Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 4/15 bl. 30-31
  • Die Moabitiese steen—vernietig maar nie verlore nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Moabitiese steen—vernietig maar nie verlore nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Intrige en wantroue
  • Bybelgeskiedenis herleef
  • Die “huis van Dawid”—Feit of fiksie?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Studie nommer 9—Argeologie en die geïnspireerde verslag
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 4/15 bl. 30-31

Die Moabitiese steen—vernietig maar nie verlore nie

DIE Moabitiese steen, of Mesa-steen, is opsetlik gebreek binne ’n jaar nadat dit in 1868 ontdek is. Hierdie steen was bykans 3 000 jaar oud. Dit was ’n stuk gepoleerde swart basalt met ’n netjies geronde bopunt, wat 112 sentimeter hoog, 71 sentimeter wyd en 36 sentimeter dik was. ’n Ruk na dit gebreek is, is 2 groot en 18 kleiner fragmente teruggekry, maar ’n derde van die steen was onherroeplik verlore.

Hoe is so ’n buitengewone artefak amper vir ewig verloor? En hoe waardevol is dit vir Bybelstudente?

Intrige en wantroue

F. A. Klein was die eerste en laaste Europeër wat die steen heel gesien het. Dit was tussen die ruïnes van Dibon aan die noordooste van die Dooie See. Hy het ’n paar vlugtige sketse gemaak van dele van die inskripsie van 34 reëls in die verhewe omranding en het die vonds aan sy Pruisiese hoof gerapporteer toe hy weer in Jerusalem aangekom het. Die skrif is onmiddellik as Fenicies geïdentifiseer, en hulle het die belangrikheid daarvan besef. Die Koninklike Museum van Berlyn het geld beskikbaar gestel om die steen te koop, maar ander belangstellendes het kort daarna daarom begin meeding. Toe die plaaslike sjeiks agterkom hoe waardevol dit is, het hulle dit weggesteek en ’n belaglike prys daarvoor gevra.

’n Franse argeoloog het dit reggekry om ’n papierafdruk van die inskripsie te maak, maar omdat die afdruk weggeruk moes word voordat dit droog was, was dit skaars leesbaar. Intussen het die bevel uit Damaskus gekom dat die Bedoeïene hulle steen aan regeringsamptenare moet oorhandig. Die Bedoeïene het besluit om dit eerder te vernietig as om toe te gee. Hulle het dus ’n vuur rondom die kosbare oudheid aangesteek en dit aanhoudend natgegooi. Toe die steen gebreek het, is die stukke gou onder plaaslike families versprei om in hulle graanskure te hou, omdat dit kwansuis ’n seën op hulle oeste sou verseker. Dit was ook die beste manier waarop hulle persoonlik oor die prys van die verspreide stukke kon onderhandel.

Bybelgeskiedenis herleef

Met behulp van gipsafgietsels en papierafdrukke om die gekoopte dele aan te vul, is die inskripsie op die steen eindelik herwin. Toe die volle teks bekendgemaak is, was deskundiges verstom. Die antieke stele is destyds beskryf as “die merkwaardigste monoliet wat ooit ontdek is”.

Koning Mesa van Moab het die Moabitiese steen ter ere van sy god Kamos opgerig om Mesa se verbreking van Israel se oorheersing te gedenk, wat, soos hy sê, 40 jaar geduur het en deur Kamos toegelaat is omdat hy “kwaad was vir sy land”. Hierdie opstand van Moab word gewoonlik in verband gebring met die gebeure wat in die derde hoofstuk van 2 Konings opgeteken is. Op die monument spog Mesa daarmee dat hy baie godsdienstig is, dat hy stede en ’n hoofweg gebou het en ’n oorwinning oor Israel behaal het. Hy gee al die eer hiervoor aan sy god Kamos. Mesa se neerlaag en die feit dat hy sy eie seun geoffer het—wat in die Bybel genoem word—word, soos ’n mens kan verwag, uitgelaat in hierdie selfvererende inskripsie.

Baie plekke wat Mesa opnoem as gebiede wat hy verower het, word in die Bybel genoem, onder andere Medeba, Atarot, Nebo en Jahas. Die steen staaf dus die akkuraatheid van die Bybel se verslae. Maar dit is merkwaardig dat Mesa die Tetragrammaton, JHWH, die naam van Israel se God, in die 18de reël van die verslag gebruik. Daar spog Mesa: “Ek het die [voorwerpe] van Jahweh daarvandaan [uit Nebo] geneem en hulle voor Kamos gebring.” Dit is waarskynlik die vroegste opgetekende gebruik van die goddelike naam buiten in die Bybel.

In 1873 is die Moabitiese steen herstel deur gipsafgietsels van die vermiste teks in te voeg en is dit in die Louvre-museum, Parys, uitgestal, waar dit vandag nog vertoon word. ’n Faksimilee kan in die Britse Museum, Londen, gesien word.

[Prente op bladsy 31]

(Bo) Die land Moab

[Erkenning]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

(Links) Die herstelde Moabitiese steen

[Erkenning]

Musée du Louvre, Paris

(Regs) Die Tetragrammaton soos dit op die artefak verskyn

[Erkenning]

The Bible in the British Museum

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel