Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 3/07 bl. 13-15
  • Ek het die regte loopbaan gekies

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het die regte loopbaan gekies
  • Ontwaak!—2007
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My pa se opregte besorgdheid
  • Die heilsame invloed van my gesin
  • Ek kies tussen twee doelwitte
  • Spesiale pionierdiens in Mexiko
  • Gileadskool, toe Bolivia
  • Getuieniswerk bo die wolke
  • Weer saam met Carmen
  • Ek het die groei in Suider-Afrika gesien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Nou ken ek die God wat ek aanbid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Ons het eers die Koninkryk gesoek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Waarom dit my vreugde verskaf om dissipels te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Ontwaak!—2007
g 3/07 bl. 13-15

Ek het die regte loopbaan gekies

Soos vertel deur Sonia Acuña Quevedo

Ek is ’n bevordering by die bank aangebied. Die werk sou ’n mate van aansien en ’n hoër salaris beteken. Maar ek is pas genooi om as ’n voltydse pionierbedienaar in ’n afgeleë gemeente te gaan dien. Wanneer ek nou, 32 jaar later, terugkyk, weet ek dat ek ’n wyse besluit gemaak het.

MY MA is as ’n Rooms-Katoliek grootgemaak, maar sy het die kerk se leringe bevraagteken. Waarom, het sy gewonder, moet beelde—die handewerk van mense—vereer word? Godsdienswaarheid was vir haar belangrik, en sy het van die een kerk na die ander gegaan op soek na antwoorde, maar dit was tevergeefs.

Eendag het sy buite ons huis in Tuxtla, Mexiko, gesit en die koel windjie geniet toe een van Jehovah se Getuies daar aankom. Sy was beïndruk deur die Bybelse antwoorde wat hy op haar vrae gegee het, en het ingestem om hom weer te sien. Toe hy terugkeer, het my ma met ’n Adventistepredikant, ’n Katolieke priester en ’n Nasareense prediker gesit en wag. Sy het ’n vraag oor die Sabbat gevra, en net die Getuie het ’n bevredigende antwoord uit die Bybel gegee. Trouens, hy was die enigste een wat ’n Bybel by hom gehad het! In 1956, net ses maande nadat sy die Bybel begin studeer het, is sy as een van Jehovah se Getuies gedoop. Ek was agt jaar oud.

My pa se opregte besorgdheid

My pa was nie daarteen gekant dat my ma die Bybel studeer het nie. Maar toe sy ons vier kinders—twee seuns en twee dogters—begin leer en Christelike vergaderinge begin bywoon, het my pa haar lektuur vernietig. Hy was daarvan oortuig dat ons mislei word en het die Katolieke Bybel probeer gebruik om te bewys dat die Getuies God se naam—Jehovah—op geslepe wyse in hulle vertaling ingevoeg het. Toe my ma hom daardie einste naam in sy eie Bybel wys, was hy baie verbaas, en sy gesindheid teenoor die Getuies het begin verander.—Psalm 83:18.

In Mexiko is ’n meisie se 15de verjaarsdag ’n spesiale geleentheid. Aangesien verjaarsdagpartytjies onskriftuurlik is, het ek opgehou om myne te vier.a Maar my pa het daarop aangedring om iets spesiaals vir my te doen. Ek het die saak oordink en gesê: “Ek wil hê pappa moet my geskenk wees deur saam met my na die volgende byeenkoms van Jehovah se Getuies te gaan.” Hy het ingestem, en sy belangstelling in die Bybel het gegroei.

Een aand, ná ’n hewige storm, is my pa erg beseer toe hy aan ’n elektriese kabel geraak het wat geval het. Terwyl hy in die hospitaal aangesterk het, het die plaaslike Getuies hom dag en nag versorg—’n blyk van Christelike liefde wat hy nooit vergeet het nie. Later het hy aan die openbare bediening begin deelneem en sy lewe aan Jehovah toegewy. Ongelukkig is hy op 30 September 1975, een maand voordat hy gedoop sou word, oorlede. Hoe sien ons tog daarna uit om hom in die opstanding te verwelkom!—Handelinge 24:15.

Die heilsame invloed van my gesin

My ouer suster, Carmen, het nog altyd die voltydse bediening as iets baie kosbaars beskou. Kort nadat sy in 1967 gedoop is, het sy ’n gewone pionier geword en omtrent 100 uur elke maand aan die bediening bestee. Mettertyd het sy na die stad Toluca, in Sentraal-Mexiko, getrek. Ek het werk by ’n bank gekry en is op 18 Julie 1970 gedoop.

Die voltydse bediening het Carmen groot vreugde verskaf, en sy het my aangemoedig om by haar in Toluca aan te sluit. Dit is waaraan ek gedink het toe ek eendag na ’n toespraak geluister het wat getoon het dat Jesus se volgelinge hulle kosbare geestelike bates moet gebruik om God te verheerlik (Matteus 25:14-30). Ek het my afgevra: ‘Beywer ek my om die geestelike gawes wat aan my toevertrou is, ten volle te gebruik?’ Hierdie gedagtes het in my die begeerte gewek om meer vir Jehovah te doen.

Ek kies tussen twee doelwitte

In 1974 het ek aansoek gedoen om as ’n pionierbedienaar in ’n ander gebied te gaan dien. Kort daarna het ek ’n telefoonoproep by die werk ontvang van ’n Christen- ouer man in Toluca. “Ons wag vir jou. Waarom is jy nog nie hier nie?” het hy gevra. Tot my verbasing is ek aangestel om as ’n spesiale pionier in Toluca te dien, maar my toewysingsbrief het blykbaar in die pos weggeraak! (Spesiale pioniers stem in om voltyds te dien waar Jehovah se organisasie hulle ook al heen stuur.)

Ek het die bank onmiddellik in kennis gestel van my besluit om te bedank. “Net ’n oomblik, Sonia”, het my baas gesê terwyl hy ’n stuk papier in sy hand gehou het. “Ons het nou net gehoor dat jy een van sewe vroue is wat gekies is om assistentbestuurders te word. Ons het nog nooit vroue in daardie posisie aangestel nie. Gaan jy dit dan nie aanvaar nie?” Soos aan die begin genoem is, sou hierdie bevordering ’n mate van aansien en ’n hoër salaris beteken. Nogtans het ek my baas bedank en vir hom gesê dat ek vasbeslote is om meer te doen in my diens aan God. “Goed dan”, het hy gesê. “Maar onthou, die bank sal altyd bereid wees om jou terug te neem as jy ’n werk nodig het.” Twee dae later was ek in Toluca.

Spesiale pionierdiens in Mexiko

Toe ek by Carmen aangesluit het, het sy al twee jaar lank as ’n spesiale pionier in Toluca gedien. Hoe gelukkig was ons tog om weer saam te wees! Maar dit was van korte duur. Drie maande later het my ma ’n ongeluk gehad en daarna sou sy voortdurend tuis versorg moes word. Nadat ek en Carmen die takkantoor van Jehovah se Getuies geraadpleeg het, het ons besluit dat sy terug huis toe sal gaan om vir ons ma te sorg, wat sy 17 jaar lank gedoen het. Gedurende daardie tyd het Carmen as ’n gewone pionier gedien en haar Bybelstudente na die huis genooi, sodat sy tydens hulle studie na ons ma kon omsien.

In 1976 is ek na Tecamachalco gestuur, ’n stad van teenstellings—die armes het aan die een kant van die stad gewoon, en die rykes aan die ander kant. Ek het die Bybel begin studeer met ’n bejaarde vrou wat nooit getrou het nie en by haar ryk broer gewoon het. Toe sy vir hom vertel dat sy ’n Getuie wou word, het hy gedreig om haar uit die huis te sit. Nietemin was hierdie nederige vrou nie afgeskrik nie, en nadat sy gedoop is, het haar broer sy dreigement uitgevoer. Hoewel sy toe al 86 jaar oud was, het sy ten volle op Jehovah vertrou. Die gemeente het vir haar gesorg, en sy het tot haar dood toe getrou gebly.

Gileadskool, toe Bolivia

Ek het vyf wonderlike jare in Tecamachalco deurgebring. Toe het ek ’n uitnodiging ontvang om die eerste Gileaduitbreidingskool by te woon wat in Mexiko gehou is. Soos die naam te kenne gee, is dit ’n uitbreiding van die skool wat in New York gehou word. My ma en Carmen het albei daarop aangedring dat ek die uitnodiging aanvaar, en ek het dus na die takkantoor in Mexikostad gegaan vir ’n kursus van tien weke, wat ’n geestelike hoogtepunt van my lewe was. Ons klas het op 1 Februarie 1981 gegradueer, en ek is saam met Enriqueta Ayala (nou Fernández) na La Paz, Bolivia, gestuur.

Toe ons in La Paz aankom, het die broers wat ons daar sou ontmoet, nog nie opgedaag nie. “Waarom moet ons tyd mors?” het ons gesê. Ons het dus vir die mense by die lughawe begin getuig. Ná drie vreugdevolle ure het ons die broers van die takkantoor ontmoet. Nadat hulle om verskoning gevra het, het hulle gesê dat die strate weens die karnaval baie besig was.

Getuieniswerk bo die wolke

La Paz is omtrent 3 625 meter bo seespieël geleë, en ons was dus die meeste van die tyd bo die wolke. Die dun lug het dit moeilik gemaak om asem te haal, en ek was ná net ’n kort rukkie in die bediening uitgeput. Hoewel dit my ’n jaar geneem het om by die hoogte aan te pas, het die seëninge wat Jehovah oor my uitgestort het, die fisiese eise ver oortref. Ek het byvoorbeeld een oggend in 1984 teen ’n klipperige berghang opgeklim om by ’n huis uit te kom wat op ’n piek geleë was. Ek was doodmoeg toe ek aan die deur klop, en ’n dame het uitgekom. Ons het ’n aangename gesprek gehad, en ek het gesê dat ek binne ’n paar dae weer sal terugkom.

“Ek twyfel”, het sy geantwoord. Maar ek het teruggegaan, en die dame het my gevra om haar dogter die Bybel te leer. “Dit is die ouers se verantwoordelikheid”, het ek gesê. “Maar ek sal jou help as jy wil.” Sy het ingestem en het ook self ’n Bybelstudie aanvaar. Omdat sy nie kon lees of skryf nie, het ons met die boekie Learn to Read and Write begin, wat deur Jehovah se Getuies vir sulke gevalle voorberei is.

Mettertyd het die gesin gegroei totdat daar agt kinders was. Wanneer ek gaan kuier het, het van die kinders ’n menslike ketting gevorm om my teen die skuinste op te help. Uiteindelik het die hele gesin Jehovah gedien—pa, ma en agt kinders. Drie van die meisies is pioniers en een van die seuns is ’n gemeentelike ouer man. Toe die pa in 2000 oorlede is, was hy ’n bedieningskneg in die gemeente. Hoe verbly dit my hart tog wanneer ek aan hierdie wonderlike gesin en hulle getrouheid dink! Ek dank Jehovah dat hy my toegelaat het om hulle te help.

Weer saam met Carmen

Nadat my ma in 1997 oorlede is, is Carmen weer genooi om as ’n spesiale pionier te dien. In 1998 is sy gestuur na Cochabamba, Bolivia, waar ek gedien het. Ja, ná 18 jaar was ons weer saam, en Carmen is as ’n sendeling aangestel. Ons het ’n wonderlike tyd gehad in Cochabamba, waar die klimaat so lieflik is dat daar gesê word dat die swaeltjies heeljaar daar bly! Op die oomblik is ons in Sucre, Bolivia, ’n pragtige stad wat in ’n hoë vallei geleë is en 220 000 inwoners het. Die stad is eens op ’n tyd die Klein Vatikaan genoem omdat dit soveel Katolieke kerke gehad het, maar nou het dit vyf gemeentes van Jehovah se Getuies.

Ek en Carmen het gesamentlik meer as 60 jaar lank gepionier, en ons het die onvergelykbare voorreg geniet om meer as ’n honderd mense tot doop te help. Ja, om Jehovah heelhartig te dien, is sonder twyfel die lonendste lewenswyse!—Markus 12:30.

[Voetnoot]

a Die enigste twee verjaarsdagvierings wat in die Skrif genoem word, was dié van heidene en word in ’n negatiewe lig gestel (Genesis 40:20-22; Markus 6:21-28). Maar God se Woord moedig ons wel aan om te gee, nie as gevolg van sosiale of portuurdruk nie, maar uit die hart.—Spreuke 11:25; Lukas 6:38; Handelinge 20:35; 2 Korintiërs 9:7.

[Prent op bladsy 15]

Ek het teen ’n klipperige berghang opgeklim om met hierdie gesin te studeer

[Prent op bladsy 15]

In die bediening saam met my suster Carmen (regs)

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel