Ek het die groei in Suider-Afrika gesien
Soos vertel deur Robert Albert McLuckie
DIE Koninkrykspredikingswerk in Suid-Afrika gaan pragtig voort. Van die sowat honderd wat in die laat twintigerjare gepreek het, is daar nou ongeveer 45 000 wat die goeie nuus in Suid-Afrika verkondig. En nog sowat 150 000 preek in ander lande waaroor ons Suid-Afrikaanse tak voorheen toesig gehad het.
Ek het die vreugde gehad om hierdie wonderlike groei in Suider-Afrika gedurende die afgelope 60 jaar te sien! Laat ek julle kortliks daarvan vertel en van die voorreg wat ek en my familie gehad het om ’n aandeel daarin te hê.
Dit het met ’n tragedie begin
My geliefde vrou, Edna, is op 22 Junie 1927 oorlede en het ons driejarige dogter, Lyall, en ons tweejarige seun, Donovan, agtergelaat. Ek was net 26 jaar oud. Haar dood het my met smart vervul en baie verwese gelaat. Waar was sy? Omdat ek nie geglo het dat sy in die hel is nie, het ek snags gedroom dat sy in die hemel is, en dit het my ’n bietjie getroos.
Daardie Julie het klein Donovan vir my ’n pamflet gegee wat aan iemand anders geadresseer was, maar op die een of ander manier tussen ons pos beland het. Dit het ’n toespraak van Joseph Rutherford, die Wagtoringgenootskap se tweede president, bevat. Ek het so baie in die inhoud belanggestel dat ek onmiddellik al die publikasies op die lys bestel het. Min het ek geweet dat dit my lewe sou verander.
Onder die boekies wat gekom het, het die een Hell—What Is It? Who Are There? Can They Get Out? my aandag getrek. Hoe opgewonde was ek tog om daardie boekie te sien! Na net twee of drie bladsye het ek van vreugde gelag.
Ek was gretig om dit wat ek geleer het aan ander te vertel, en het aan my ouers en ander gesinslede geskryf of met hulle gepraat. My vier broers, Jack, Percy, William en Sydney, het gevolglik gou begin belangstel en vir ander begin preek. My pa, ma en twee susters Connie en Grace, het jare later ook die waarheid aanvaar.
Ek kon geen ander Bybelstudent, soos Jehovah se Getuies toe bekendgestaan het, in ons deel van Suid-Afrika vind nie. Ek het na Suid-Rhodesië, nou Zimbabwe, getrek en ongeveer ’n jaar lank saam met my broer Jack op ’n veeplaas gewerk. Omdat ek die Wagtoringgenootskap se lektuur gelees het, het dit nie lank geduur voordat ek ’n dringende begeerte gehad het om die voltydse bediening te betree nie.
Tot op daardie stadium het ek nog geen medegelowiges teëgekom nie, behalwe diegene vir wie ek getuig het. Ek het derhalwe die treinreis van 2 300 kilometer na die Genootskap se takkantoor in Kaapstad onderneem. Hoe hartlik is ek tog deur George Phillips ontvang, wat toesig oor die werk in Suider-Afrika gehad het! Ek is op 10 Januarie 1930 gedoop.
Vroeë pionierjare
Hoewel ek die vorige drie jaar met honderde mense oor die Bybel gepraat het, het ek nog nie aan die huis-tot-huiswerk deelgeneem nie. Ek is nogtans as ’n pionier, ’n voltydse bedienaar, aangestel. Daar was destyds geen opleidingsprogram nie. Trouens, verkondigers het selde saam na dieselfde huis gegaan. Aangesien ons so min verkondigers gehad het, het dit eenvoudig nie prakties gelyk nie.
Ek was natuurlik besorg oor die welsyn van my kinders, Lyall en Donovan, wat deur hulle grootouers opgepas is. Aangesien hulle goed versorg was, het ek destyds gedink dat dit gepas sou wees om my daarop toe te lê om die Koninkryksboodskap aan ander te vertel. Dit is wat ek gevolglik gedoen het.
Gedurende die volgende drie jaar van pionierdiens het ek vyf pioniermaats gehad, onder andere my broer Syd. Hy het later ingewandskoors opgedoen terwyl hy aan die pionierdiens deelgeneem het en gesterf. Dit was nie maklik om in daardie vroeë dae aan die pionierdiens deel te neem nie. Ons het ’n vervoerwa gebruik met ingeboude slaapbanke wat aan weerskante van die wa kon opvou. Dit het ons in staat gestel om binne-in te slaap, sit, kook en eet.
Die belangrikste gebeurtenis tydens my vroeë dae as pionier was toe ons in 1931 ons nuwe naam, Jehovah se Getuies, tesame met die boekie Die Koninkryk, die hoop van die wêreld gekry het. Ek kan nog goed onthou hoe die gedagte aan die gebruik van daardie verhewe naam ontsag by my ingeboesem het, en ek het gewonder of ek dit waardiglik sou kon gebruik.
Nog ’n onvergeetlike gebeurtenis in daardie vroeë jare was toe ek my broer Jack en sy vrou, Dorrell, in die Nuanetsirivier in Suid-Rhodesië, wat van krokodille wemel, gedoop het. Ons het voor die onderdompeling ’n paar klippe in die rivier gegooi om alle skuilende krokodille weg te jaag. Ek het my ma later, in die vyftigerjare, in ’n bad gedoop.
In ander lande
In 1933 is ek en my vyfde pioniermaat, Robert Nisbet, na nuwe, onaangeraakte gebied gestuur—die eilande Mauritius en Madagaskar langs die suidooskus van Afrika. Ons het byna vier maande op daardie twee eilande bestee en sade van Bybelwaarheid geplant. Watter vreugde is dit tog nou om te sien dat Mauritius ongeveer 800 Koninkryksverkondigers en Madagaskar sowat 3 000 het! Toe ons na Suid-Afrika teruggekeer het, het ek en Robert uitmekaar gegaan. Hy het later saam met my broer Syd aan die pionierdiens deelgeneem en nog later as takopsiener in Mauritius gedien.
Voordat ons na Suid-Afrika teruggekeer het, het ek gereël om Lyall en Donovan by my pa se huis te ontmoet. Nadat ek by hulle gekuier het, het die onvermydelike skeiding en trane gekom. Ek het verder gereis om die takopsiener, broer Phillips, te ontmoet om my nuwe toewysing te ontvang. Dit was Njassaland, nou Malawi. Ek is ’n 1929-model Chevrolet gegee wat ek daar kon gebruik.
Ek het dus in 1934 die reis van 1 900 kilometer, hoofsaaklik oor grondpaaie, van Johannesburg na Zomba, die hoofstad van Njassaland, aangepak. Ek het eindelik my bestemming, die tuiste van broer Richard Kalinde, bereik. Hy het my intieme metgesel en tolk geword terwyl ek in Njassaland gebly het. Ek het mettertyd twee kamers in ’n ou hotel wat nie meer gebruik is nie, gekry. Die een kamer het ek as depotkantoor gebruik en die ander vir verblyf.
My toewysing in Njassaland was veral om die chaotiese toestande wat vanweë die sogenaamde Wagtoringbewegings ontstaan het in orde te bring. ’n Swartman wat met die eerste president van die Wagtoringgenootskap, Charles Taze Russell, se geskrifte vertroud was, was jare tevore verantwoordelik vir die ontstaan van hierdie bewegings, hoewel hy self nooit een van Jehovah se Getuies geword het nie.—Sien die 1976 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 71-4.
Ek het gemeentes van diegene wat die Wagtoringlektuur gebruik het, besoek en ’n resolusie aangaande ons nuwe naam, Jehovah se Getuies, gelees. Almal wat ten gunste van die resolusie was, is gevra om hulle hande ter aanduiding daarvan op te steek. Hoewel die meerderheid wel ten gunste daarvan was, het talle nie ten volle verstaan wat dit werklik behels het nie. Hoewel sommige dus deur die jare heen nie geestelike vooruitgang gemaak het nie, het ander hulle steun heeltemal onttrek aan die een wat hulle as leier beskou het en waarlik Jehovah se Getuies geword.
Na ongeveer ses maande in Njassaland het ek na Mosambiek gegaan, waar die Koninkryksboodskap tot op daardie stadium nog nie verkondig is nie. Daar het ek ’n jong Portugese offisier ontmoet met wie ek en Robert Nisbet op die boot op pad na Mauritius in aanraking gekom het. Hy het my vir ete gevra, en ek kon verder met hom praat.
By ’n ander geleentheid het ’n motor langs my stilgehou terwyl ek in ’n dorpie in Noord-Mosambiek was. Dit was die goewerneur van die gebied. Hy het gevra of hy my kon help en my na sy huis genooi, waar hy baie van die Wagtoringpublikasies aanvaar het. Hoewel die predikingswerk nou in Mosambiek en Njassaland (Malawi) verbied is, is dit vir my wonderlik om te weet dat talle getroue broers en susters daar bedrywig is.
Bethelvoorregte
Hoe is ek tog nie verras nadat ek na Njassaland teruggekeer het nie! Ek is uitgenooi om by die kantoorpersoneel in die tak in Kaapstad aan te sluit en my jonger broer William is gestuur om my in Njassaland te vervang. Ek het dus in die Chevrolet die reis van 3 500 kilometer aangepak. Op pad het ek vir Donovan en Lyall gaan kuier. Hulle was nou 11 en 12 jaar oud, en ek sou hulle eers na ’n jaar weer sien.
My taak was om oor die takkantoor toesig te hou wanneer broer Phillips, die takopsiener, nie daar was nie. Hoewel ek nie gereeld met enige gemeente van Jehovah se Getuies omgegaan het sedert ek die waarheid nege jaar vroeër leer ken het nie, is ek in 1936 aangestel as die presiderende opsiener van die Kaapstadse gemeente wat uit ongeveer 20 verkondigers bestaan het.
’n Verandering van status
Ek wou nie my diensvoorregte prysgee nie, maar Lyall en Donovan was amper in hulle tienderjare, en ek was besorg oor hulle welsyn, onder andere hulle geestelike welstand. Gelukkig was daar ’n oplossing naby.
Op 6 Junie 1936 het broer Phillips my aan nuwe mense uit Australië, suster Seidel en haar aantreklike 18-jarige dogter, Carmen, voorgestel. Ek en Carmen is voor die jaar om was getroud. Ek het derhalwe sekulêre werk gekry en huis opgesit.
Ek het ’n jaar lank in Suid-Afrika gewerk, maar toe het ek en Carmen en ons babaseun, Peter, na Suid-Rhodesië getrek waar my broer Jack my genooi het om by hom in ’n goudmynonderneming aan te sluit. Nadat ons gevestig was, het Lyall en Donovan, wat by Carmen se ma agtergebly het, by ons aangesluit.
Ons bied vervolging in oorlogstyd die hoof
Die Tweede Wêreldoorlog het in September 1939 uitgebreek, en ons Bybellektuur is die daaropvolgende jaar verbied. Ons het besluit om die regsgeldigheid van die wet te toets deur lektuur te versprei wat ook al gebeur. Inhegtenisnemings en skuldigbevindings het daarop gevolg, en ons boeke en Bybels is gekonfiskeer en verbrand.
’n Speurder het ons een oggend na ons predikingswerk gevra om ons kinders by die polisiestasie op te laai, waarheen hulle geneem is. Ons het geweier en daarop gewys dat aangesien die kinders skynbaar onder arres was dit die polisie se plig was om na hulle te kyk. Daardie middag, nadat ons van die veldbediening teruggekeer het, het ons die kinders veilig tuis gevind, maar nie ’n polisieman in sig nie!
Carmen is by ’n ander geleentheid, in 1941, tot drie maande gevangenisstraf gevonnis hoewel sy swanger was. Estrella is egter gebore voordat Carmen haar vonnis begin uitdien het. Carmen het verkies om die baba na die gevangenis te neem eerder as om haar tuis by my te los. Estrella het dus ’n Swartvrou, wat haar man vermoor het, as oppasster gekry. Toe Carmen vrygelaat is, was die moordenares so verwese dat sy bitterlik gehuil het. Terloops, Estrella het in 1956 toe sy 15 was aan die pionierdiens begin deelneem. Later is sy met Jack Jones getroud en dien nou al meer as 20 jaar lank saam met haar man, eers in Suid-Afrika en tans by die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier in Brooklyn, New York.
Kort daarna het ek ook etlike maande in die gevangenis deurgebring omdat ek gepreek het. Joseph Rutherford het in Januarie 1942, terwyl ek daar was, gesterf. Ek kon nie anders as om daardie nag ’n paar trane in die privaatheid van my sel te stort nie. Ek het geleenthede gehad om te getuig, en een Sondagoggend, terwyl almal buite was vir oefening, het ek ’n medegevangene wat op die Koninkryksboodskap gereageer het, gedoop.
’n Nuwe takkantoor
Nadat ek uit die gevangenis vrygelaat is, het ek werk op die spoorweë in Bulawayo gekry. Carmen het in die tronk geleer om klere te maak en het die vaardigheid gebruik om vir die gesin te help sorg. Lyall het uit Suid-Afrika teruggekeer, waar sy aan die pionierdiens deelgeneem het, en ook met die onkostes gehelp. Ons inkomste was gevolglik spoedig groter as wat ons werklik nodig gehad het, en ons het dus daaroor gepraat en was dit eens dat ek weer die voltydse bediening kon betree.
Omdat ek ’n vry kaartjie gehad het, het ek in 1947 per trein na Kaapstad gereis om broer Phillips te sien. Tot my groot verbasing is ek aangewys om ’n depot te open waar die Genootskap se lektuur in Bulawayo gehanteer kon word. Gedurende die volgende jaar het Nathan H. Knorr, die Wagtoringgenootskap se derde president, daar besoek afgelê en gereël dat die depot op 1 September 1948 ’n takkantoor word met Eric Cooke as takopsiener van Suid-Rhodesië. Ek het die voorreg gehad om die volgende 14 jaar by die tak te werk terwyl ek natuurlik tuis saam met ons groeiende gesin gewoon het. Ek is so dankbaar vir die materiële ondersteuning wat Carmen en ons ouer kinders gegee het sodat ek kon aanhou om by die takkantoor te werk.
’n Ander predikingstoewysing
Teen 1962 wou ek en Carmen verder weggaan om te werk waar hulp nodig was. Ons het dus ons huis verkoop en Lindsay en Jeremy, ons twee jongste kinders, geneem—die ander vyf was al groot en uit die huis—en na die Seychelle-eilande gegaan.
Ons het eers ongeveer 2 900 kilometer per motor gereis, hoofsaaklik op grondpaaie, en in Mombasa, Kenia, aangekom. Ons het die motor by ’n broer gelos en per boot na die Seychelles gegaan. ’n Belangstellende het ons aan ander voorgestel, en spoedig het ons vergaderinge feitlik in die skadu van die biskop se huis gehou. Ons het ander vergaderinge op ’n nabygeleë eiland gehou in ’n private bootskuur omring met hoë palmbome en met branders wat oor die strand spoel.
Ons bedrywighede het gou bekend geraak, en die owerheid het ons eindelik beveel om op te hou preek, iets wat ons eenvoudig nie kon doen nie (Handelinge 4:19, 20). Ons is dus in werklikheid gedeporteer, maar intussen het ons vyf mense gedoop. Gedurende ons verblyf van vyf maande in die Seychelles het Carmen swanger geraak met Andrew, ons laaste kind. Met ons terugkeer na Suid-Rhodesië het ons dogter Pauline ons genooi om by haar en haar man te woon totdat Andrew gebore sou word.
Seëninge en tevredenheid
Ek is bly om te sê dat al agt ons kinders, onder andere Lyall en Donovan, op die een of ander tyd aan die pionierdiens deelgeneem het. Trouens, vier van ons seuns en skoonseuns is nou ouere manne, en twee is bedieningsknegte. Hoe bly is ons tog dat talle van ons kleinkinders en agterkleinkinders die goeie nuus saam met hulle ouers in nie minder nie as vier lande bekendmaak en dat tientalle ander lede van die McLuckie-familie Jehovah ook dien. Ek is oortuig dat sulke resultate daaraan te danke is dat die gesinne gereeld vergaderinge bywoon en gereeld aan die predikingswerk deelneem.
Ek is nou 89 en het steeds die voorreg om ’n ouere man in ons gemeente in Pietermaritzburg te wees. Dit gee my ware tevredenheid om op meer as 60 jaar in Jehovah se geseënde diens terug te kyk. Dit is veral ’n seën om te kon sien hoe vyf geslagte van ons familie, onder andere my ouers, Jehovah, die groot God van die heelal, prys.