se wederkoms gedink.

My geestelike aptyt neem toe

Toe die somervakansie aanbreek, het ek my tas uitgehaal om my klere in te pak. Onder in die tas was drie boekies wat deur die Wagtoringgenootskap gedruk is. Ek het dit op die een of ander manier nie voorheen raakgesien nie. Een het die titel Waar is die dode? gehad.

‘Dit lyk interessant’, het ek gedink. Hoewel ek die biskop se waarskuwing onthou het, het ek besluit om die boekies baie goed deur te lees om die foute te vind wat ek gedink het daarin voorkom. Ek het ’n potlood geneem en sorgvuldig begin soek. Tot my verbasing het alles in die boekies redelik gelyk, en elke stelling het teksverwysings gehad sodat die leser dit in die Bybel kon naslaan.

Aangesien ons nie ’n Bybel gehad het nie, het ek gewonder of die teksverwysings verkeerd toegepas is om die oogmerk van die skrywers te pas. Ek het dus aan my oom geskryf en gevra dat hy vir my ’n volledige Bybel stuur. Hy het dit onmiddellik gedoen. Ek het dit twee keer deurgelees, en hoewel daar baie dinge was wat ek nie verstaan het nie, het die boeke Daniël en Openbaring my geboei. Ek wou verstaan wat hulle voorspel het, maar daar was niemand wat my toe kon help nie.

Ek het die skool in 1929 verlaat, en kort daarna het my oom in Amerika weer vir my eksemplare van Die Wagtoring gestuur. Ek het dit al hoe meer geniet en hom gevra om dit gereeld aan my te stuur. Ek het ook met ander begin praat oor die hoop vir die toekoms wat ek uit die tydskrifte geleer het. Maar toe het my lewe drasties verander.

Geestelike vooruitgang in Birma

My ma se broers het na Birma (nou Myanma) geïmigreer, en die gesin het besluit dat ek meer lewensondervinding sou opdoen en dit moontlik vir my sakegeleenthede sou open as ek by hulle aansluit. Die Ooste het my nog altyd gefassineer en daarom was ek opgewonde oor die vooruitsig om soontoe te gaan. In Birma het ek steeds Die Wagtoring van my oom af ontvang, maar ek het nooit self een van die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies toe genoem is, ontmoet nie.

Ek was eendag verheug om ’n aankondiging in Die Wagtoring te sien vir die Lig-boeke, twee boeke wat die Bybelboek Openbaring verduidelik. Ek het ook uitgevind dat die bedrywighede van die Bybelstudente in Birma onder toesig van die Indiese takkantoor van die Wagtoringgenootskap, wat in Bombaai geleë was, geskied het. Ek het onmiddellik aan hulle geskryf om die Lig-boeke te bestel en ook te vra dat Bybelstudente uit Indië gestuur word om in Birma te kom preek.

Die boeke het kort voor lank met die pos gekom, en ’n week of wat later het plaaslike Birmese Bybelstudente my besoek. Ek was verheug om uit te vind dat daar ’n groepie van hulle was waar ek in Rangoen (nou Jangon), Birma se hoofstad, gewoon het. Hulle het my genooi om hulle gereelde Bybelstudieklas by te woon en ook saam met hulle aan die predikingswerk van huis tot huis deel te neem. Ek was eers ’n bietjie huiwerig, maar het dit spoedig begin geniet om Bybelkennis aan Boeddhiste, Hindoes en Moslems sowel as naamchristene bekend te maak.

Die takkantoor in Indië het toe twee voltydse bedienaars (wat pioniers genoem word) na Rangoen gestuur, Ewart Francis en Randall Hopley. Albei het oorspronklik uit Engeland gekom, maar het toe reeds etlike jare lank in Indië gedien. Hulle het my baie bemoedig, en in 1934 is ek gedoop as ’n simbool van my toewyding aan Jehovah.

Moedige getuieniswerk

Die takkantoor in Indië het mettertyd nog pioniers na Birma gestuur. Twee van hulle, Claude Goodman en Ron Tippin, het ’n spoorwegstasie aangedoen en met Sydney Coote, die stasiemeester, gepraat. Hy het die boeke geneem, daardeur gelees en aan sy getroude suster, Daisy D’Souza, in Mandalay, begin skryf. Sy het die boeke ook interessant gevind en om meer boeke gevra.

Daisy, wat ’n bedrywige Katoliek was, was iemand met ongewone moed. Sy het haar bure begin besoek en hulle vertel van die dinge wat sy geleer het. En toe die plaaslike priester haar besoek het om uit te vind waarom sy nie meer kerkdienste bywoon nie, het sy vir hom gewys dat die Bybel dinge wat hy leer, soos ’n brandende hel, nie ondersteun nie.

Ná dit alles het hy haar gevra: “Nadat ek hulle al hierdie jare van ’n brandende hel vertel het, kan ek mos nie nou vir hulle sê dat daar glad nie so ’n plek is nie? Niemand sal kerk toe wil kom nie.”

“As jy ’n eerlike Christen is”, het Daisy geantwoord, “sal jy hulle die waarheid leer, ongeag die gevolge.” Toe het sy bygevoeg: “As jy dit nie doen nie, sal ek!” En sy het.

Dick en Daisy en hulle twee oudste dogters is op dieselfde tyd as ek in Rangoen gedoop. Drie jaar later, in 1937, het ek met hulle tweede oudste dogter, Phyllis, getrou.

Ons vlug na Indië

Japannese troepe het Birma gedurende die Tweede Wêreldoorlog binnegeval, en Rangoen het op 8 Maart 1942 geval. Buitelandse burgers moes vinnig na Indië vlug. Honderde het deur die oerwoude probeer vlug, maar baie het op pad gesterf. Ek het toevallig die offisier wat aan die hoof van die ontruiming was persoonlik geken en kon dus kaartjies bekom op een van die laaste vragskepe wat van Rangoen na Kalkutta vertrek het. Ons was almal baie hartseer toe ons ons huis en die meeste van ons besittings so haastig moes verlaat. Birma is van 1942 tot 1945 deur die Japannese beset.

Ons het min geld gehad toe ons Indië bereik het, en dit was moeilik om werk te kry. Dit het ’n toets van ons geloof geword. Ek het ’n Britse offisier ontmoet wat my ’n winsgewende, nie-vegtende werk aangebied het, maar dit het behels dat ek as ’n lid van die militêre personeel dien. Met Jehovah se hulp kon ek die aanbod van die hand wys en dus ’n skoon Christelike gewete behou (Jesaja 2:2-4). Ons het die liefdevolle hand van Jehovah ook op ander maniere gevoel.

Ons het ons in Nieu-Delhi, Indië se hoofstad, gevestig waar dit byna onmoontlik was om huisvesting te vind. Maar ons het nietemin ’n groot woonstel in die hartjie van die stad gekry. Dit het ’n groot sitkamer met sy eie ingang gehad, en hierdie vertrek het die volgende paar jaar as die Koninkryksaal van die Delhi-gemeente van Jehovah se Getuies gedien. Maar weens die verbod wat in 1941 op al die Wagtoringgenootskap se publikasies in Indië geplaas is, kon ons nie Bybellektuur bekom nie.

Hoe die verbod opgehef is

Een Sondag in 1943 het diegene wat kerkdienste in Delhi bygewoon het ’n blaadjie ontvang wat deur 13 geestelikes van verskillende kerke onderteken is. Dit het gewaarsku: “BURGERS VAN DELHI, PAS OP VIR JEHOVAH SE GETUIES.” Die aanklag was dat ons weens politieke redes in Indië onder verbod was.

Met die goedkeuring van die takkantoor in Bombaai het ons dadelik ’n blaadjie gedruk en versprei wat die geestelikes aan die kaak gestel het. Aangesien ek die presiderende opsiener was, is my naam en adres onderaan die blaadjie met sy reguit woorde gedruk. Kort daarna, toe die polisie op my en Margrit Hoffman afgekom het terwyl ons afskrifte van die blaadjie versprei het, is ons gearresteer en in die tronk gestop. Maar ons is spoedig op borgtog vrygelaat.

Later het Margrit, terwyl sy met haar bediening besig was, besoek afgelê by die huis van sir Srivastava, ’n bekende minister in die Indiese goewerneurskabinet. Sir Srivastava het haar gasvry ontvang, en gedurende die gesprek het sy vir hom gesê dat ons lektuur onregverdig in Indië verbied is. Daardie dag het Margrit toevallig ook ’n parlementslid van die staat Madras ontmoet. Hy was in die stad om ’n parlementsvergadering by te woon. Sy het hom vertel van die onregverdige verbod op ons lektuur, en hy het belowe om die vraag by ’n komende vergadering te opper.

Ek het op daardie tydstip as ’n fisioterapeut by ’n plaaslike hospitaal gewerk. Wel, sir Srivastava het ’n besering opgedoen, en die hospitaal het my gestuur om te sien of fisioterapie hom sou help. Ek het gevind dat sir Srivastava ’n gawe persoon is, en terwyl ons gesels het, het ek terloops genoem dat ek en mej. Hoffman op borgtog uit die tronk vrygelaat is. Ek het verduidelik dat dit weens druk van die geestelikes was dat ons Bybellektuur om politieke redes verbied is, maar dat ons geensins polities is nie. Ek het bygevoeg dat ons takkantoorverteenwoordiger, Edwin Skinner, om ’n onderhoud gevra het om ons standpunt te verduidelik, maar dat hy afgewys is.

’n Paar dae later het sir Srivastava vir my gesê: “Mnr. Jenkins [die regeringsamptenaar wat teen ons werk gekant was] tree oor ’n paar dae af en sir Francis Mudie sal sy plek inneem. Vra mnr. Skinner om te kom, en ek sal hom aan sir Francis voorstel.”

Sir Srivastava het die vergadering gereël, soos hy belowe het. Gedurende die vergadering het sir Francis Mudie vir broer Skinner gesê: “Ek kan jou niks belowe nie, maar ek sal ondersoek instel na die saak.” Aangesien die parlement oor ’n paar dae sou sit, het broer Skinner aangebly om te sien wat gebeur. Die parlementslid van Madras het getrou aan sy woord opgestaan en gevra: “Is dit so dat die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap se publikasies om politieke redes verbied word?”

“Nee, die verbod is as ’n voorsorgmaatreël opgelê”, het sir Francis Mudie geantwoord, “maar die regering het nou besluit om die verbod op te hef.”

Wat ’n aangrypende oomblik was dit tog nie vir ons toe ons daardie nuus hoor nie! ’n Week later het die takkantoor in Bombaai ’n brief ontvang wat die einde van die verbod bevestig het.

Ons keer terug na oorloggeteisterde Birma

Ná die Tweede Wêreldoorlog het Brittanje weer oor Birma geheers, en tien van ons Getuies het ’n paar maande later na Rangoen teruggekeer. Ons was verheug om weer die paar oorblywende plaaslike Getuies te sien. Die land was in ’n treurige toestand. Openbare dienste, onder andere elektrisiteit en openbare vervoer, was nie beskikbaar nie. Ons het dus ’n jeep van die leër gekoop en dit goed gebruik om mense te neem na die vergaderinge wat ons kort ná ons terugkeer gereël het.

’n Belangstellende het ons grond aangebied, en met behulp van vriendelike mense in die gebied het ons ’n Koninkryksaal van gerieflike grootte gebou. Dit is van stewige bamboesstutte gebou, die mure is met bamboesmatte bedek en dit het ’n grasdak gehad. Hier het Nathan H. Knorr, toe die president van die Wagtoringgenootskap, en sy sekretaris, Milton G. Henschel, in April 1947 gedurende hulle besoek aan Rangoen toesprake gehou. Daar was op daardie tydstip 19 Getuies in die hele Birma. Maar broer Knorr se openbare toespraak, wat in die New Excelsior-teater gehou is, is deur 287 bygewoon!

Ons vestig ons in Australië

Op 4 Januarie 1948 het Birma onafhanklikheid van Groot-Brittanje verkry, en die meeste Europeërs het besluit dat dit die beste sou wees om die land te verlaat. Ek en Phyllis het, ná ons daaroor gebid het, besluit om met ons dogter na Australië te immigreer. Ons het ons in Perth, Wes-Australië se hoofstad, gevestig.

Dit was vir ons ’n baie hartseer oomblik toe ons Birma weer moes verlaat, en hierdie keer permanent. Ons het af en toe van die dierbares daar gehoor, en ons was verheug om te weet dat die Koninkrykswerk steeds in daardie land onverpoos vooruitgang gemaak het.

Ons het van 1978 af vier jaar lank die voorreg geniet om al die Griekssprekende gemeentes in die groot Australiese stede te bedien. Dit het beteken dat ons baie moes reis, aangesien dit meer as 4 200 kilometer is van die wes- na die ooskus van hierdie groot land. Ná ’n ruk het die klimaat, wat baie van die een staat tot die ander verskil, tot ’n verswakking van ons gesondheid bygedra. Ons het ons dus weer in Perth gevestig, waar ek steeds as ’n ouere man in een van die stad se 44 gemeentes dien.

Met die verloop van die jare het my gesigsvermoë versleg en het dit moeilik geword om te lees. Tog is ons hart ten spyte van gesondheidsprobleme steeds jonk. Ons wag albei met vertroue op die vreugdevolle dag wanneer almal wat Jehovah vrees die sonskyn van sy guns sal sien ‘opgaan en daar onder sy vleuels genesing sal wees, en ons sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal’.—Maleagi 4:2.a

[Voetnoot]

a Op 13 Desember 1992, terwyl hierdie lewensverhaal voltooi is, is broer Tsatos oorlede.

[Prent op bladsy 24]

My gesin by broer Henschel en broer Knorr in Birma (Myanma) in 1947

[Prent op bladsy 25]

Basil Tsatos en sy vrou, Phyllis, in Australië

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel